Скачать книгу

is op pad,” sê Natasja en lui af. Wat kan tog so dringend wees dat Wasserman haar so vroeg in die oggend wil sien?

      Natasja groet en gaan sit oorkant dokter Wasserman. Sy beskou die groot gryskopman en snuif liggies. Hy was weer vanoggend te kwistig met sy naskeermiddel.

      Wasserman hoes liggies voor hy doodgewoon sê: “Jy begin vanjaar in kardiovaskulêre chirurgie spesialiseer.”

      Natasja knik: “Dis reg, ja?”

      “Wel, ek het goeie nuus vir jou. Het jy al van dokter Hugo Massyn gehoor?”

      Sy sit sommer kiertsregop. “Dié dokter Massyn? Die beroemde hartchirurg?”

      Hy knik en glimlag: “Die einste. Hy is terug uit die buiteland en het reeds by ons kom aansluit. Hy opereer deesdae nie net op volwasse harte nie, maar doen ook sleutelgat-chirurgie en in-utero-chirurgie op sianotiese babas.”

      “Maar dit is fantastiese nuus!”

      Wasserman knik selfvoldaan. “Ek het jou in sy span ingedeel.”

      ’n Paar tellings gaap sy hom stom aan terwyl die nuus insink. “Ek weet nie hoe om dankie te sê nie. Dit is wonderlik … Ek waardeer dit oneindig baie,” eindig sy lamlendig.

      Wasserman glimlag. “Jy kan geweldig baie by hom leer. Môreoggend sesuur begin jy saalrondtes doen saam met dokter Massyn en die ander kliniese assistente in die span. Intussen gaan jy aan met algemene chirurgie en om jou studenteinterns op te lei.”

      Natasja vou haar arms om haar lyf en skiet orent. “Ek kan nie wág nie,” sê sy entoesiasties en gee Wasserman ’n handdruk voor sy haar uit die voete maak.

      Dit voel of sy sweef toe sy met haar studenteinterns wat in algemene chirurgie spesialiseer, saalrondtes doen. Later, tussen konsultasies in haar spreekkamer deur, drink sy ingedagte tee en glimlag. Sy het nog nooit ’n foto van dokter Massyn gesien nie, maar in haar gedagtes stel sy hom voor as ’n skraal grys man met effense geboë skouers van die ure se staan oor die operasietafel.

      Sy gaan onder ’n wonderlike man se leiding in hartchirurgie spesialiseer!

      Dat sy besiger as ooit tevore gaan wees, is oukei.

      Hugo Massyn staan gebukkend langs Rikus Maree, die kliniese assistent in pediatrie en bestudeer X-strale. ’n Student-intern in sy derde jaar staan agter Rikus en luister.

      “Dit is die outjie met die bloubaba-sindroom wat in die vroeë oggendure gebore is,” sê Hugo en trek met ’n vinger oor die skerm. “Dis ’n transposisie van die twee arteries. Hier kom die groot arterie wat aan die linkerkant moes afkom, nou aan die regterkant af, en die regterkantse arterie aan die linkerkant af. Dit beteken hier is nou twee aparte sirkulasiestelsels. Dié twee hartkamers kommunikeer nooit met mekaar nie, so die bloed wat na die longe toe gaan …”

      Hugo kyk gesteurd oor die skerm en deur die glasafskorting toe twee geselsende verpleegsters verbystap en een hardop lag. Sy blik haak vas op ’n derde figuur. Adrenalien skiet deur sy are en laat sy hartklop versnel.

      Hel, dit kan nie wees nie. Nee. Ja. Dis wragtig die girl wie se oupa hy Sondag opgelaai en huis toe gevat het.

      Hy kom orent en bestudeer haar.

      Die glimmende aura wat haar omring, was toe nie net in sy verbeelding nie. Haar vel en blonde hare gloei sag asof ’n lamp binne-in haar aangesteek is. Sy glimlag liggies, asof tevrede met haarself, en nou eers sien hy hoe sag en volmaak haar lippe gevorm is.

      Sy draai om toe ’n pasiënt haar iets vra. Haar blonde lokke is argeloos met ’n rekkie in ’n poniestert in ’n vreemde, deurmekaar gedoente agter haar kop saamgevat. Die ligblou teaterjurk oor die donkerblou langbroek verraai dat sy ’n chirurg is.

      Sy gaan staan by die dienstoonbank, blaai deur ’n lêer en maak aantekeninge.

      Hugo word bewus van sy omgewing toe Rikus Maree ’n blaaslaggie gee. “Sy is beeldskoon, nè? Jip, elke ou hier rond se fantasie.” Rikus kyk tellings lank in stilte na haar. “Haar bynaam is Ysprinses.”

      Hugo frons met sy oë steeds op haar. Sy lyk nie hoogmoedig nie en het vriendelik met die pasiënt gesels. “Hoekom Ysprinses?”

      Rikus leun agteroor. “Dokters en ander personeellede vra haar gereeld om uit te gaan, maar sy sê altyd nee, sy het nie tyd om te date nie.” Hy huiwer. “Ek het gehoor daar is ’n ou by Tygerberg-hospitaal, iemand wat saam met dokter Engelin by Dokters Sonder Grense gewerk het, maar ons het hom nog nooit gesien nie. Dalk gaan kuier sy soms in die Kaap by hom. Hoewel sy amper elke naweek werk, so ek weet nie … die Kaap is ’n bietjie ver van Durban af.”

      “Ek sien.” Hugo is nie bekommerd nie. Die verhouding kan nie ernstig wees as die man haar omtrent nooit sien nie. “Wat is haar regte naam en wat is haar spesialiteit?” Hel, hy moenie sy belangstelling so ooglopend maak nie. “Ek het die ander chirurge almal ontmoet, afgesien van haar.”

      “Dokter Natasja Engelin. Sy’s ’n algemene chirurg.” Rikus lag effens. “Sy kon Sondagaand skaars in die lift klim van moegheid omdat sy langer as agttien uur by trauma op roep was. Sy het half aan die slaap met haar kop teen die muur gestaan, toe bied ek aan om haar huis toe te vat, maar sy’t geweier. Sy’t gesê sy is gelukkig Maandag en Dinsdag af en gaan heerlik uitrus. Dit is hoekom ons haar vandag eers weer sien.”

      Hugo laat sak sy kop en kyk onsiende na die skerm. Mm, Natasja Engelin, mooi name … pas by haar engelagtige gesiggie. Maar hy weet eerstehands sy kan net so omswaai en kil word.

      Hel, hy het dit verdien.

      Rikus kyk oor sy skouer na die student-intern: “Dokter Engelin het jou ’n paar interessante feite oor pediatrie geleer, of hoe? Prosedures waarvan jy en ’n paar ander nie geweet het nie.”

      Hy knik: “Dokter Engelin is hel-uit intelligent. Sy vergeet boonop net mooi niks as sy dit een maal gehoor, gelees of gesien het nie.”

      Hugo lig sy kop en beskou Natasja. Mm, beeldskoon en op die koop toe briljant ook. “Waar het sy gestudeer?”

      Rikus kyk asof ingedagte na Natasja. “Universiteit van Kaapstad. Sy’t haar internskap deur Dokters Sonder Grense gedoen, iewers in oorloggeteisterde gebiede in Afrika, toe ’n ekstra jaar internskap hier kom doen, eksamen afgelê en cum laude geslaag. In haar huisdokterjaar hier, het die spesialiste gou haar potensiaal raakgesien en haar oral ingespan. Toe begin sy die daaropvolgende jaar in algemene chirurgie spesialiseer.”

      Hugo gee ruim skenkings vir wêreldorganisasies soos Médecins Sans Frontières, ofte wel Dokters Sonder Grense, asook andere omdat hulle vir die armes, en vir siek en beseerde mense sorg. Net jammer dat daar medici is wat in dié proses hul lewes moet inboet.

      Tog, geen wonder die chirurge by Avianto het dokter Natasja Engelin opgemerk nie. Mens moet uithouvermoë en senuwees van staal hê om veral in Afrika te werk. Daar is oorloggeteisterde gebiede waar dokters soms met flitsligte in die donker moet opereer, en met die karigste instrumente moet klaarkom om lewes te probeer red. Waar sou sy gaan werk het? Kongo? Angola?

      Rikus se stem dring deur sy gedagtes: “Dokter Engelin het eendag gesê sy verkies algemene chirurgie omdat dit nie eentonig is nie. Sy’t gesê sy sal haar doodverveel as sy heeldag net een soort prosedure moet doen. En sy assisteer soms by hartoperasies … weet nogal baie van kardiologie af. Sy opereer ook op haar eie pasiënte en veral natuurlik wanneer sy by trauma aan diens is.” Rikus kom orent. “Moet ek dokter Engelin roep en haar aan dokter voorstel?”

      Hugo kyk na ’n volgende X-straalfoto. Dalk moet hy die bekendstelling verbykry en sien of Natasja hom gaan herken.

      Hy kyk op. Waar de hel is sy nou?

      “Dis oukei, daar’s geen haas nie,” sê hy net. Die gevoel van bewondering en belangstelling in die girl sal verdwyn, soos dit nog altyd in die verlede met hom die geval was. Dit sal boonop idioties wees om té vriendelik met die personeel te raak, altans, nie nou al nie, dis hopeloos te gou.

      2

Скачать книгу