Скачать книгу

afwesig. Party dae mag sy haar troeteldiere skool toe bring. Jakkie sê sy bring soms ’n baie groot verkleurmannetjie skool toe, en ander kere ’n konyn met lang wolhare,” sê Jenna.

      “Ek het al gehoor van die kind wat so troeteldiere skool toe mag bring. Is dit nie sy wat ’n reuse-troetelrot aan ’n halsband skool toe gebring het en toe was daar ’n Facebook-drama daaroor nie?” vra Gwenda.

      “Eeeeu, ’n rot!” gril Yasmin.

      “Ja, julle! Onthou julle nie? Dit was in die Breede ­Gazette: ‘Kind bring rot skool toe; ouers stry op Facebook.’ So iets!” sê Gwenda. Sy wieg op die punte van haar tone en lyk of sy wag om ’n netbalbal te vang.

      “’n Klomp ouers het ’n skinderveldtog op Facebook begin oor die rot in Jakkie se klas. Dit het in die koe­rant gedraai en daar is met hofsake gedreig oor die plaas van ongemagtigde foto’s, maar ek het eers gister besef dié maatjie is Posh en Dash se suster,” sê Jenna.

      “Was die foto’s van die rot of die sussie?” vra Yasmin.

      “Ha-ha, Yasmin!” lag Sydney.

      “Nee, die foto’s was seker van al tweetjies,” sê Jenna. My ma en al die ander ma’s van Jakkie se graad 2-klas het briewe gekry oor die gevare van Facebook. Ouers mag nie meer foto’s van ander mense se kinders op die internet plaas nie, en veral nie op sosiale media nie. My ma gebruik nie Facebook nie, so sy het nie juis geweet van die drama tot van die mammas in die klas ge­dagvaar is vir laster nie. Juffrou Christa, Jakkie se juffrou, het ’n vergadering gehou en die een klomp ouers het toe die hofsake teen die ander ouers teruggetrek.”

      “Ek onthou, dit is in die hoërskool ook afgekondig,” sê Sydney.

      “Nadat die ma’s die prokureursbriewe gekry het, het die inskrywings soos blits van Facebook af verdwyn en die herrie het gou oorgewaai, maar die arme kind sit nou nog met ’n bynaam,” sê Jenna.

      “Wat!? Nog een van die Roux-kinders met ’n bynaam?” vra Sydney.

      “Ja, Jakkie sê almal in die skool noem haar Rugrat,” vertel Jenna.

      “Dash, Posh en Rugrat! Wat byname nie alles kan vertel nie,” sê Sydney.

      “Oh, my flippen word,” sê Yasmin.

      “Wel, ek sou sê, clever boys and girls, baie skerp bynaam vir graadtwees,” sê Gwenda.

      “Nee, totaal wreed!” sê Sydney.

      “Kan jy glo, Posh het ’n sussie wat nie wil skoolgaan of lees nie?” vra Yasmin.

      “Kan jy glo daar is ’n troetelrot in Posh-hulle se huis en haar sussie se bynaam is Rugrat?” vra Sydney.

      5

      Ouma Stirrie

      Dit is halfagt die oggend toe Jenna se ouma die Speelgoedmuseum oopsluit. Die dubbele swaaideure kraak oop. Die geluid nooi haar binne. Die museum ruik na iets wat Jenna oortuig is die reuk van vlermuise is.

      “Dit ruik na ou papier,” sê haar ma altyd.

      “Dit ruik na spoke,” terg haar pa graag.

      “Ek dink ook dit ruik na vlermuise,” meen Jakkie. Hy en Ouma Stirrie is vlermuisliefhebbers.

      “Dit ruik na goeie ou herinneringe wat soos onsigbare jassies om die speelgoed hang,” is haar ouma se mening.

      Jenna is seker sy en Jakkie is reg: die museum rúik na vlermuise. Bo in die solder se dak woon daar al vir baie jare ’n kolonie vlermuise. Volgens haar ouma is dié donsige inseketende vlermuise onontbeerlik vir die voortbestaan van haar museum. Hulle sorg dat daar nie vismotte uitbroei in die kaste nie. Die vlermuise eet glo die motte op lank voordat hulle kan eiers lê.

      Dit is nie al nie. Dié nagfladderaars red glo hulle hele plot van swerms muskiete en vlieë. Jenna wil haar hare uit haar kop uit gril vir hulle. Hulle hou hulle gelukkig skaars in die dag. Saans, wanneer hulle geluid­loos oor hulle erf flap en flits, verbeel sy haar dat hulle swaeltjies is. Nou en dan, as van die kleintjies dalk op die grond beland, versorg Ouma en Jakkie hulle tot hulle vrygelaat kan word – darem in boksies en voëlkoutjies.

      “Geen vlermuise vandag hier nie, jy gaan lekker ­kuier by my in die museum,” sê Ouma Stirrie.

      Ouma Stirrie is deesdae gelys op die webwerf: Who to call when you find a bat? Stirrie Steenkamp: Bat-friendly/bat-safe house.

      Voorheen het Jenna baie gehelp met die oorvol Speelgoedmuseum se uitstallings, ten spyte van die vlermuise op die ontvangstoonbank. Sy het die afgelope twee jaar, vandat sy begin perdry het, nie meer baie tyd gehad vir Ouma Stirrie se museum nie.

      “Ek het ’n klomp boeke ingekry. As jy dit kan sorteer, sal ek bly wees.”

      Ouma Stirrie wys na twee groot bokse. Jenna is bly dat haar ouma haar genooi het om te kom help in die museum. Saterdae het vir haar ’n probleem geword.

      Jenna maak die bokse oop. Haar ouma het ’n ­spe­siale boekehoek waar sy tweedehandse inkleurboeke, blok­raai­sel­boeke en Sudoku-boeke te koop uitstal.

      Die museum bestaan uit ’n groot vertrek met glaskaste en rakke. Voor in die museum is die teddiebeer-, die pop- en die modelkarretjieversameling. Die modelkarretjie-rak is haar pa en Jakkie se groot liefde. Hulle herbeplan en verander gereeld die uitstalling. Haar pa sal baie ver ry om ’n modelkarretjie iewers te gaan koop. Jakkie versamel graag swart motortjies, wat hy sy Batmobile-versameling noem.

      “Jy kan hulle maar direk op die rakke pak, ek het klaar ’n katalogus gemaak van die boeke. Moet net nie die bokse skuif nie ter wille van daardie rug van jou,” sê haar ouma.

      Ouma Stirrie is ’n lang vrou wat vreemd aantrek – ­nogal ’n bietjie boheems, met lang, helderkleurige rokke en vreem­de hoede. Haar wilde bos grys hare hang tot op haar skouers. Sy is baie lief om truie te brei, maar Jenna dink nie haar ouma kan regtig brei nie. Alle truie wat sy nog ooit gebrei het, is te groot en hang skeef. Nie dat dít haar keer om haar eie handgebreide truie te dra nie. Vandag dra sy ’n pers-en-pienk rok met een van haar wollerige seegroen truie.

      Die museum het begin as ’n stokperdjie van haar ouma en oupa. Haar oupa het ’n miniatuurlandskap uit polistireen gebou vir sy treinversameling. Haar ouma het dit geverf en verder gemodelleer sodat dit soos die Breedekloof-dorpie tussen die berge lyk. Baie mense wou dit sien en hulle stokperdjie het mettertyd ’n gewilde toeriste-attraksie geword. So het die treinstel in haar oupa se stoor tot ’n speelgoedmuseum gegroei. Na Oupa Jacobus se dood het Ouma die museum gehou, en nou is dit bekend as spesiale besienswaardigheid in hulle dorp.

      Die treinstel op sy minispoortjies wat deur die mi­nia­­­tuurlandskap van die dorp loop, is ’n lewendige ­kuns­werk, want Ouma voeg gereeld nuwe toneeltjies by om dit realisties te maak.

      Die treintjies laat haar altyd na haar oupa verlang. Teen die kant van die model sit die rooi knoppie wat geen kind kan weerstaan nie. Druk my, staan op die bordjie by die knop geskryf. Dit skakel die treine aan.

      Voordat sy die boeke in die boekehoekie uitpak, druk sy eers die knoppie dat die treintjies kan loop.

      Sy kyk hoe die oudste treintjie uit die stasie wegtrek en op sy spoor begin spoed optel. Vanoggend laat dit haar meer hartseer as vrolik voel. Die trein ruis saggies verby ’n plaastoneel wat haar ouma spesiaal vir haar in die landskap ingebou het: ’n modelweergawe van Meg se plaas met Ruby Storm se naam op ’n modelperdjie met ’n perdekombersie aan.

      Jenna begin die boekehoek regpak terwyl die ­treintjie ritmies op sy spoortjie bly hardloop. ’n Helderkleurige mat met kussings nooi besoekers na die rakke vol ou boeke. Boeke wat haar ouma as ­skenkings ontvang, word hier gebêre. Besoekers mag dit in die museum ­gebruik of hulle mag dit uitruil. ’n Aanplakbord vertel van die nuusgebeure in die dorp. Daar pryk ’n berig van haar en Ruby Storm wat in die Breede Gazette ­verskyn het. Trotse Ouma, staan op ’n heldergeel pyl wat na haar en Ruby se foto wys. Jenna raak saggies aan Ruby se foto.

      Saterdae sonder

Скачать книгу