Скачать книгу

haar op, dan weer verby haar huis na die ander punt, en weer terug. Uitasem kom hulle weer by haar huis aan. Haar wange gloei.

      Hy groet. “Dankie.”

      “Meneer Chinees!” roep sy en stoot haar fiets by die poortjie in.

      “Ek is Charlie,” probeer hy.

      Maar sy kyk oor haar skouer. “Meneer Chinees!” roep sy weer.

      Terug by die werk skel die winkelbestuurder op hom. Hy is ’n Hollander met ’n dik nek en hande met groewe waaruit die olie nooit weer gewas sal kan word nie. Dit het veels te lank geneem. Sulke toetsritte sal nie geduld word nie. Was hy eers by ’n kafee in om iets te eet, of wat? Het hy iewers gaan sit en droom, nes hy hier op die werkswinkel se vloer partykeer net voor hom sit en uitstaar met die skroewedraaier en olielap in sy hande?

      * * *

      Daardie dae het die Chinese bevolking in Amsterdam stil en eenkant gelewe. Hulle was maar min siele en het op harde werk eerder as sigbaarheid staatgemaak. Terwyl die Hollandse kooplui hul energie aan onderlinge mededinging bestee het, het die Chinese stilweg hul netwerke gevestig. Buite sig. Laat die Hollanders mekaar maar moeg baklei; ons hou ons oë op die vuur aan die oorkant.

      Maar hier was ’n jonge op ’n fiets – elke dag ’n ander ene – en almal het hom leer ken as sagmoedig en beleefd en aan hom ietsie gegee om te doen.

      So moes hy soggens die koerant by die koerantverkoper op die hoek kry en dit op die Prinsengracht gaan aflewer waar ou mevrou Glorie altyd vroegoggend haar stoep tydsaam vee in die hoop dat iemand verbykom en met haar ’n geselsie sal aanknoop. Maak nie saak watter fiets hy aan die uittoets was nie, die koerant is betyds afgelewer. Bring die daaglikse melk na ou meneer Franken, babelas in sy huiskamer en stadig om voordeur toe te kom, maar wat, wanneer hy uiteindelik die drumpel haal, vrolik groet met die waarskuwing: “Jy kom môre weer!” Of gou, wanneer hy op die Heerengracht met ’n fluit gestop word, omdraai en gevra word: “Jonge, jy ry mos daar by die Leliegracht verby, nie waar nie? Vat sommer hierdie boek vir die …”

      Soms moes hy liefdesbriefies aflewer, ander kere waarskuwingsnotas, skuldbriewe en eise. Die mense het begin spot: “Deur die fietschinees gebring.” Die vroeë oggendlug was altyd vars. Eende het op die water geraas, mense was op pad werk toe. Dit was ’n mooi somer met blink gragte en die son het ligpienk bo die Amstel gelê, skaars op. Daar was in sommige dele van die gragte ’n waardige stilte, ’n varsheid en ’n sekerheid. Daar het hy graag platgelê op die fiets se handvatsels en oopgetrek. Klaterend het die ketting teen die fietsraam geklap en soms het die klokkie ’n triomfantlike klieng! gegee. Dalk was dit die gelukkigste dae wat die jonge Charlie Ng ooit sou beleef.

      Hy’t in ’n stad wat nog nie Chinese gewoond was nie ’n soort status gekry. Niemand het hom geken nie, en tog het almal hom geken. “Die jonge van die fietswinkel!”

      Sy liefde vir die jong Lise Vroman het nie getaan nie. Ses maande lank het sy hom gereeld op ritte vergesel en elke keer dat hy haar terugbring na haar huis, het hy haar pa net binne die raam op die tweede verdieping sien staan. Die man het dit duidelik gemaak dat hy op sy dogter wag en het Charlie Ng fronsend aangekyk terwyl hy sy pyp suig.

      Hulle het nooit gepraat nie.

      * * *

      Dit was nie lank nie of sy verskyn een oggend by die hekkie. Sy is bleek en dis duidelik dat sy nie veel geslaap het nie. Sy’t die jas se kraag tot teen haar keel gewikkel. Sy skud haar kop, sy sal nie weer kan saamfiets nie. Haar vader …

      ’n Dag later kom ’n lang Hollander die fietswinkel binne. Hy kom in met daardie houding wat sommige Hollanders het: ek kan hierdie hele winkel koop as ek wou. Gewoonlik kom sulke Hollandse mans nie om hul eie fiets te koop of te laat herstel nie – dis gewoonlik vir ’n kind dat hulle ’n fiets soek, ’n verjaarsdagfiets, ’n blink rooi fietsie vir klein Joop wat aan sy ma (wat veel, veel jonger as Pa lyk) se hand hang en neul oor klokkies en truspieëltjies.

      Charlie Ng voel die man se oë op hom rus. Charlie is op sy hurke besig met ’n fiets se ketting en sy hande is vol olie. Toe skielik tref dit hom, dit het ’n tydjie geneem om te registreer: dis háár pa. Die man van die Keizersgracht wat hom elke keer so stip agterna staar.

      “Die eienaar,” sê die man sag. Charlie knik, probeer glimlag, en gaan na agter. Hy kom met meneer Sing te voorskyn, wat sy hande aan ’n olielap afvee. “Ek wil privaat met u gesels.” Hier is geen plek in die winkel of in die werkskamer agter om privaat te gesels nie en hulle moet buite in die Zeedijk onder twee sambrele gaan staan. Charlie kyk bekommerd hoedat meneer Sing ernstig luister en die man driftig praat, ook ’n keer met die arm beduie na die Keizersgracht se kant toe. Die eienaar knik sy kop. Hy kan nie anders as om in te stem nie. Die Hollanders moet sake ter wille wees. ’n Man soos hierdie is ongetwyfeld ’n belangrike, ryk meneer. Invloedryk. Wat anders kan meneer Sing doen? Hy knik, en Charlie se moed sak in sy skoene.

      Die twee mans skud hand. Die Hollander stap driftig weg, met die houding aan sy skouers dat hy ontslae geraak het van sy opinie. Hy stap met die houding wat Charlie Ng altyd boei, hy stap of die aarde syne is.

      * * *

      Die aand moet hy op besoek gaan by ouma Voetjies. Net hy, niemand anders nie. Sy pa is bekommerd, gaan dit dan nie goed by die fietswinkel nie? Charlie haal net sy skouers op en was elke krieseltjie olie van sy hande af. Hy borsel sy naels totdat sy hande wit en verrimpeld is. Maar onberispelik skoon.

      Ouma Voetjies sit suur uitgestal op haar troon. Charlie voel ’n gelatenheid oor hom kom.

      “Jy’s verlief op ’n Hollandse meisie.”

      Hy knik. Dit help nie om wal te gooi nie. Die kwessie van die handafdrukke hang nog hier in die kamer. Hy wou nog altyd verduidelik wat werklik die dag gebeur het, maar hy kan nie die woorde vind nie. Soms dink hy: dis onnodig om eens te probeer.

      “Maar sy’s nog ’n skoolkind.” Hy knik. Ek eintlik ook, wil hy sê. Maar hy swyg. In hierdie kamer, het hy al geleer, bestaan geen teëspraak nie. Hier is net een opinie. Kwaad stamp ouma Voetjies haar kwaadvoetjie. Boem-boem. “’n Skoolgaande dogter, nog.” Sy voeg by: “’n Hóllandse dogter.”

      Hy knik. Dan haal hy asem, diep, en blaker dit uit: “Ek wil studeer vir ’n argitek.” Dit het hy vir homself uitgeklaar. Hoe om binne die familie Ng sy kuns aan te bied as iets wat geld en aansien kan inbring.

      Ouma Voetjies is verontwaardig. “Argitek? Argitek? Jy dink jy gaan heeldag huisies skilder?” Hy skud sy kop. “’n Argitek, Charlie Ng, skilder nie waterverfprentjies nie. Dis als oor skroewe en die soort skroewe wat jy kry en die prys van elke soort skroef. Dis oor kosyne en soorte hout en bakstene, oor dakbalke en kewers. Oor owerhede en regulasies en omkoopgeld. Oor pype en deurhandvatsels.”

      Sy kyk hom stip aan. “Is daardie jou bemoeienisse, Charlie Ng?”

      Hy moet sy kop skud. Nee. Nee, dit is nie.

      “Presies.” Die voetjie stamp weer. Boem-boem. Na ’n rukkie: “Gaan. Ek sal dink.”

      Maar hy skiet dit uit. “Dan gaan ek Ouderkerk toe.”

      “Waarnatoe?” vra sy verontwaardig.

      “Na die slagskuur by Ouderkerk.”

      Haar mond hang oop. “Waar hoor jy daarvan? Dis geen besigheid vir ’n Ng nie!”

      “Ek gaan.” Hy staan op. “Ek gaan,” herhaal hy.

      “Jy durf nie!” gil sy.

      Hy weifel. Maar dan: “Ek gaan soontoe.”

      Hy stoot die deur oop en klater by die trap af, verras oor wat hy gedoen het en oor die kwaad in sy bors. Waar kom dit vandaan? Toe hy op straat omkyk, en op, sien hy ouma Voetjies bekommerd voor haar venster staan. Sy kyk hom sonder woede aan. Hy dag hy sien verlatenheid, maar hy is te jonk om dit heeltemal naam te gee.

      Al wat hy weet, is wat nou by hom opkom, en dit is dat dinge van hom weggeneem word. Sy tekenry. Die meisie van Keizersgracht. En hy gaan slagskuur toe, die plek waarvan almal in fluisterstemme

Скачать книгу