Скачать книгу

daarin probeer lees nie. Mooi miskien, maar pure oppervlak, lekkergoed vir die oog. Dit flous die kyker met ’n suggestie van betekenis. Blote misleiding. Dis tog maar wat die meeste graffiti is, red herrings, ja, stoute rooi harinkies wat die aandag weglei van die ware misdade van korrupsie en wanbesteding, eerder as om juis die aandag daarop te vestig.”

      Haddock Jones meen dit kan selfs “suiwer kommersieel” wees, deel van ’n reklamemaatskappy se inisiatief om een of ander banale produk bekend te stel. “Soos oumanspilletjies.”

      Die Sirkelman se kunswerke (altyd rooi op blou) word gespuitskilder in verskillende groottes teen onbewaakte mure in die voorstede en middestad, selfs teen polisiekantore, op stasiemure, bouvalle en pakhuise. Ook hoog teen wolkekrabbers waar dit met groot moeite en onkoste afgeskuur moet word (buffing). Hy gebruik vermoedelik ligte, sterk, opvoubare stensils om sy kunswerke vinnig en skerp aan te bring.

      “Hy moet ’n akrobaat of klouterdief wees om dit so hoog teen geboue te waag en dan boonop sy lyf Leonardo da Vinci te hou! Ek meen, halló, wie kan hom dit nadoen?” meen kransklimmer Gerrit Viljoen, wat glad nie van plan is om die spuitskilder se toertjies na te boots nie. “Vrek, nee, dis net te blerrie gevaarlik, geboue is glad.”

      Kaptein Floriswa Nguni, woordvoerder van die middestadpolisie, is optimisties dat die “ontwrigting” binnekort tot ’n einde sal kom.

      “Ons het sekere leidrade wat opgevolg word, ons het ’n goeie idee van die skuldige, en ja, ’n deurbraak is net ’n kwessie van tyd,” belowe sy.

      Watter klagte kan teen die oortreder ingebring word?

      “Vandalisme, openbare onsedelikheid. Die man in die sirkel is kaal, en daar is baie mense en kulture in hierdie land wat aanstoot neem om sulke snaakse goed te aanskou. Dis blatant. En dis baie, baie lelik.”

      4

      Hallo

      Ek is Mou Xinsheng, ek is jammer vir die ongesolisiteerde e-pos aan jou, maar ek wil hê jy moet dit ernstig opneem en Konfidensieel omdat ek jou e-pos adres deur die China Gids gekry het, betroubare en geloof persoon wat my sal help om fondse te skuif uit ’n bank in Europa na sy/haar land. Ek wil ook hê jy moet weet hierdie transaksie is 100% risiko vry/veilig/wettig.

      Dit sou groot verrassings wees vir jou om sulke e-pos te kry van ’n dienende minister van die Mense se Republiek van China (Minister van Algemene Administrasie van Doeane van die Mense se Republiek van China).

      Maar asseblief my verskoon en verstaan ek het nodig ’n vaste geloof/betroubare mens in die westerse wêreld. In my jare van regering diens as Dwelms Beheer Kommissaris en Hoog Amptenaar van Algemene Administrasie van Doeane het ek baie Bonus en Ekstras gekry van Smokkelaars en Besigheids mense wat Gunsies soek van my. As ’n Publieke Offisier my

      bank rekeninge word gemonitor en daarom ek wil die fondse $30 000 000 (Dertig Miljoen US dollars) oordra vir veilig bewaar oorsee.

      Ek wil hê jy moet die geld kry wat in deposito was van 2004 in ’n bank in Europa. Asseblief sal jy dormante rekening aktiveer in Europa. Die bank sal fondse van jou nodig het om hierdie rekening aktiveer, sodat hulle $30 Miljoen US Dollars kan oorplaas na jou rekening in Jou land wat my prokureur in jou name sal deposito as die Begunstigde. Ek sal 20% van die geld gebruik vir weggee om te help vir weeshuis van my keuse. Jy sal kry 40% as jou Kommissie, en ek sal kry 40% wat oorbly as ek sal reis na jou land. My plan is woon in jou land as alles loop soos ooreenkoms.

      Ek moet jou Naam weet jou Kontak Nommer jou Foon Nommer. Oorweeg dit gou. Jou lewe verander nou. Dis belangrik dat jy die informasie absoluut Konfidensieel hou. Ons geloof mekaar. Ek sien uit na jou respons. Vir meer informasie, asseblief kontak my via epos: [email protected]

      Ek wag vir jou haastige respons

      Best Wense,

      Mnr. Mou en Familie

      Dis duidelik dat die vertaler gepoog het om die skryfstyl, persoonlikheid, stemtoon, woordkeuse en algemene onbeholpenheid met taal te behou, ’n aanduiding dat die oorspronklike skrywer probeer het om soos ’n Chinees te klink en foute van grammatika, sinskonstruksie en beklemtoning te maak soos die skrywer glo ’n Oosterling sou begaan. ’n Opsetlike, besonder gesofistikeerde en slinkse benadering om die korrespondensie eg te laat aandoen?

      5

      Sissende sirkels.

      Met wye, ontspanne sirkelbewegings spuit die man met die hoodie sy blou wolkies teen ’n kafeemuur. Hy is amper klaar, kleur ’n gaping in waar die baksteen deurskyn.

      KEBLOEI.

      ’n Loeigeluidjie laat hom omkyk. ’n Polisiemotor kom suutjies om die hoek, die blou draailig ’n knipperende oog.

      Hy gooi die halfleë kannetjie eenkant en bokspring weg in een seepgladde beweging. Doodloopstraat met palissade-heining en bondels geroeste doringdraad bo-op. Dubbel gedwarsboom, maar hy swenk al klaar sigsag, intuïtief na ’n gebreekte venster regs wat lyk soos Munch se swart skreeu. Dis op die grondvloer van ’n zombie-woonstelblok wat twee dekades gelede nog ’n spogplek was waar geliefde oudonderwysers kon aftree.

      Hy swaai sy rugsak in ’n halwe boog deur die lug en slaan die wreedste glasskerwe uit die vensterraam. Spring ligvoets deur na die soel donkerte, skraap sy regterbeen op ’n oorblywende glastand, land katvoet. Hy hoor hoe word bevele iewers in die straat geblaf. Kardeure klap, oomblikke later ’n dringende gehamer teen ’n hol deur.

      In die donker om hom die gedrup van water, ’n baba wat huil. Kan hier mense leef?

      Hy koes en skouer deur twee vrot deure, skaats deur skemer gange wat ruik na urine, hoendervet en brand. Vyf trappe op ’n slag af aan die agterkant, stamp in die verbygaan teen ’n vet man met ’n rooi kopdoek wie se mond oopgaan – al weer Munch – skadu tussen skadu’s.

      Hy bly vasberade kop omlaag sodat sy gesig onherkenbaar bly onder die hoodie. Wip soos ’n rubberbal oor ’n lae muurtjie tot in ’n binnehof vol swart vullissakke en ’n brandsiek hond wat lyk soos ’n kaalgeknaagde ribbekas op pote. Sy asem jaag nog nie eens nie. Hy skop ’n dor potplant uit die pad, glip oor ’n lendelam heining en geraamtes van geroeste stoele, ’n uitgebrande matras met swart draadvere en grys pluime. Bons en wawiel oor balkonne, parkour-kunstenaar, vry van gravitasie, hoogspring-en-vlieg, man-in-sirkel, ballet in die gekraakte dop van die binnestad.

      Daar’s niemand wat hom sien nie. Hy’s onsigbaar, die skim van sirkels.

      Die mistici beweer hul ekstase onthul aan hulle ’n sirkelkamer met ’n groot sirkelvormige boek waarvan die rugkant rondom strek en die volledige sirkel van die mure volg; maar hul getuienis is verdag, hul woorde obskuur. Die sikliese boek is God.

      Só skryf Borges in die Sirkelman se voosgelese kopie van Labyrinths.

      God trek ’n sirkel om stad, polisie, die dood in die spuitkan.

      Hulle sal hom nooit vang nie. Hulle weet nie waar om hom te soek nie, hy’s die onsigbare man. Hy leef randlangs en ondergronds.

      Die wind steek skielik op. Sy oë kry koud.

      Hulle sal hom nooit vang nie, al drup daar bloed van sy been af, spikkelspoor in die puin.

      Want hulle soek verkeerd.

      6

      Lees met aandag.

      Die President van Argentinië het hierdie prentjie ontvang en dit “gemorspos” genoem.

      8 dae later is sy seun dood. ’n Man het hierdie prentjie ontvang & onmiddellik aangestuur na almal wat hy ken. Sy verrassing was om die lotery te wen. Alberto Martinez het hierdie prentjie ontvang, vir sy sekretaresse gegee om afskrifte te maak maar hulle het vergeet om dit te versprei: Sy het haar werk verloor en hy het sy familie verloor.

      Hierdie prentjie is wonderbaarlik en heilig.

      Jy is gekies om hierdie Novena te ontvang. Die oomblik wat jy dit ontvang, sê:

      Ons

Скачать книгу