Скачать книгу

wanneer jy na jou altare gaan.”

      Hy het na sy verdikte toonnaels sit en kyk, hard en lelik soos ou woestynskilpaddop. “Ek wens baiemaal, nee, elke dag van my lewe, daar was een enkele opening in die hemel daarbo, dat ek El Shaddai kon sien. Dat iets my net een keer deur die opening sou kon trek, dat ek net een kyk kon kry. As ek Hom een enkele keer in die Daarbuite gesien het soos Hy is, sou ek my lewe lank van die aarde af met Hom bly praat het. Al sou Hy die opening weer toemaak. Ek sou boontoe roep en sy Naam prys en nooit weer twyfel nie. Ek sou weet Hy wat Homself onsigbaar vir die mens maak, is in heerlikheid net anderkant die opening.”

      Skielik was hulle naby mekaar, nader as toe hy nog met haar gespeel het. Sy het haar arm om sy skouers geslaan, want hulle het langs mekaar gesit.

      “Maar Hy verskyn aan jou, Abraham.”

      “Wanneer Hy wil. Partykeer gaan baie seisoene verby, dan is Hy net stil. Wat ek begeer, is dat ek na Hom sou kon gaan wanneer ek wil. Dat Hy … tuis sal wees, altyd daar, nooit so weg nie.”

      “Wat jy sê, begeer ek ook, Abraham.”

      Hoe kon hy enigiets so diep uit sy siel sê, en dan lag sy?

      “Dit sou lekker gewees het om na Hom te gaan. Ek sou gehardloop het, elke dag.”

      “Kyk net waar jy hardloop,” het sy begin lag. “Jy is lank. As jy so in die hardloop oor iets val en neerslaan, moet jy weet jy gaan ’n paar bene breek, al met jou lengte langs.”

      HOOFSTUK 8

      Die twintigste dag van Lente. Die son skuif, Abraham, maar ek gaan nie saam vorentoe toe. Ek skuif terug na die tyd toe ons saam hier buite Hebron was. “Die nasies van Kanaän wil gode hê wat alles in hulleself oortref,” het jy vir my gesê. “Maar El Shaddai … Hy oortref óns.”

      Die eerste keer hier by Hebron was selfs vir Abraham ’n skok. Ná die vurk in die pad, toe hy Lot laat kies het watter koers hy met sy vee wou inslaan, was sy gesig dae lank strak, sy oë soos toe hy elke familielid in Haran finaal met ’n kus gegroet het. Lot was die enigste wat Kanaän saam met hom en haar kon binnegaan. Lot was bloed van sy bloed, die enigste bietjie familiebloed in dié land waarin hy – want so het hy van die onsigbare God verstaan – nie eens die kleinste lappie grond ooit sy eie sou kon noem nie. Ja, hy sou veel besit, het El Shaddai gesê. Hy sou ’n groot naam word, geëer en gereken, maar hy sou grond moes huur, weidingskontrakte moes beding, lewenslank.

      Lot was soos ’n seun vir hom.

      Die eerste keer hier by Kirjat-Arba wou sy buitentoe gegaan het om met haar eie oë te sien wat by die vure en die groot altaar onder die waarsêersboom gebeur, maar Abraham het haar gekeer. “Ons is in die middel van ’n Baäl-fees.”

      Sy het nie geweet dat die aantog van die god van die donderweer met so ’n geskreeu aangekondig word nie. Nog minder het hulle geweet dat die Amoriete dié god, wat in die middel van elke storm in die hemelruim staan en die een weerligstraal na die ander slinger waarheen hy wil, ook ná die storm sou bly smeek om nie van hulle af weg te gaan nie.

      “Dit klink soos duisende mense. Is die inwoners van die stad ook vannag hier in die veld?”

      “Dalk. Maar jy, Sarai, gaan nou bed toe. Dit is nie vir ’n vrou om te sien nie.”

      “Ek sal net in die tentopening …”

      “Sarai!”

      In daardie tyd het hy haar nog Sarai genoem. Sy het omgedraai, onbesmet, onrustig en ontsteld.

      “Wat soek ons hier, Abram?”

      Dit was haar eerste kennismaking met die nagtelike verering van Baäl-shamen, die groot Baäl, groter as die Baäl van die stad Hebron.

      “Bly hier,” het Abraham bo die klank van waansin uit vir haar gesê. Ek gaan na Eliëser toe.”

      Voordat hy die nag in is, het hy eers omgedraai: “Hulle roep na Baäl-shamen, hulle kruip en rol in die stof. Hulle het die beeld van Baäl-Hebron hiernatoe gebring: hulle dans in kringe om hom.”

      “Mag ek dan net in die tentopening …”

      “Nee.” So heftig het sy hom nog nooit hoor praat nie. “El Shaddai het gesê: ‘Lewe naby My en wees opreg.’ Dit beteken ’n onverdeelde hart.”

      “My hart is onverdeeld, Abram.”

      “Jou hart is in twee geskeur.”

      Hy was ontsteld; sy hande het gebewe. “Luister vir my, Sara. Wat hierbuite aangaan, mag jy nie eens van ver af sien nie. El Elyon, die Skepper van die hemelruim daarbo en die aarde waarop hierdie tent staan, is alles wat die Baäls van die Kanaäniete nie is nie. Die god – die vervloekte Baäl – wat hierdie Amoriete in hulle gedagtes bokant die weerligte en die stormwolke sien, bestaan nie. En die ding wat in die middel van dié …” Hy het na woorde gesoek en nie in die flikkering van baie vure uitgegaan voordat hy dit gevind het nie. “Daardie gruwel wat op sy voetstuk in die middel van dié orgie staan, is hulle eie maaksel.”

      “Goed, goed.”

      Maar hy was nie klaar nie, hy wou haar nooit weer so nuuskierig sien nie.

      “Die nasies hier wil gode hê wat alles in hulleself oortref. Dit is wat jý van El Shaddai weet, Sarai. Hy oortref ons. Ek begeer meer van sy Wese. Jy ook, hoeveel keer het ons dit al vir mekaar gesê? Rondom die God wat ons tot hier gebring het, is daar lig en ’n ander vuur, Sarai. Ek het dit vir jou vertel, jy het my geglo.”

      Hoe kon ek jou nie glo nie, Abram? het ek nog gedink. Jy het soos ’n dooie op die vloer in Ur gelê nadat Hy aan jou verskyn het. Jy het skaars die huis gehaal. Jy was soos ’n dooie, en jy het bly stamel: “Daar is ’n ander God as ons gode, Sara. Daar is lig om Hom; Hy vlam en brand soos vuur.”

      “Hierdie mense, ook hulle begeer meer en meer van die wese van Baäl,” het Abram daardie eerste keer hier by Hebron gesê. Want toe was hy nog Abram, sy nog Sarai, en die besoekers het nog nie uit die niet by hulle tente opgedaag nie.

      Hy sou haar aan iets kon vasketting, so ernstig was hy, daardie eerste keer hier naby Hebron. Maar dit was nie nodig nie. Sy het haar aan sy gesag onderwerp.

      “Ek verstaan, Abram.”

      “As jy verstaan het, sou jy geweet het dat dit lewensgevaarlik is om hom te gaan bekyk.”

      Sy het nie ’n woord verder gesê nie, maar die versweë argument wou nie in haar bedaar nie. Dit het nie sin gemaak nie. Hoe kan die Baäl-god wat die Amoriete in hulle gedagtes bokant die stormwolke sien, gevaarlik wees terwyl hy nie bestaan nie?

      Het Abram haar gedagtes gelees? “Luister vir my, Sarai. Daardie ding is dooie duisternis, dit is gekap en gesny uit die hout van bome wat lankal dood is. Daar is kragte om hom, iets van elders af, iets wat alle boosheid in die mens oortref. Daardie afskuwelike ding laat duisternis en gruwels uitbars uit elke dwase mens wat dit in die kragte om hom waag.”

      “Hoekom wil jy dan self uitgaan buitentoe?”

      “Eliëser moet toesien dat geeneen van ons mense ’n voet in die duisternis van daardie vure sit nie. Dat hulle nie eens sal gaan kyk nie.”

      Maar toe hy by die tente van hulle mense aankom, was daar reeds van die seuns weg om te gaan kyk hoe giftige slange uit mandjies gehaal en vereer word, hoe ’n seuntjie vir die Baäl in die vlamme gegooi word, hoe meisies in ’n kring om die beeld in die middel van die rook en doodsgille van die gedoemde kind dans, om een na die ander deur nakende Baäl-priesters gegryp en op die grond neergegooi te word.

      Abraham was woedend. Hy het Eliëser en die seuns se pa’s gestuur om hulle terug te bring na waar hulle hoort. Daardie nag het Sara groot, fris slaweseuns soos met dood in die kamp hoor huil. Dit was die nag toe elke jong mens van Abraham se mense wat sy eie pad wou loop, hier by Hebron die pynlikste pak slae van sy hele lewe van sy pa gekry het. Op Abram se bevel.

      O,

Скачать книгу