ТОП просматриваемых книг сайта:
Die skuilplek. Corrie ten Boom
Читать онлайн.Название Die skuilplek
Год выпуска 0
isbn 9780796319098
Автор произведения Corrie ten Boom
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Tannie Jans gryp die bak en staar met regverdige ywer na die kaas. As daar een onderwerp is waaraan sy al haar energie afstaan, meer nog as aan moderne kleredrag, is dit slegte kos. Uiteindelik, en taamlik teen haar sin soos dit vir my lyk, keur sy die kaas goed. Maar die hoed is vergete. Tannie Jans is steeds verdiep in ’n nuwe tragiese storie van ’n kennis “presies my ouderdom” wat dood is aan “twyfelagtige” vis toe die winkel se werkers opdaag en Pappa die swaar Bybel van die rak af haal.
In hierdie jaar van 1898 is daar maar twee werknemers in die horlosiewinkel, die horlosiewerktuigkundige en Pappa se leerling-boodskapper. Nadat Mamma vir hulle koffie ingeskink het, sit Pappa sy bril op en begin lees.
“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad… U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek…”
Watter soort skuilplek is dit? wonder ek half afgetrokke terwyl ek Pappa se bruin baard dophou. Dit wip op en af saam met die woorde. En wat is daar om voor weg te kruip?
Dit is ’n ellelange psalm en langs my begin Nollie kriewel. Toe Pappa die groot Boek toemaak, is sy, Willem en Betsie dadelik op hulle voete. Hulle gryp hul hoede en storm met die laaste vyf trappies af, uit by die deur tot in die stegie.
Heelwat stadiger staan die twee werkers op en volg die trap af na die winkel se agterdeur toe. Dan eers sien die vyf volwassenes dat ek nog soos ’n houtpop by die tafel sit.
“Corrie!” roep Mamma uit. “Het jy vergeet jy is nou ’n groot meisie? Vandag gaan jy ook skool toe. Opskud! Anders sal jy die straat alleen moet oorsteek.”
“Ek gaan nie skool toe nie.”
Daar is ’n geskokte stilte… en toe verbreek almal dit gelyk.
“Toe ek ’n dogtertjie was…” begin tannie Jans.
“Mev Waller se kinders…” kom dit van tannie Bep af.
Maar Pappa se diep stem wis hulle stemme totaal uit. “Natuurlik gaan sy nie alleen nie. Nollie was vandag te opgewonde. Sy het net vergeet om vir Corrie te wag. Dis maar al. Corrie gaan saam met my.”
Met dié woorde haal hy sy hoed van die kapstok af, vou sy groot hand om myne en lei my by die vertrek uit. My hand in Pappa s’n! Dit beteken gewoonlik die windmeule by die Spaarne of die swane op die kanaal. Maar hierdie keer neem hy my na waar ek nie wil wees nie. Daar is ’n reling langs die onderste vyf trappies. Ek gryp dit met my los hand vas en begin klou. Bedrewe horlosiemakervingers sluit om myne en maak hulle saggies los. Skreeuend en spartelend word ek weggelei uit die wêreld wat ek ken na ’n groter, vreemder een…
Maandae haal Pappa die trein Amsterdam toe om die korrekte tyd by die Vloot se observatorium te kry. Noudat my skooldae begin het, kan ek net in die somer saam met hom gaan. Ek hardloop met die trap af winkel toe, skoon geskrop, toegeknoop en gangbaar verklaar deur Betsie. Pappa gee nog laaste opdragte aan sy leerling. “Mev Staal sal vanoggend haar horlosie kom haal. En dié horlosie gaan na die Bakkers in Bloemendaal.”
Dan val ons in die pad stasie toe, hand aan hand. Ek rek my treë al hoe langer en Pappa maak syne al hoe korter om in pas met my te loop. Die treinreis na Amsterdam duur net ’n halfuur, maar dit is ’n wonderlike ervaring. Eers maak die saamgekoekte huisies van ou Haarlem plek vir losstaande huise op klein lappies grond. Die ruimte tussen die huise word later groter en dan, skielik, is ons op die platteland. Die plat Hollandse landbougrond wat tot by die horison strek en penreguit kanale flits by die venster verby. Uiteindelik kom ons in Amsterdam aan, ’n stad selfs nog groter as Rotterdam, met verwarrende en vreemde strate en kanale.
Pappa kom altyd ’n paar uur voor die tydsein daar aan sodat hy nog ’n draai kan gaan maak by die groothandelaars wat hom van horlosies en onderdele voorsien. Baie van hulle is Jode, en dit is hierdie besoeke waarvan ons albei die meeste hou. Ná die kortste moontlike sakegesprek haal Pappa ’n Bybeltjie uit sy reistas. Die groothandelaar, wie se baard gewoonlik nog langer en voller as Pappa s’n is, trek ’n boek of ’n boekrol uit ’n laai en plak ’n gebedsmus op sy kop. Dan volg ’n yslike gedoente terwyl dié twee redeneer, vergelyk, mekaar in die rede val… Maar eintlik geniet hulle mekaar se geselskap vreeslik baie.
Net toe ek besluit hulle het my hierdie keer regtig heeltemal vergeet, kyk die groothandelaar op, sien my raak asof dit die heel eerste keer is en slaan met sy handpalm teen sy voorkop.
“’n Gas! ’n Gas binne my poorte en ek het haar geen verversing aangebied nie!” Hy spring op, vroetel rond onder rakke en in kaste en kort daarna hou ek op my skoot ’n bord met die heerlikste lekkernye in die wêreld vas – heuningkoekies, dadelkoekies en lekkers gemaak van neute, vrugte en suiker. Nagereg is maar skaars in die Beje, en taai lekkernye soos hierdie heeltemal onbekend.
Om vyf voor twaalf is ons terug op die stasie. Ons staan op ’n plek op die platform van waar ons die toring van die Vloot se observatorium duidelik kan sien. Heel bo-op die toring, waar dit duidelik deur al die skepe in die hawe gesien kan word, is ’n lang staaf met twee beweegbare arms. Elke dag presies om twaalfuur val die arms. Pappa staan op sy uitkykpunt op die platform, amper op sy tone van lekkerkry en noukeurigheid, met sy sakhorlosie, skryfboekie en potlood in die hand. Daar’s hy! Vier sekondes voor twaalf. Binne ’n uur is die astronomie-horlosie in die winkel in Haarlem akkuraat ingestel, tot op die sekonde.
Tydens die treinreis huis toe kyk ons nie meer by die venster uit nie. Ons gesels eerder – oor verskillende dinge namate die jare verbysnel. Betsie wat hoërskool voltooi ten spyte van al die maande wat sy weens haar siekte verloor het. Willem wat ’n beurs sal kry wanneer hy klaar is met skool, wat hom in staat sal stel om universiteit toe te gaan. Betsie wat in die winkel as Pappa se boekhouer begin werk.
Dikwels gebruik ek die reis huis toe om met Pappa te praat oor dinge wat my hinder, want enigiets wat ek by die huis vra, word onmiddellik deur die tannies beantwoord. Eendag, tot ek tien of elf jaar oud was, vra ek vir Pappa uit oor ’n gedig wat ons die vorige winter by die skool gelees het. Een reël het “’n jongman wie se gesig nie die skaduwee van sekssonde op gehad het nie” beskryf. Ek was gans te skaam om vir die onderwyseres te vra wat dit beteken. Toe ek vir Mamma daaroor uitvra, het sy net bloedrooi gebloos. In daardie dae, net ná die einde van die eeu, het niemand oor seks gepraat nie, nie eens by die huis nie.
Juis daarom het dié reël in my kop bly vassteek. Ek was doodseker “seks” verwys na die feit of jy ’n seun of ’n meisie is, en “sonde”, het ek geweet, maak vir tannie Jans bitter kwaad. Maar wat dié twee saam beteken, kon ek nie uitpluis nie. Terwyl ek langs Pappa in die kompartement sit, vra ek hom toe skielik: “Pappa, wat is sekssonde?”
Hy draai skuins om na my te kyk, soos altyd wanneer hy ’n vraag beantwoord. Maar tot my verbasing sê hy niks. Uiteindelik staan hy op, tel sy reistas van die rak bo ons koppe af en sit dit op die vloer neer.
“Sal jy dit van die trein af dra?” vra hy vir my.
Ek staan op en trek aan die tas. Dit is propvol horlosies en onderdele wat Pappa die oggend gekoop het.
“Dis te swaar,” sê ek.
“Ja,” sê hy. “En dit sal ’n patetiese pa wees wat sy dogter vra om so ’n swaar vrag te dra. Dit werk dieselfde met kennis, Corrie. Daar is kennis wat net te swaar is vir kinders. Wanneer jy ouer en sterker is, sal jy dit kan dra. Nou moet jy my eers vertrou om dit vír jou te dra.”
Ek is tevrede. Meer as tevrede. Wonderbaarlik rustig. Daar is ’n antwoord vir hierdie vraag, vir ál my moeilike vrae. Nou is ek eers tevrede om dit in my pa se sorg oor te laat.
In die aand is daar altyd geselskap en musiek by die Beje. Gaste bring hulle fluite of viole saam, en omdat elke lid van ons familie ’n instrument bespeel, maak ons nogal ’n oulike orkes rondom die regop klavier in tannie Jans se voorste kamer.
Die