Скачать книгу

om in die son droog te word. Is daar tekens van ’n donderstorm, moes ons kinders dikwels help om die stellasies gou-gou bo-op mekaar te pak en met yslike stukke seil toe te gooi. Op hierdie dorsvloer is ook hope boontjies in hulle peule en stingels oopgesprei om droog te word en krakend oop te skiet. As Ma in die Kinderbybel van die “dorsvloer van Arauna” gelees het, het ek dié sementblad vir my voorgestel.

      Om vuur vir die loogpotte te maak, het Pa-hulle vragte renosterbosse aangery en dit tot ’n reusemied op ons speelgrond langs die sloot opgestapel.

      Een middag is ons in die kombuis besig om te vier-uur. D.w.s., nagenoeg halfvier, vieruur kom Pa huis toe as hy naby die huis werk en drink ons koffie en eet dik snye brood met botter en roesbruin hanepootdruiwekonfyt daarop.

      Toe kom Kosie, seker so drie jaar oud, by die agterdeur in en pluk-pluk aan Ma se voorskoot. “Vutie baand! Vutie baand!” sê hy.

      Ek dink dit was Dria wat eerste verstaan het, uitgegaan en toe alarm gemaak het.

      Want daar is die renosterbosmied aan die brand. Vlamme skiet ten hemele.

      Ek storm om na die Groothuis toe om vir Oupa-hulle te roep. Ek kry vir Oupa onder ’n ou verpotte akkerboompie, kruk onder die armholte. Van daar kan hy die “vutie” sien. Ons almal se magteloosheid druk hy uit deur met sy vingers deur sy dun, yl haartjies op sy voorkop te vryf.

      Kosie se vuur hét uitgebrand. Gelukkig het daar nie ’n wind gewaai nie. Gelukkig was daar water in die sloot.

      Hy’t nie pak gekry nie. Ons skrik en dankbaarheid was te groot.

      Tannie Babs was Ma se niggie en nooit getroud nie. Sy het in oom Charlie Parsons se plaaswinkel gehelp. Dit was my werk om Vrydagmiddae wors en vleis by haar te gaan haal; dis nou as ons nie die aand op Hartbeesrivier gaan kuier en Pa dit by oom Charlie self oplaai nie.

      Daardie warm dag aan die begin van die kort vakansie voor die laaste skoolkwartaal dra ek vir Kosie (3) al die pad af winkel toe op my heup.

      En daar, net buite die hoofdeur, regoor die slordige portjackson, loop ons ons vas in die Steyn-tweelingsusters, Annie en Meggie. Dié twee blondines gaan volgende jaar laerskoolonderwyseresse word.

      Dadelik begin hulle tjilp.

      “O, kyk wie’s hier! Ag, my moeder! Danie en klein Kiep!” Meggie wil-wil vir Kiep (hy’t vir alle hoenders kiep gesê) optel, maar ek hou hom net stywer vas. Dan vryf sy maar oor sy kop: “Kyk net die mooie ou dimpeltjies, die ou neusie en die krulhaartjies; ai, tannie vreet hom sommer oppies.”

      Annie begin hom kielie. “Is hy nie te prastag nie? Hier kom die krappie, hier kom die krappie … kielie, kielie, kielie!”

      Koos het net drie woorde vir hulle. “Kak, pis, dêmmit!”

      Sondagoggend was die tyd dat ons saam met Pa op Boplaas gaan kuier het by sy sus Wiesie en swaer Kosie Malan. Oom Kosie was maar ’n man wat nie te vrolik was nie. Maar as Pa hom die slag aan die lag gekry het, was dit met ’n hoë stem wat oplaai, afneem, weer oorneem.

      Pa en oom Kosie suiker aan na die netjiese sementhok met die varke in goeie kondisie waarop oom Kosie so trots is. Daar, voorarms oor die muurtjie, sou hulle boerderysake praat, pryse van goed ophaal, dalk iets oor die politiek.

      Aan die noordekant het die opdraandes na die berg al begin, en daar, in ’n bloekombos (so baie bosse is op die plase aangeplant as windskerms), is daar ’n paar byekorwe staangemaak.

      Kosie se blonde krulledos was nog nie afgesny nie. Ma het lank een van sy haarlokkies bewaar by haar en Pa se persoonlike dokumente in ’n blik op ’n rak langs die klerekas in my en Kosie se kamer.

      Vanoggend het Krullebol, nou so twee jaar oud, een van Ma se selfgebreide truitjies aan. Dis van bruin en geel wol, en vir my lyk hy self soos ’n bytjie.

      Bytjie raak weg. Ons begin rondkyk waar hy is. Dan sien ek hom. Hy kom van die byekorwe af aangewaggel. Ek hardloop om hom te gaan haal, want hy huil! Die oë is toegeknyp. Die mond wyd oop. By daardie donker grotjie vlieg ’n by in en uit.

      So kort ná Kersfees is in Ouma-hulle se voorhuis – so is ’n sitkamer genoem – besluit: Nuwejaarsdag gaan ons strand toe. “Strand” was vir ons Kleinmondstrand. Die “ons” was die reedsgenoemde drie gesinne en dan ook maer oom Jan, lywige ta’ Maraai en goedgeboude Thomas, wat met hulle kwaai hond Bonzo suidoos aan die onderkant van die garsland in ’n klein huisie gewoon het. Oom Jan en Thomas het saam met Pa vir Oupa geboer. Pa en oom Jan het elk ’n deel van die plaas gehad, maar dit saam-saam bewerk.

      Baie vroeg, met die hane wat nog vir mekaar antwoord gee in die vallei, met die maan wat nog effentjies skyn deur die wildeperskeboom langs Ouma se vetplante, dan wag ons al voor die kelder, en kom oom Jan-hulle deur die hek aan. Ons kinders is tot opgooiens toe opgewonde oor die één dag se avontuur die vreemde in.

      Oom Kosie neem ons met sy vaal Ford-bakkie. Tant Maraai en tant Wiesie voorin. Oupa-hulle het selde saamgegaan. Ons ander het agter op die oop bakkie gery, oor die heuwels en draaie by Caledon. Wie sien eerste die stukkies blou en wit van die see?

      Oom Vasie en tant Lewiesa Marais, later Dria se skoonouers, het ons by Kleinmond ingewag. Want hulle was bevoorreg … Hulle kon bekostig om iets te doen wat ons nooit gedoen het in daardie jare vyftig nie. Eers teen my senior skooljare in die jare sestig het Pa, met sy karige salaris as plaasvoorman (bestuurder sou hy vandag genoem word), kon bekostig om ’n week lank ook met ons te gaan vakansie hou by die see. Oom Vasie-hulle was in ’n huis of tent. Húlle hoef nie dieselfde aand nog weer huis toe te gaan nie. “Vakansie” was iets geheimsinnigs vir my.

      Nuwejaarsdag van, as ek reg onthou, 1954 was ons daar op die strand langs die lagune. Ek is verwilderd deur al die mense om ons. Ek weet nie wat om te doen nie. Hoe speel ’n mens op die sand? Hou maar na aan Ma.

      Oom Vasie is ’n grapmaker, vertel stout stories. Hy bak poetse. Hulle het al op Nuwejaarsdag mense se plaashekke so met draad vasgedraai dat hulle nie kon wegkom nie. Of karre se wiele is afgehaal.

      En toe sê hy vir Pa hulle moet vir die klein mannetjie die see wys. Pa, met sy opgerolde broekspype, gryp my boetie en draf saam met oom Vasie na die skuimende, rasende water wat oplig. Om die beurt “doop” hulle hom, skiet-swaai hom deur die water. Hy maak nie ’n geluid nie. Ek is ontsettend verskrik dat Kosie sal wegspoel, dat hy sal doodgaan. Het ek gehuil, geskreeu dat hulle vir Kosie moet uitlos? Dit kan ek nie onthou nie, maar wel die angs.

      Ons drie kinders het nooit Sondagskool toe gegaan nie. Iets van “het nie die regte klere nie”. Eers in die destydse standerd ses, toe ek met katkisasieklasse moes begin wat op aanneming sou uitloop, het ek die klasse by tant Hanna Oosthuizen Sondagoggende in haar huis op Hartbeesrivier bygewoon – in ’n pak wat ek van James le Roux (familie aan Ma se kant) “geërf” het. Daardie katkisasieklasse, met die opsê van lang, ingewikkelde, swaarwigtig geformuleerde antwoorde op die geloofsvrae van die ou kerkvaders, het egter beteken dat ek aan die einde van die jaar kon toneelspeel tydens tant Hanna se Kersboomkonsert in die Erasmusse se skuur!

      Maar heidene was ons geensins in ons laerskooljare nie. Elke aand en elke oggend het Ma vir ons gelees uit Die Kind se Bybel deur Herman B. Scholtemeijer of Voordat ek gaan slaap van Enid Blyton. Dan het elkeen sy gebed opgesê. Die standaardgebede. In die begin: “Liewe Jesus, sag en teer, sien op my, u kindjie, neer. Leer my om tot U te bid. Neem my hartjie in besit. Amen.” Later meer gevorderd: die Onse Vader. En uiteindelik kon jy net in jou gedagtes bid. Jy begin by die “Onse Vader” en maak dan allerlei persoonlike toevoegings.

      En dan het Ma boonop, op die Sondae dat ons nie in dorp toe gegaan het vir kerk nie, vir ons Bybeltekste laat opsê uit teksboekies wat tant Hanna vir haar laat kry het (soms ou gebruiktes). Ma het ook voorgelees uit die Môrelig-kinderpreke. Een preek was verskriklik. Bladsye lank word beskrywe hoe ’n wêreld sonder Kersfees sal wees.

      Saterdagmiddae was dit my werk om Koos, toe al op skool, sy teksvers te help leer. My geheue laat my weer ’n skemerige kombuis sien. Seker ’n somermiddag met die sisgordyne toegetrek. Ek sit langs Koos op die kombuistafel (mens doen dit nie, maar Ma sien ons nie) en sê vir hom voor: “‘Mooi so,

Скачать книгу