ТОП просматриваемых книг сайта:
Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot. John Miles
Читать онлайн.Название Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot
Год выпуска 0
isbn 9780798173094
Автор произведения John Miles
Жанр Контркультура
Издательство Ingram
Dit lyk of Sithole vir die vraag skrik. Tumelo John staan op en tap vars water in sy kleipot.
“Ek was nog nie self daar nie. Toe ek klein was, het my pa dikwels van die plek vertel.”
Lank en skraal, hare baie kort geknip, spiere wat meer lyf wys van al die oefening op Hammanskraal. En ’n uitdagende glimlag. Tumelo John bekyk homself in die spieël wanneer hy die waterkruik op sy gebruiklike plek staanmaak.
“En jou oupa,” vra hy, “het jy hom dan nooit geken nie?”
“Nee.”
In die spieël sien hy hoe sy kamermaat die stapeltjie kiekies nog ’n keer deurkyk, asof hy môre daaroor toets moet skryf. Dit lyk nie of Sithole iemand maklik sal vertrou nie.
“Hierdie swaer van jou, is hy nie van Rhodesië nie?”
“Nee, in Swaziland grootgeword.”
Twee aande gelede was Tumelo John op aandskof en hy moes so teen agtuur saam met Kriek uit in die vangwa om ’n twaalfjarige seun na sy ma te neem waar sy in die kombuis van ’n manshostel daar naby werk. Die kind het die middag laat op die binnegoed van drie geslagte beeste langs ’n mynhoop vlak teen die hoofpad afgekom. (Hy’t hom koud geskrik, gedink dis vermoorde mense en het reguit na die polisiestasie gehol.)
“Die beeste sal gesteel wees,” het Kriek met stelligheid gesê.
Kriek, bietjie ouer as Tumelo John, is ’n gawe ou, vertel almal, mits julle oor die weg kom, natuurlik. In die polisiehostel het Tumelo John gehoor Kriek is onlangs met R20,00 of 20 dae beboet; hy het in die hof toegegee dat hy ’n swartman gearresteer het bloot omdat die man “nors en bombasties” was. Kriek moes glo ’n klag van diefstal by ’n firma ondersoek. Met die intrapslag het hy die swart voorman uit die fabriek laat roep om te ondervra en toe dié onvriendelik was, hom sonder versuim as verdagte gearresteer. In die hof het die swarte gekla oor die boeie so styf om sy gewrigte vasgeklamp was. Toe Nkosi die storie aan Tumelo John en ’n ander groentjie vertel, het hy so hard begin lag dat Tumelo John hom moes vra waarom hy lag.
“Shit, stel jou voor,” het Nkosi gesê, “stel jou voor dat Kriek jou sagkens boei!” en die trane uit sy oë gevee.
Op pad terug naby die staaltoufabriek waar daar die vorige jaar die staking was, kom hulle af op ’n dronke verder heen as wat sy voete hom kan dra. Kriek blaas toeter en die vent lyk of hy wil omdraai, maar as hy sy voet wil gebruik, is dié om die een of ander rede nie tot sy beskikking nie en hy slaan voor hulle in die pad neer.
“Daai zool word opgelaai!” beveel Kriek en Tumelo John klim uit. Hy’t dit al by die polisiestasie hoor sê dat om ’n inkapabele dronke behoorlik te behandel, jy hom eers met die skoen toets om seker te maak hy kan jou nie te lyf gaan nie; dan draai jy flink jou rug, pak hom stewig aan die voete en sleep. En jy “dop hom om” in die vangwa.
Tumelo John keer die man om op sy rug, sy klere is in repe, sy gesig middeljarig en met ’n kwota vorige letsels. Hy buk af (hy kon my oom gewees het) en pak die vent onder die armholtes en sleep hom agteruit na die vangwa waar Kriek reeds die deur oop het en met sy flitslig straataf speel.
“Moleko, jy sukkel ook maar, nè?”
Skaars het Kriek dit gesê of die dronke gooi op skuins oor sy eie bors en bo-op Tumelo John se skoot dat Kriek dit uitdawer van die lag. Hy pluk die dronke self orent en saam stoot hulle hom oor die vloer van die vangwa.
Tumelo John kyk af na sy uniform en Kriek laat sy lig op die gemors val.
“Dit sal jou fokken leer om hulle nie aan die kopkant te sleep nie! Nou kan jy ook agterin. Ek laat nie so ’n suur bliksem saam met my ry nie.”
By die polisiestasie word die dronke eers in sy sel geboender, dan staan Tumelo John ongemaklik met sy besmeerde klere rond asof hy pas in die openbaar op ’n daad van selfbevlekking betrap is. Op Kriek se “Nou kan jy die vangwa loop was”, het Sithole tot sy redding gekom. Hy het sonder om iets te sê die vangwa skuins gaan parkeer en met ’n straal water uitgespuit sodat Tumelo John hom skoon kon gaan aantrek.
Sithole het die foto’s eenkant gesit, tel weer sy polisietydskrif op.
“Jy weet,” sê Tumelo John, “ek weet nou wat beteken dit as hulle sê die linkerhand weet nie wat doen die regterhand nie.”
Sithole kyk hom vraend aan.
“Daardie dronk ou nou die aand, hy het gouer oor sy babalaas gekom as oor hoe rof ons hom behandel het. Maar op Hammanskraal het hulle ons geleer elke mens het sy regte, onthou jy?”
“Jy klink nou nes my pa,” sê Sithole ergerlik en tot Tumelo John se verbasing. “Die man kan op niks aanspraak maak nie. Hy’t te veel gedrink. As hy nie so behandel wil word nie, moet hy leer om hom nie te besuip nie.”
“Ja man, ek weet, ek weet. Ek hou self nie van ’n gesuipery nie. Maar maak nie saak nie: hoe daar op Hammanskraal gepraat word, is nie hoe ons elke dag die werk doen nie.”
“Nou ja? Dis mos hoe dit is, hoe anders?” en Sithole lees verder.
“Ek sê maar net. Hoe jy leer om ’n ding te doen en hoe jy dit eintlik uitrig, is nie dieselfde nie.” En Tumelo John dink: miskien moet ek maar my bek hou … Sithole is nie heeltemal so stil soos wat hy voorkom nie, kyk net hoe heftig het hy teruggekap op wat ek sê.
Bekyk hom hier! Tumelo John met sy uitdagende glimlag en lewendige oë. En aan sy sy die op en wakker meisie, kop effens skeef – dis hoe sy maak as sy onverhoeds betrap is en skaam-verleë voel, jy sien dié houding op talle foto’s. Sy dra ’n pelsmanteltjie, twee snoere krale om die hals – om die rye wit tande te herhaal – en blink oorhangertjies, hare strak na agter uitgekam. Hulle staan teenaan mekaar, haar skouer teen die bors van sy windmaker wit pak (met kontrasterende donker hemp, breed gestreepte das); die liggame spreek ’n taal wat nêrens ter wêreld misverstaan kan word nie. Agter hulle loer ’n seun onder die flap van ’n bokseil deur wat inderhaas laat span is toe dit die middag van hulle verlowing dreigend na onweer begin lyk het en ook maar goed, ’n harde bui het so teen agtuur uitgesak, maar teen dié tyd was alle gaste (ook dié van die Vrystaatse platteland) tuis en die partytjie op dreef.
Penelope Busisiwe ontmoet hy in die winter van 1975 toe hy Nkosi een Saterdagmiddag na ’n bruilof in Jabulani vergesel om foto’s te neem. Hy het nou gereeld naweke foto’s op funksies geneem en alreeds genoeg verdien vir ’n stewige deposito op ’n tweedehandse motor.
Dit was ’n groot troue (met selfs meer as een fotograaf, maar dit was sekerlik die gevolg van Nkosi se lukraak reëlings); die gemeenskapsaal is gehuur.
Aan die ander fotograaf het hy hom nie gesteur nie, net gesorg dat hy telkens in die nabyheid opduik van Busi – soos hy almal haar hoor noem het – en foto’s gesteel: die vrolik glimlaggende meisie met wie almal praat of wil praat, wat self maar min sê, haar oë die praatwerk laat doen. Tot hy haar voluit met sy kamera konfronteer: dit sou ’n pragstuk wees, maar hy het genoeg ander laat ontwikkel wat hy weekliks gereeld aan haar gestuur het soos paaiemente op iets wat jy nie sommer kontant kan betaal nie.
Sy was skaars sewentien, in Natal op skool en sou die einde van daardie jaar haar Junior Sertifikaat behaal. Binne enkele dae moes sy terug na Newcastle en Tumelo John het gesorg dat hy haar die volgende dag ook sien en moenie dink iets van hierdie jongman se attensies het haar ma se wakende oog ontglip nie.
Sy was haar ouers se enigste dogter en is soos haar drie ouer broers in Soweto gebore. Vir Tumelo John was die Hlongwanes welaf mense; hulle huis het – deur die toedoen van die bouaannemerpa – nie gelyk soos duisende ander wat met die kil ingryp van ’n monsteragtige steenmasjien ry op ry gedeponeer is om in die son droog te bak en snags berook te word nie. In 1973, aan die einde van haar standerd 6, het die ouers besluit om haar liewer na familie in Natal te stuur sodat sy daar onder gunstiger omstandighede kon skoolgaan. Want wild was nie ’n sterk genoeg woord vir Soweto nie.
“Ek sien jy aai vir Busi,” het Nkosi