Скачать книгу

begin ’n weed eater soos ’n muskiet op steroïede sing.

      Die navorser frons. Dis nog nie eens seweuur in die oggend nie.

      2

      ’n Hortende asem? ’n Voetval?

      Die stilte in die steeg oorkant die universiteit se hoofingang is moontlik ’n illusie, dit verraai die teenwoordigheid van een roerlose skaduwee te veel. Die stilte net té stil.

      In die straatlamp se dofgeel lig sprei nuwe blaartjies verskuiwende patrone oor die gekraakte sypaadjie waardeur bossies kruip.

      Daar’s dit weer – ’n skuifeling of skraapgeluid!

      Iets of iemand wat wag en waarneem . . . nagspioen?

      ’n Minibus-taxi, een van die nag se laastes, jaag gatwippend oor ’n rooi verkeerslig. Dit swiep verby in ’n vlaag papiere – biljette wat ’n betoging teen die rektor en raad adverteer.

      Verder weg word Johannesburg ’n vuil, leë bad vol dowwe gorrels en weerklanke. Vraende toeters, laatnag se geheime skuifelings, ’n verlore duif se skrikkerige koer, ’n venster wat skril breek.

      Nou verklaar die skaduwee homself: ’n voetstap of twee, drie sluipend oor teerpad en sypaadjie. Die krom figuur halt net duskant die geel ligpoel van die straatlamp, talm daar in vlekke donkerte. Asem bedaar geleidelik, vind ’n nuwe ritme.

      Die figuur het ’n boggel, ’n spits kop.

      Illusies van lig.

      Hy wag, beweeg dan in die dansende blarelig langs ’n ongepleisterde muur waarop bendespreuke gekrabbel is – drogskrif van voorstedelike doemprofete.

      Die skim werp ’n skaduwee wat koggel met boggel en spitskop. Strek ’n hand uit met gespreide vingers, tastend teen die muur, ’n minnaar wat ’n geheime plek soek. Toets en streel. Met sy ander hand reik hy vinnig na agter, ontkoppel die boggel, glip dit af tot op die sypaadjie.

      Die boggel is ’n swart rugsak, die spitskop ’n hoodie.

      Hy dop ’n kannetjie uit die rugsak, skud dit klaterend – RAKATAKTAK soos ’n klippie in ’n blikkie – voor hy teen die muur begin spuit.

      Egalig op en af, heen en weer, lang seker hale wat ná ’n minuut begin saamsmelt tot ’n diepblou agtergrond. In die middernagkoelte word dit ’n vierkant. Hy vee met sy wysvinger oor die muur: die verf is klaar droog.

      Haal ’n tweede blik uit die rugsak. Kappie skuif terug, blonde kuif val oor voorkop.

      RAKATAKTAK.

      Vou nou ’n sagte stuk papier oop, skuif die patroon met een gesperde hand oor die blou. In die papier ’n sirkel gesny waarin ’n naakte man oopgespalk balanseer, vier gespierde bene en vier arms, ’n sensuele insek. Die illusie van beweging – as jy vinnig kyk.

      Die man in die wiel het wilde lokke nes die kunstenaar wat sy blik oor die muur laat sis.

      RAKATAKTAK.

      Dertig sekondes en klaar.

      Vou die papier, nou rooi en klam, steek dit in die rugsak. Staan terug om sy handewerk te takseer. Knik tevrede.

      Hy werk deesdae al vinniger. Al is hy nog geen oumeester nie, is elke probeerslag ratser, skerper. ’n Blou-en-rooi handelsmerk, dertien keer in die middestad, vier keer op wit tuinmure in die voorstede. Nie maklik om te reproduseer in fyn uitsnywerk en kleurspuitkombinasie nie, ook nie in spoed van uitvoering nie.

      ’n Simplisties gestileerde weergawe van Leonardo da Vinci se Vitruviaanse Man. Die Euro-Renaissance-trash-aanslag verskil radikaal van sy tydgenote se internasionale bendekodetaal en punk-simbole.

      Hy pak die twee kannetjies (halfleeg) vinnig weg, tricks of the trade, skouer die rugsak, pluk hoodie oor beswete blonde krulle.

      Weg is hy, ’n jaagskadu wat wegflits na die onderkant van die steeg. Die bedrieglike stilte is terug, in suisings en ritselings van blaar en biljet.

      Dertig sekondes later luier ’n patrolliemotor in die straat verby. Twee polisiemanne wat die ure aftel, warm Wimpy-koffie uit papierbekers teug, op skote mors, onbewus van die rooi wielman in sy blou raam in die steeg van blare.

      Hulle soek hom al ses weke lank. Hy’t sy merk gemaak, oor en oor.

      Die tref-en-trap-spuitverwers van die nag bespreek hom in kuberkletskamers. Hulle ontleed, bespreek en bewonder sy arrogansie, die kunstige stelling en fyn afronding. Oral waar sirkelmanne in die stad verskyn, word uitbundige partytjies gehou met Red Bull, dagga en Doritos, kranse van angeliere en kondome gelê.

      Waar sirkelmanne deur moeë munisipale skoonmakers doodgeverf word – minstens drie lae om die rooi en blou te verdoesel – bring ’n dissipelkring van nabootsers getrou hulde met groteske sirkels-met-stokmanne in bewerige hale. ’n Kultus het eie momentum gekry, met nagtelike ekskursies en selfaangestelde woordvoerders.

      Die sirkelman plant lustig voort.

      Die skim kan kom en gaan voor die wind hom gewaar.

      Daar . . . nee, daar!

      RAKATAK. Nog een. RAKATAK. Nog een.

      Hier in die Afrika-stad is dit straatkuns wat pols in rooi-op-blou neon. Moeilik om mis te kyk.

      Hy seil hoog op kreatiwiteit en verfwalms. Dis sy geheimskrif aan die muur wat hom laat vergeet van al die wreedheid, waarmee hy háár gedenk.

      Hy asem raaisels uit, niemand hoef te verstaan nie. Solank hulle opkyk en wonder, gevang in sy sikliese droom.

      3

      Sirkelman maak rektor, stadsbase boos

      Ina Moerdyk

      Versiering, of ’n balk in die oog?

      Praat met die studente en rektor van die Johannesburgse stadsuniversiteit, en jy kry uiteenlopende menings oor die Sirkelman wat die afgelope paar weke oral in die middestad en ook in sekere voorstede teen mure en geboue opduik.

      “Dis niks anders as ’n vorm van aftakeling en vandalisme nie, om stadsgeboue met spuitverf te bevlek,” stel dr. Muni Voosa dit onomwonde. Hy waarsku dat sulke gedrag nie van die instelling se studente geduld sal word nie.

      “Al neig dit na ’n soort Middeleeuse kunsvorm – herkenbaar Eurosentries – eerder as die meer bekende uitdrukkings van graffiti, is die doel beslis om te ontwrig en op te sweep. Dít sonder die nodige toestemming of magtiging van stadsvaders, vakbonde en selfs studentebeheerliggame.

      “As dit ’n student is soos ons vermoed, heel waarskynlik in ’n kunsrigting, sal hy of sy wel gevang word en dan sal die swaarste dissiplinêre strafmaatreëls opgelê word. Skorsing is nie uitgesluit nie,” het Voosa gister tydens ’n perskonferensie gewaarsku.

      Studente van alle dissiplines meen egter die straatkuns is cool.

      “Waaroor die bohaai?” vra Lindi Mkiwe, ’n geologiestudent wat saam met ’n vriendin elke nuwe sighting van die Sirkelman gaan opsoek. “Meer, asseblief!

      “Ons voorouers het grottekeninge gemaak om te wys hulle was daar. Dit was ’n manier om hulle turf te merk en die begin van omgewingskuns. Die Sirkelman wys ons ons plek in die Nuwe Suid-Afrika. Wit, swart, blou, rooi, ons is almal besig met ons eie balanseertoertjie.”

      “Die visuele ontwerp is awesome, dis beter as baie advertensies in die media,” meen Stanley Wallis, ’n fotografiestudent wat as sy finalejaarprojek al die plekke dokumenteer waar die Sirkelman verskyn, voor hy deur skoonmakers verwyder word.

      Wallis beplan ’n fotografiese uitstalling later vanjaar om die skim se graffiti te vier, met die voorlopige titel Sirkels in die siel.

      Sirkelman, soos die ontwykende kunstenaar in die media bekend staan, werk onder die dekmantel van die nag, en dis veral grafiese kunstenaars soos

Скачать книгу