Скачать книгу

hulle maak nie meer sin nie,” is al wat sy sê.

      Seb gaan sit op een van die gemakstoele. Hulle lyk gemakliker as wat hulle is. “Ek kan vertel wat gebeur as mens doodgaan, met jou lyf. Ek kan my nie oor enigiets anders uitspreek nie.”

      “Ons verwag nie godsdiensonderrig nie,” verseker die ma hom.

      “Wel, gewoonlik werk dit só: Ek kry ’n oproep van die hospitaal af, of van ’n dokter af as dit by die huis gebeur het. Dan kom haal ek die … die persoon, en bring hom hierheen op ’n draagbaar.”

      “In ’n lykswa?” vra die seun, nog steeds met sy rug na hulle gedraai.

      “Ja.”

      “Ek het nog nooit in een gery nie. Is dit fênsie, soos ’n limo?”

      “Ek sou nie sê dis ’n limo nie, maar ja …” Nou kom die deel waaroor hy ligweg moet gaan. “Ons het ’n spesiale voorbereidingskamer hier agter waar ek jou sal was.”

      “Kan oom my wys?”

      “E, nee … Daar’s kaal mense daar.” Hopelik stel die verskoning die seun tevrede. “Ek sal jou goed was en jou droogmaak en vir jou die klere aantrek waarvan jy die meeste hou. Dan lê ek jou uit in ’n kis en mense kan na jou kom kyk as hulle wil. En dan maak ons die deksel toe, en vat jou weg om begrawe of veras te word.” Die afgewaterde weergawe, met niks van die grieselrigheid daarvan om die persoon se bloed te dreineer en sy agterent met ’n skroef soos ’n roomyshorinkie toe te stop nie.

      “Kan oom vir my ’n doodskis wys?”

      Nou moet hy vinnig dink. “Ek dink nie ek het een in jou grootte nie, maar ja, jy kan kom kyk … Mevrou?”

      Die vrou skud haar kop. “Ek ken my perke. Gawie, gaan jy saam met die oom.”

      “Ons is net langsaan. Kom enige tyd deur as u wil,” sê Seb vir haar.

      Hy vat die seun deur die private kapelletjie met sy houtpanele en ses kort kerkbanke, by die vertoonkamer in. Die kiste is in rye teen die mure gerangskik, op staalpenne. Die twee wat reeds hulle wit satynvoerings in het, staan op lae tafels met hulle deksels oop.

      “Is dit gemaklik?” vra die seun.

      “Ons het nog nie klagtes gehad nie.”

      Die seun glimlag. “Oom het ’n grap gemaak. Mens noem dit galgehumor.” Hy raak aan die geriffelde sy waarmee die kis langs hom uitgevoer is. “Kan ek binne-in lê?”

      Seb hou van die seun. Die outjie gaan blykbaar binnekort sterf en waarom nou vir hom nee sê? “Ek sê jou wat, trek jy jou skoene uit, dan help ek jou.”

      “Ek dink nie enigiemand wat ek ken was al ooit in ’n doodskis nie.”

      Dis baie makliker om die skraal kind in die kis te sit as die dooie gewig waaraan Seb gewoond is.

      Sodra die seun gemaklik lê, vra Seb: “Wat dink jy?”

      “Dis nie so sleg nie.” Gawie draai sy nek om na die wit voering agter sy kop te kyk. “Sal oom my wors afhaal?”

      Seb is vir ’n oomblik verward, maar die seun verduidelik: “Hierdie pypie in my neus.”

      “Dis wat ek gewoonlik sal doen. Behalwe as jy wil hê ek moenie.”

      “Ek sal nie meer daardeur gevoer hoef te word nie, die wors kan waai …” Die seun streel met sy hande oor die satyn. “Ons noem dit ’n wors, soos in die sprokie. Oom weet mos, die een van die man wat drie wense kry?”

      “Nee.” Dis jare sedert hy laas vir sy kinders enige verhale gelees het. Hulle is nou al tieners, byna klaar met skool.

      “Maar oom moet dié een ken.” Die kind lyk opgewonde, nie iets wat Seb gewoonlik in ’n kis teëkom nie. “Daar’s hierdie man en sy vrou, nè, en ’n feetjie sê vir hulle hulle kan drie wense kry en dit sal waar word. Die man is so opgewonde dat hy dadelik wens vir ’n pan vol wors. Pardoems! Hy’t ’n hele pan vol wors. Maar sy vrou is vies dat hy een van hulle wense op so ’n simpel ding gemors het, sy raak so kwaad dat sy sê sy wens die wors gaan sit liewer aan haar man se neus vas. Die volgende oomblik het die man ’n wors wat aan sy neus vassit, en nou het hulle nog net een wens oor …” Die seun kyk deurdringend na Seb. “Oom sien watse probleem dit is?”

      “Ja-nee, ek reken as jy net drie wense het wat gaan waar word, moet jy hulle nie op onnosele goed mors nie.”

      ’n Siddering trek deur die seun se lyf, en hy knyp sy oë styf toe. Sy spiere span stokstyf en sy nekare wys. Gaan hy hier in die kis doodgaan? wonder Seb verskrik. Maar dan ontspan die kind bietjie vir bietjie, en sy asem raak rustiger. Toe hy weer praat, maak hy asof niks noemenswaardigs gebeur het nie. “Wat sal oom doen as dit met oom gebeur, as oom drie wense kry en oom weet hulle gaan waar word?”

      “Dis ’n moeilike vraag. Op die oomblik sal ek wens dat jy gesond word.”

      “Sê nou ek is al klaar dood. Oom mag nie goed verander as hulle al klaar verby is nie. En oom mag nie daai wens kies waar jy wens al jou wense word waar nie.”

      “Wie maak hierdie reëls?”

      “Dis net hoe dit werk.”

      “Nou goed dan.” Seb probeer om sy gedagtes te laat gaan, maar dis moeilik met die kind se donker oë wat hom so stip aanstaar. “Ek kan nie nou aan iets dink nie.”

      “Oom moet. Mens moet altyd weet waarvoor jy wil wens.” Die seun kyk heen en weer na die kis se wande. “Kan oom my hier uithelp?”

      Seb buk en steek sy arms onder die seun se knieë en skouers in. Gawie sit sy arms om Seb se nek terwyl hy uitgelig word, en laat los eers toe sy voete op die grond is. Hulle loop terug na waar die seun se ma wag.

      “Dankie, Mamma, ons kan nou gaan.”

      “Het jy gesien wat jy wou sien?” vra Seb.

      “Ja, en dis nie so erg nie … Nou’s daar nog net een ding oor waarvoor ek bang is.”

      “Wat is dit?”

      “Dat Mamma alleen gaan wees.” Die seun vat sy ma se hand en lei haar deur toe.

      “Dankie hiervoor,” sê die vrou.

      “Dit was my voorreg.”

      Die deur met die wit kantgordyn gaan agter die seun en sy ma toe. Seb staan doodstil, totdat Doreen terugkom met haar teekoppie wat in die piering rinkel.

      “Wat wou hulle hê?”

      “Die seuntjie is sterwend.”

      “Gewoonlik wag hulle tot ná die tyd voor hulle kom,” sê Doreen met ’n gedempte glimlag.

      “Daar is niks gewoons omtrent hierdie een nie.”

      Seb draai om en sien die lykswa se sleutel. Iets lyk nie reg daarmee nie – of is juis reg. Die Rubik-kubus se ses kante het elk nou net een kleur. Hy kyk na Doreen. “Het jy …?”

      Sy volg sy blik en skud haar kop. “Dit moes seker daai kind gewees het.”

      Seb is uit die veld geslaan. Sou die seun dit sowaar kon regkry in die kort rukkie terwyl hy met die ma gepraat het?

      Toe Seb terugkom in die balsemkamer, lê en grinnik die man op die tafel vir hom. Seb vat ’n buisie Zip Lip en plak daardie smoel toe.

      3

      Aan die einde van die dag

      Hier teen halfsewe bel Helen en vra hoe laat hy huis toe kom, hulle het melk en brood nodig. Dit vat hom tien minute om op te pak en toe te sluit voordat hy in sy kar klim. Die laaste ding wat hy wil doen, is om sy vrou kwaad te maak, en hy probeer dus tyd wen op pad huis toe. Hy sien vir ’n verandering daarna uit om tuis te kom. Iets het met hom gebeur, ’n ongewone ou dingetjie, ’n storie met

Скачать книгу