Скачать книгу

herinner Seb altyd aan die plastiekblomme op grafte – helder en onvernietigbaar. Haar uitrustings oorbrug die jare; tuisgemaak met patrone wat sy in haar jeug gekoop het, aangepas (maar nooit genoeg nie) vir haar breër wordende middellyf. Sy dra te veel grimering en kleur haar hare so swart soos Elvis s’n. Sy was die eerste werknemer, toentertyd toe meneer Abrie die onderneming begin het, en het meer tyd hier ingesit as enigiemand anders. Die afgelope klompie jare kom wys meneer Abrie net ’n paar keer ’n week sy gesig om sy werknemers op hulle tone te hou. Deesdae is hy selfs skaarser.

      “Waar’s Ernie?” vra Doreen.

      “Ek het hom op pad by die huis afgelaai.”

      “Jy moenie dat daai outjie so bo-oor jou loop nie.”

      “Aag, dit maak nie saak nie, hy het ander goed wat hy wil doen.”

      “Het ons nie almal nie?” vra sy.

      Seb weet nie wat om te sê nie. ’n Mens het jou werk en jy doen dit, dit help nie om vir ander goed te wens nie. Sover moontlik bepaal hy hom by die voor-die-hand-liggende. Hy dink nie oor die verlede nie, dit maak hom hartseer. Hy dink nie oor die toekoms nie, dit maak hom bang. Hy wens wel af en toe vir die een of ander ingryping wat hom losruk van hierdie aardgebonde verdomde lot. Dan wil hy die grond van sy bleek wortels afskud en hemel toe sweef, ’n distel op die wind … Maar dit help nie om sulke drome te droom nie.

      2

      Waar daar ’n sprokie trek

      Dis Vrydag, en eintlik sou Seb vyfuur huis toe kon gaan, maar daar is ’n lyk in die voorbereidingskamer wat hy nog klaar moet balsem, die familie kom dit Maandagoggend besigtig. Hy het eintlik beoog om dit die middag al klaar te maak, maar toe moes hy saam met Ernie begrafnis toe gaan. Hy is nie lus om die naweek in te kom nie, en wil soveel moontlik van die werk nou afhandel.

      Gelukkig is die balseming heel alledaags. Die man is omtrent Seb se ouderdom, middel veertigs. Hy is aan ’n hartaanval dood en die liggaam is in ’n goeie toestand. Die gesig lyk ietwat gepynig, maar Seb sal dit maklik genoeg kan uitstryk en die gelaatstrekke onaanstootlik neutraal laat lyk. Dan moet hy nog net die balsemvloeistof deur die ou se are pomp, en dan sal hy min of meer lyk soos tydens sy laaste Sondagmiddagslapie.

      Seb probeer gewoonlik om nie te dink oor die lywe waarmee hy werk se geskiedenis nie. Wat op sy tafel beland, is maar net die oorblyfsels van ’n lewe, ’n homp mensvormige vleis wat sal verrot. Hy moet die roubeklaers ekstra ontsteltenis spaar deur die afgestorwene so aanneemlik moontlik te laat lyk. Die mense daar buite hoef nie te weet van hierdie lendelam beendere en die pruttende binnegoed nie, hierdie lekkende sak stink sappe. Die voorbereidingskamer – halfpad operasieteater, halfpad slagtery – is sy heiligdom. Hy is gemaklik daarmee om met die lywe te werk, eerder as met die hartseer mense by ’n begrafnis. Hy beskou homself as ’n lykbesorger, nie soseer ’n begrafnisondernemer nie. Iemand moet die verskrikking in die gesig staar waarvoor ander wegdeins, en hy is geskik vir die taak. Laat ander mense maar hulle illusies hê. Hy weet waar elke lewe ophou, en dit jaag hom allermins die skrik op die lyf. Die lewe is in elk geval nie so watwonders nie.

      Vat nou maar hierdie arme drommel – skatryk, maar morsdood. Seb het ’n ring met ’n voorletter daarop van die man se een vinger afgehaal, met ’n knewel van ’n diamant daarin geset. Daar was geen trouring nie. Aan Seb se eie linkerhand is daar net ’n dun trouring, op die oomblik bedek deur ’n blou rubberhandskoen, dik soos ’n partytjieballon. Hy steek die naald in die nekslagaar sodat hy die balsemvloeistof kan inpomp, werk vaardig om die keelaar oop te maak sodat die bloed kan dreineer. Hy voeg teenstolmiddel by die balsemvloeistof. Dan sit hy die pomp aan die gang, soos ’n hartslag, en kyk hoedat die donker bloedspatsels op die tafel uitpols en in lang trane teen die skuins vlekvrye staaloppervlak afloop.

      Die foon lui, ’n binne-oproep, van ontvangs af. Daar is ’n vrou wat met hom wil praat, sê Doreen. Sy het ’n kind gebring.

      Gewoonlik moet hulle die lyke gaan haal, maar die ouers van dooie kinders kan onvoorspelbaar optree. Hy vind dit moeilik om met kinders te werk, maar nie so moeilik as om die ouers in die gesig te moet kyk nie. “Dis die deel van die werk wat ek die meeste haat,” mor hy in die gehoorbuis.

      “Jy verstaan nie. Dis nie ’n … kliënt nie.”

      “’n Lewendige kind?”

      “Ja.”

      “Nou waarom wil sy my dan sien?”

      “Sy sê sy moet self met jou praat. Persoonlik.”

      Daar is nie uitkomkans nie. “Ek kom sodra ek kan.”

      Seb skakel die balsemmasjien af. Die proses kan sonder toesig voortgaan, maar hy verkies om byderhand te wees om enige onvoorsienighede te hanteer. Netnou skuif die naald en die vloeistof sprei onder die vel.

      Hy het jare laas ’n besoeker hier gehad, en hy wonder wat die rede kan wees. As dit nou iemand vir een van sy kollegas was, was dit dalk oor ’n misstap uit die verlede, maar Seb het nog altyd netjies in sy spoor getrap. Niemand sal kom en sê: Hallo, ou, hier’s ’n kind waarvan jy nie geweet het nie. Hy was nog nooit ontrou aan sy vrou nie, en hulle is al negentien jaar getroud. Om die waarheid te sê, hy kan nie die laaste keer onthou dat hy seks gehad het nie, punt. Om heeldag met lyke te werk is nie goed vir sy libido nie.

      Hy trek sy voorskoot, groen oorpak en handskoene uit, en was sy hande. By die deur trap hy sy wit rubberstewels uit en spat vanielje-ekstrak in sy palm. Hy vryf sy hande teen mekaar en vee dan oor sy gesig en nek. Dit is ’n kunsie wat hy in ’n fliek opgetel het, waar ’n ou heeldag met pekelsuurtjies gewerk het en van die reuk ontslae wou raak. Seb se beroep kom min of meer daarop neer om mense te pekel, en toe dog hy dit kan vir hom ook werk. Hy het lankal gewoond geraak aan sy beroep se reuke, maar probeer dit ter wille van ander mense verbloem. Hy kyk vlugtig in die spieël en stoot sy kuif se oeserige oorblyfsels agtertoe. Hy gryp sy baadjie in die verbygaan en trek dit aan terwyl hy loop. Teen die tyd dat hy by ontvangs kom, moet hy nog net aan sy hempsmoue trek om seker te maak hulle sit eksieperfeksie, steek net-net by sy baadjiemoue uit.

      Die lykswa se sleutel is nog in sy sak, en hy hang dit aan die haak langs die toonbank.

      Die vrou hou haar handsak op haar skoot vas. Sy is omtrent veertig, aantreklik, maar afgemat. Die kind langs haar is uitgeteer, so agt of nege jaar oud. ’n Plastiekpypie is aan sy gesig vasgeplak. Een punt steek in ’n neusgat op en die ander verdwyn onder sy bruin trui se kraag. Die kind lyk nie veel anders as party van dié wat Seb op sy tafel kry nie.

      Uit die hoek van sy oog merk Seb dat Doreen opstaan en met ’n teekoppie verdwyn na die baas se kantoor toe, agter ontvangs. Dis ’n private saak hierdie, meen sy seker.

      Seb stel homself voor; die vrou staan op en skud sy hand. Sy sê haar naam, maar die kind boei sy aandag dermate dat hy dit dadelik vergeet. “En dis Gawie,” sê sy.

      Die kind het bruin oë met goue vlekkies. Hy staar na Seb, wat so ongemaklik raak dat hy hom weer tot die vrou wend: “Ek is jammer, maar ek kan u nie plaas nie …”

      “Ons het nog nooit ontmoet nie.”

      “O. Wat kan ek vir u doen?”

      “Gawie wou ’n begrafnisondernemer ontmoet. Hy stel baie belang in wat met hom gaan gebeur as hy doodgaan.”

      Seb voel asof hy in ’n kamera se flits betrap is, verbaas en ontbloot. Dis een van daardie oomblikke wat vir hom onderstreep waarom hy die dooies se geselskap verkies – daar is geen verrassings nie, en niemand om sy tekortkominge raak te sien nie. Wat sê ’n mens in so ’n situasie? Nie een van sy beroep se geoefende clichés help hom nou nie.

      “Ek is ’n rare geval,” sê die seun oor sy skouer terwyl hy toonbank se kant toe staan. Hy is effens hees, maar sy stem is sterk. “My derms werk nie behoorlik nie. Die dokters noem dit degeneratiewe leiomiopatie en ek is een van die min mense wat dit het. Die volgende keer as oom my sien, is ek dood.” Hy sê dit asof dit net ’n klomp feite is wat hy op die internet

Скачать книгу