Скачать книгу

tweevertrekhuisie. Die een lag en die ander huil en almal gesels. Vroegaand word die kers of paraffienlampie doodgeblaas, want môre wag nog ’n harde werkdag. Daar is in elk geval nie ’n kers beskikbaar vir Maria om by te studeer nie. Kerse is duur. Kerse vra geld.

      Maria se skoolresultate is dus heel gemiddeld, maar dat sy tot graad twaalf gevorder het, bly vir Miempie ’n raaisel.

      Miempie draai die kombi se neus in na die opstal toe sy die uitdraaipad bereik. Dit sal snaaks lyk as sy nie hier inloer nie. Maar sy sal net verskoning maak dat sy vandag nie tyd het vir ’n koppie tee nie.

      Sy kom nie so maklik weg soos sy gehoop het nie. Haar tee is klaar ingeskink toe sy sommer deur die kombuis vorentoe stap.

      “Ek het jou sien aankom en solank jou tee ingeskink. Dag, Miempie. Kom sit. Kry ’n koekie.”

      “Middag, tannie Laura.” Sy het geen keuse as om maar die aangebode koppie tee te neem nie. Laura de Jongh was nog altyd baie gaaf teenoor haar en het haar nog altyd tuis laat voel. Anders as wat die geval is by baie ander plase. Daar word die distriksverpleegster formeel as suster Rust aangespreek. Dikwels gebeur dit dat sy weer wegry sonder dat sy die vrou van die huis met ’n oog gesien het. Maar nie op La Rhône nie.

      “Alles nog reg?” stel die ouer vrou die gebruiklike vraag.

      Miempie skud haar kop. “Nie so alles reg vandag nie. Martha weier om die inspuiting te neem.”

      “Martha Benjamin?”

      “Ja. Klaas wil nog ’n kind hê. Ek het probeer praat … Tannie Laura, dit gaan nie net om te veel kinders nie, of te veel monde nie. As mense net wil besef dat twee of drie kinders hul eie lewenstandaard sal verbeter en aan die kinders ’n beter kans vir ’n beter toekoms sal gee!”

      “Ek weet, Miempie. Dis in so baie lande ’n probleem. Wat wil Klaas met nog ’n kind maak?”

      “Martha sê hy sê dis sy rykdom.”

      “Sy armoede en ellende, ja.”

      “Maar daar is iets wat my baie meer ontstel. Hulle weier ook dat Maria iets met voorbehoeding te doen moet hê.” Sy glimlag wrang. “Hulle hoop blykbaar sy sal haar vasvry en ’n man vat sodat sy van hulle nekke af kan kom. Kan tannie dink dat ouers só kan redeneer?”

      Daar is ’n voetstap by die deur en die kroonprins van die plaas, soos Miempie baiekeer aan hom dink, kom binne. Haar gesig verstyf onmiddellik.

      Hoewel Emile dit sien, glimlag hy en laat vriendelik hoor: “Is daar ’n koppie tee vir my ook?”

      “O, Emile!” Sy ma kyk hom verras aan. “Jy het nog nie vir suster …”

      “Ja. Ons het ontmoet, netnou by die boorde. Maar sy was toe nie juis te vriendelik nie. Ek hoop haar luim het al gesak.”

      Laura kyk van die een na die ander, sien hoe Miempie se gesig onleesbaar word en sy rig ’n waarskuwende blik op haar seun. Maar voordat sy iets kan sê, sit Miempie haar koppie neer en staan op.

      “Tannie sal my regtig nou moet verskoon. Ek moet nog by ’n paar plase aangaan. Dankie vir die tee. Tot siens.”

      Sy stap ook summier uit, maar toe sy by die kombi kom, is daar ’n hand voor hare op die deurknip.

      “Genugtig, maar jy is darem ’n krapperige entjie mens. Wat byt jou?”

      Haar blik flits na hom. “Ek is haastig, meneer De Jongh.”

      “Jy was nie ander kere so haastig nie. Ek sweer jy sou nog gesit het as ek nie ingekom het nie.”

      “Meneer De Jongh …”

      “Die naam is Emile, Miempie.”

      “Asseblief, ek het werk om te doen.”

      Hy lyk eerlik verbaas. Hy is nie aan so iets gewoond nie. Die skoner geslag is altyd die ene glimlaggies wanneer hy met hulle gesels. Hy frons, kyk haar ondersoekend aan. “Wat is dit met jou? Wat het ek gedoen om jou antagonisme te verdien?”

      Juis omdat sy weet hy het die volste reg om so ’n vraag te vra, en juis omdat sy besef dat sy haar buitensporig vererg het toe hy haar so staan en beskou het, raak sy net nog stroewer. “Meneer De Jongh, jy het niks gedoen nie. Ek hou net nie van die onnodige aandag wat jy skielik op my uitstort nie, en beslis nie in my werktyd nie. Jy kan dit seker bekostig om ledig te wees, maar ek nie. Verskoon my dus asseblief.”

      Hy laat toe dat sy sy hand van die deurhandvatsel wegdruk.

      In die truspieël van die kombi sien sy dat hy op dieselfde plek bly staan tot sy uit sig verdwyn.

      Emile se oë is peinsend op die grond voor hom gerig. En dis nou wat sy ma beskou as goeie materiaal vir ’n toekomstige vrou. Beduiwelde Miempie. Dan grynslag hy. Miskien dink sy ma hy het ’n kwaai vrou nodig. Iemand wat hom gereeld, en soms ook sonder rede, op sy plek sal sit. Iemand wat nie soos ’n oorryp appelkoos in sy skoot sal val nie …

      Miempie voel effens skuldig toe sy aanry. Hy moet haar optrede vreemd vind. Sy kan regtig nie dink hoekom sy haar so vererg het nie. En hoekom het dit haar so ontstel dat die grootmeneer haar skielik vandag raakgesien het? Sy weet tog daar is geen bybedoelings nie. Miskien wou hy maar net beleef wees, en háár reaksie het gegrens aan ongemanierdheid. Maar dis of sy instinktief op die verdediging was toe sy hom daar voor haar sien staan, so asof sy haarself teen iets moes beskerm, maar wat dié iets is, is te vaag om te definieer. Sy is seker maar beïnvloed deur al die stories wat sy al van hom gehoor het. Met sy pierewaaierlewe het sy nie vrede nie. Die ledige rykes met hul enorme ego’s … Nee, sy voel glad nie meer skuldig oor haar gedrag nie. Sy kon sien dit het hom geruk dat die vaal ou verpleegsustertjie nie voor hom in ’n beswyming val nie. Goed so.

      Sy moet die kombi se remme vinnig vasskop toe ’n gestalte van agter ’n struik reg voor die voertuig inspring net voordat sy deur La Rhône se grenshek ry.

      “Maria! Ek kon jou raak gery het!” raas sy.

      “Ek is jammer, suster, maar ek is so bang ek mis suster.”

      Miempie kyk die jong meisie skerp aan. “Wat is dit, Maria? Hoekom wou jy my so dringend sien? Is daar … is daar fout?” vra sy reguit en haar hart sak in haar skoene.

      “Nee, suster, maar … ek …” Daar is groot verleentheid. “Ek wil asseblief die inspuiting hê.”

      Dit stel Miempie geensins gerus nie. “Maria, jy moet eerlik met my wees. Die voorbehoedingsinspuiting help niks as daar reeds moeilikheid is nie. Verstaan jy?”

      “Ja, suster. Ek makeer niks nie.”

      Verligting spoel deur haar. “Maar jy het ’n spesiale vriend?”

      “Nee, suster! Ek hou my nie met die ouens op nie. Ek wil leer.”

      Miempie klim uit en maak die skuifdeur van die kombi oop. “Kom klim in. Ons praat binne verder.” Sy kyk die meisie vas aan. “Hoekom wil jy dan die inspuiting hê?”

      “Oor … oor ek bang is daar gebeur iets. Daar is groot ouens in die skool wat by my aanlê. En hier op die plaas ook. Ek sê vir hulle ek wil niks met hulle te doen hê nie, maar hulle wil nie luister nie. Hulle hou aan. En almal weet ek loop skool toe en terug. Ek is bang een van hulle lê my voor, suster.”

      Miempie knik. “Ek het met jou ma gepraat. Sy wil niks weet van voorbehoeding nie – ook nie dat jy die inspuiting moet kry nie.”

      Die kop sak. “Ek weet, suster. Ek weet wat hulle wil hê. Maar ek …” Die oë pleit. “Asseblief, ek wil die inspuiting hê. Ek wil klaar leer. Ek is so bang iets gebeur met my …”

      Miempie haal haar tas uit en kry alles gereed. “Ek het juis vandag my program só verander dat ek in die namiddag op La Rhône kan wees – ter wille van jou. Ek wou graag met jou gesels. Maar toe was jy veld toe en jou ma wou niks weet nie, maar jy is baie verstandig, Maria. ’n Vrou moet haarself beskerm. Probeer ook om nie alleen in die veld te stap nie, veral as dit begin donker word. Maar ek weet dis baie moeilik …”

Скачать книгу