Скачать книгу

Assirië in ballingskap gestuur is, na Wes-Europa en die Britse eilande getrek het. Hul nasate sluit al die wit volke van vandag in. Hulle word skerp van die Jode onderskei. Die beweging sê ook daar kan of mag nooit van die volk Israel as Jode gepraat word nie.

      Volgens die Israel Visie sou Suid-Afrika, soos in Jesaja 18:6 staan, aan swart mense, die wilde diere van die veld, oorgegee word. Hulle gebruik ook net die Hebreeuse name vir God en beweer dat die vertalings van die Bybel sekere heidense godsbegrippe in die Bybel ingebring het om dit meer aanvaarbaar te maak. Vir hulle is die naam Jesus uit die Griekse mitologie afkomstig en afgelei van “Je-Zeus” wat seun van Zeus beteken. Jan en diegene wat sy siening gedeel het, het na Jesus as Jeshua verwys, Christus is die Messias of Mashiach en God is Jahweh, Elohim of Adonai. Die Israel Visie propageer dat die Christelike godsdiens deur valse kerke beoefen word, en dat ’n mens net saligheid sal bereik indien jy soos hulle glo.

      Later jare het Jan en Cliffie Barnard en Koper Myburgh, wat saam met hul gesinne in ’n stadium op die plaas gewoon het, die hele Bybel herskryf en daarna verwys as Die boek van herinnering – apartheid van Jahweh. Koper het voor die voltooiing hiervan onttrek. Terwyl ons nog op die plaas was, het ons uit die gewone 1933-vertaling gelees, maar baie selektief. Mettertyd het alles begin sin maak: Die geskiedkundige bewyse rondom die ontstaan van Kersfees, heidense gebruike van Kersvader, Kersbome en -geskenke en die Paashaas.

      Ek was geweldig rassisties en hier deel hulle my mee dat net wit mense uitverkies is om hemel toe te gaan. Dit verklaar dan waarom die Nasionale Party-regering nie wou hê dat wit, swart en bruin mense God in dieselfde kerk moet aanbid nie, het ek geredeneer. Ek het van kindsbeen af geleer dat ons God se uitverkore volk is. Hoe kon ek dan weier om in die uitverkiesing te glo?

      In standerd 9 (vandag graad 11) het daar iets gebeur wat my lewe weer in ’n ander rigting sou stuur. Dawid Olivier was toe my ma se kêrel. Eendag het hy en Lindi eenkant oor iets gestry. Ek het nie gehou van die manier waarop die nuwe indringer met my suster praat nie. “Dis ons huis dié. Ek sal nie toelaat dat jy my suster so sleg behandel nie,” het ek woedend gesê.

      Dawid was dadelik op sy agtervoete. “Ek hoor jy is so ’n breker,” het hy my toegesnou en daar het harde woorde geval. Dit was vir my erg dat my ma glad nie tussenbeide getree en vir my of my sussie opgekom het nie. Dit was eintlik haar huis en Dawid was ’n huurder in een van die woonstelle op die erf. Die hele situasie was net vir my verkeerd.

      Lindi het vir Fielies gebel en hom vertel wat gebeur het. Hy het toe op Schweizer-Reneke by Oupa Danie gebly. Lindie het gevra of sy by hom kon gaan bly, en toe hy inwillig, het ek sonder om ’n oog te knip besluit om saam met haar Schweizer-Reneke toe te gaan.

      Dit was lekker om Fielies weer ná baie jare te sien en hy het dadelik probeer om dinge vir ons so maklik as moontlik te maak. Teen dié tyd was hy al bles aan die voorkant, maar agter het hy sy lang hare in ’n poniestert vasgemaak. Hy was sieklik en verskriklik uitgeteer. Ek was ontsteld toe ek sien dat Fielies sy broek byna twee keer om sy lyf kon draai. Dit was egter lekker om Fielies nugter te sien, want hy het intussen opgehou drink. Hy sou tot en met sy dood nooit weer sy mond aan alkohol sit nie.

      Fielies het vir ons skoolklere gekoop. Reeds die tweede dag by die skool het dinge vir my verkeerd geloop. Terwyl ek op die gras voor die skool gesit het, het ’n seun na my toe gestap en ek het dadelik geweet hier kom moeilikheid. Teen hierdie tyd het ek al die lot van ’n nuweling geken.

      “Ek is nie lus vir jou kak nie,” het ek reguit vir hom gesê, opgestaan, my tas gevat en huis toe gegaan. By die huis het ek vir Fielies gesê dat ek klaar is met skool.

      Ek het sowat ’n maand by Fielies gebly. Dit was ’n goeie tyd waaroor ek nou baie dankbaar is. Elke oggend en middag het ek gaan draf en dan het Fielies in sy Datsun 1400 langs my gery en my aangemoedig. Hy het in my vermoëns as atleet geglo. By die huis het ons saam tuin natgemaak en ons kon oor enigiets gesels.

      Fielies het nie gewerk nie en die geld wat my oupa vir hom gegee het, moes hy met ons twee kinders deel. Ek sou moes begin om my eie inkomste te verdien. Eers het ek my bokshandskoene en -toksak by ’n pandjieswinkel verkoop en die geld gebruik om aan die lewe te bly, maar dit het nie lank gehou nie.

      Uiteindelik het ek by my ma op Upington gaan kuier terwyl Lindie by Fielies agtergebly het. My ma het my toe vertel van ’n werkgeleentheid wat haar baas vir my gehad het. Ek is kort daarna na die gewese tuisland Bophuthatswana waar hulle my geleer het om met elektrisiteit te werk. Dit was lekker werk en ek het die tyd daar baie geniet.

      Een naweek toe ek weer by my ma gaan kuier het, het sy my vertel dat Jan Voetbol van der Westhuizen my soek. By Jan aangekom, het hy gesê hy weet ek het skool gelos en ek moet eerder by hom gaan bly op sy plaas Wilgerboskloof, 89 km van Beaufort-Wes in Fraserburg se rigting. Dit was vir my baie lekker om weer by Jan te wees en vir eers was my eie pa uit my gedagtes uit.

      Die boerdery se naam was Aljan Boerdery – Jan het dit saam met Alwyn Hugo, ’n boesemvriend van hom sedert hul skooljare, bedryf. Hulle het meestal met skape geboer. Die Hammonds, Bill, sy vrou, Samantha, hul seun, Mark, en dogter het ook op die plaas gewoon. Hulle het ook ’n paar skape en bokke daar aangehou.

      Min het ek toe geweet ek sou binnekort op daardie plaas veel meer as net plaaswerk doen.

      HOOFSTUK 5

      ’n Kind leer om te haat

      My lewe het nou weer ’n ander rigting ingeslaan en vir die eerste keer het ek vir ’n salaris gewerk. Die geld was skraps, maar ek het nie uitgawes soos water, elektrisiteit, huur of kos gehad nie. Buitendien was R300 daardie tyd vir my meer as genoeg om dinge te koop wat ek begeer het.

      Ek kon op veral twee dinge fokus: Die eerste was om te hardloop; baie en moordend ver. Die ander was geloof, wat nou ’n heel nuwe dimensie in my lewe gekry het. Daar was min te doen op die plaas en wanneer ek klaar gehardloop het, het ek die Bybel – volgens die Israel Visie se leerstellings – sit en lees. Ek het nie dadelik die geloof van die Israel Visie aangeneem nie, maar het al hoe meer daarin belanggestel en aan die gesprekke daaroor deelgeneem. Ek het die dienste bygewoon en stadig maar seker is ek ingetrek tot by die vlak waar ek totaal fanaties oor hierdie leerstellings was.

      Vir die eerste keer kon ek sê ek glo in ’n god, maar dis nie die God van die Christene nie. Ek het in ’n god van wraak en haat geglo. Hierdie god waarin ek geglo het, straf jou tot in die vierde en vyfde geslag wanneer jy oortree.

      Elke sabbatdag, van Vrydag sononder tot Saterdag sononder, het ons uiteraard nie gewerk nie; dan is daar kerk gehou. Die Israel Visie is eerder ’n leefwyse as ’n geloof. Ek en Jan het ook deur die week by verskillende geleenthede oor geloofsake gepraat. Ná werk het ons in die sitkamer gesit en gesels oor een of ander onderwerp wat met die Bybel te make het. Ons het dit dan ontrafel deur elke liewe vers wat ons oor die onderwerp in die Bybel kon kry, na te slaan en dit op ’n stuk papier neer te skryf. Dan het ons besluit watter deel op ons onderwerp van toepassing is. Daarna het ons ’n studiestuk opgestel wat ingepas het by die Israel Visie se ideologie, met die verkose teksverse daarby.

      Jan het begin droom om boeke te skryf oor die Israel Visie. Hy het toenemend met my daaroor gesels en ek was sy klankbord. Later jare in die tronk het hierdie studiemetode Jan tot ’n gerekende skrywer in Israel-kringe gevorm. Sy studiestukke is wyd en syd gelees.

      Ná ’n ruk op die plaas het ek wedlope beskou as iets wat te wêrelds was en opgehou om daaraan deel te neem. Volgens die Israel Visie is sport een van die maniere waarop die Afrikanervolk “gekoop” is om hul land weg te gee, onder meer om aan die Wêreldrugbybekertoernooie en Olimpiese Spele deel te neem. Al het ek nie meer aan wedlope deelgeneem nie, het ek steeds bly oefen. Hardloop is nie ’n sport nie, dit is ’n leefwyse. Jy doen dit omdat dit so lekker is en nie om te wen nie. Soms het ek die voorreg gehad om al twee te kan doen: om te hardloop en te wen.

      Daar was nie een oomblik wat ek aan die Israel Visie se ideologie getwyfel het nie, want hoe meer ek die verwronge teksgedeeltes gelees het, hoe sekerder was ek van die saak wat hierdie geloofsgroep verkondig het. Dit het later die waarheid vir my geword sonder dat ek besef het hoe ek stadig maar seker deur hierdie siening gebreinspoel is.

      Jan het ook

Скачать книгу