Скачать книгу

aan God se genade

      Kom ons kyk na nog ’n prentjie – een wat aansluit by die vorige gesprek.

      In die Santa Maria delle Grazie-klooster in Milaan hang die bekende Die Laaste Avondmaal waarin 13 nagmaalgangers op stoele agter ’n gedekte tafel sit. In die middel sit ’n plegtige maar effens teruggetrokke Christus met ses dissipels aan elke kant. Alles baie netjies en baie afgerond.

      Dit het Leonardo da Vinci twee jaar geneem om dit te skilder, maar die skildery oefen al die afgelope 500 jaar ’n groot invloed uit op hoe mense oor die nagmaal van Jesus en sy dissipels, asook oor nagmaal in die algemeen, dink.

      Kom ons teken ’n prentjie van ’n radikaal ander nagmaal.

      Die tafel is nie die normale lengte waaraan so agt ooms (na gelang van hul omtrek) saam met die dominee kan aansit nie, maar strek letterlik lewenslank tot net anderkant waar die ewigheid begin. Verder is die tafeldoek nie die gewone gestyfde een met ’n fyn net bo-oor nie, maar een in al die kleure van die reënboog. Loer jy wat in die beker en borde is, sien jy wyn en brood, maar ook ’n magdom ander bederfkos – tot oorlopens toe! Daarmee saam is daar by elke sitplek ’n kaartjie met ’n naam op en onderaan jou naam staan in uitbundige vetdruk geskryf: Kom smul aan God se genade.

      Die belangrikste is dat Jesus steeds by die ereplek staan, maar met ’n groot glimlag en oop arms wat jou nader wink.

      Op soek na sin moet jy weer en weer by die tafel gaan aansit!

      Wat beteken die prentjie?

      Almal wat aan ’n kerk behoort, begin om in sekere stadium sakramente te gebruik. Jy leer in die proses ook wat ’n sakrament is. In die Katolieke Kerk sou jy leer dat ’n sakrament ’n uitwendige teken van die verlossing is wat Jesus Christus aan sy Kerk gegee het. Vir die Evangelies-Lutherse Kerk is sakramente tekens waardeur God die mens binnekom. Die Gereformeerdes vra in die Heidelbergse Kategismus: “Wat is sakramente?” en antwoord: “Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël.”

      Drie van baie definisies wat almal in wese sê:

      God neem brood, wyn en water;

      in sy hande word hulle heilige simbole

      van sy liefde en teenwoordigheid –

      die sakramente van die nagmaal en doop!

      Só het ons geleer en dit is ook reg so.

      Ontelbaar baie sakramente

      Die uitnodiging aan jou is om, sonder om afbreuk te doen aan jou kerk se besondere tradisie, verder te begin dink oor sakramente.

      Jy gaan daarmee in ou voetspore loop. Reeds in die 1700’s skryf Jean Pierre de Caussade dat God in elke situasie te vind is, ’n onmeetbare oseaan. Hy gaan verder en maak die gewaagde uitspraak dat God van elke oomblik ’n sakrament wil maak. So gewaagd was sy siening dat dit eers anderhalf eeu later in geredigeerde vorm gepubliseer en nog baie later vertaal is in ’n boek met die veelseggende titel The Sacrament of the Present Moment.

      Ons gaan hierdie spoor volg en waag om te bely:

      God neem jou hier en nou;

      in sy hande word hulle heilige simbole

      van sy liefde en teenwoordigheid –

      die sakramente van die Hier en Nou.

      Hierdie belydenis maak ’n groot verskil in almal wat op soek is se lewe. Dalk begin jy ook nou iets verstaan van die “nuwe” nagmaalstafel. In hierdie manier is die brood, wyn en water in ’n erediens besonderse sakramente, maar verwag jy Hom ook in ’n blom, die lag van ’n kind en voëlgesang, ja, elke sekonde van jou nóú-menswees! Dan sien en beleef jy Hom in die besonderse, maar net so intens in die alledaagse. Eintlik is daar dan nie meer ’n alledaagse nie omdat Hy oomblik vir oomblik omtower in iets besonders.

      Dan steek jy op ’n Sondag én ’n Maandag jou hande uit om die tekens van genade te ontvang. Jy verstaan verder dat 2 Februarie, 16 Mei en 25 Desember almal sakramentele dae op God se kerkalmanak is! Dan word die wasbak in die kombuis en skropplek in die operasiesaal doopbakke – die draaibank by die fabriek en lessenaar in die kantoor ’n nagmaalstafel.

      Die begin van ’n heerlike reis

      Neem dié manier van dink nie iets van die heerlikheid van die bekende sakramente weg nie? Allermins. Dit verander net hoe jy dalk tot hiertoe daaroor gedink het.

      Vir baie is die sakramente in die erediens die eindpunt van die reis – sodra ons net die kleinding of bekeerling gedoop of weer die nagmaal gebruik het. Vir mense wat sin soek, word dit egter die begin van die reis. Hulle hoor hoe Hy op Sondae deur die brood, wyn en water roep: “Net soos Ek in die water, brood en wyn voor jou teenwoordig is, net so netnou en hierna. Ek bevestig dit hiermee.”

      Loop deur die lewe en smul aan sy genade.

      Audrey Blignault het dalk iets hiervan leer verstaan in haar soeke na heerlikheid in die kleinste dingetjies wanneer sy van haar broodkoek praat. Vir haar is dit die sonlig op die ruit, ’n uitsig oor die blou baai en die lug daarbo. Sy gaan daarby stilstaan, want daarsonder sal sy nie haar eindbestemming kan bereik nie. Sy ontdek die hemelsheid van die geel sonneblom wat in ’n swart pot voor haar sitkamervenster staan, in die Boesmanklip wat die Ierse tantes vir haar gegee het om teen haar voordeur te sit, in die blink middaglig oor die denneboom by die agterbalkon, in die eerste herfsrooi van die wildewingerdblare teen die agterkant van haar huis. (Gaan sit dié ontdekkingstog voort in ’n Blywende Vreugde: Briewe van Audrey Blignault.)

      Begin om vandag jou nagmaaltafel te dek met:

      Brood/koek

      Vinkies/koor

      Suurstof/genade

      Doringbos/altaar

      Sonlig/lewe …

      Voorbereiding

      Hierdie stukkie is ’n bietjie tong in die kies, maar tog baie belangrik. Sommige van ons het grootgeword met ’n voorbereidingsdiens voor elke nagmaal.

      Mag ek eerlik wees en sê dat die kwartaallikse voorbereidingsdiens my as kind amper, ámper van die sakramente laat afskeid neem het. Nie net was dit op Saterdagaande nie, maar die inhoud daarvan was meestal neerdrukkend, sommer erg neerdrukkend.

      Dit was nie dat daar nie voorbereiding moes wees nie. Ons het immers by die huis al geleer dat jy jou hande was en hare kam voordat jy aan tafel kom sit. Die kopseer was dus nie die voorbereiding op sigself nie, maar die inhoud daarvan. Die formulier wat normaalweg die Saterdagaand voorgelees is, het begin met: “Elkeen moet nadink oor sy sonde en vervloeking sodat hy homself kan mishaag en hom voor God kan verootmoedig; want die toorn van God teen die sonde is so groot dat Hy dit, eerder as om dit ongestraf te laat bly, aan sy geliefde Seun, Jesus Christus, met die bittere kruisdood gestraf het.”

      Dit is waar. Natuurlik moet ons weet wat die sakramente Hom gekos het.

      Op soek na jou siel en ’n sinvolle lewe moet jy egter ook ontdek dat jy met opgewondenheid kan nader staan. Onthou jy ons prentjie aan die begin? Jesus staan by die ereplek en nooi jou met oop arms uit om te kom smul aan sy genade. God wil graag vir jou die sakramente gee. Waar jy ook al is, is die geleentheid daar. Jy hoef nie in die verlede of toekoms in te reis om dit te geniet nie. Jy kan dit nóú aanraak, net daar waar jy is! Die voorbereiding wat Hy van jou verwag, is dat jy, wanneer jy Hom sien, jou gereedmaak om soos ’n klein kindjie in sy arms in te hardloop. Verder vra Hy dat jy uitbundig sal antwoord wanneer iemand jou vra hoe dit gaan: opgewonde, so opgewonde, dit is dan sakramentedag!

      Kom ons sê dit hier aan die einde weer: Dit is nie nuwe sakramente nie, net nuwe denke oor ons sakramente.

      Ek staan bo in die Pakhuispas by Louis Leipoldt se graf en kyk op die mooie Clanwilliam en omstreke af, en wonder of dit die prentjie is wat hom in die bundel Skoonheidstroos laat bid het:

      Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou

      Die wonderskat my

Скачать книгу