Скачать книгу

      “Hierdie … Miempie … Wat is daar aan haar wat haar so ideaal maak?” Sy oë spot. “Ma sê sy is so oulik en ’n dierbare kind. Wat verstaan Ma onder die begrip ‘dierbare kind’?”

      Laura wens sy het nooit Miempie se naam opgehaal nie. “As jy die moeite wil doen om haar te leer ken, sal jy weet wat ek bedoel. Maar kom ons los nou maar vir Miempie uit. Jy sit met ’n probleem, Emile. Sorg maar dat jy iets daadwerkliks daaromtrent doen. Jy ken jou pa. Hy sê nie sommer ligtelik iets nie. Hy sou nie so iets kwytgeraak het as hy nie lank en diep daaroor nagedink het nie. Dis ’n saak van erns.”

      Emile besef dit terdeë. Hy knik, staan weer op. “Ek neem ter harte wat Ma my vandag vertel het,” sê hy stram voordat hy uitstap.

      Op pad dorp toe is sy gedagtes ’n onrustige maalkolk. Hy kan nie glo dat sy pa dit werklik ernstig oorweeg om hom te onterf nie. Aan die ander kant weer weet hy hoe sterk sy pa oor La Rhône voel. As daar die geringste kans bestaan dat La Rhône uit sy, Emile, se hande kan val, sal sy pa liewer die plaas aan sy oudste broer se seun bemaak. Hy sal dan seker net kontant erf, wat hy en sy onvanpaste vrou na willekeur kan uitmors tot daar niks oor is nie.

      Wat Laura en Giel de Jongh nie weet nie, is dat hy self al bekommerd geraak het. Sy vriende is reeds almal getroud. Natuurlik sal hy die een of ander tyd trou en met ’n gesin begin. Maar wat hy van sy vriende se huwelike sien, maak hom nie oorhaastig om die strop om die nek te kry nie. Dis nie altyd rosegeur en maneskyn nie, dis gewis. Menige dag al het hy sy sterre gedank dat hy nog nie sy kop in daardie bynes gesteek het nie. Maar dit het hom nie gekeer om van die een meisie na die ander te gaan nie. Die meisies weet dat hy ’n glibberige kalant is, maar dit weerhou hulle nie daarvan om die sjarmekrane oop te draai nie. Sodra hy egter agterkom dat die betrokke dame ernstige idees omtrent die toekoms begin kry, maak hy sy lyf skaars. Sy ouers is verniet bekommerd. Nie een van die meisies met wie hy tot dusver uitgegaan het, het hom al na die kansel laat verlang nie. Dit het hom eintlik goed gepas wanneer hulle duidelik gewys het dat hulle nie ingenome is met die potensiële skoondogters nie. Heimlik het hy met hulle saamgestem.

      Maar nou het sake skielik ’n ernstiger wending begin neem. Hy sal iets daadwerkliks aan die saak moet doen …

      Miempie Rust is salig onbewus daarvan dat haar naam in die deftige huis van die De Jonghs genoem is toe sy ’n paar dae later deur die motorhek van La Rhône ry. Sy ry in die rigting van die landerye en boorde waar die meeste werkers is. Toe hulle die bekende kombi gewaar, staak hulle hul werkery en begin in haar rigting aanstreep.

      Vandag merk Emile de Jongh haar aankoms nie so terloops op soos voorheen nie. Hy bekyk die bedrywigheid op ’n afstand. Eers toe hy seker is dat die laaste pasiënt behandel is, stap hy in die rigting van die kombi. Hy voel ’n bietjie verspot. Tog het sy nuuskierigheid die oorhand gekry. Hy moet sien hoe lyk dié danige Miempie.

      Sy verskyn in die kombideur en haar oë rek verbaas.

      Hý is egter glad nie verbaas oor dit wat hy sien nie. Dis half en half wat hy verwag het. Nie mooi nie, ook nie lelik nie. Baie netjies in haar uniform. Al die kurwes op die regte plekke, maar nou nie om ’n man in ’n beswyming te laat raak nie. Net doodgewoon doodgewoon, dis Miempie Rust … sy Ma se bloudruk van die ideale vrou vir La Rhône. Sy mondhoeke trek.

      ’n Kepie verskyn tussen die doodgewone groenbruin oë. Sy weet nie wat die man so amusant vind nie, maar as hy vir háár staan en lag … “Ja, meneer? Kan ek help? Kom jy ook vir die gebruiklike?”

      Sy laggie verdwyn onmiddellik. Sy stem klink sedig. “Wat is die gebruiklike? Is dit ’n skimp vir voorbehoeding? Is daar dan so iets op die mark? ’n Inspuiting ook vir mans?”

      Sy kyk koel terug. “Nee, meneer. Kastrasie is nog die enigste antwoord. Ek hét ’n tang hier binne …”

      Sy helder lag klink skielik op en sy weet nie hoekom nie, maar sy vererg haar nog meer. Wat sou die vername Emile de Jongh skielik vandag na die mobiele kliniek gelok het?

      “Dankie, suster, maar ek sal liewer van minder pynlike metodes gebruik maak, dankie.”

      Sy klim uit, skuif die deur toe, klim agter die stuurwiel in en skakel die voertuig se enjin aan. “In daardie geval, meneer … u mors my tyd. Ek het nog baie om te doen. Tot siens.”

      Ontstig ry sy verby die indrukwekkende opstal na waar die werkers se huise teen die rantjie nestel. Sy weet nie hoekom sy haar so vererg het nie. Maar hy het haar beskou asof sy op ’n vendusie te koop is. En hoekom Emile de Jongh háár so indringend sal wil beskou, slaan haar dronk. Sy het al genoeg gehoor van hierdie meneer om te weet dat sý beslis nie die tipe is in wie hy sal belangstel nie. In so ’n klein gemeenskap weet almal alles van almal af. En as jy Emile de Jongh van La Rhône is, is jy pal in die kollig.

      Sy het hom al op ’n afstand gesien, maar vandag was die eerste keer van aangesig tot aangesig. Sy het selfs al twee keer oor die telefoon met hom gepraat toe sy plaas toe moes bel om hulle van ’n veranderde skedule in kennis te stel. Op die dorp ry hy gereeld in sy duur motor met een van die talle mooi meisies met wie hy hom pal omring. Gehoor van hom het sy genoeg. As die klomp by die distriksmunisipaliteit eers met die jongste sappige nuusbrokkie begin, móét jy luister … soos wanneer jy dit móét hoor wanneer ’n brommer in ’n leë blik beland.

      Sy hou voor een van die huise stil en bepaal haar gedagtes onmiddellik by haar werk. ’n Paar vrouens met verskillende gesondheidsprobleme staan reeds op haar en wag. Sy behandel hulle en vra dan: “Waar is Martha?”

      “Sy staan en was daar agter haar huis, suster.”

      “En Maria? Sy moet al terug wees van die skool af.”

      “Ek het gesien sy stap veld toe. Seker gaan hout soek, suster.”

      Miempie stap om die huisie en kry Martha Benjamin by die groot sinkbad vol wasgoed. Martha kyk vinnig op, laat dan haar blik weer skuldig sak. Miempie kom fronsend nader. “Middag, Martha.”

      “Middag, suster.” Die hande bly bedrywig.

      “Jou drie maande is om. Dis weer tyd vir jou inspuiting.” Stilte. Ook geen teken dat sy die wasgoed gaan los nie. “Wat is dit dan vandag, Martha? Of wil jy nie meer die inspuiting neem nie?” Stilte. Die hande vryf en vryf net. “Julle het al sewe kinders, Martha!”

      “Klaas wil nie hê ek moet dit vat nie.”

      “Maar dan gaan jy weer verwagtend word! Hoe dink jy gaan julle agt kinders grootmaak? Kos en klere gee, geleerdheid, alles? Die lewe is so duur, word al hoe duurder.” Die bot swye wat sy al so goed leer ken het, volg. “Martha?”

      “Hulle sal grootword, suster.”

      Die ou bekende antwoord ook. Hulle sal grootword. Maak nie saak hoe nie, maar hulle sal oorleef.

      “Maar hoe? Swaarkry al die pad, soos jy tot vandag toe swaarkry? Gun jy jou kinders nie ’n beter lewe as jou eie nie?” Die bruin oë flits ’n oomblik in hare, kyk weer terug op die wasgoed. “Hoe meer kinders daar is, hoe swaarder gaan hulle almal kry, Martha. Hoe minder is daar vir almal. Jy en Klaas moet dit tog insien!”

      Die stem word effens weerbarstig. “Ons sal werk vir hulle. Ons werk nou en ons sal bly werk.”

      “Jy bedoel afsloof. Dis al wat jy en Klaas elke dag doen. Julle sloof julle af om liggaam en siel aanmekaar te hou. Wil jy dan nie vir jouself ook ’n beter lewe hê nie?”

      Die handbewegings verstil. “Daar is nie ’n beter lewe vir ons mense nie. Ek het eenmaal gedink daar kan wees … maar daar is nie.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Eenmaal toe ek jonk was … so oud soos Maria nou is, het ek so gedink …” Die hande begin weer heftig vrywe.

      Miempie besluit om die gesprek in ’n ander rigting te stuur.

      “Waar is Maria?”

      “Gaan hout soek.”

      “Martha, ek het al voorheen met jou hieroor gepraat. Moet Maria nie ook die inspuiting begin kry nie? Het jy al

Скачать книгу