Скачать книгу

wanneer ons gaan staan by een van die sydeure wat na die verhoog lei, kan ons die klanke van binne duidelik hoor. Daar in die stegie buitekant die deur volg ons en tientalle ander musiekliefhebbers van Haarlem elke enkele noot. Mamma en Betsie is nie sterk genoeg om so lank te staan nie, maar die meeste van ons wat in die Beje woon, is daar, of dit nou reën of ryp of sneeu. Al kan ons die gehoor binne hoor vroetel en hoes, luister ons daar in die stegie so stil soos muise.

      Die heel lekkerste is wanneer daar ’n konsert in die katedraal gehou word, want een van ons familielede is die koster daar. Net binnekant sy privaat ingang is daar ’n houtbank teen die muur. Daar sit ons dan, ons rûe yskoud teen die eeue oue muur, maar ons ore en harte word warm van die musiek.

      Mozart self het op die groot goue orrel gespeel, en sommige note klink of hulle uit die hemel self neerdaal. Ek is seker die hemel moet soos Sint Bavo wees en waarskynlik net so groot. Die hel, weet ek, is ’n warm plek; dan moet die hemel wees soos dié koue, vogtige, heilige gebou waar rook soos wierook opstyg van die voetverwarmers van dié wat daarvoor kan betaal. In die hemel, glo ek vas, het almal voetverwarmers. Selfs in die somer bly die koue in die marmerblokke op die vloer onder ons voete vassteek. Maar wanneer die orrelis die klawers raak, merk ons dit skaars op – en wanneer hy Bach speel, glad nie.

      Ek volg vir Mamma en Nollie met ’n donker, reguit trap op. Die spinnerakke kleef aan ons hare vas en muise skarrel voor ons weg. Die gebou staan minder as ’n blok van die Beje af en is waarskynlik ’n eeu jonger, maar hier woon nie ’n tannie Anna wat skrop en poets nie.

      Ons besoek een van die arm gesinne in die buurt, een van die vele wat Mamma aangeneem het. Die gedagte kom nooit by enigeen van ons kinders op dat ons self arm is nie; “die armes” is mense na wie ons mandjies neem. Mamma is altyd besig om voedsame sop en pap te kook vir bejaarde mans wat in hierdie wêreld vergete is en vir bleek, jong ma’s – natuurlik net op dié dae dat sy self gesond genoeg voel om voor die stoof te staan.

      Die vorige nag het ’n baba gesterf, en met die vars brood wat sy self gebak het, lê Mamma nou haar normale besoek by die gesin af.

      Moeisaam swoeg sy met die relinglose trap op en gaan staan dikwels om asem te skep. Aan die bopunt van die trap lei ’n deur na ’n enkelkamertjie wat baie duidelik die rol van kombuis, eet- en slaapkamer vervul. Daar is reeds baie besoekers. Die meeste van hulle staan omdat daar nie genoeg stoele is nie. Mamma gaan dadelik na die jong ma toe, maar ek bly vasgenael in die deur staan. Net regs van die deur, so vreeslik stil in die tuisgemaakte wiegie, lê die baba.

      Hoe vreemd dat ’n gemeenskap wat die feite oor seks so sorgvuldig vir kinders verberg, geen poging aanwend om hulle teen die dood te beskerm nie. Ek staar na die beweginglose lyfie en my hart klop met ’n vreemde ritme teen my ribbes. Nollie, altyd dapperder as ek, steek haar hand uit en raak aan die bleekwit wangetjie. Ek wil dit so graag doen, maar ek aarsel, te bang. Nuuskierigheid en vrees voer ’n stryd in my. Eindelik druk ek een vinger teen die toegevoude handjie.

      Dit is koud.

      Koud terwyl ons stadig terugstap Beje toe; koud terwyl ek voor aandete was; koud selfs in die snoesige, gasverligte eetkamer. Tussen my en elke bekende gesig om die tafel kruip daardie ysige vingertjies in. Al het tannie Jans al so dikwels daaroor gepraat, was dood vir my nog altyd maar net ’n woord. Nou weet ek dit kan werklik gebeur – nie net met ’n baba nie, maar ook met Pappa, Mamma en Betsie.

      Steeds bewend van dáárdie koue, volg ek vir Nollie kamer toe en kruip langs haar in die bed. Eindelik hoor ons Pappa se voetstappe met die draaitrap op kom. Dit is die wonderlikste oomblik van elke dag – wanneer hy boontoe kom om ons lekker warm toe te maak. Ons raak nooit aan die slaap voordat hy die komberse op sy besonderse manier reggetrek en sy hand ’n oomblik op my en Nollie se voorkop gelê het nie. Op daardie oomblik probeer ons nie eens ’n toon verroer nie.

      Maar vanaand, toe hy by die deur instap, bars ek in trane uit. “Ek het Pappa nodig,” snik ek. “Pappa mag nie doodgaan nie. Pappa mag nie.”

      Langs my op die bed sit Nollie dadelik regop. “Ons was vandag by mev Hoog,” verduidelik sy. “En Corrie het vanaand niks geëet nie.”

      Pappa gaan sit op die rand van die smal bedjie. “Corrie,” sê hy vol deernis, “as ek en jy Amsterdam toe gaan, wanneer gee ek vir jou jou kaartjie?”

      Ek snuif ’n paar keer terwyl ek oor die vraag dink.

      “Net voordat ons op die trein klim.”

      “Presies. Net so weet ons wyse Vader in die hemel wanneer ons dinge nodig het. Moet Hom nie vooruit hardloop nie, Corrie. Wanneer die tyd kom dat party van ons moet sterf, sal jy in jou hart inkyk en jy sal die krag wat jy nodig het daar vind – betyds.”

      3

      Karel

      Toe ek veertien is, ontmoet ek die eerste keer vir Karel, by een van die “geleenthede” waarvoor Mamma so bekend was. Vandag kan ek nie onthou of dit ’n verjaarsdag, ’n huweliksherdenking of ’n nuwe baba was nie – Mamma kon ’n partytjie van enigiets maak.

      Willem stel vir Karel aan ons voor as ’n vriend uit Leiden, en hy groet ons elkeen met die hand. Toe ek sy sterk, slanke hand in myne neem en diep in sy bruin oë kyk, raak ek onherroeplik verlief.

      Die oomblik toe almal hulle koffie het, gaan ek sit om net na hom te kyk en te kyk. Hy is skynbaar onbewus van my, maar dit is heeltemal natuurlik. Ek is immers net veertien jaar oud. Hy en Willem is reeds universiteitstudente met ruie baarde. Die blou sigaarwolke bol tussen hulle terwyl hulle gesels.

      Dit is vir my heeltemal genoeg om maar net in dieselfde kamer as Karel te wees. Om nie raakgesien te word nie, wel, daaraan is ek gewoond. Nollie is die een vir wie die seuns raaksien, maar soos die meeste mooi meisies gee sy nie eintlik om nie. Wanneer ’n seun haar vir ’n haarlok vra – die gewone manier om jou liefde te verklaar – trek sy sommer ’n paar drade uit die stokou vaal tapyt in ons slaapkamer, bind hulle met ’n sentimentele blou lintjie vas en maak my die boodskapper. Die tapyt is nou al vol kaal kolle en die skool vol gebroke harte.

      Ek, weer, raak om die beurt op elke seun in my klas verlief. Dis al ’n soort hopelose, gereelde ritme. Omdat ek nie mooi is nie en te skaam is om te sê hoe ek voel, word ’n hele geslag seuns groot, totaal onbewus van die meisie in bank nommer twee en dertig.

      Maar Karel, dink ek en hou hom dop terwyl hy suiker in sy koffie gooi, Karel is ’n ander saak. Vir Karel sal ek vir ewig liefhê.

      Twee jaar gaan verby voordat ek hom weer sien…

      In die winter van 1908 reis ek en Nollie Leiden toe om by Willem te gaan kuier. Sy yl gemeubileerde kamer is op die vierde verdieping van ’n privaat huis. Toe ons daar instap, gryp hy vir my en Nollie sommer so saam in ’n kragtige omhelsing vas. Dan trek hy ons na die venster toe.

      “Hier,” sê hy en haal ’n roomkoekie van die vensterbank af waar hy dit neergesit het om koud te bly. “Ek het dit vir julle gekoop. Eet dit gou-gou, voor my uitgehongerde vriende hier aankom.”

      Ons sit op die rand van Willem se bed en verslind die kosbare koek. Ek vermoed dat Willem sonder middagete moes klaarkom om dié stukkie bederf vir ons te kon koop. ’n Oomblik later vlieg die deur oop en vier van sy vriende bars in – lang jong mans met diep stemme, geklee in jasse met die krae al twee maal omgedraai en die moue verslete. Een van hulle is Karel.

      Ek sluk die laaste stukkie koek af, vee my hande aan die agterkant van my romp af en staan op. Willem stel vir my en Nollie aan die besoekers voor, maar toe hy by Karel kom, val hy vir Willem in die rede.

      “Ons ken mekaar reeds.” Hy maak ’n buiginkie.

      “Onthou jy? Ons het mekaar tydens ’n partytjie by julle huis ontmoet.” Ek kyk van Karel na Nollie, maar nee, hy kyk reguit na my. My hart wil jubelend antwoord, maar my mond is nog vol van die taai oorblyfsels van die roomkoek en die antwoord bereik nie my lippe nie. Gou sit die jong mans by ons voete op die vloer, almal hard en gelyktydig aan die praat.

      Nollie sit langs my op die bed en gesels saam asof ’n besoek aan ’n universiteit vir ons ’n alledaagse gebeurtenis

Скачать книгу