Скачать книгу

      ENA MURRAY

      Die geheim van Hercule Cordier

      Jasmyn

      1

      Soos die liefdevolle aanraking van ’n meisie klots skuimomsoomde brandertjies teen die ruwe houtboeg van die groot sewentiende-eeuse seilskip die Seekat aan. Ver bo die houtdek, wat op hierdie oomblik geskrop word met asyn en seewater, bol die wit seile soos wolke in die ligte seebries. So ’n toneel sou jy kon sien op enige van die talle seerowerskepe wat op dié tydstip feitlik heeltemal baas is op see en byna ongehinderd hul plundertogte kan voortsit.

      Die ruwe, bebaarde stuurman tuur oor die horison, sy sterk hande op die wiel voor hom. Druk aan ’t skrop op die dek is die res van die bemanning – grof, onverfynd, ruwe erts wat afgespat het van die beskawing voordat hulle geslyp kon word tot messieurs op wie Frankryk trots sou kon wees. Onder hulle is die verweerde houtdek wat al baie storms deurstaan het, die verslete houttrap wat na die bodek en voorkasteel lei, die kapteinskajuit wat ten spyte van die aanslae van die tyd tog nog hier en daar ’n aanduiding toon van die eertydse glorie voordat die skip in die hande van seerowers geval het.

      Daar is die stewige maspale en takelwerk, die besonder dik ankertou, die valdeur na die skeepsruim onder … dieselfde ruim wat al talle kere van die kosbaarste skatte op aarde geberg het – van die mooiste en duurste juwele van Frankryk tot die fynste fyn sy uit die Ooste, speserye uit Java, koperkelke en -komme van ’n koninklike tafel gestroop, kandelare van suiwer goud uit een van die adellike kastele van Frankryk, asook silwer, topaas en jaspis van die Middellandse See en goue muntstukke, kiste vol van die lieflike, ronde muntstukke.

      Daar is egter één verskilletjie op hierdie skip. Dis nie die gewone wag wat in die kraaines is nie – ten minste nie op hierdie spesifieke oomblik nie. Die matroos wat gewoonlik waghou, is ’n lang, maer riem van ’n man bekend as Haan, met ’n rooi doek om die kop en ’n swart klap oor die een oog.

      Maar hy is besig om sy dors uit ’n groot houtbalie te les. En in sy plek in die kraaines, met oë turend na die horison, is ’n meisie. Eintlik lyk sy soos ’n jong seun. Dis net die golwende, lang, windverwaaide hare wat haar geslag verraai.

      Haan sit die houtlepel neer, vee met die agterkant van sy hand die water van sy baard af, kyk na bo en glimlag. Zonika! Van die swakker geslag? Enige man wat dit sou waag om dit hardop te sê, sal onmiddellik tot ’n geveg met kapmesse uitgedaag word. Wat ’n man kan doen, kan sy ook doen, dit glo sy.

      Toe Haan van die waterbalie af wegdraai, verskyn die kaptein op die platform voor die voorkasteel en gewaar hom. ’n Diep frons keep tussen sy oë in.

      “Wat maak jy hier? Moet jy nie op jou pos wees nie?”

      “Ja, kaptein. Ek het net kom water drink. Daar ís iemand daar bo.”

      “Hm.” Hy blik terloops na die kraaines en dan verskerp sy frons. “Parbleu! Hoeveel keer het ek jou al gesê dat ek Zonika nie daar wil sien nie? Zonika! Kom dadelik daar af! Dadelik!” Hy draai na die matroos. “En as jy weer my bevele verontagsaam, kielhaal ek jou! Maak dat jy op jou pos kom, seerot!”

      Haan glip oor die dek en sy lang liggaam kronkel soos ’n slang met die touleer op. Halfpad kom hy by Zonika verby wat net so rats na benede gly. Daar is geen teken van vrees vir of ontsteltenis oor haar vader se woede op haar gesig te bespeur nie. Inteendeel! Die donkerblou oë glinster vol pret toe sy ’n oomblik langs Haan huiwer.

      “Klink my ons is in die pekel!”

      “Ek is gedreig met kielhaal as jy weer in die kraaines gevang word. Jy sal my nog my nek kos!”

      Sy lag hom uit.

      “Watter haai sal dit ooit waag om sy tande in daardie maer nek van jou in te slaan? Sy tande sal in die senings vashaak!”

      Met nog ’n skaterlag oor Haan se verontwaardiging gly sy die laaste stukkie na benede en kom geluidloos en grasieus soos ’n kat op haar voete te lande. Haar pa beskou haar ’n oomblik in stilte. Met haar voete effens van mekaar, hande op die skraal heupe, die lenige gestaltetjie effens uitdagend, die groot blou oë onskuldig asof sy van geen sout of water weet nie, vind hy dit byna onmoontlik om vir haar kwaad te wees of streng teenoor haar op te tree. En tog … hy het ’n plig … ’n plig waarvan hy baie jare lank vergeet het, maar wat nou swaar op hom druk. Die skugter deining van haar bors en die ronding van haar heupe vertel hom dat dit miskien reeds te laat is. Sy dogter is lank nie meer ’n kind, soos wat hy nog al die jare verkies het om aan haar te dink nie.

      Soos sy nou voor hom staan, lyk sy egter nog na ’n seun, en weet hy dat daar min van sy bemanning is wat ratser teen ’n maspaal kan opklouter of vinniger met ’n kapmes is. Maar maspaal en kapmes ofte nie, sy is ’n vroumens en sy moet haar gedra soos een. Dis sy plig om haar dit te leer.

      “Het u my geroep, mon père – Vader?”

      “Natuurlik het ek. Wat soek jy bo in die kraaines? Hoeveel keer moet ek jou sê dat jy hierdie wilde … mannetjiesmaniere van jou moet staak? Geen ware mademoiselle klim met toulere op, sit in kraaineste en … dra langbroeke nie!”

      Die kennetjie kom parmantig na vore en die blou oë flits van ergernis.

      “Ek wil geen ‘ware mademoiselle’ wees nie! Waarom moet ek? Hoe dink u sal ek lyk as ek hier op die skip rondloop met ’n witgepoeierde gesig soos dié van ’n lyk? Sies! Ek sal vir myself gril!”

      “Jy is reg. Jy hoort nie op die skip nie. Jy moes by Madame agtergebly het. Dis die laaste keer dat jy my ompraat om jou saam te bring.”

      “Maar …”

      “Zonika! Ek is nog die kaptein van hierdie skip en ek is nog jou vader. Ek het klaar gepraat.” Hy kyk weg, maar draai dan weer na die meisie wat hom briesend aanstaar. Hy lig sy vinger waarskuwend. “En jy bly van die maspale en toulere af. Daaroor gaan ek ook nie weer praat nie. As ek jou weer betrap, gaan ek jou straf.”

      “Wat gaan u met my doen? Kielhaal soos vir Haan?”

      “Nee. Ek sal jou sitvlak vir jou vuurwarm klop.”

      “Mon père! Ek glo nie ’n mens mag so iets aan ’n ‘ware mademoiselle’ doen nie!”

      Soos altyd duur die meningsverskil tussen hulle nooit lank nie. Daarvoor is hulle te geheg aan mekaar en hul liefde te eg. Die man glimlag.

      “Touché! Ek sal dan maar aan ’n ander straf moet dink. Maar een sal ek kry, dit verseker ek jou!”

      Haar laggie klink nog in sy ore toe hy die kapteinskajuit binnegaan en hy glimlag weer. Maar toe hy agter sy swaar houtlessenaar inskuif, raak sy oë peinsend.

      Dit is welbekend onder die seerowers en selfs buite hul geledere dat die kaptein van die Seekat net twee liefdes in sy lewe het – sy skip en sy dogter. Miskien is dit die feit dat sy dogter van haar babadae af saam met hom op die skip is wat hom van die uiterste wreedhede waarvoor seerowers so berug is, weerhou het. Maar die Seekat is ook bekend om die talle verhale dat daar ’n vrou onder die seerowers aan boord is, ’n vrou wat in gevegte haar man teen enige man kan staan. En Zonika kán vir haarself sorg – dit het sy al deur en deur bewys. Nog altyd was haar pa baie trots op hierdie feit. Dis eers die afgelope tyd dat die soort lewe wat sy dogter hier op die skip voer hom begin hinder het.

      Madame, die moeder van die seerowergemeenskap by hul geheime skuilplek in die Middellandse See, het eerste die onrus in hom wakker gemaak.

      Dit was twee jaar gelede dat sy Zonika se pa eendag laat roep het onderwyl die Seekat in die gekamoefleerde hawe voor anker gelê het nadat dit oorlaai met skatte teruggekeer het ná maande lange omswerwinge. In haar huis het die twee mekaar vas in die oë gekyk.

      “Ek het jou laat roep om met jou te praat oor jou dogter.”

      “My dogter?” Die seerower se gesig het verstrak. Sy dogter was vir hom ’n teer onderwerp. “Wat van haar?”

      “Sy het grootgeword in die maande wat julle weg was. Sy is nou ’n jong dame.”

      Hy het haar verbaas aangekyk en toe hard gelag.

      “Jy is verspot, Madame. Zonika is nog ’n blote kind. En oulik. Jy moet net sien

Скачать книгу