Скачать книгу

hand gelig om hom stil te maak.

      “Ek weet, Emile Pierre. Ek het al daarvan gehoor. Ek weet jou dogter kan alles doen nes of nog beter as enige man. Ongelukkig kan sy niks doen wat ’n dame behoort te kan doen nie.”

      Hy het verward gefrons.

      “Waarvoor moet sy dít doen? Sy is nog ’n kind. Daar is nog baie tyd …”

      “Jou dogter is nie meer ’n kind nie. Sy is sewentien … of selfs ouer?”

      “Ek wil eintlik nie eens aan haar ouderdom dink nie,” het hy onwillig erken. “Hierdie probleem vermy ek deur dit bloot te ontken. As sy maar vir ewig kind kan bly. Sê maar jy is min of meer in die kol.”

      “Nou ja, ek is seker nie ver verkeerd nie. Vroue van haar ouderdom is al getroud, het al kinders. ’n Seerowerskip is geen plek meer vir haar nie.”

      Hy het sy kop geskud. Hy het glad nie gehou van die dinge wat Madame gesê het nie – juis omdat hy op daardie oomblik moes erken dat sy die waarheid praat. ’n Seerowerskip is geen plek vir ’n meisie van sestien jaar nie.

      “Waarop stuur jy af?” het hy eindelik reguit gevra.

      “Goed. Allons au fait. Laat ons tot die punt kom. Jy kan nie meer jou dogter op jou reise saamneem nie, Emile Pierre. As jy weer vertrek, moet sy hier agterbly.”

      “Om wat hier te maak? Dink jy ek sal my dogter in hierdie seerowernes laat sonder my beskerming? Wie of wat sal hier van haar ’n dame maak?”

      “Ek. Jy vergeet ék is nog hier.”

      “Jy!” Hy het niks verder gesê nie, maar sy oë het haar genoeg vertel. Sy het gesug.

      “Ek kan haar al die kunsies leer wat ’n jong dame behoort te ken. Jy vergeet ek was nie altyd vervalle onder seerowers nie, net so min soos jy. Deur slinkse onderkruipers het ek omtrent al my besittings verloor. As daar een is wat jou dogter kan leer, dan is dit ek.”

      Sy het die onwillige, skeptiese trek op sy gesig gesien en streng voortgegaan: “Het jy al jou dogter goed bekyk, Pierre? Het jy gesien dat sy ’n beeldskone mens is? En afgesien daarvan is daar iets baie besonders aan haar. Ten spyte van die wilde lewe wat sy voer, ten spyte van die feit dat jy jou bes doen om haar soos ’n seun groot te maak, is Zonika inherent ’n dame – en dit moes sy van haar voorgeslagte geërf het.” Dan skiet sy die vraag vinnig op hom af: “Is sy jou eie dogter?”

      Net ’n oomblik lank is die man onverhoeds betrap. ’n Breukdeeltjie van ’n sekonde het die wyse oë van Madame sy ontsteltenis gewaar. Maar toe ruk hy hom reg en sy stem klink amper bars.

      “Natuurlik is sy my kind! Waar dink jy dan altemit kom ek aan haar? Ek is nie ’n kinderdief nie.”

      “Natuurlik. Ek vra maar net,” het sy gou gepaai, maar in haar hart was sy daarvan oortuig dat sy die spyker op die kop geslaan het.

      “Dis ’n sonde om ’n meisie soos Zonika in ’n seerowerbestaan te laat verval, Pierre. Wat het jy gedink moet van haar word wanneer jy nie meer daar is nie?”

      “O, wel, ek het gedink sy moet vat wat ek deur die jare opgeraap het en terugkeer na Frankryk waar sy ’n ordentlike lewe kan voer.”

      “En hoe sal sy dit regkry as sy net dié soort lewe ken wat sy nou lei? Nee, Pierre, jy kan nie wag tot jou dood nie. Ek sal jou sê wat met haar sal gebeur ná jou dood. Hulle sal oor haar baklei en die sterkste een sal haar vat, eenvoudig vat, en sy sal doodgaan in hierdie seerowernes.”

      Hy was stil, want hy het geweet Madame het gelyk. Hy dra hierdie vrees al baie jare in hom om, maar nog nooit was dit só helder op die voorgrond nie.

      Die gesprek is nie verder gevoer nie, maar toe die Seekat ’n week later gereed maak om weer die bloutes in te vaar, het Pierre die besorgde Madame laat weet dat Zonika by haar agterbly.

      Hulle het egter nie rekening gehou met Zonika self nie. Sy kon haar ore nie glo toe sy van haar vader verneem dat sy nie dié keer mag saamgaan nie. So iets was vir haar ondenkbaar, totaal buite die kwessie – en basta!

      Hulle het gepaai, geredeneer, wilde beloftes gemaak, geraas, gesoebat en nog meer, maar eindelik het Zonika tog haar sin gekry en toe die Seekat die volgende oggend die hawe uitvaar, was sy oudergewoonte aan haar vader se sy om die toeskouers op die kaai, onder wie ook ’n bitter ontevrede Madame, vrolik vaarwel toe te wuif.

      Ná vele maande het die Seekat teruggekeer. Madame en Pierre het weer ’n gesprekkie gehad en wéér is daar besluit dat Zonika hierdie keer beslis sou agterbly.

      Die aand voor die Seekat se vertrek het Zonika egter spoorloos verdwyn. Daar is naarstiglik na haar gesoek, maar sonder welslae. Pierre het hom nie veel aan sy dogter se verdwyning gesteur nie. Hy het instinktief geweet dat sy haar êrens op die Seekat skuilhou en wel haar verskyning sou maak wanneer hulle die veiligheid van die diepsee bereik het. Hy het geen poging aangewend om na haar te soek nie, tot ontsteltenis van Madame, wat sterk vermoed het dat ’n komplot teen haar gesmee is.

      Die Seekat het die volgende oggend vertrek soos beplan. Teen die aand se kant het Pierre na die ingeboude muurkas in die kapteinskajuit gestap en ernstig laat hoor: “Dit moet baie benoud wees daar binne. Ek dink jy kan nou maar uitkom.” Zonika het steunend en kreunend van die krampe in haar lyf uit die een hoekie gekruip en haar vader verbaas aangekyk.

      “Mon père! U het al die tyd geweet ek is hier! Hoekom het u my nie verraai nie?”

      “Ek het nie vroeër geweet jy is hier nie. Ek het maar netnou eers daaraan gedink dat jy moontlik hier kan skuil,” het hy ongeërg geantwoord en verleë geglimlag.

      “A, père, père, mon chéri! O, Paps, Paps, my skat!” Sy het haar arms om sy nek gegooi. Kaptein Pierre het hom egter streng probeer hou.

      “Net so ’n oomblik, ma chérie. Jy was baie ongehoorsaam. Ek het lus om sommer nou hier om te draai en jou terug te neem. Daar is klaar besluit dat jy my nie weer sal vergesel nie. Waarom tog …?”

      Haar dansende oë het hom tot swye gebring en skielik het hy haar skraal lyfie styf teen hom vasgedruk, sy stem skor.

      “A, ma chérie! Ek weet ek doen verkeerd, maar ek kan my die skip sonder jou nie voorstel nie.”

      Só het Zonika die liewe Madame weer gefnuik en vergesel sy ook hierdie keer vir kaptein Pierre op sy gevaarlike plundervaarte.

      Maar Madame se teregwysings het tog bly steek en Emile Pierre het op dié reis al sy bes probeer om sy dogter van haar wilde en waaghalsige toertjies te laat afsien. Tevergeefs. ’n Paar oomblikke gelede was sy weer in die kraaines.

      Kaptein Pierre sug. Dan stap hy na die klein patryspoort en staar somber oor die deinende see. Was dit ’n fout om met die verantwoordelikheid van ’n dogter op sy skouers ’n seerowerbestaan te voer? Op hierdie oomblik is hy geneig om bevestigend te antwoord. Maar watter ander heenkome was daar afgesien van die see nadat Frankryk te nou vir hom en die baba Zonika geraak het?

      Hy is egter ook in sy hart daarvan oortuig dat hy, deur Frankryk te verlaat, die kleine Zonika se lewe gered het. Maar nou het die jare verbygerol. Sy het grootgeword. Is dit nog reg om haar aan ’n seerowerbestaan bloot te stel? Hierop is die antwoord beslis nee! Maar wat staan hom te doen? Is dit werklik veilig om na Frankryk terug te keer? Slegs as hy seker weet dat Zonika veilig sal wees, sal hy dit oorweeg. Maar hoe sal hy weet? Miskien … miskien is dit tyd dat hy weer ’n slag ’n besoekie aan sy ou vaderland bring – ’n geheime besoekie …

      Die volgende oomblik word hy uit sy diepe bepeinsing geruk. Dis die wag bo uit die kraaines.

      “Hoo- … laa!”

      Nog rats vir ’n man van sy jare hardloop hy dek toe. Alle bedrywigheid het tot stilstand gekom. Elke oog hou die kraaines dop. Die roep uit die hoogte is alte dikwels ook die roep van die dood, dit weet hulle al. Haan se lang, maer arm wys in ’n suidwestelike rigting.

      “Wit seile op die horison! Die Franse vlag, maar dis nog te ver.”

      Die kaptein

Скачать книгу