Скачать книгу

besef steeds beter dat sy daardie aand ’n onvergeeflike flater begaan het en dat sy Louw gefaal het. Soos Louw dan ook op bittere toon gesê het, is sy nie meer so jonk dat sy nie kon weet hulle kan nie vir altyd op so ’n platoniese wyse voortgaan nie. Maar soos ’n selfsugtige, onvolwasse kind het sy net geneem en nie daaraan gedink dat Louw ’n man van twee en dertig is en sekerlik ook iets sou terug verwag nie.

      Geen wonder dat hy haar soos ’n kind begin behandel het nie; dat hy haar soos ’n kind bed toe stuur wanneer sy oor grootmenssake, soos egskeidings, wil praat nie; dat hy daardie aand sonder meer sy rug op haar gekeer en in sy slaapkamer verdwyn het sonder om op haar byna histeriese gegil ag te slaan nie.

      Ook geen wonder dat hy doktor Zelia Meyer se geselskap so intens geniet nie, want afgesien daarvan dat sy ook die taal van die wetenskap met hom kan praat, is sy ’n volwasse, intelligente vrou van vyf en dertig wie se geselskap hy kan geniet sonder vrees vir kinderagtigheid.

      Al hierdie dinge besef Pauli in die dae wat volg, maar sy voel magteloos om iets daaraan te verander. Sy het nie meer die vrymoedigheid om, soos lank gelede, na Louw te stap en haar hart aan hom bloot te lê nie. Hierdie stil, strak vreemdeling ken sy nie. Hoe kan sy aan daardie koel, blou oë vertel dat sy jammer is oor daardie aand, dat sy besef sy het ’n fout begaan, dat sy nou bereid is om met hul huwelikslewe te begin? Hoe kan sy hierdie vreemde mens vertel dat sy nie meer daardie kind is nie, dat sy grootgeword het en besef sy is ’n vrou, ’n getroude vrou? Sy kan nie by hierdie onbekende Louw smeek dat hulle weer moet probeer, dat hulle weer ’n poging moet aanwend om mekaar te begryp nie!

      Daarom is dit beter dat sy maar by haar aanvanklike besluit bly. Hulle moet liewer skei, want Louw toon duidelik dat hy beslis nie veel erg aan hul huwelik het nie. In vergelyking met die volwasse Zelia vind hy haar seker baie kinderagtig. Hy was nog altyd ’n baie volwasse, gebalanseerde mens. Sy onthou dat haar pa hom selfs as student as baie volwasse vir sy ouderdomsgroep ervaar het. En sy was die bedorwe brokkie wat hy noodgedwonge geërf het en met wie hy nou opgeskeep sit nadat sy leermeester en vriend gesterf het. Hy vind haar so belaglik en kinderagtig dat hy nie eens die moeite doen om met haar te probeer redeneer nie.

      Maar die een of ander tyd sal hulle hierdie saak moet uitpraat. Die vertrekdatum is oor vier dae. Hulle kan dit nie langer uitstel nie.

      Met hierdie besef stap Pauli na die studeerkamer waar Louw hom die afgelope dae begrawe het onder al die voorbereidings vir die komende ekspedisie. Of hy die tyd het of nie, nou gaan hulle praat!

      Sy kom voor die lessenaar tot stilstand en hy kyk vlugtig, effens vererg op. Maar sy byt op haar tande. Dis nou of nooit.

      “Louw … Louw, ek en jy moet praat. Asseblief! Ons kan dit nie langer uitstel nie! Kan jy ’n paar minute van jou kosbare tyd afstaan, asseblief?”

      Sy probeer om nie sarkasties te wees nie, maar teen wil en dank skemer dit deur. Hy sit sy pen neer, staan op en gaan leun teen die kaggel, sy oë stip op die houer vir die hout gerig.

      “Sit, Pauli. Waaroor wil jy met my praat?”

      Sy neem vinnig plaas en strengel haar vingers styf inmekaar. Sy gaan nie, sy sál nie weer haar humeur verloor nie. Sy gaan haar soos ’n volwasse vrou gedra, al sterf sy ook! Hy kyk vinnig op na haar wanneer haar stem koel, beheers na hom kom.

      “Ons moet praat oor ons egskeiding. Ek is ernstig, Louw.”

      “En ek weier om oor so iets ernstig te raak, want dit is twak,” kom sy kortaf antwoord. Haar oë blits, maar sy bly uiterlik kalm.

      “Dis die enigste volwasse optrede wat daar vir ons is. Dit sal belaglik wees om voort te gaan met hierdie … klug. Ons moes ten eerste nooit getrou het nie. Ek verwyt jou nie. Dit is ek wat jou in ’n huwelik met my gedwing het en ek vra jou om verskoning.”

      Nou het sy sy volle aandag, en dit verg al haar moed om kalm terug te kyk in die vernoude oë.

      “Jy kon niks anders doen as om met my te trou nie. Ek weet dit help nie veel om dit nou te sê nie, maar ek herhaal dat ek jammer is dat ek jou in so ’n verleentheid gebring het.”

      Sy aarsel, maar toe hy haar net staan en aankyk en blykbaar niks daarop te sê het nie, vervolg sy dapper: “Ek waardeer wat jy vir my gedoen en beteken het in die tyd net ná … Paps se dood. Ek sal dit nooit in woorde kan uitdruk of ooit daarvoor kan vergoed nie, maar nou …”

      “Nou het jy my nie meer nodig nie. Dis wat jy eintlik wil sê, nie waar nie, Pauli?”

      “Wel, as … as jy dit so wil stel, ja. Ek is nou … oor alles en ek besef daar is geen toekoms in ons huwelik nie. Dis ook nie regverdig teenoor jou nie.”

      “Kom ons los my maar eers vir die oomblik uit,” laat hy kortaf hoor, sy stem heeltemal emosieloos. “Ek wil jou kant van die saak baie duidelik hoor, jou redes hoekom jy ’n egskeiding wil hê. Jy sê jy sien geen toekoms in ons huwelik nie.”

      “Nee. Eerlik nie. Ek besef nou dat twee mense vir mekaar moet omgee om van ’n huwelik ’n sukses te maak. Ons twee was wel goeie vriende, maar … ons is nie eens meer dit nie. Ek verwyt jou nie, Louw. Ek dra net soveel, indien nie die meeste nie, skuld dat ons … verhouding in so ’n fiasko ontaard het. Ek erken ek was baie kinderagtig en onvolwasse en ek is jammer oor daardie …”

      “Asseblief! Spaar my dit! Laat ons terugkeer tot jou redes. Is daar nie miskien nog ’n rede nie?”

      “Nog ’n rede?”

      “Ja. Is daar dalk … iemand anders? Nee, ek stel dit sleg. Om reguit te wees, het jy verlief geraak in die tyd dat ek weg was – op een van jou vriende, iemand van jou ouderdom miskien?”

      “Nee, natuurlik nie!”

      “Dis nie nodig om so geskok te lyk nie.” Sy wenkbroue lig. “Dis heeltemal moontlik en niemand sal jou kwalik neem nie. Ek is tog heelwat ouer as jy. Jy is skaars een en twintig. Die meeste meisies van jou ouderdom is verlief, of verloof. Dis ook natuurlik en normaal.”

      “Dit mag wees, maar ek … ek is beslis nie verlief nie … op niemand nie.”

      “O, ja? Daardie … e … Lionel, dink ek is sy naam, met wie jy nou die aand so gedans het …”

      “Hy is ’n blote vriend. Louw, regtig, ek verseker jou daar is niemand nie. Hy is ’n ou skoolmaat van my, soos jy goed weet.”

      “Nee, ek weet nie. Ek ken jou vriende maar sleg. Ek het nie juis kontak met die jonger klomp nie. Dan wil jy nie vry wees omdat jy op iemand verlief is nie?”

      “Nee. Beslis nie!”

      “Jy sien ook nie kans om ons huwelik nog ’n kans te gee nie?”

      “Nee, daar is geen kans nie. Jy gaan al weer oor vier dae weg … vir hoeveel maande. Louw, ek weet jy wil nie regtig nog ’n kans hê nie en jy het net so min hoop vir ons huwelik as ek. Dis maar net omdat jy my nog verder wil beskerm teen al die gevolge wat ’n egskeiding meebring, maar … ek gaan jou nie toelaat om my weer ’n keer te beskerm nie. Jy het reeds genoeg gedoen vir my. Te veel. Ek gaan niks verder van jou neem nie.”

      “Ek verstaan. Het jy baie goed nagedink oor die gevolge van ’n egskeiding? Jy is baie jonk om as ’n geskeide vrou aan die wêreld bekend te staan.”

      Sy blik rus op haar en sy weet nie hoe jonk sy werklik op hierdie oomblik lyk nie. Sy lyk kwalik agttien met haar ligte rokkie, sagte krulle, groot blou oë, skraal, fyn gestaltetjie … Haar blik sak voor syne.

      “Ek weet, maar … dit sal ook oorwaai.” Daar heers ’n kort stilte. Dan kyk sy hom weer pleitend aan. “Asseblief, Louw!”

      Sy blik dwaal weg, rus ’n oomblik op die portret van die man teen die muur. Hy frons.

      “Goed, Pauli. Ek sal jou ’n egskeiding gee – maar op een voorwaarde.”

      “Ja?”

      “Jy gaan eers saam met my op hierdie ekspedisie. Wanneer ons terugkeer en jy voel nog soos jy vandag voel, sal ek jou jou egskeiding gee.”

      “Saam?”

Скачать книгу