Скачать книгу

Ure 438 022 Minute 26 281 302 Sekondes 1 576 875 148

      Dit is hoe ’n lewe op 50 “optel”!

      Nou roep die Hemel-boekhouer jou nader om die “waarde van jou dae” (value of your days) te meet. Jy moet vir Hom verduidelik wat jy met jou pakkie tyd gemaak het. Hopelik sal jy kan sê: “Dit was 50 goeie jare. Ek het voluit geleef en dit baie geniet.” Dalk is jy een van die merkwaardige mense wat vir elke jaar ’n spesifieke opskrif kan gee.

      Hy vra verder: “Kom ons praat in fyner besonderhede oor 600 maande, 2 600 weke, 18 251 dae – vertel so ’n bietjie daarvan. Wat het jy gesien, gehoor, beleef en gevier? Wie het jy ontmoet, ontvang, gehelp?” Dit is al moeiliker, maar moontlik bêre jy al jou dagboeke van kinderdae af en kan jy selfs só rekenskap gee. En dan: “Die 438 022 uur, die 26 281 302 minute en die 1 576 875 148 sekondes?”

      “Met alle respek, groot Boekhouer,” antwoord jy paniekbevange, “dit is absurd. Niemand leef in soveel besonderhede nie!”

      Jy kan ontspan. Hierdie somme is net om jou baie doelgerig oor tyd aan die dink te sit en nuwe waarde daaraan toe te ken.

      Jy leef 946 512 000 keer

      Het jy ook grootgeword met die liedjie “Kinders moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink”? Ek wens hulle het ons ook van babatyd af geleer om nie met tyd te mors nie, ook nie met sekondes nie.

      God leef en werk só. Wanneer Hy lig skep, laat Hy dit teen presies 299 792,458 km per sekonde beweeg. Dit is so vinnig, wanneer jy ’n flits op aarde aanskakel, kan dit binne 1,2 sekondes op die maan skyn. Vir die Vader van tyd is ’n sekonde ’n lang, láng tyd! Jy kan nie die waarde van jou lewe leer ken as jy nie die waarde van ’n sekonde begin ontdek nie.

      Waak daarteen om in die algemeen te leef. As jy moet terugkyk en sug dat jy nie weet waar die dag, week of jaar heen is nie, het dit tyd geword om sekonde vir sekonde te leef. In Lewis Carroll se boek, Alice in Wonderland, vra Alice: “Hoe lank is vir altyd?” Dan antwoord die Wit Haas betekenisvol: “Soms net ’n sekonde lank.” As jy ná vandag nog 30 jaar leef, moet jy 946 512 000 keer leef!

      Dalk laat hierdie berekenings jou kop steeds draai.

      Sekonde vir sekonde leef? 946 512 000 keer? Hoe doen ’n mens dit?

      Die Bybel gee wonderlike riglyne.

      Alles op die regte tyd

      Een van die bekendste preke oor tyd is seker die een in Prediker 3:1-8: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek, ’n tyd om ’n lewe te neem, ’n tyd om ’n lewe te red, ’n tyd om af te breek, ’n tyd om te bou, ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans, ’n tyd om klippe weg te gooi, ’n tyd om hulle bymekaar te maak, ’n tyd om te omhels, ’n tyd om weg te bly van omhelsing af, ’n tyd om aan te skaf, ’n tyd om te laat wegraak, ’n tyd om te spaar, ’n tyd om weg te gooi, ’n tyd om te skeur, ’n tyd om toe te werk, ’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te praat, ’n tyd om lief te hê, ’n tyd om te haat, ’n tyd vir oorlog, ’n tyd vir vrede.”

      In God se koninkryk het elke ding ’n bepaalde tyd; vir alles is daar ’n spesifieke en spesiale blokkie. Begin en skep ook vir elke ding die regte plek – plek vir jou werk en ’n eie heilige ruimte vir jou gesin. En vir jouself genoeg ruimte om jou batterye te herlaai. Geniet die tyd wanneer jy op Facebook rondblaai, maar sit jou iPad neer wanneer jou kind voor jou kom staan. Gebruik al die moderne tegnologie om jou dagboeke met dié van jou beroep te sinkroniseer, maar skep ook ’n ruimte waarin net jy en jou geliefdes met jul hart aan mekaar verbind is.

      Moenie gister of môre in vandag se ruimte leef nie. Alles op sy plek en alles op sy tyd.

      Dit kan jy net doen wanneer jy Prediker 3:11 verstaan: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.”

      Vir God is tyd nie net ’n syfer op jou horlosie of ’n inskrywing op jou kalender nie, maar ook ’n stukkie ewigheid. Terwyl jy op jou horlosie kyk, is jy terselfdertyd met ’n groter werklikheid besig. ’n Engelse Bybelvertaling stel dit só: “He has put eternity into man’s heart” (English Standard Version). Jou tyd en godsdiens staan nie los van mekaar nie. Hulle het alles met mekaar te doen. Tyd is deel van jou diens aan God! Elke sekonde, elke oomblik, ook hier en nou, behoort aan Hom.

      Daar is ’n tweede begrip wat hiermee saamhang.

      Bevry jou tyd

      In Efesiërs 5:16 moedig Paulus jou aan om elke geleentheid ten beste te benut. Die Afrikaanse 1953-Bybelvertaling het gesê dat jy tyd moet uitkoop. Die Griekse woord hier, exagoradzo, kan vertaal word met “koop dit, red dit, verlos dit”. Dit is meestal gebruik wanneer iemand ’n slaaf wat op die markplein staan, gaan loskoop het.

      Wanneer Paulus die begrip aan tyd koppel, waarsku hy teen die ontstellende moontlikheid dat jou tyd deur ander mense gevange geneem is. Jou almanak en horlosie staan vasgeketting op die markplein en enigeen wat verbystap, kan daarop bie. Jou werkgewer, vriende, geestelike leier of gemeenskapsorganisasie dra die slot se sleutel. Jy leef nie meer nie, maar wórd geleef.

      As dit van jou waar is, moet jy begin deur jou tyd terug te eis uit ander mense se hande.

      Moenie toelaat dat mense jou mislei en troos met die term me-time, so asof jy ’n stukkie tyd kry om te gebruik en die res aan iets of iemand anders behoort nie. God het aan jou die hele pakkie gegee, al 946 512 000 sekondes, en jy moet wyslik besluit hoe om dit te gebruik.

      Op soek na sin moet jy éérste by jou dagboek uitkom, en jý moet eerste by jou dagboek uitkom. Dit is vir seker ’n goeie wegspringplek!

      Jy kom dit agter wanneer mense hierdie waarheid begin beoefen. Hulle het ’n nuwe manier waarop hulle “nee” en “ja” sê vir eise wat aan hulle gestel word. Hulle leef met ’n nuwe ritme: Alles aan hulle sê dat hul sekondes ’n ewigheid werd is!

      Moenie uitstel nie. Gaan blaai vandag deur jou dagboek. Nee, nie om te kyk wat alles voorlê nie, maar om agter te kom wat bladsy ná bladsy oor jou lewe vertel. Dít wat jy daar voor jou sien, is die grootste getuigskrif, of waarskuwing, van die prioriteite wat jy tot hiertoe gestel het.

      Onthou in alle gevalle ook Henry Twells se kindergediggie, “Time’s Paces”:

      When as a child I laughed and wept,

      Time crept.

      When as a youth I waxed more bold,

      Time strolled.

      When I became a full-grown man,

      Time RAN.

      When older still I daily grew,

      Time FLEW.

      Soon I shall find, in passing on,

      Time gone.

      O Christ! wilt Thou have saved me then?

      Amen.

      Ek bid dat ons kleinseun wat my so maklik kon “optel”, dit ook eerder vroeër as later sal verstaan!

      Hier en nou

      ’n Skrifdeel: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.” – Psalm 90:12

      ’n Gedagte: Die skoenlapper tel nie maande nie, maar oomblikke en het genoeg tyd om te leef. – Skrywer onbekend

      ’n Stilhouplek: Volg net vyf minute lank die sekondewyser op jou horlosie om ’n aanvoeling te kry van hoe lank ’n sekonde en ’n minuut werklik is.

      ’n Besluit:

      VANDAG

Скачать книгу