Скачать книгу

      – Spreuke 14:23

      Die woord werk het vir baie van ons ’n negatiewe konnotasie. Dit voel nie soos pret nie, maar eerder soos sweet en moeite. Iets wat ons onder dwang móét doen, in plaas van iets lekkers wat ons vrywillig wíl doen.

      Ek het egter geleer om ’n kopskuif oor werk te maak. Sedertdien is werk vir my ’n bruistablet eerder as “tronkstraf”. Dit gee aan my ’n gevoel van menswaardigheid. Dit maak my ’n bruikbare en diensbare mens met ’n doel in die lewe – eerder as ’n rigtinglose mens sonder enige uitdagings.

      Dit is vir my ’n voorreg om te kan werk. Daar is soveel mense wat werkloos is en wat alles sou gee om in ’n posisie aangestel te word waar hulle geld kan verdien en hulle passie kan uitleef.

      Ek werk nie vir ’n werkgewer nie, maar vir myself. Ek het baie vryheid. Ek kan elke dag self kies of ek wil stokkiesdraai of produktief wil wees. Daar is nie ’n baas wat my aantree of opcheck nie. Ek is aan myself oorgelaat.

      Aanvanklik was dit vir my moeilik om ’n vaste werkroetine en die nodige selfdissipline aan te leer sonder ’n CEO wat vir my opdragte gee. Dit was vir my moeilik om op my pos te wees – sonder ’n vaste pos.

      Maar deurlopende harde werk en die ontginning van jou potensiaal bring ’n eie beloning. Die Here sien dit raak. Ek werk lankal nie meer met hangvlerkies nie, maar met opwinding. Want wat ek ook al doen, doen ek vir Hom, die ware CEO. Hy beloon die harde werk en die arbeider wat blymoedig opdaag.

      Bruistablet vir werkers: Vader, help my om al my werk met geesdrif en getrouheid te doen, tot eer van u Naam.

      Vitamien G

      Gesindheid

      Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar.

      – Efesiërs 4:32

      Hoe lyk jou gesindheid? Hoe groet en hanteer jy die mense wat oor jou pad kom? Met watter gesindheid praat jy met jou familie, jou werkgewer, jou personeel, jou huishulp, jou kollegas, die man wat brandstof in jou motor gooi, die persoon wat jou in die winkel bedien? Wat is jou gesindheid wanneer jy in ’n lang ry moet wag in die bank of by SARS, of wanneer jy in ’n verkeersknoop beland?

      Of dink jy nie juis hieroor nie? Vat jy dit maar brom-brom soos dit kom?

      Die Here verwag van sy kinders om in alle omstandighede goedgesind en hartlik te probeer wees – nie net by dié mense van wie jy hou nie, maar juis by die high-maintenance mense wat jou bloeddruk opjaag.

      Ek moes onlangs my bestuurslisensie laat hernu. Daar was ’n laaaaang ry mense. Dit het ons twee uur gekos om teen ’n slakkepas met die trap op te kruip tot by die kantoor waar die oogtoetse en uitreikings gedoen word.

      In so ’n situasie word jou ware goddelike karakter en gesindheid getoets. Veral wanneer die beampte voor jou lusteloos sit en kougom kou en jou met ’n blafgeluid naderroep, sonder om oogkontak te maak.

      Dis dán dat ’n innemende gesindheid die negatief gelaaide atmosfeer kan help ontlont. Ek maak altyd ’n punt daarvan om enigiemand met ’n nors gesig hartlik en met ’n smile te groet: “How was your day so far? You look tired.”

      So ’n aanslag werk nie soos ’n bom nie, maar soos ’n bruistablet.

      Bruistablet vir ’n goeie gesindheid: Vader, help my om as u verteenwoordiger doelbewus alle mense oral met u goeie gesindheid te hanteer. Tot eer van u Naam.

      Vitamien L

      Lig

      “Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”

      – Matteus 5:14

      Wanneer daar ’n kragonderbreking by my huis in Johannesburg is, is ek opnuut bewus van die belangrikheid van lig. Ek voel oorweldig en angstig – totdat ek ’n vuurhoutjie trek en ’n kers aansteek. Dan voel ek onmiddellik beter, asof ’n sonnetjie in my donker huis opgekom het.

      Sonder lig kan ons die pad vorentoe nie sien nie. Sonder lig loop ons teen voorwerpe vas. Sonder lig verdwaal ons, is ons rigtingloos en gedisoriënteer.

      Net so kan jou innerlike liggie ’n donker en hooplose situasie ophelder en verligting bring. As gelowiges het ons die opdrag om die lig vir die donker wêreld te wees. Nie net vir jou familie, jou vriende, jou selgroep of jou gemeente nie, maar vir die hele wêreld – waar jy ook al gaan.

      Vir my beteken hierdie opdrag om ’n innerlike vlammetjie van hoop, genade en deernis met my saam te dra. Om ’n sonnetjie te wees vir dié wat op ’n wintersdag verstote voel. Of ’n vuurvliegie in iemand se donker uur van nood. Om Jesus se lig te wees vir dié wat verdwaal het.

      Om ’n ligdraer te wees beteken nie noodwendig om te preek nie. Jy kan Jesus se lig versprei deur ’n kombers te gee, ’n koppie tee te maak, ’n hug te gee, ’n fish paste-broodjie vir ’n kind te maak, ’n onveroordelende oor te wees vir iemand wat verwerp voel.

      Dink net aan al die kreatiewe maniere waarop jy elke dag Jesus se lig in die wêreld vol nood kan wees.

      Bruisgebed vir ligdraers: Vader, gee dat ek elke dag u vlam van hoop in my sal uitleef – tot eer van u Naam.

      Vitamien W

      Wortels

      Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

      – Hebreërs 12:15

      As kinders is daar vir ons vertel geelwortels is gesond. Ons is geleer dat die voedingstowwe en vitamiene in wortels vir ons blink oë en blink hare gee. Jare later eet ek steeds getrou my wortels, soos ’n soet kind.

      In die biologieklas het ons geleer van die belangrike rol wat wortels by plante speel. Elke plant is toegerus met ’n unieke wortelstelsel wat die beste voedingstowwe vir groei en oorlewing in die verskillende klimaatstreke van ons land waarborg.

      By die tandarts moes ek hoor hoe belangrik gesonde wortels vir gesonde tande is. As die wortels vrot is, versprei die verrotting en die hele tand raak vrot. In so ’n geval moet die tand uitgetrek word. Of die wortelkanaal moet skoongemaak word. Soms haal hulle selfs die senuwees in die tand uit. Hierdie proses is baie pynlik. Ek weet, want ek is al daardeur.

      Net so leer die Woord ons hoe geweldig belangrik gesonde geestelike en emosionele wortels vir ons as mense is. Ons innerlike wortels is ons voedingskanaal. As ons ons gedagtes gedurig voed met die bitter en slegte dinge wat in ons verlede gebeur het, sal die bitterheid uitspruit en oral in ons lewe sigbaar wees. Die Woord sê mense met bitter wortels sal ander besmet en die lewe vir hulle moeilik maak.

      Maar as ons gesonde innerlike wortels het, sal ons genesing kan laat uitspruit na ander, na ons verhoudings en na die wêreld.

      Het jy bitter wortels? Dan is dit dalk tyd dat jy by die groot Geneesheer vir ’n wortelkanaalbehandeling aanmeld. Laat Hy die bitterheid verwyder sodat jy deur jou wortels net die goeie dinge in die lewe kan opneem en versprei.

      Bruisgebed vir gesonde wortels: Vader, bevry my van elke bitter wortel wat my gees vergiftig. Tot eer van u Naam.

      Vitamien H

      Hart

      “Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.”

      – Esegiël 36:26

      Hoe lyk jou hart?

      Jou liggaamlike hart is ’n belangrike orgaan wat ’n deurslaggewende rol in jou liggaamlike welstand speel. Dit het dieselfde funksie as die enjin van ’n motor. Jou hart pomp bloed met suurstof, en ander belangrike stowwe wat jy benodig, na al die dele van jou liggaam.

      ’n Gesonde hart het kleppe wat goed sluit en ontsluit. Die inkomende en uitgaande are is nie vernou met harde cholesterolneerslae nie. Die pas van ’n gesonde hart

Скачать книгу