Скачать книгу

bygesit nie.

      “Toe val ek op die klippe in die rivier en ek breek my heup. Dit wou nie regkom nie. Hulle gee vir my ’n kruk om mee te loop.” Sy lag effentjies.

      “Ek wou nie met hom loop nie. Ek gooi hom in die rivier.

      “‘Lê daar, jou lelike ding!’

      “‘Waar’s die kruk?’ vra almal.

      “‘Hy’t gebreek!’ jok ek. En later, toe loop ek nie reg nie, toe val ek. Ek maak weer my heup seer. Toe kry ek weer ’n kruk en toe loop ek maar daarmee. Maar al die jare sukkel ek met die heup. So, Ouma se kind moenie maak soos Ouma gemaak het nie. Maak soos jou mamma-hulle vir jou sê. Luister vir die dokters. Dra die skoene, dan maak die Here jou bene reg.”

      Ouma se mielies was altyd lekker. Soet, romerig. Was seker uit ’n blikkie.

      Wanneer die swaarweer oor die baie hoë, ruwe swart Hexrivierberge kom, maak Ouma al die vensters toe, trek al die gordyne dig. Dan gaan sit sy op die dubbelbed in haar en Oupa se kamer. Inmekaar gebuig sit sy, met oë toe. Natuurlik, sy het sekerlik gebid uit eerbied vir die Here se almagtigheid.

      Maar sy het ons kinders nooit kamer toe geroep nie. Ek het in die skemer voorhuis rondgedwaal, dan self gaan sit en luister na die donder.

      In daardie voorhuis was daar twee portrette. Die een was ’n grys-swart foto van ’n klomp mense in outydse klere om ’n rondegesig oom met lang sybaarde, onderbaadjie met knopperighede, horlosieketting oor die groot maag, boek in die hand. Dalk die Bybel. Lyk asof hy vir die tannies met die kappies op en die ooms in die verkreukelde broeke preek. Hy lyk opgesweep, of hy vanuit die portret op my wil skreeu. Ek was skrikkerig vir die hele portret, veral as jy dit skielik raaksien. Vol dreiging soos donderweer.

      Dit was vermoedelik ’n toneel uit De Voortrekkers van 1916: die aflegging van die Gelofte. Dan moet dit die buikige oom Sarel Cilliers wees. Maar daardie geborduurde onderbaadjie … Op ’n advertensie vir die film dra Dick Cruikshanks dit en hy was Piet Retief.

      Die portret het iets vir Ouma beteken.

      Heeltemal anders was die stewig geraamde grys tekening van ’n vroeë môre langs ’n rivier. Die kalm water heel voor. Maar die wal is oorgroei met braambosse, riete. En ver agtertoe ’n kerk met sy toring teen die vlieswolke en die sonlig wat deurbreek. In die middel bome wat dig op mekaar staan asof hulle nooit lig sal deurlaat nie. En tog wil mens musiek hoor. Engelse musiek.

      En in Ouma se voorhuis het ’n swaar, donkerbruin buffet gestaan. ’n “Side-board” waarop ’n rangskikking papierblomme was. Ouma het ’n skamele blomtuin in die sandgrond gehad en sou tog sekerlik by geleentheid vars blomme daar gerangskik het. By wie sou Ma haar liefde vir blomme gekry het? Maar die kere dat ons daar was? Altyd die skemerte, selfs donkerte. Behalwe as die voordeur oopgestaan het. Sodat ons saam met Andri op die lang stoep kon speel, en in en uit kon gaan. Hy’t baie speelgoed gehad, want hy’t ’n tyd by Ouma-hulle gebly solank tant Hendrina in die sanatorium met tering was, en dan het oom Andries naweke vir hom presentjies gebring.

      So ver ek weet het Ouma nie ’n werk gehad voor sy met Oupa Koos getroud is nie. Al die jare huisvrou, versorger van man, twee seuns en twee dogters. Ek het haar nooit haar stem hoor verhef nie.

      Ek het later jare ’n geskrif van Oupa ontdek, het dit nog destyds tevergeefs uitgesaai probeer kry in ’n herinneringsprogram oor die radio. Hy vertel hoe hy op sy fiets in die sandpad aangery kom huis. Halfses op ’n somersdag. Soos hy nader kom, sien hy twee dames staan by ’n tuinhekkie. Hy verkyk hom aan hulle. So mooi aangetrek, so versorg. Die een lank, die ander korterig. En hulle glimlag met hom. Toe kom hy agter hy moet stilhou by die ou langhuis. Hy wóón hier. Dis mos sy dogter Hendrina. En sy eie vrou. Sy eie ou Hen.

      Ek het nooit van Ouma Hen gepraat nie.

      In die ou langhuis is daar gereeld saans huisgodsdiens gehou in die eetkamer nadat die tafel opgeruim is. Deur ’n smal venster kon jy deur die populiere stukkies van die rivier sien. Op ’n maanligaand was daar duidelike stukke duisternis en ook silwerheid. Ek het daarna gekyk en dan Oupa se vrae oor die gelese Bybelgedeelte beantwoord.

      Ná Ouma se dood het Oupa Worcester toe getrek en by tannie Hendrina-hulle gaan woon. Hy en sy worshond Pennie. As jy met die gang afstap na sy kamer en die deur staan oop, kyk jy dadelik vas in ’n groot geraamde portret van Ouma. Vir my was daar iets treurigs aan haar oë. Ek het vergeefs ’n gedig probeer skryf oor Ouma se “in memoriam”-oë.

      In daardie jare duik ’n stukkie skaduagtigheid op. Oom Andries en tant Hendrina het deur ’n laagtepunt in hulle huwelik gegaan. Hy had ’n minnares. En toe Oupa hulle die aand by die kombuistafel daaroor aanspreek, herinner hulle hom aan Miss Griffiths. Ma het dikwels vertel hoe swaar sy dit op skool had. Miss Griffiths het in Engels vir hulle skoolgehou in die eenmanplaasskooltjie. En Koos Möller met die netjiese kruisbande het soms deur die populiere langs die rivier ’n koers ingeslaan. Na háár toe.

      Ek, Ouma en Oupa staan opgeteken in J. de V. Lötter se Die Overbergse Lötters en hul familie (2008). Dit gaan om haar as ’n nooi Lötter: “Hendrina Christina (Hennie) (12/9/1886 – 16/7/1954), sy was mank; x Jacobus (Koos) Möller (van Orchard). Haar kleinseun Danie Botha het by Tafelberg-Uitgewers gewerk en ook ’n boek gepubliseer.” Broer Koos, met sy genealogiese kennis, verduidelik dat net die Lötter-lyn in die stamboom gevolg word; daarom word nie al die ander van Ouma se nageslag genoem nie.

      Ek het weeïg gevoel om te lees wat van Ouma opgeteken is.

      Broer Koos

      Beste Natasja en Heinrich

      Dis nou ook al ’n mooi klompie jare gelede dat julle pa in die wêreld gekom het.

      Ek wil ’n paar stories vir julle oor sy kinderdae vertel, goed wat hy nie sal onthou nie, of wat hy dalk nog nooit vir julle vertel het nie.

      Daar bestaan ’n foto waarop ek nog my lewe lank baie trots is. Dis afgeneem op Brandwacht voor ons ou armoedige huisie langsaan Oupa en Ouma se Groothuis. Op die agtergrond die berge, maar dis 1952, en oom Kallie Acker se boorde op die buurplaas bestaan nog nie. Ons staan by ’n wattelboompie wat later woes groot sou word. Ons is almal mooi aangetrek. Dis seker ’n Sondagmiddag en ons het ons spesiale klere aan. Dié dat ek so van die foto hou – ons lyk so gelukkig en mooi saam. Pa het vir Dria op sy arm. Sy flanelbroek se pype staan wyd. Dan staan Ma, die hare mooi gegolf, en dan ek teen haar.

      Ek het eenkeer vir Ma gesê hoe ek van dié kiekie hou. Toe kom dit uit sy voel ’n bietjie ongemaklik daarmee. Want sy kan daarin sien hoe ver swanger sy met ons “little brother” is, soos hy homself jare later in ’n brief aan my in die armie sou noem.

      Skielik moes ek en Dria op die nag van 18 Maart 1952 langsaan by Ouma en Oupa in die Groothuis se vrykamer gaan slaap, want Mamma is na The Pines op Worcester om geboorte te gee aan ons boetie op 19 Maart 1952.

      ’n Paar dae later was hy by ons in die huis. Ek het glo vol verwondering, byna met aanbidding gesê: “’n Babatjie! ’n Babatjie!”

      ’n Mens se geheue bring die verlede in flitse terug. Dis aand. Badtyd vir Kosie in die donker kombuis by lanternlig. Onthou, ons het nie ’n badkamer gehad nie. Saans moes ons by die lig van kers, lantern of olielamp leef. Die hele gesin is om hom geskaar terwyl Ma hom versigtig hanteer. En meteens gee hy ’n vertoning om te sê hy’s hier. Hy piepie ’n boogstraaltjie, en ons almal lag en oe en aa.

      Nou gaan ek net aanteken soos die gebeurtenisse by my opkom.

      Aan die suidekant van die twee huise wat vas aan mekaar was – eens op ’n tyd was óns huis perdestalle – loop ’n watersloot vanaf die dam agter die bloekombos aan die westekant tot in die kleiner dam met donkerswart modder aan die oostekant waarvandaan die boord en wingerd besproei word. Die water loop tussen ’n stuk gras, waarop ons lekker verbeeldinggoed kon speel, en ’n sementblad. Dié verbrokkelde blad is ’n dorsvloer genoem, met daar langsaan ’n oond en groot ysterpotte met borrelende loog waarin Pa-hulle pruimedante

Скачать книгу