Скачать книгу

goed,” sê Jenna.

      Die dogtertjie kyk vir haar en wys na die geboude plasie sonder om ’n woord te sê. Jenna knik instemmend. Nienke se mond trek in ’n baie skraal glimlaggie. Sy tel die kissie met die kombersie op asof dit haar baba is en stap na die deur.

      “Wow, jy is gelukkig, Jenna. Nienke glimlag nie sommer vir iemand nie,” sê Dash.

      Hy volg sy sussie haastig en stap saam met haar by die spreekkamer uit.

      “Die arme ou dogtertjie,” sê tannie Ragie. Tannie Ragie was eers ’n verpleegsuster wat saam met Jenna se ma gewerk het, maar sy is nou Juliana se sekretaresse.

      “Wat is fout met haar, tannie Ragie?” vra Jenna.

      “Sy het leerprobleme. Mevrou Roux, haar ma, is raad­op. Die oudste twee kinders is mos vreeslik slim, maar dié tinktinkie is so skaam en skugter, hulle kry haar met moeite by die skool. Sy sukkel met haar skooltake en probeer altyd een van haar troeteldiere saamdra.”

      Tannie Ragie sit vinnig haar hand voor haar mond. “Sjuut, ek het niks gesê nie. Juliana kry die piep as sy hoor ek praat oor die pasiënte, maar ai, die ou kindjie is vir my so dierbaar. Gek na die vreemdste troeteldiere. Jy moet sien wat sy soms in daardie mandjie ronddra. Mevrou Roux wil nie meer die diere wat so saam­karwei word duld nie, maar Nienke sukkel om sonder hulle klaar te kom.”

      Juliana se spreekkamerdeur gaan oop en ’n versorger stoot ’n oom in ’n rolstoel uit. Tannie Ragie wys vir Jenna met haar vinger voor die mond sy mag niks sê nie.

      “Hallo, oom Kokkie, het oom darem die behandeling oorleef?” vra tannie Ragie.

      “Jenna, jy kan nou maar kom, ek is reg vir jou,” roep Juliana.

      4

      Parkeerplek vir gestremdes

      Jenna en haar maats het nou ’n nuwe plek gekry om pouses te sit. Sy het spesiale toestemming om een van die tuinbankies in die graadtiens en -elfs se tuinvierkant te gebruik. Die skoolhoof, meneer Malan, het haar verbaas met sy besorgdheid. Hy en die onderwysers gaan uit hulle pad om haar rugprobleem te akkommodeer.

      Die bank onder ’n boom in die vierkant wat net vir graadtiens en -elfs bedoel is, help dat sy nie ver hoef te stap as die klok lui nie, want dit is naby die graad 8-klasse.

      Sydney, Gwenda en Yasmin is baie ingenome met hulle nuwe kuierplek, alhoewel die seniors hulle agterdogtig aangluur. Dash en sy vriende het gister hier by hulle verbygeloop en Jenna kon hoor hoe Blikkies ­Blignaut vra: “Vir wat is daar nou graadaggies in die seniors se quad?”

      “Ja, kom, Dash, jy is ’n prefek, sorteer dit uit. Ons soek nie aggies-apies in ons quad nie,” het Garnit, die groot voorryspeler, met sy hoë stem gesê.

      Sy kon nie hoor wat Dash antwoord nie, maar Blikkies, wat bo almal uittroon, het duidelik hoorbaar gesê: “Ooo, soos Disabled Parking?”

      “Kan jy my nou maar glo, ons quad is ’n parking lot vir ge­stremdes,” het Garnit gepiep.

      “Shame, die girl is klaar ’n ginger, nou is sy verder ­gestremd,” was Spiere Paulsen se bydrae. Die klein skrum­skakel het ’n diep stem wat beter by Garnit sou gepas het.

      Gwenda wou Spiere Paulsen en die hele span in die maag gaan skop. Yasmin wou net huil. Sy kon nie glo Blikkies, Spiere en Garnit kan so naar wees nie. Sydney het darem kop gehou.

      “Julle, nee, dit gaan simpel wees om terug te skuif pawiljoen toe net oor Blikkies-hulle hulle soos Donderdagbuffels gedra. Ek gaan hulle by die rugby-afrigter verkla. Vanmiddag nog. Meneer Malan sê mos ons rugbyspan moet hulle op die veld én in die skool soos leiers gedra. Ons netbalspanlede kan ons plek in die span verloor as ons ons nie gedra nie.”

      “Volgende keer, Sydney. Kom ons gee hulle nog een kans,” het Jenna gekeer.

      Gwenda sit Jenna se tas langs die bankie neer. Sy en Sydney maak beurte om Jenna se tas te dra.

      “Oh, my word! Blikkies wou my nou sowaar uit die vierkant uitjaag. Hy hou regtig nie daarvan dat ons hier kuier nie,” sê Gwenda. “Ek het hom toe ’n kap op sy arm gegee wat hy nie verwag het nie,” lag sy.

      “Meneer Malan het gesê almal wat Jenna se tas help dra, mag hier in die seniors se vierkant kuier. Ons skuif nêrens heen nie, die bankie onder die boom is te ­lekker,” sê Sydney.

      “Nee, ek sweer as één van hulle weer iets sê, gaan Energade daarvan hoor! Hulle ken nie vir my nie,” het Gwenda gedreig.

      “My ma het vir ons super-gesondheidsmuffins gebak om ons nuwe kuierplek amptelik in te wy, julle. Wag tot julle dit proe, dit is heerlik,” sê Yasmin.

      “Haai, het Jenna al vir julle vertel saam met wie sy uitgehang het by die fisio se spreekkamer?” vra Gwenda.

      “Gwenda, jy wil nou weer my storie met kaassous opdien. Dit was nie so erg nie,” keer Jenna.

      “Nee, en jy wil weer die storie soos oorgaar steak vir ons opdis,” sê Sydney.

      “Waarvan praat julle? Vertel!” vra Yasmin.

      Jenna haal haar skouers op. “Ek het vir Dash raakgeloop by my fisio se praktyk toe hy sy sussie kom haal het.”

      “Toe maak hy opmerkings oor haar rugbesering,” sê Sydney. Sy klink soos ’n ou-omie-nuusleser op ’n radiostasie vir ouer mense.

      “Oh, my word!” sê Yasmin.

      “Toe het sy hom lekker uitgeskel,” sê Gwenda.

      “Reg so! Hoe kan hy so onsensitief wees, noudat Posh jou perd én jou plek oorgeneem het by die Kings­leys,” sê Yasmin. Yasmin se hart is sag en sy is altyd gereed om almal te beskerm.

      “Wag nou, na ek met hom geraas het, het hy om verskoning gevra,” sê Jenna. Sy het lank nagedink oor haar gesprek met Dash in Juliana se spreekkamer. Dit was opwindend om met hom te gesels, al was die atmosfeer tussen hulle eers ’n bietjie gespanne. Daar is iets aan hom wat haar hart vinniger laat klop, al dink sy hy is ’n verwaande oorpresteerder.

      “Oukei, time out! Ek het nou die draad van die ­storie verloor,” sê Yasmin. Sy skud haar lang poniestert soos ’n satynserp. “Begin weer oor.” Sy het ’n kleurvolle tafeldoek oopgegooi en pak nou die muffins daarop uit. Haar ma het ’n gewilde bakkery in die dorp. Yasmin is self al ’n baie goeie bakster. Sy wil graag eendag ’n sjef word wat aan kompetisies deelneem.

      “Yummo, jou ma is wonderlik fantasties, Yasmin! Ek is só honger,” sê Jenna.

      “Jy kan kry, maar al vertel jy nou ook met ’n mond vol muffin, wil ek nou dadelik weet wat presies met jou en Dash aangegaan het.”

      “Ag, daar is nie veel van ’n storie nie. Ek het nie saam met hom uitgehang nie en ek het hom ook nie regtig uitgeskel nie. Hy het sy sussie kom haal en toe het ons ’n paar woorde gewissel, dis al,” sê Jenna.

      “Oh, my word! Woorde gewissel – my flip, Jenna, het hy nie op ’n stadium op sy knieë gesit en jammer­sêpraatjies gepraat nie?” vra Gwenda. Gwenda dra haar hare baie kort. Sy het groot oë en hoë wangbene, sy is altyd op en wakker en haar skerp oë mis niks nie.

      Jenna lag.

      Gwenda hou van ’n goeie storie. Sy wens sy kan ’n storie vertel soos Gwenda, maar sy kry dit nie reg om so baie stertjies by te las nie. Sy vertel hulle weer wat gebeur het toe Dash sy sussie by Juliana se praktyk kom haal het.

      “Hallooo, sien, ek was reg. Hy hét op sy knieë gesit en allerhande mooipraatjies met jou gemaak,” sê Gwenda.

      “Nie waar nie!” sê Jenna.

      “Nou wat makeer sy sussie?” vra Yasmin besorg.

      “Tannie Ragie sê sy sukkel om te lees,” sê Jenna.

      “Ag siestog! Is sy in ’n spesiale skool?” vra Yasmin.

      “Nee,

Скачать книгу