Скачать книгу

spat soos klippies oor die dek. Sy lag hard en hy staar haar ongelowig aan. Eindelik begin dit tot hom deurdring dat die kind teen hom wil veg.

      “Maar …”

      Weer skraap die dodelike lem oor sy skouer en ruk die een mou amper heeltemal af. “Monsieur, ek dink jy moet liewer na die ruim gaan en met jou speelgoed gaan speel. Jy kan dalk seerkry!” Haar stem klink eers soet, dan kom dit sissend: “Tel jou arm op en veg, jou gek! Of het jy skielik lam geraak?”

      Hy is verplig om haar te gehoorsaam, want hierdie keer swiep die lem ontstellend naby sy keel verby. Hy frons onheilspellend. Hy sou hom dit nooit kon voorstel dat hy hom teen ’n vrou, nee, ’n blote meisiekind, sou moes verdedig nie. Dit laat hom ’n groot gek voel om te midde van ’n ernstige geveg met ’n kind te moet staan en speel onderwyl sy manne agter, langs en voor hom in ’n stryd om lewe en dood gewikkel is. Dis belaglik, maar …

      Weer moet hy vinnig padgee en die graad van sy verbystering styg nog ’n entjie hoër. Dis eenvoudig onmoontlik dat so ’n kind die kapmes só behendig kan hanteer! En tog gebeur dit! Hy besef dat hy hom beslis sal moet verdedig as hy nie wil toelaat dat sy al sy klere van sy lyf af kerf nie. Maar dis nie sý keuse nie. As hy dan by hierdie verspotte geveg betrokke móét raak, is dit beter dat hy dit onmiddellik agter die rug kry. Hy sterf van skaamte as een van sy bemanning hom nou moet sien!

      Dat sy jeugdige teenstander nie sommer deur ’n paar polsbewegings van die swaardarm oorweldig gaan word nie, kom hy gou agter. Sy is so rats soos ’n kat en boonop skraal gebou, sodat sy swaard telkens onskadelik oor haar kop verbyswiep en hy die een is wat moet keer dat sy maag nie oopgekloof word wanneer sy rats onder sy swaard inskiet nie. Die geveg rek langer en met elke sekonde wat verbygaan, neem sy woede toe.

      Dis voldoende vernedering dat hy verplig is om hom teen haar te moet verdedig, maar hy durf nie toelaat dat sy die oorhand kry nie. Hy werp nou al sy kennis en ervaring in die stryd. Hierteen is Zonika nie opgewasse nie. Wat sy nie weet nie, is dat sy ’n geveg uitgelok het met die man wat aan die Franse hof bekend staan as dié beste – of beslis één van die beste – swaardvegters in die land.

      Dis net hul jaende asems wat die stilte tussen hulle verbreek. Dan word die geveg skielik beëindig toe hy met ’n kragtige beweging haar pols raak swiep en die kapmes ratelend op die dek beland. Die punt van sy swaard kom onheilspellend ’n aks van Zonika se keel tot stilstand.

      Hulle staar mekaar aan. Weer voel Hercule Cordier hoe bewondering vir die meisie onwillekeurig in hom groei. Die hou teen haar pols moet baie seer gewees het, maar daar het geen geluid of uitroep oor haar lippe gekom nie en meteens wens hy dat sy skoner was. Hy sou graag wou sien hoe lyk die gesiggie wat onder al daardie roet en sweet versteek is.

      Sy oë trek op skrefies toe hy in haar vreeslose blik terugkyk. Sy het moed ook, erken hy aan homself. Hy glimlag spontaan en laat sak sy swaard, maar op dieselfde oomblik uiter sy ’n skerp uitroep en werp haar met haar volle gewig teen hom aan. Haar aanval is te onverwags en hy seil oor die dekvloer. ’n Kapmes tril in die maspaal waar Cordier ’n oomblik gelede nog gestaan het. Hy kyk vinnig op na die lang, maer seerower wat blykbaar die eienaar van die mes is. Haan is op sy beurt heeltemal verslae.

      “Wat … hoekom het jy dit gedoen?” vra hy verbaas aan Zonika.

      “Dis my geveg, nie joune nie. Jy het nie nodig om jou in te meng nie.”

      “Maar …” Haan is heeltemal uit die veld geslaan. “Maar hy was op die punt om jou dood te maak!”

      Haar stem klink ergerlik.

      “Moenie laf wees nie! Dit sit nie in sy broek nie!”

      Haan pluk sy kapmes uit die maspaal, skud sy kop en draai weg op soek na ’n ander slagoffer. Hercule staan stadig op, sy blik fronsend op die jong meisie.

      “Ek was op die punt om jou te deurboor. Jy was weerloos. Jy weet dit is so.”

      “Bog! Kaf! Jy is te bang. Jy sal flou word as jy bloed sien!”

      “Maar jou klein duiwelskind! Ek is lus en kerf jou nou hier op!”

      “Hou jou luste in, m’sieur capitaine. Die geveg is verby,” klink ’n stem skielik agter hom op. Hy swaai om … en staar in kaptein Pierre se yskoue oë. Hercule Cordier kyk verslae om hom heen. Dit dring stadigaan tot hom deur dat die geveg beslis verby is. Die dek van die Seekat is besmeer van die bloed en oral lê lyke en gewondes rond – die meeste in uniform. Eenkant, beteuterd en met afgewende oë, staan ’n handjie vol van sy deeglik opgeleide matrose onder die wakende oë van ’n paar seerowerwagte.

      Hy kyk weer na Zonika wat, hande in die sye, hom met openlike leedvermaak beskou. Hy is op hierdie oomblik so kwaad dat hy daardie vuil nekkie van haar gerus ’n paar draaie kan gee. Onderwyl sy manne geveg het en aan die verloor was, moes hy met hierdie “kind” staan en speel!

      Niemand praat ’n woord nie. Dan hou kaptein Pierre sy hand uit.

      “U swaard, monsieur.”

      Hy oorhandig dit swygend en die seerowerkaptein wink vir sy manne om die oorblywende bemanningslede van die Hercule na die skeepsruim te neem en op te sluit.

      “Ek dink ons verdien almal ’n drankie. Ons kan later na die buit gaan kyk. Daar is nie haas nie. Haan, gaan haal twee vate wyn en gee aan die bemanning.” Hy draai na Hercule. “Sal ons na die kapteinskajuit gaan?”

      Hercule volg hom stilswyend en kyk Zonika vererg aan toe sy hulle sonder uitnodiging volg. Sal hy nooit van haar ontslae kan raak nie?

      Dis eers toe hy reeds sy glasie in die hand het dat hy die stilte verbreek. Hy kyk fronsend na die glas wyn wat Zonika vir haarself geskink het.

      “Is dit nie te veel drank vir so ’n jong kind nie?” merk hy op en kaptein Pierre lag.

      “O, Zonika is aan drank gewoond. Sy is ook nie so jonk as wat jy dink nie. En ’n dapper matroos verdien ’n drankie,” voeg hy met trots in sy stem by.

      “Hm. Dapper is sy onder meer.” Sy blik rus veelbetekenend op die swart gesiggie.

      Weer flits die groot oë in syne terug en sy antwoord gevat: “Jy lyk self nie van die beste nie, mon capitaine. My kapmes het jou lelik verrinneweer.”

      Haar vader kyk hulle beurtelings geamuseer aan. Hy sal goed glo dat dit vir die geëerde capitaine beslis nie so aangenaam is om daaraan herinner te word dat dit juis ’n vrou is wat hom só daar laat uitsien nie. Hy sluk duidelik swaar aan daardie pil.

      “Ek stel voor dat julle albei beter sal lyk en voel as julle eers gewas en ander klere aangetrek het. As u drankie klaar is, sal my dogter u van die nodige voorsien onderwyl ek inspeksie van die Hercule gaan hou.” Kaptein Pierre se stem klink onskuldig. Hy sien hoe die ander man se gesig verstrak by die aanhoor van sy laaste sin en omdat hy nie ’n man is wat daarvan hou om sout in ’n rou wond te vryf nie, vervolg hy haastig: “Ons het ons nog nie aan mekaar voorgestel nie. Ek is kaptein Pierre en dit is my dogter, Zonika.”

      “Ek weet wie u is,” antwoord Hercule Cordier met ’n uitdrukkinglose gesig, maar met ’n vreemde stemtoon. Die seerowerkaptein kyk hom vinnig aan en sy oë vernou.

      “U weet wie ek is, kaptein? Het u ook geweet voordat die geveg begin het?”

      “Ja.”

      “U het doelbewus op my afgestuur, kaptein. Het dit iets te doen met die feit dat u geweet het wié die kaptein van die Seekat is?”

      “Miskien.”

      ’n Oomblik ontmoet die twee mans se oë.

      “Wat is u naam, kaptein?”

      “Hercule Cordier.”

      Kaptein Pierre delf in sy geheue, maar die naam beteken vir hom niks nie. Dis Hercule wat weer praat.

      “Daar wag vir u ’n groot teleurstelling op die Hercule, kaptein. Daar is geen buit nie.”

      “So? Geen buit nie? Waarheen is u dan op pad?”

      “Ek

Скачать книгу