Скачать книгу

Hy deins nie van ’n toets terug nie. Hy is nie bang daarvoor nie. Inteendeel. Hy smeek die Here om hom te toets en te evalueer – om ’n resensie oor sy innerlike menswees te skryf.

      Dawid besef die waarde van die Here se oog wat tot in die diepste verskuilde hoekies van ons harte kan sien. Vir Dawid is so ’n geestelike toets ’n bruistablet, nie ’n straf nie. Hy besef dit is noodsaaklik as hy wil groei in gehoorsaamheid aan sy Vader.

      Hoe voel jy oor so ’n toets in die Almagtige se klaskamer?

      Bruisgebed vir toetsvrees: Vader, ek besef die waarde van evaluering. Daarom kies ek om gereeld deur U, die Almagtige, getoets te word. Dan sal ek in geestelike volwassenheid kan groei tot eer van u Naam.

      Vitamien A

      Afhanklik

      “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

      – Matteus 5:3

      My worshond, Boytjie, is vir my ’n voorbeeld van volkome afhanklikheid. Sy oë is altyd op my gerig – vir liefde, goedkeuring, kos, water, uitstappies en natuurlik wanneer hy siek is. Wanneer ek moet reis, klim hy in my tas om seker te maak hy gaan saam.

      Wanneer ek skryf, lê hy by my voete. Wanneer ek gaste kry, kuier hy saam. Wanneer ek TV kyk, lê hy op my skoot. Wanneer ek gaan slaap, spring hy langs my in die bed. En selfs wanneer ek badkamer toe gaan, volg hy my. Boytjie hou niks van ’n toe deur tussen ons nie.

      Wanneer ek buiteland toe moet gaan, kry ek ’n babysitter om na Boytjie om te sien. Geen plaasvervanger stel hom egter tevrede nie. Hy kerm dag en nag. Hy wag onrustig op my, met sy oë op die hek gerig. Deur sy worshondoë is ek die bron wat hom veilig hou, byna asof ek die Here self is.

      My worshond se neediness is vir my ’n spieël van hoe volkome afhanklik ek as mens van die Here se genade is. Tog soek so baie van ons sekuriteit in verganklike dinge. Ons ken ons Here (eers) as ons moet “veearts” toe gaan of honger of dors het.

      Ek het gevind wanneer ek my hele lewe in totale afhanklikheid van die Here leef, word ek gevul met ’n kalmte wat alle verstand te bowe gaan. Probeer volkome afhanklikheid van die Here van vandag af jou lewensingesteldheid maak.

      Bruisgebed vir afhanklikheid: Here, ek kies bewustelik om my oë dag en nag op U gevestig te hou as die bron van alles wat ek nodig het.

      Vitamien N

      Nuut

      Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ’n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

      – Jesaja 43:19

      Die woord nuut laat my baie meer opgewonde voel as die woord tweedehands. Dink maar hoe jy voel wanneer jy ’n splinternuwe rok, ’n nuwe motor of ’n nuwe huis koop! Dit voel kraakvars en silwerskoon. Niemand voor jou het dit al ooit gebruik nie. Jy is die heel eerste eienaar.

      As middelkind het ek soms my suster se tweedehandse skoolklere geërf, asook haar hand-me-down klere. Die woord nuut het daarom vir my ’n besonderse bruistablet-betekenis.

      ’n Paar jaar gelede het ek my moeë Corsa vir ’n splinternuwe Rav verruil om die lang paaie alleen deur die land aan te durf. Ek klim steeds elke dag met groot dankbaarheid teenoor die Skepper in hierdie sterk motor. Dit is vir my ’n simbool van persoonlike vernuwing. Net net uiterlik nie, maar veral innerlik.

      Dalk voel jy heeltemal terneergedruk oor jou huidige ou lewe terwyl jy hier lees. Dalk is jy in ’n seisoen waar jy platgeslaan is en al jare lank tevergeefs op vernuwing en uitkoms wag.

      Vra jou Vader vir ’n nuwe seisoen. Maak jou hart en hande oop om dit van Hom te ontvang. Sy Woord sê Hy wil vir jou ’n nuwe hoofstuk in jou lewe gee en die ou deurtrapte murasies en woestyndenke met iets nuut vervang. Die Here wil jou na verkwikkende water lei en is reeds besig met die vernuwing in jou lewe. Hy kan dit al sien gebeur.

      Kan jy dit saam met Hom visualiseer en dit glo?

      Bruisgebed vir vernuwing: Vader, ek maak my hart en my hande oop vir die werking van u Heilige Gees. Ek vertrou dat U positiewe vernuwing in my lewe sal bring.

      Vitamien L

      Leer

      Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie? … Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie?

      – Romeine 2:21, 23

      Daar was nog altyd ’n leergierigheid in my, en ’n nog groter begeerte om ander te leer. As kind het ek gereeld my poppe in rye laat sit. Dan het ek voor die “klas” gaan staan en vir hulle skool gehou. Ek het al die antwoorde geken. Dié poppe wat goeie leerders was, is beloon met sterretjies; dié wat swak leerders was, het pak gekry.

      Namate ek ouer geword het, het ek al hoe versigtiger geraak om voor te gaan staan en ander mense te probeer onderrig, asof ek die slim onderwyseres op die pedestal is – die een met al die kennis. Veral wat geestelike sake betref.

      Ek hou steeds van leer. Maar tydens my geloofsreis het ek my fokus verskuif van alwetende leermeester na nederige geestelike leerder. Geloof is ’n geheimenisvolle en persoonlik pad saam met die Here, nie ’n plek waar ek ooit sal arrive met al die antwoorde vir ander in my hand nie.

      Sosiale media word elke dag oorlaai met uiteenlopende opinies en uitsprake. Die meeste mense glo hulle siening is die waarheid. So ontstaan daar groot konflik tussen menigtes wat mekaar probeer onderrig, reghelp en kritiseer.

      Ons vergeet egter: Ons almal is feilbaar. Die een is nie beter as die ander nie. Ons almal is nog op skool. Die Woord sê dis gevaarlik om jouself as leermeester aan te stel. ’n Nederige leerder is dikwels ’n groter bruistablet as ’n opgepofte vingerswaaier.

      Bruisgebed vir leerders: Here Jesus, ek onderneem om altyd u nederige leerder te bly. Ek sal versigtig wees wanneer ek ander wil leer. Tot eer van u Naam.

      Vitamien G

      Genade

      Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die verheerliking van God.

      – Romeine 5:2

      Toe Frankie, my seun, jonger was, het hy die gewoonte gehad om my ’n please call me te stuur wanneer hy ’n probleem gehad het. Of bloot nie geld op sy foon gehad het nie.

      Een Saterdagoggend, terwyl ek die naweek in Parys gekuier het, kry ek weer so ’n please call me.

      “Wat is nuus?” vra ek. “Hoekom moet ek jou bel?”

      “Die flippen hond het my in my spier in my been gebyt. En dis nog nie die ergste nie,” kla hy. “Die dokter sê ek mag ’n week lank nie draf nie. En ek mag geen alkohol saam met die pille drink nie. En ek het klaar ’n six pack vir die Bokke se afskop teen die Wallabies gekoop …”

      Ek wil-wil my mond oopmaak en iets negatief sê oor die drinkgewoonte. Maar ek besin en sluk dadelik my woorde. Ek was ook eens jonk. Ek en my vriende vat ook gereeld ’n koue enetjie …

      Wie is ek om te preek? Ek stel gereeld my voorneme uit om meer stil te word. Om meer te bid. Om meer genade aan ander te betoon.

      “Geniet die game … en die six pack,” sê ek. “En begin môreoggend met die antibiotikum. Ek is so jammer die hond het byna julle dag bederf.”

      Wat is genade? Soms is dit bloot om empatie in plaas van kritiek te gee. Ons ontvang elke dag soveel genade uit die Vaderhart – veral wanneer ons droogmaak.

      Bruisgebed vir meer genade: Here Jesus, help my om doelbewus te kies om met u genade eerder as met ’n kniereaksie van kritiek te reageer. Tot eer van u Naam.

      Vitamien

Скачать книгу