Скачать книгу

baie besonderse oomblik wees.

      “Vir jou ma, Corrie,” sê Tine en hou die blomme na my toe uit. “Ek hoop sy is…”

      “Nee, nee, dra jy die blomme. Jy lyk so lieflik met hulle in jou hande.”

      Sonder om haar jas te vat, stoot ek die halfverskrikte meisie voor my met die trap op. Ek druk haar by die eetkamerdeur in terwyl ek amper op haar hakke trap om Willem se reaksie te kan sien. Ek weet presies wat gaan gebeur. Ek leef immers my lewe in die romantiese verhale wat ek by die biblioteek uitneem en in Engels, Nederlands en Duits lees. Dikwels lees ek dié waarvan ek baie hou sommer in al drie die tale. In my verbeelding tower ek die toneel op waar die held die heldin mekaar ontmoet, en ek laat dit duisende kere in my gedagtes afgespeel.

      Willem staan stadig op. Sy oë bly stip op Tine gerig. Ook Pappa staan op. “Juffrou Van Veen,” sê Pappa op sy ouderwetse manier, “laat ek u voorstel aan ons seun, Willem. Willem, dis nou die jong dame van wie se bekwaamheid en goedhartigheid jy ons al so dikwels hoor praat het.”

      Ek twyfel of een van die twee Pappa se woorde hoor. Hulle staar in mekaar se oë asof daar geen ander mens in die vertrek of in die hele wye wêreld is nie.

      Willem en Tine trou twee maande ná sy ordening. In al die weke terwyl ons vir die troue voorberei, steek één gedagte by my vas: Karel gaan daar wees.

      Die troudag breek koel en helder aan. My oë vind dadelik vir Karel in die skare voor die kerk. Hy dra ’n manel en keil soos al die ander mans, maar hy is verreweg die aantreklikste.

      Vir my voel dit of ek ’n radikale verandering ondergaan het sedert ek hom laas gesien het. Die verskil tussen my een en twintig jare en sy ses en twintig is nou nie meer so groot soos vroeër nie. Meer nog, ek voel… Nee, nie mooi nie. Selfs op so ’n romantiese dag kan ek myself nie oortuig ek is mooi nie. Ek weet my ken is te vierkantig, my bene te lank, my hande te groot. Maar ek glo werklik – en al die boeke stem daaroor saam – ek sal mooi wees vir die man wat my liefhet.

      Betsie het die oggend my hare gedoen, ’n moeilike taak wat ’n uur met die krulyster geverg het. Dit is hoog op my kop opgestapel, en wonder bo wonder hou dit nog. Betsie het ook my syrok gemaak, net soos sy vir elke vrou in die gesin in die aand by lamplig ’n rok gemaak het. Sy moes maar in die aand werk, want die winkel is ses dae per week oop en op Sondae mag sy nie naaldwerk doen nie.

      Ek kyk rond en besluit ons tuisgemaakte rokke is net so modieus soos enigeen van die ander vroue se rokke. Niemand sal ooit raai, dink ek terwyl ons na die deur toe stap, dat Pappa sy sigare prysgegee het en tannie Jans die kaggelvuur in haar kamer om die sy te kon koop wat nou so elegant om ons ruis nie.

      “Corrie?”

      Voor my staan Karel, swart keil in die hand, sy oë stip op my gesig gevestig, asof hy nie heeltemal seker is wat om te sê nie.

      “Ja, dis ek!” sê ek terwyl ek laggend na hom opkyk. Dis ek, Karel, en dis jy. En dit is die oomblik waarvan ek gedroom het!

      “Maar jy is so… so volwasse. Vergewe my, Corrie, natuurlik is jy mos. Dis maar net… ek het nog altyd aan jou gedink as die dogtertjie met die yslike blou oë.” Hy staar nog so ’n rukkie na my en voeg dan saggies by: “En nou is die dogtertjie ’n vrou… en boonop pragtig.”

      Skielik is die orrelmusiek wat by die deur uitrol net vir ons bedoel. Hy bied my sy arm aan, en dit is al wat keer dat ek die lug in sweef, oor die puntige dakke van Haarlem se huise.

      Dis ’n winderige Vrydagoggend in Januarie toe my oë vir my vertel wat my brein aanvanklik weier om te aanvaar. Die vloeistof in die glasbeker het ’n modderige, dooie swart kleur.

      Ek leun teen die ou houtwasbak en maak my oë styf toe. “Asseblief, Here, laat ek tog net ’n fout gemaak het!” In my gedagtes herhaal ek die verskillende stappe; ek kyk na al die flessies met chemikalieë en maatlepels. Nee. Alles is presies net soos ek dit altyd doen.

      Dan is dit dié ellendige vertrek. Dit is altyd donker in dié vuurhoutjiedosie van ’n kombuis. Met ’n vadoek raap ek die warm glasbeker op en hardloop na die venster in die eetkamer.

      Swart. Swart soos die vrees en die dood self.

      Met die beker nog in my hand vasgeklem, hardloop ek met die vyf trappies af en in by die agterdeur van die winkel. Pappa, sy juweliersglasie voor sy oog, buk oor sy nuutste leerling se skouer en kies behendig ’n oneindig klein onderdeeltjie uit tussen die verskeidenheid voor hulle op die werkbank.

      Ek kyk deur die glasdeur tot in die winkel, maar Betsie staan agter haar toonbank met ’n klant en praat. Nee, nie ’n klant nie, help ek myself reg, ’n laspos. Ek ken mos dié vrou. Sy kom kastig hierheen om raad oor horlosies te vra, maar dan gaan koop sy hulle by Kan se nuwe winkel oorkant die straat. Nóg Pappa nóg Betsie is skynbaar daaroor bekommerd dat dit al hoe meer gebeur.

      Toe die vrou vertrek, bars ek by die deur in met die beker waarheid in my hand.

      “Betsie!” roep ek uit. “O Betsie, dis swart! Hoe gaan ons vir haar sê? Wat gaan ons doen?”

      Betsie stap vinnig agter die toonbank uit en vou haar arms styf om my. Agter my kom Pappa ook ingestap. Sy oë gaan van die beker na Betsie en toe na my.

      “En jy het dit presies reg gedoen, Corrie? In elke besonderheid?”

      “Beslis, ja, Pappa.”

      “Ek is seker jy het, my kind. Maar ons moet ook die dokter se mening kry.”

      “Ek neem dit dadelik na hom toe,” sê ek.

      Ek gooi die aaklige vloeistof in ’n botteltjie en hardloop daarmee oor die gladde, natgereënde strate van Haarlem.

      Daar is ’n nuwe verpleegster by dr Van Veen. Ek wag in doodse stilte ’n hele miserabele halfuur in die wagkamer. Uiteindelik vertrek die pasiënt en dr Van Veen neem die bottel na sy laboratorium.

      “Jy het nie ’n fout gemaak nie, Corrie,” sê hy toe hy weer verskyn. “Jou tannie het op die meeste drie weke om te leef.”

      Ons hou ’n gesinsvergadering in die horlosiewinkel toe ek terugkom: ek, Mamma, tannie Anna, Pappa en Betsie. Ons stem saam dat tannie Jans dadelik moet weet.

      “Ons almal gaan dit saam vir haar sê,” besluit Pappa. “Maar ék sal die nodige woorde sê. Miskien,” sê hy dan en sy gesig helder effens op, “miskien sal sy moed skep uit alles wat sy bereik het. Sy heg baie waarde aan alles wat sy vermag het. En wie weet, dalk is sy heeltemal reg.”

      Ons streep in ’n ry op na tannie Jans se kamers toe. “Kom binne,” roep sy toe Pappa klop en voeg dan soos altyd by, “voor die trek ’n einde aan my lewe maak.”

      Sy sit by haar ronde mahoniehouttafel, besig met nog ’n opname vir haar soldatesentrum. Toe sy soveel mense gelyk sien instap, sit sy haar pen neer. Sy kyk van die een na die ander en trek haar asem skerp in toe sy verstaan. Dit is Vrydagoggend. Ek het nog nie vir haar die uitslag van haar toets gegee nie.

      “My liewe skoonsuster,” begin Pappa met ’n sagte stemtoon, “daar is ’n reis vol vreugde waarop elk van God se kinders vroeër of later gaan. En, Jans, sommige moet met leë hande na hulle Vader toe gaan, maar jy sal met jou hande vol na Hom toe hardloop.”

      “Al jou klubs…” probeer tannie Anna.

      “Alles wat jy geskryf het…” voeg Mamma by.

      “Die geld wat Tannie ingesamel het…” sê Betsie.

      “Al Tannie se toesprake…” begin ek.

      Maar ons goedbedoelde woorde is nutteloos. Reg voor ons oë stort die trotse vrou ineen. Tannie Jans vou haar hande oor haar oë en begin huil. “Leeg, leeg!” kom dit gesmoor tussen haar trane deur. “Hoe kan ons iets na God toe neem? Wat gee Hy om vir ons toertjies en snuisterye?”

      Terwyl ons vol ongeloof na haar staan en luister, laat sak sy haar hande. Terwyl die trane steeds oor haar wange stroom, fluister sy: “Jesus, ek dank U dat ons met leë hande na U toe moet kom. Ek dank U dat U alles – alles

Скачать книгу