Скачать книгу

hoe jy jou “toekomstige gewese man” se huis dopgehou het terwyl julle besig was om te skei, doelloos om en om die straatblok gery het, of verby vriende se huise en gunsteling-restaurante gecruise het in die hoop dat jy sy motor iewers geparkeer sou sien. ’n Paar jaar later het dit vir jou ’n amusante staaltjie oor irrasionele gedrag geword. Ek het saam met jou daaroor gelag, ietwat ongelowig, want ek het jou ná daardie onsmaaklike hoofstuk in jou lewe leer ken. Vir my was jy ’n nogal bewonderenswaardige enkelma, min of meer emosioneel stabiel, soms effens neuroties soos almal van ons – maar beslis nie die soort nutcase wat haar amper-eksman sal stalk nie!

      Dit was toe ek nog gedog het ek is gelukkig getroud. Nou het ek self ’n nutcase geword. Erger as wat jy ooit was, daarvan is ek vanoggend doodseker.

      Ek het laas nag in my kar voor my amper-eksman se lover se huis aan die slaap geraak. Dit was die eerste keer dat die kinders die nag daar deurbring en ek was gek van angstigheid oor hulle, wat hulle eet, hoe laat hulle bed toe gaan, of iemand sal onthou om vir Paula ’n storie te lees, sê nou een van hulle word siek in die nag … (Aan die ander kant het ek heimlik gehoop iets gaan verkeerd, iets ernstig maar nie dodelik nie, sodat Bernard kan besef sy lover sal nie ’n goeie stiefma wees nie. Ek skaam my morsdood om dit te erken. Dat jy jou kinders ’n ongeluk kan toewens omdat jy kwaad is vir jou man.)

      So gek het ek geword dat ek in die loop van die nag na A se huis gery het. Ek het ’n entjie laer in die straat geparkeer, weg van enige ligte, en soos ’n doos na die hoë muur rondom haar huis sit en staar. Kon natuurlik glad nie sien wat agter die muur aangaan nie, kon net so goed ’n byeenkoms van sataniste of pedofiele gewees het, maar ek kon my net nie wegskeur nie. Solank ek fisiek naby hulle kon bly, sou hulle oukei wees. Soos vroeër wanneer ek ’n nag in ’n vliegtuig moes deurbring. Altyd gevoel ek durf nie aan die slaap raak nie, ek moet die loods telepaties help om die vliegtuig in die lug te hou. Gelukkig darem van dié delusion ontslae geraak. Vandat ek saam met kinders reis, is ek meestal so moeg dat ek op ’n stuk plank in ’n stormsee aan die slaap kan raak. Soos laas nag weer gebeur het. Ek het aan die slaap geraak, darem nie op ’n plank in die see nie, maar op ’n stuurwiel voor my man se lover se huis.

      Dis meer as net irrasionele gedrag. Dis lewensgevaarlik om vroualleen in die middel van die nag in ’n Johannesburgse straat in ’n kar te lê en slaap! Asof jy vrá dat iemand jou keel kom afsny! Jou verkrag en vermoor, jou handsak steel en met jou kar wegry. En dan praat ek nie eens van die nadoodse vernedering as Bernard my lewelose liggaam daar voor sy lover se huis moes aantref nie. Toe ek wakker skrik en besef hoe idioties ek opgetree het, het ek so begin bewe dat ek glad nie die kar aan die gang kon kry nie. Toe dog ek vir ’n paar afgryslike minute dat ek my man en sy lover sal moet gaan wakker klop sodat hulle die kar kan kom stoot. Wat my amper laat wens het iemand wil gou my keel kom afsny. Nadoodse vernedering is after all verkieslik bo regstreekse, lewende in-die-grond-sink-skaamte.

      Die enigste positiewe gevolg van hierdie insident is dat ek so pas die besoekerskaartjie van ’n “briljante terapeut” uit die dieptes van my deurmekaar handsak gaan grawe het. My kollega Minette het die kaartjie weke gelede al aan my afgesmeer. Dis die ou wat haar weer op haar voete gehelp het ná die WVK haar emosioneel platgeslaan het. Maar ek het gevoel wie is ek nou om te kla oor ’n ontroue eggenoot, kyk net hoe ly ander mense in hierdie land, ruk jou reg, Clara Brand! Wel, nou weet ek ek kan my nie regruk nie, nie op my eie nie, ek het hulp nodig. Ek wil nie die res van my lewe so in stukke rondlê soos Humpty Dumpty nie, ek wil op ’n bed slaap, nie op ’n stuurwiel nie, ek wil nie snikkend en singend sterf soos Violetta en Mimi en Madama Butterfly en al daardie tragiese soprane nie.

      Ek wil oorlewe, soos jy, dis wat ek wil doen. Sodat ek eendag soos jy kan terugkyk na hierdie tydperk van tydelike waansin en opera. Grappige staaltjies daaroor kan vertel vir my vriende wat sal sukkel om my te glo, want ek is dan so ’n sterk vrou. Is ek nie?

      Nie op die oomblik nie, helaas, en dit voel of ek nooit weer enigiets anders as ’n patetiese swakkeling sal wees nie.

      Ek het enkele dae gelede eindelik ’n prokureur gaan sien, so nou het ek ’n prokureur en binnekort ’n terapeut asook ’n groeiende versameling leë drankbottels langs die agterdeur, soos die meeste hedendaagse skeiende vroue. Vir ander is dit miskien ’n groeiende versameling pilboksies in die badkamerkassie, of ’n groeiende versameling skerp messe of selfmoordplanne of daggazolle. Something’s gotta give. (Profetiese titel van die laaste onvoltooide film van Marilyn Monroe, ingeval jy nie geweet het nie. Ons was nie almal vervloek om saam met rolprentresensente te lewe nie.) Beteken die prokureur en die terapeut dat ek nie meer “in denial” is nie? Beteken dit dat ek “vordering maak”? Nou hoekom voel dit dan of ek al verder teruggly teen ’n modderige heuwel? Wie’s dit wat gese het you fall in love, but you have to climb out? Waar kom al hierdie verdomde vraagtekens vandaan? Is te veel vraagtekens ’n meer verskoonbare stylfout as te veel uitroeptekens???

      Jy mag maar eerlik wees, Griet. Nie oor my skryfstyl nie, spaar my dit, maar oor my gemoedstoestand. Moet net nie vir my valse hoop gee nie. Die donkerste uur is net voor dagbreek, daai soort crap. Dis donners donker hier om my en ek is doodseker dit gaan nog donkerder word.

      Ek gaan Kersfees op my eie deurbring, by die huis in Johannesburg, want Bernard wil saam met die kinders in die Kaap gaan vakansie hou, soos ons elke jaar gemaak het, en ek glo hy sal beter geselskap vir hulle wees as hulle bedrukte ma. As ek net dink aan al daardie uitbundige Gautengers en opgeruimde Mpumalangers wat so verskriklik hard probeer om hulle jaarlikse vakansie by die see te geniet, wil ek by voorbaat my hare uit my kop trek van irritasie. Nee wat, dan hou ek eerder my hare hier in Johannesburg tussen al die ander depressiewe siele wat nie by die see of oorsee kan gaan vrolikheid fake nie. Misery seeks company. Soos jy seker sal weet.

      Intussen wens ek jou en jou dogter ’n geseënde Kersseisoen toe.

      Van jou vriendin en mede-enkelma (altyd gedog dis nogal ’n cool woord, so ’n lekker onafhanklike klank, maar skielik lyk “enkelma” vir my soos die treurigste woord in enige taal).

      Clara

      From: Clara Brand [[email protected]]

      Sent: Fri 25/12/98 11:05

      To: Nita Patterson [[email protected]]

      Subject: Vreeslik ver van Betlehem

      Liefste Nita

      Dankie dat jy gisteraand gebel het. Jou oproep het gehelp om my deur een van die langste en alleenste nagte van my lewe te kry. Ek weet nie wat my besiel het om die kinders saam met Bernard weg te stuur nie! Ek het gedink aan hulle, aan hoe lekker ’n vakansie by die see vir hulle sal wees, maar ek het nooit gedink aan hoe ek sonder hulle gaan cope nie.

      Dis een van die vangplekke van ma-wees. Dit staan daar, iewers in die fynskrif wat niemand ooit lees nie, in daardie kontrak wat jy met jou eie bloed teken die dag as jy geboorte skenk. Dat jy van nou af altyd eerste aan jou kind(ers) sal dink, maar dat dit nie altyd goed vir jóú sal wees om eerste aan jou kind(ers) te dink nie. Sela.

      Hulle het darem ook vanoggend gebel. Uit Hermanus waar hulle uithang in die peperduur klere wat hulle pa se lover vir hulle gekoop het. Die seuns het albei beweer hulle mis my, maar die gemis was hoorbaar ondergeskik aan die opgewondenheid oor die busvrag vol presente wat hulle by A en B gekry het. Paula, daarenteen, het dadelik tranerig geraak. “Ek verlang, Mamma.” Toe’s ek verskeur tussen ’n vieslike soort leedvermaak (a! so Bernard en sy “Nanas” het dit nog nie reggekry om my enigste dogter om te koop of af te rokkel nie!) en ’n verskriklike verdriet dat ’n driejarige kind op Kersdag so ver van haar ma moet wees.

      Wat eet jy? wou jy weet. Die vraag wat ons mekaar elke Krismis gretig vra en nog gretiger antwoord. En toe kry jy gisteraand net so ’n stamelende ontwyking van jou ousus. My Oukersaandmaal, as jy nou rêrig wil weet, was twee van Bernard se beste bottels verouderde wyn wat ek sonder skroom uit sy “kelder” gesteel het. Daar’s nie genoeg plek in A se huis om so ’n spul kosbare bottels te bêre nie, dus word die skat steeds hier bewaar. Ek het die Kanonkop en die Buitenverwachting met groot (leed)vermaak op my eie gedrink, saam met ’n boks handgemaakte Belgiese sjokolade. My Krismisboks

Скачать книгу