Скачать книгу

      

      Jenna en die leesperd

      Marga Jonker

      Tafelberg

      Aan Anneke en haar perde-“kollegas”:

      Lea, Koejawel, Bravo en Saltare.

      1

      Meg Kingsley se nuwe skouspringruiter

      Jenna haal die rybaadjie uit haar kas. Die koningsblou snyersbaadjie met die blinkrooi binnevoering is nog ­nooit gedra nie. Sy pak dit saam met die res van die splinter­nuwe ryklere op haar bed uit en streel met haar hand oor die geborduurde wapen.

      Meg Kingsley Showjumping Team.

      Die stewels, rybroek, hemp, handskoene, das, rypet en baadjie lyk sportief en modieus. Elke kledingstuk het Meg Kingsley se koningsblou-en-ligblou kleurkombinasie en die Kingsley-stoet se kentekens op. Jenna sluk aan die knop in haar keel terwyl sy seker maak al die kledingstukke is daar.

      Meg en John Kingsley, oorspronklik van Brittanje, is nou die eienaars van ’n wynkelder en ’n wynplaas in die Breedekloofvallei. Meg het haar eie skouspringperde wat sy self teel, oplei en vir kompetisies inskryf. Sy kies en bestuur ook haar eie privaat jeugspan. Die jeugspan word saamgestel uit ryskoollede en ’n spesiale ontwikke­lingsgroepie vir ruiters uit die Breedekloof-omgewing wat nie hulle eie perde kan bekostig nie. Jenna is uit die ontwikkelingsgroepie gekies om deel te word van Meg se span.

      “Hallo, Jenn.” Sydney, Jenna se vriendin, loer by haar kamerdeur in. Sy het haar Hoërskool Breedevallei-netbalklere aan. Dit is die laaste week van die eerste kwartaal en die netbalseisoen het pas begin. Sydney is ’n baie goeie netbalspeler. Sy en Jenna is nou al hulle agtste jaar saam in die skool nadat hulle in graad 1 vriende geword het.

      “Jou ma het gesê ek kan maar inkom. Is jy oukei?”

      “Sjoe, jy’t my laat skrik,” sê Jenna.

      “Huil jy?” vra Sydney.

      “Hmm,” knik Jenna.

      “Ek dog jou ma sê jy’t goeie nuus gekry?” vra Sydney verbaas.

      “Op ’n manier is dit soort van beter nuus, maar vir my en my plek in Meg Kingsley se span is dit baie slegte nuus.” Jenna probeer nie eens meer die trane keer nie. Sy snik nie, sy sluk nie, sy staan net met oop oë terwyl die trane oor haar wange stroom.

      Sydney gee vir haar die boks snesies aan en wag tot Jenna haar asem terugkry.

      “Kom, vertel my nou, wat sê die spesialis toe, wat is fout met jou?”

      “Ek moet ophou perdry!” snik Jenna.

      “Wat?! Hoekom dink jou ma dan dit is goeie nuus?” vra Sydney.

      “Ek het daai kromrugprobleem wat dokter Theron gemeen het ek het,” sug Jenna.

      “Die een wat nie so gevaarlik is nie?” vra Sydney.

      Jenna knik. “Scheuermann se sindroom, my rug groei in ’n boog,” sê sy sag. “Dit is hoekom my ma verlig is. Sy was bang dit is ’n siekte soos kanker of TB.”

      “Ons was almal bang – daardie dokters het so baie toetse gedoen, so dit ís ’n verligting,” sê Sydney.

      “Sydney, ek voel nie verlig nie! Ek kan vir twaalf tot vier-en-twintig maande geen sport doen nie, en ek kan nie meer in Meg Kingsley se span wees nie. Ek weet nie of ek óóit weer sal kan perdry nie.” Jenna se trane begin van voor af loop.

      “Jou rug kan regkom, maar geen sport nie … en geen perdry nie?” vra Sydney.

      “Ek het oefeninge wat ek moet doen en ek mag ­ligweg aan enige sport deelneem behalwe impaksport – en geen perdespringkompetisies nie,” vertel Jenna.

      “Maar dit is net vir vier-en-twintig maande max. As jy dan beter is, mag jy seker weer deelneem?” vra Sydney.

      “Weet jy hoe lank is vier-en-twintig maande? Dit is twee jaar!”

      Jenna wys na die ryklere op die bed. Die blou ry­baadjie lê stil en die materiaal kan nie praat nie, maar die versameling klere straal die opwinding van ­kompetisie uit.

      Jenna kan nie glo dat sy nie meer deel sal kan wees van die grootste oomblik van haar perdryloopbaan – nee, van haar lewe nie.

      “Ek moet al die klere teruggee, want hulle gaan ­iemand anders in die span sit en sy dra dieselfde nommer as ek,” sê Jenna.

      “Jinne tog, die ligblou en donkerblou kleure het so flippen mooi by jou rooi hare gepas. Jou gunstelingkleur,” sê Sydney.

      Die sproete oor Jenna se neus staan ­donker uit teen haar ontstelde rooi wange.

      “Ai, Jenn, ek weet jy het so hard gewerk om in die Meg Kingsley-span te kom. Ek weet jy wil nie vandag hoor dat ek jammer is oor jy uit die span moet onttrek nie, maar … Maar! Maar! Maar ek is só bly jy makeer nie iets ernstig nie,” sê Sydney.

      “Flip, Sydney, ek makéér iets ernstig – ek makeer iets wat die einde van die belangrikste ding in my lewe beteken. Ek weet nie hoe jy en my ma, wat my so goed ken, sulke dinge kan sê nie. Dink jy dit is ’n troos?”

      Jenna byt op haar tande, maar sy kry nie haar huil weggesluk nie. Sy sak op die vloer neer terwyl groot snikke deur haar keel ruk.

      Sydney gaan sit langs haar. Sy weet nie wat om te sê nie.

      ’n Skerp pyn begin dadelik aan Jenna se rug knaag toe sy teen die bed se rand leun. Na ’n tydjie is haar rug so seer dat sy moet opstaan om ’n paar strekke te doen. “Ek kan nie eens op ’n vloer sit nie! Hoe sal ek ooit weer ordentlik kan perdry?”

      Jenna vee haar trane af en strek nog ’n keer. “Elke keer as ek pyn voel, moet ek bietjie strek. Dit help vir Scheuermann se sindroom,” sê sy.

      “En jy kan weer heeltemal gesond word, nè?” vra Sydney.

      Jenna knik. “Twee jaar se fisio en geen intensiewe oefening nie, maar dalk sal ek nooit weer skouspring kan doen nie,” sug sy.

      “Dit is nogal erg,” stem Sydney saam.

      “Kom, kom! Tyd vir ’n bietjie tee.” Jenna se ma, ­tannie Wina, stap in met ’n skinkbord met toebroodjies en ­bekers tee.

      “Sydney, jy het haar al goed opgebeur. Jy het sommer weer ’n bietjie kleur in jou wange, Jenn,” sê sy.

      “Haai, ek het skoon vergeet, hier is ’n briefie van Yasmin af, met ’n paar brownies. En ’n klip met liefde van Gwenda af,” sê Sydney.

      Jenna se ma sit die skinkbord langs die ryklere op die bed neer. “Ek het gewonder of hulle ook kom, want ek het net vir julle twee tee gemaak,” sê sy.

      “Gwenda is karate toe en Yasmin help haar ma by die bakkery, maar hulle stuur groete en liefde, tannie,” sê Sydney.

      “Het Gwen vir my ’n klip gestuur?” vra Jenna terwyl sy die netjiese pakkie koekies en Yasmin se pragtig versierde briefie bewonder.

      “Ja,” sê Sydney en begin lag. Sy gee vir Jenna ’n klippie in haar hand. Gwenda, Yasmin en Sydney is Jenna se beste vriendinne. Gwenda speel saam met Sydney netbal en is doelverdediger. Sy speel ook eerste span soos Sydney, maar Gwenda se groot passie is karate. Sy het ’n swart gordel in karate. Yasmin is nie lief vir sport nie. Sy maak graag kos en is lief vir lees.

      “Yasmin het vir my jou kaartjie en pakkie netbalbaan toe gebring. Toe Gwenda dit sien, wou sy natuurlik ook iets vir jou saamstuur, toe tel sy vir jou dié klip op,” sê Sydney. “Dit is glo ’n kragklip – net so kliphard soos die klip is, net so kragtig gaan jou rug gesond word.”

      Jenna kyk na die grys klippie en sit dit langs die versierde kaartjie en koekies op haar bedkassie neer. Haar hart voel bietjie ligter.

      Sy is nie alleen in die wêreld met haar seer rug nie. Sy het haar ouers en haar woeste boetie, haar ouma en drie wonderlike beste vriendinne.

      “Jenna, ek moet nou gaan werk, maar julle moet reg wees vir die meisie wat Meg Kingsley se klere kom oplaai.” Haar ma trek haar verpleegsustersuniform

Скачать книгу