Скачать книгу

Islinger tree vinnig nader, verras om iemand so opgevoed en beskaaf op hierdie uithoek aan te tref. Dit was een van sy grootste probleme om te weet hoe hy met hierdie mense gaan kommunikeer.

      Die twee mans groet en dan word die ander drie voorgestel aan dokter Inaki, goewerneur van die eiland. Op professor Islinger se belangstellende vraag oor die titel, word hy kortaf meegedeel dat dit ’n mediese titel is en weer moet die geselskap keer dat hul verbasing nie te opvallend blyk nie. Hierdie man is sy mede-eilandbewoners baie duidelik ver vooruit, dit kan almal sien, en almal is beïndruk.

      “As u nie te moeg is nie, het ek ’n klein verwelkomingspartytjie vir u gereël – dis vanaand op Hangaroa. Dan kan u sommer u toestemmingsdokumente vir my saambring, asseblief, professor.”

      Sy blik gaan vlugtig na die twee vroue. “U het kamp opgeslaan in die Vallei van die Konings, en dis ’n hele ent van Hangaroa af. Ek sal die jeep stuur om u te laat haal.” Hy glimlag effens. “Ek is bevrees dis die enigste voertuig op die eiland, en dit word selde gebruik. Soos u sien, gebruik ons perde – ek sal toesien dat u perde vir u geselskap kry.”

      “Dis baie vriendelik van u, dokter Inaki. Ek het juis gewonder of ek ’n paar perde in die hande sal kan kry. Ons neem ook met graagte u vriendelike uitnodiging aan vir vanaand. Ons sal gereed wees. Baie dankie.”

      “Dan is dit afgespreek.” Ná ’n koddige outydse buiginkie in die rigting van die vroue, spring hy weer ligvoets op sy perd. Met ’n ligte wuif van die hand begin hy dan op ’n drafstappie wegry in die rigting van waar hy gekom het.

      “Nou wil jy meer!” laat professor Islinger hoor toe die goewerneur buite hoorafstand is.

      “Ek is totaal verslae,” laat Pauli haar verbasing nou hardop blyk. “Wat soek só ’n man hier?”

      Zelia se mond trek sarkasties, en sy loer vlugtig na Louw wat die perderuiter nog met vernoude oë agternastaar.

      “Jou vrou is beslis beïndruk deur Paaseiland se goewerneur, Louw! Die ou wêreld is vol verrassings! Jy sou nie kon droom dat jy hier kompetisie sou raakloop nie, nè?”

      Die frons tussen Louw se oë keep dieper, maar sy blik bly op die silhoeët op die heuwel. Ook professor Islinger frons, maar sê niks nie.

      Pauli draai na die ander vrou. Tot dusver het sy Zelia se onderlangse stekies en sinspelings maar verdra. Maar sy het net so hard soos die res van die geselskap gewerk om alles in orde te kry, en sy kan kwalik haar ergernis onder ’n kalm stem verberg toe sy sê: “Ek dink dokter Inaki is enigeen van ons se gelyke, nie net in geleerdheid nie, maar beslis ook in opvoeding. Ek wil amper sê miskien nog sommige van ons se meerdere, waar dit goeie maniere aangaan. Ek vind hom ’n uiters fyn beskaafde, hoflike persoon – en wat daarvan?”

      Sy stap dadelik na haar tent en laat ’n ietwat verbaasde drietal agter. Professor Islinger kan kwalik sy ingenomenheid verberg. Louw, daarenteen, lyk geensins ingenome met sy vrou se parmantigheid nie. Hy kyk net stilweg van die heuweltop na sy vrou se verdwynende gestalte. Zelia is ’n oomblik sonder woorde. Dan lag sy kortaf.

      “Jammer. Ek het nie bedoel om op iemand se tone te trap nie, Louw. Dit was ’n blote grappie. Wel, laat ons ons gaan gereed maak vir ons verwelkomingspartytjie.”

      Die twee mans bly agter en dis professor Islinger wat die ietwat ongemaklike stiltetjie verbreek.

      “Dokter Inaki is beslis ’n verrassing. Wat dink jy van die man, Louw?”

      Louw het nog steeds die frons tussen sy wenkbroue toe hy aarselend antwoord: “Ek … weet nie … Op die oog af is hy beslis die man wat my vrou dink hy is, en wat haar so beïndruk het. Tog … ek sal hom nie te gou vertrou nie. Daar is ’n terughoudendheid in hom, ’n versigtigheid wat my op my hoede stel. Ek mag my verbeel, maar ek het die indruk gekry dat hy nie te ingenome met ons besoek aan sy eiland is nie. Ek wonder hoekom …”

      Professor Islinger antwoord nie, maar hou sy gedagtes vir homself. Is dit miskien dat jy tog kompetisie in hierdie man vir jou sien, my jonge vriend, soos ons kollega ewe katterig opgemerk het? Daardie onpeilbare blou blik het net ’n oomblik te lank op jou blonde vroutjie gerus, nie waar nie? Professor Islinger sug onhoorbaar. Hy sien maar swarigheid vir die volgende paar maande.

      Die gebeure van dié aand versterk sy vermoede. Toe hulle Hangaroa eindelik bereik, het al wat lewe op die eiland, ’n skare van om en by duisend, reeds byeengekom. Toe hulle nader kom aan die goewerneurswoning, sien hulle dat dit ’n buitelugonthaal gaan wees. ’n Tafel en stoele is onder een van die min bome wat ’n mens op die eiland aantref, neergesit.

      Dokter Inaki is in tropiese wit geklee toe hy nader stap om sy gaste te ontvang. Pauli is bly dat sy, ná heroorweging, besluit het om een van die fleurige rokkies wat sy saamgebring het, aan te trek – ten spyte daarvan dat dit beslis aandag sal trek, veral ná die ligte woordeskermutseling die middag tussen haar en Zelia.

      Niemand het egter iets gesê toe sy verskyn het nie, hoewel Zelia se wenkbroue net liggies opgetrek het. Pauli het haar man se fronsende blik koel en uit die hoogte ontmoet. Laat hom dink wat hy wil! Sy is nie werklik een van die ekspedisie nie, en hoef dus nie soos ’n geleerde wetenskaplike te lyk nie. Die ander drie is in die besadigde kakieklere geklee wat hulle gewoonlik vir ekspedisies gebruik. As sy te anders lyk as die res, kan dit haar nie skeel nie.

      Sy is bly dat sý ten minste moeite gedoen het om redelik beskaaf te lyk toe sy hul gasheer gewaar. In die vleklose wit vertoon hy nog meer misterieus en aantreklik as in die ryklere wat hy die middag gedra het. Sy kan aan die ander drie se gesigte sien dat ook hulle beïndruk is deur hul gasheer se voorkoms.

      Professor Islinger maak dan ook dadelik verskoning toe die goewerneur hulle bereik. “Ek moet verskoning maak, dokter Inaki. Ons … het nie juis klere saamgebring vir … e … sosiale verkeer nie.”

      Weer, soos vanmiddag, maak die goewerneur sy outydse buiginkie en laat gerusstellend hoor: “Dis alles reg, professor. Kom gerus nader.”

      Hy buig ook afsonderlik vir die res van die geselskap en weer is dit of die blou blik net ’n fraksie langer op die mooi, blonde vrou, so fleurig en aantreklik in haar blomrok, rus.

      Zelia en Louw se kopknikkies is maar styf, en juis daarom is Pauli se glimlag besonder stralend. Sy vererg haar sommer vir die ander twee. Wat makeer hulle om so styf teenoor hul gasheer op te tree? Hul afsydige houding grens byna aan onbeskoftheid.

      Ook dokter Inaki het dit blykbaar opgemerk, want daar is ’n vlugtige frons tussen sy wenkbroue, wat byna dadelik weer verdwyn toe hy Pauli se breë glimlag sien. Hy ontspan opmerklik en lei sy gaste na die wagtende stoele.

      ’n Polinesiese feesdis is op die tafel voor hulle oopgesprei. Hoender-, bees- en skaapvleis wat, soos sy later sou leer, op eg Paaseiland-manier tussen gloeiende warm klippe sappig gaargemaak is, laat hul monde water. Hulle besef meteens dat hulle met die aflaaiery vandag nog nie ’n behoorlike maaltyd genuttig het nie en dat hulle skreeuend honger is. Daar is ook gebakte patats, een van die hoofgeregte van die eiland, asook piesangs. ’n Groot glasbeker staan eenkant waaruit hul gasheer vir elkeen ’n glas vol aanbied – heerlike pynappelsap, wat verkry is van die klein pynappelsoort wat ook op die eiland gekweek word en wat in groot mate die plek van drinkwater inneem, soos dokter Inaki algaande verduidelik.

      Paaseiland se drink- en gebruikswater is totaal afhanklik van die reënval, want daar is geen boorgate, varswaterfonteine of enigiets van daardie aard op die eiland nie. Daarom moet daar skraps gewerk word met die varswatervoorraad wat in opgaartenks, meestal ondergronds, opgevang word.

      Ongemerk het die res van die eilandbewoners voor hulle op ’n oop kol vergader en eerlank, toe die son in al sy glorie agter Roapunt verdwyn, begin die misterieuse en melankoliese klanke, so eie aan die Polinesiese melodieë, in die aandstilte opklink.

      Nog ’n klein rukkie, en dis net die vure wat ’n rooi sirkel in die donker nag trek en dan kom die dansers te voorskyn om met hul ritmiese arm- en heupbewegings die byna sprokiesagtige toneel nog verder van die werklikheid te voer. Die eerste keer voel Pauli hoe ’n opgewondenheid van haar besit neem.

      Tot

Скачать книгу