Скачать книгу

– is die kern van die spiraal van Kanaän. Hier is alle ou mense se nagte eenders. Meer as sestig jaar gelede het ons Sigem van Damaskus se kant af bereik, maar hier verbygetrek, Egipte toe. Ons was kinderloos, Abraham, maar nog hoopvol. Van Egipte af het ons hier inspiraal, jare lank hier op gehuurde grond gebly. Toe weer uitspiraal: Gerar toe, Berseba toe: swerwers, huurders. Nou is ek sonder jou terug in die kern, met oues van dae vir naggeselskap en nie ’n handbreedte eie grond vir ’n graf waaroor mense nie sal loop nie.

      Een van die twee ou vroue het laas nag lank in die verste hoek van die tent bly vroetel en geluide maak.

      Is dit hoe hoog bejaarde Amoriete snags tot rus kom: so selfbehep en luidkeels aan die kerm oor die nagellendes van die ouderdom: rugpyn, heuppyn, buikpyn, krampe in die kuite, pyn in die bors, pyne tot in die vingerpunte?

      Snags het ons almal eenderse pyne.

      Die ander bejaarde was so wakker soos ’n uil. Sy het die Baäl-fees saam met die Amoriete anderkant die bokseile beleef. Hande dan teen die gesig, dan weer in die lug, het die ou vrou ook gegil en geroep, skor soos iemand wat byna nie meer stembande het nie: “Amurro! Ilu Amurro!”

      Sigem is maar vier dagreise van hier af. Maar toe hulle getrek het met die waens en die vee, die slawe uit Haran, hulle gesinne en hulle bondels, die tente en ’n trek asof hulle die hele Sumer, Akkad, Ur-Ma en groot gedeelte van Aram saambring, het die tog ’n seisoen lank geduur. Herfs het verbygegaan. Winter, met reën wat halfpad verys was, het op hulle neergegiet. By Sigem het Abraham sy eerste altaar in Kanaän gestapel, die een by die groot waarsêersboom.

      Dit het dae lank gereën. Die gehuurde slawe se kinders het oral gehuil. Van die vroue het gehoes dat sy hulle in haar en Abraham se tent kon hoor. Een oggend het Eliëser vir hulle kom sê dat sewentien van die slawe gedurende die nag met hulle gesinne gedros het, terug Haran toe. Lot het die aand daarna by hulle opgedaag, sy baard en hare druipend van die water, sy oorrok so nat dat Sara sy ribbebene en skouerblaaie kon sien.

      Sy het doeke na hom uitgehou en hy het sy hare daarmee drooggevryf. Sy klam hare het wild en kroes om sy gesig gestaan toe hy vir Abraham gevra het: “Hoekom is ons hier?”

      Abraham het hom aan die arm beetgekry, want Lot was kwaad, te kwaad om hom weer alleen die nag en die gietende reën te laat ingaan.

      “Ek het ’n vrou, Abraham. Haar tyd kom nader. Watter mens by sy volle verstand kan met hierdie … hierdie kranksinnigheid voortgaan? ”

      “Ons sal almal na jou vrou omsien, Lot. Eliëser se vrou, Rahel, is ’n bekwame vroedvrou. Sy …”

      “En dan?” wou Lot weet. “My vader se huis staan daar in Ur: drie verdiepings, mure, ’n dak, ’n ommuurde binnehof. Daar is tablethuise, edubbas. Waarheen gaan my seuns in hierdie plek? En as ek dogters sou hê … Ek wil nie eens daaraan dink nie.”

      Sy het vir Lot warm melk gebring, romerige melk met heuning en ’n bietjie sterk wyn daarin. Hy het dit soos ’n kind gedrink, soos ’n olel wat al die hande na vaste kos uitsteek, maar in angs en siekte niks anders as die bors van sy moeder wil hê nie.

      Die reën het twee dae later opgehou. Daar was nie droë hout nie, nêrens nie. Abraham wou offer; dit was nie moontlik nie. Dit het hom rusteloos gemaak; hy wou Hom wat onsigbaar en heilig is, met ’n offer aanroep. “Wanneer die rook opstyg, sien die ewige God dié wat Hom so aanroep, Sarai.”

      “Jy is benoud,” het sy vir hom gesê.

      “Meer as benoud, Sarai. Hierdie tog is ’n verskriklike onderneming.”

      Hulle was oopgeskeur voor mekaar, tot op die been. Tot in die hart.

      “Hoekom is ons hier?” het ook sy gevra, net soos Lot, wie se vrou gedurende die voordag geboorte geskenk het aan ’n dogter.

      “Omdat dit die wil van El Shaddai is,” het Abraham gesê.

      “Die wil van die gode is selde goed.”

      “Sy lig is heilig, dit vlam soos vuur. Niks wat sleg is, kan daarin standhou nie, Sarai.”

      Hy het oor hulle bondels in die tent geklim, die tentflap gelig en weer oor iets gestruikel. Maar die naghemel was so helder asof elke ster daarin deur die reën gewas is. Die maan het geskyn, die aarde het van water en reeds ontwakende grasspriete gegeur.

      “Waar gaan jy heen, Abraham?”

      “Ek gaan by my altaar staan.”

      “Die hout sal nie die middel van die nag droog word nie!”

      Hy het in die donker verdwyn. Die voetpaadjie na sy altaar het hy reeds geken. Hy het dit immers self uitgetrap.

      Sy het wakker geskrik toe hy terugkom.

      Hy was reeds by haar om haar wakker te skud. “Hy was daar!”

      Hy het so gebewe dat sy gedink het hy sterf. Maar hy het ’n glans op sy gesig gehad, asof lig deur sy vel skyn.

      “O, my heer …”

      Gaan weg van my af, wou sy sê. Ek kan nie aan jou raak nie. Daar is krag in jou.

      “Wat het Hy vir jou gesê, my heer?”

      “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,” het hy gefluister. “Net dit. Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”

      Hulle het van Sigem af verder getrek, en dit was of hulle die hele Akkad en Sumer en Ur-Ma agter hulle aansleep, so groot was die trek. Abram – want toe het Hy wat hoog en heilig is, nog nie sy naam verander nie – het die bergwêreld oos van Bet-El binnegetrek, en op pad het hy gesing. Die slawe het hom aangestaar. Een-een het hulle ingeval en saam gesing. Hulle stemme het uit die rante weerklink. Dit was of hulle stemme die gebied vir die verre toekoms merk. Op ’n plek met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant was daar baie hout. Die reën was verby, die aarde weer droog. Daar het Abraham sy volgende altaar vir die Here gestapel en sy Naam aangeroep.

      Daar was baie skerpioene tussen Bet-El en Ai, en vier ander slawegesinne het helder oordag opgepak en teruggegaan met die pad waarlangs hulle so moeisaam gekom het.

      HOOFSTUK 7

      Gister, in die laaste daglig van die dag toe die Amoriete my hierheen gedra het, het ek my oë oopgemaak en die stadsmuur skuins voor ons in die lig van die ondergaande son sien opdoem. Ek het dalk reeds geyl. So lyk dit dan, het ek gedink. Alles suiwer goud. Dit is dan die stad met vaste fondamente waarvan die ewige God die ontwerper en bouer is?

      Sedert daardie eerste keer by die groot waarsêersboom by Sigem, met mense van die land wat op die rotse hoër op teen die berg en ook teen die hange van die oorkantste berg vergader het, doen Abraham dit keer op keer. Hy stapel ’n altaar, hy soek die beste ram in die trop uit, en hy offer.

      Sy offerandes is soos woorde voor die God vir Wie hy El, Adonai en JAHWEH noem. Dit is woorde in vuur, rook en gloeiende kole, so anders as woorde van die mond. Of woorde op die kleitablette van Sumer: LA’ATZU, die wêreld van die geeste. AN en DIGIT vir die hemele en die gode daarin. LUGAL vir ’n koning. En E vir huis, die een in Ur waarin sy gedink het sy vir altyd sou woon. Maar juis dit moes sy agterlaat, juis die huis in Ur, die huis met die tuin, volop water, skadubome en geilgroen plante.

      Jou huis in Ur is nie meer die huis waarnatoe ons ooit weer sal teruggaan nie, Abraham. Jou huis, ons ou huis in Ur, is nou ’n pynlike woord tussen baie ander woorde op die kleitablette van Sumer: ERIDU.

      Vir die Sumeriërs is ERIDU die huis anderkant die sewende poort tussen die vreesaanjaende onderwêreld van die dooies en die Daarbuite. ERIDU is die huis vir deugsames in die verste veraf plek. Maar hier in Kanaän is die huis anderkant die sewe poorte waarvan ma Lahazib my saans vertel het nader en verder as wat ek ooit kon dink. Ons ERIDU staan in ’n straatjie naby die stadsplein van Ur in Ur-Ma. Abraham het immers die huis van sy vader in die tempelkompleks

Скачать книгу