Скачать книгу

al vir Ma gesê wie in my plek gaan ry?”

      “Ja, iemand in julle klas. Elzé van die Roux-boerdery in die vallei,” sê Jenna se ma.

      “Wat!? Posh Roux?” vra Sydney.

      “Ek het nie geweet Posh kan skouspring doen nie. Sy is mos ’n ruiterkuns-ruiter en sy ry hulle eie perde, sulke groot swart Friesperde,” sê Jenna.

      “Hoekom noem julle haar Posh?” vra Jenna se ma.

      “Ag, tannie, wat anders kan mens iemand met perfekte lang bruin hare, groot bruin oë en ’n skitterglimlag noem?” vra Sydney. “Iemand wat altyd presteer in die klas, met gedoende tuiswerk en netjies versorgde boeke?”

      “Iemand wat die toppresteerder in ons graad gaan wees en wat baie beter as enige iemand anders in ons skool in perdesport presteer?” voeg Jenna by. “Glo my, Ma, sy ís posh!”

      “Tannie Wina, Posh is die tipe leerder wat onder­wysers in ’n sagter, meer musikale stemtoon laat praat en wat hulle ’n spesiale uitdrukking van geluk op hulle gesigte gee,” verduidelik Sydney plegtig.

      “Ja, Ma. Ou Energade, ons LO-meneer, is die kwaaiste persoon op aarde, maar selfs sý stemtoon ­ver­ander wanneer hy met Posh praat,” sê Jenna.

      “Julle klink jaloers,” sê tannie Wina.

      “Ons is nie! Sy is Miss Perfect Posh, nerd van die jaar. Sy het nie eens ’n sproet op haar neus nie,” sê Jenna.

      “Weet tannie Wina, frustrerend-irriterend korrek soos Posh is, en al like ons haar niks nie, is ons almal gaaf met haar. Want Posh Roux is die suster van die fantastiese …”

      “Trr-doem, trrrr-doem-dwaa …” maak Jenna ’n tromsolo na.

      “… Daniel Dash!” sê Sydney en Jenna gelyk.

      “Rugbykaptein van die onder 16A-span en die sport­held van die toekoms,” sug Sydney droomverlore.

      “Joe-hoee!” beaam Jenna.

      2

      Posh Roux

      “Haai, poplap! Hallo, Sydney!” Jenna se pa loer by haar kamer in.

      “Eeeek! Net nie ’n drukkie nie, Pa,” keer Jenna toe haar pa nader kom in sy vuil blou oorpak en sy oliebe­smeerde hande uithou vir hulle om te sien.­

      “Hallo, oom Jakes,” sê Sydney.

      Jakes Conradie se blou oorpak dra die tekens van sy besige motorwerkswinkel. Sy hande is altyd vol swart oliestrepe, al skrop hy hulle hóé skoon. Sy groen oë en rooi hare is al wat blink wanneer hy van die werk af kom.

      “Ek en Jakkie gaan net gou draf, Jenna, dan kom gesels ek oor jou oefenprogram vir jou rug,” sê haar pa. Haar pa behoort aan die dorp se drafklub en glo dat ’n drafprogram vir Jenna sal help. “Maar daar is iemand by die voordeur vir jou.”

      Jenna skrik. Ag, sy hoop nie dit is Posh nie. Sy is nog nie reg om die klere terug te gee nie, veral nie vir Miss Posh Perfect nie.

      “Wag, ek kom saam,” sê Sydney. “Dalk is Dash ook daar.”

      Jenna stap vinnig in die breë gang af dat die ou hout­vloer bewe. Sydney se tekkies twiet en piep soos benoude spreeukuikens so ver sy loop.

      In die oop voordeur, langs Jenna se ma se antieke hoederak, staan Elzé Roux, oftewel Posh Perfect, omraam deur die deurkosyn soos ’n model uit ’n deftige tydskrif.

      Die weer in die Breedekloofvallei is nog warm tot in die tweede kwartaal en die somer is steeds in die lug. Elzé is gepas geklee in ’n ligblou somersrok. Haar ­sandale het ’n effense hakkie, en die klein handsakkie oor haar ­skouer pas by die kleur van haar skoene. Kan sy ooit regtig van ’n plaas af kom?

      “Hallo, Jenna. Hallo, Sydney,” sê sy.

      “Hallo, hm, Elzé,” sê Jenna.

      “Haai, hoezit,” sê Sydney.

      “Jammer, ek wou nog die klokkie lui, maar julle tui­nier het gesê ek kan inkom,” sê Posh.

      “Ons tuinier?” vra Jenna.

      “Ja, die man met die oorpak en die olierige hande. Hy het gesê hy sal kyk of jy hier is, hy werk net hier,” sê Posh.

      “O nee, dit is oom Jakes, Jenna se pa. Hy maak graag grappies,” sê Sydney.

      Elzé Roux het dieselfde lengte en bou as Jenna, maar daar eindig alle ooreenkomste tussen hulle. Jenna het wilde, krullerige rooibruin hare wat sy sukkel om netjies te hou, en haar neus en wange is besaai met sproete.

      “My ma het gesukkel om julle huis te kry, ons het al om die blok gery. Volgens die GPS woon julle in die Speelgoedmuseum,” sê Posh.

      “Dit is die Speelgoedmuseum én Jenna-hulle se huis,” verduidelik Sydney.

      “Ek volg nou nie so lekker nie, jy maak nie sin nie, Sydney. My ma was nogal vies, Jenna, want die adres wat jou ma ons gegee het, het ons eers na die ­museum toe geneem en toe na ’n motorwerkswinkel. Hoe moes ons nou weet julle huis is hier ingeprop tussen besig-hede?” sê Posh.

      “Breedekloof is nog volgens die outydse stads- en streeksbeplanning verdeel. Destyds kon mense hulle besigheid en hulle huis op een erf bou,” sê Jenna.

      Jenna druk met haar hand teen haar seer rug. Sy kan Posh nie peil nie. Wil sy nou beweer hulle kan nie hier bly nie, of is sy besig om fout te vind met hulle huis, of wat is haar probleem? Breedekloof is ’n groot dorp, maar darem nie ’n stad nie.

      “Wel, ons woon mos nie hier op Breedekloof nie, ons plaas is by Slanghoek en ons ken nou nie die hele dorp nie,” sê Posh. “Julle aanwysings was net nogal vreemd. My ma kon nie dink daar woon mense hier in die besigheidsdeel van die dorp nie.”

      Jenna se oupa het jare gelede ’n besigheidserf in Bree­de­kloof se middedorp gekoop. Hulle erf het ’n huis, ’n winkel en twee store ingesluit. Haar pa praat daarvan as hulle landgoed. Vandag woon Jenna, haar ma, pa en Jakkie in die huis agter die werkswinkel wat in 1909 gebou is. Hulle huis is een van die heel oudste geboue in die dorp.

      Sydney se ma, Dalene, huur die winkelgedeelte, bekend as Die Sportwinkel-op-die-hoek, by haar pa. Jenna se pa se werkswinkel is net langs Die Sportwinkel-op-die-hoek en haar ouma se Speelgoedmuseum is net om die hoek. Ouma Stirrie woon na oupa Jacobus se dood alleen in die woonstel wat deel is van die Speelgoedmuseum. Haar sitkamer- en kombuisdeure maak oop in ’n tuin wat tot teenaan Jenna-hulle se huis strek.

      “My ouma sê altyd ons woon twee strate lank: in-Sesdelaan-af-en-om-die-hoek-en-op-in-Dorpstraat,” verduidelik Jenna.

      “Dit is juis Dorpstraat 7 wat so moeilik was om te vind,” sê Posh.

      Jenna sug. Is dit nodig vir Posh om so aan te gaan? Wat kan sý nou daaraan doen? Posh se ma het ver­dwaal, maar hulle is mos nou hier.

      “Julle erf is net so vreemd. Is dit nie raserig om so in die middel van die dorp te woon nie?” vra Posh.

      “Net deur die dag. In die aand is dit baie stil hier,” sê Jenna.

      “Kan ek gou Meg se ryspanklere kry?” kom Posh tot die punt. “My ma wag saam met my sussie in die ­motor. Ek is eintlik nogal haastig.”

      “Ek kan hulle innooi,” sê Jenna.

      “Nee, my ma was baie ongeduldig omdat ons so gesukkel het om julle huis te kry. Sy het gedink die GPS is stukkend. Sy is te vies om uit te klim,” sê Posh.

      Jenna trek haar skouers op en begin in die gang afstap. “Kom ons gaan kry die klere,” sê sy oor haar skouer. Hulle stap in stilte na Jenna se kamer. Net die planke twiet en piep onder Sydney se netbaltekkies.

      “Ek het nie geweet jy kan skouspring nie. Ek dog jy verkies dressage?” sê-vra Sydney.

      “Haai, Sydney,” antwoord Posh verbaas, “ek het nie

Скачать книгу