Скачать книгу

      

      CALVYN

      VAN NIEKERK

      DIE

      DERDE

      GRAF

      Human & Rousseau

      1927

      Groot Karoo

      7 Maart

      My liefste Hetta,

      Met dié dat die goewerment mos die diamantveld gesluit het, is ek en Giep nou op pad huis toe. Jy sal jou twee bakhande moet hou vir die hoop diamante wat ons daar uitgehaal het, my vrou. Ons is ryk!

      Almal was nie so gelukkig nie. Van die meer as duisend delwers aan die Weskus het baie niks gekry nie, of bitter min. Die meeste is ordentlike mense, maar daar is ook ’n ruwe element en hulle is kwaad oor hulle nie meer mag delf nie. Van hulle weet van ons geluk en daar­om besluit ons toe om liewerster van die grootpaaie af weg te bly en maar ’n draai te ry. En daar laat die ou Fordjie ons in die steek, ses dae terug. Party van hierdie paaie moet eerder slote genoem word. Giep jaag deur ’n knik en die as breek, en daar sit ons in die middel van nêrens.

      ’n Boer het ons darem gekry. Hy was op pad dorp toe met ’n kapkar en ons wou saam, maar hy sê dis ver, hy wil nie sy perde moor met ekstra vrag nie. Dis buitendien net ’n ou gehuggie, net een winkeltjie, en dié hou nie karparte aan nie. Hy het toe vir ons ’n as bestel en ons kom oplaai met die terugkom. Nou sit ons op sy plaas. Vanoggend is hy weer dorp toe en ons hoop en bid net die as het gekom.

      Ons voel nogal jammer vir die man. Hy is soos sy vinger alleen hier op die tamaaie stuk aarde, behalwe vir ’n jong Boesman. Dié sit nou al amper heeldag in die koelte teen die klipkraal se muur. Rus lekker terwyl die baas weg is.

      Die armoed staan geil hier. Dis ’n klein ou huisie, net drie ver­trekke, een slaapkamer. Ons slaap op die solder. Bedags kan jy brood bak daar onder die sink so warm is dit. Ons boer maar hier voor die huis onder die prieel.

      Dalk is ons gelukkig en kom ek nog voor hierdie brief by jou. Ek verlang só, ek moes net met jou praat, al is dit op papier. Ek kan nie wag om jou in my arms te hou nie.

      Die potlood raak stomp. Bart Calitz kerf dit versigtig skerp met sy sakmes en blaas dit skoon. Hy sit op ’n lendelam riempiestoel, die skryfblok op sy knie, en kyk uit oor die verlatenheid. Regs van die huis swaai die pad, net ’n paar dowwe spore, ooswaarts weg na die horison. Hoe ’n mens in hierdie barheid ’n bestaan maak, weet hy nie. Dis myle ver van die beskawing af. Klipkuil, waarheen die boer vanoggend gery het, bestaan uit ’n winkeltjie, ’n paar huise en die murasie van ’n kerkie wat glo in die 1860’s deur ’n sendeling ge­bou is. Hy en Giep is daar deur voor hulle vasgeval het.

      Met die ompad wat hulle gevat het, het hulle diep die verlaten­heid in verdwaal. Nou lê hulle op ’n arm man se nek. As beloning sal hulle ’n mooi diamant hier los en vir hom skryf waar dit weg­gesteek is. Dis tog net christelik om ’n krummel van hul geluk af te staan.

      Sulke geluk verbyster Bart steeds. Hy en Giep was slim genoeg om Hans Merensky te volg. Hoe enigiemand nog die wyse doktor se woord kon betwyfel, ná al sy ontdekkings oral in die land, slaan ’n mens dronk. Die diamantpyp, het Merensky gesê, is in die see, en diamante het oor die eeue uitgespoel. Hy het die bron gekry en op een van sy kleims het daar glo honderde diamante onder ’n groot klip gelê. Bart en Giep se drie kleims was naby genoeg.

      Selfs in die laat namiddag is dit nog snikwarm. Bart tas na die blikbeker op die grond langs hom en sluk dorstig. Die water is lou en brakkerig.

      Voetstappe knars nader en Giep Wiid verskyn om die hoek van die huis. Nes Bart is hy seningrig en sonverskroei ná twee maande se delwery in die bloedige son. ’n Ou bladsak is om sy skouer ge­haak. Soos altyd rus sy linkerhand beskermend daarop, want dit bevat die helfte van ’n fabelagtige vonds.

      Voor hulle die eerste diamant uitgehaal het, het Giep al ge­sweer hy loop liewer die koue, woeste see in tot hy sink voor hy met leë hande teruggaan om maar weer in mynskagte te gaan rondkruip. Nou kan hy nie wag om die familieplaas te gaan terugkoop nie. Dié is ’n kwarteeu gelede in die Engelse Oorlog verwoes en die Wiids het dit verloor.

      Giep vat die beker, vul dit uit die watersak wat onder die prieel hang en ledig dit sonder om asem te skep.

      “Waar bly die man?” wil hy weet.

      Bart buig weer oor die skryfblok. “Geduld, swaer. Dis nog vroeg.”

      Ou Giep se senuwees is skoon gedaan. Hier agter die huis staan twee spitskoppies met ronde kranstoppe, so eners soos ’n tweeling, en Giep het netnou weer in die bloedige son teen die een gaan uitklouter om te kyk of die boer al aankom.

      Ek hoop maar die Ford én Giep sal hou tot in Johannesburg! Vir die wis en die onwis het ons die diamante so naastenby in die helfte tussen ons verdeel, dis veiliger as dat net een van ons dit oppas. Wanneer ons dit verkoop, sal ons mooi gelykop deel. Hier sit Giep nou weer met sy hand in sy bladsak en speel met die klippies. Hy moet die goed vóél om seker te wees dis nog daar. Ons albei ken armoede, so ek verstaan.

      My deel het ek in die Bybelsakkie gesit wat jy vir my gegee het. Ek hoop dit was nie sonde om die Bybel uit te haal ter wille van die diamante nie, maar dis al stewige sak wat ek daarvoor het. As dit skud, kan ’n mens hoor dis nie ’n Bybel nie, so ek het die sak solank op die solder weggesteek, onder ’n paar los bakstene net onder die sink. Ek wil nie so behep met die goed raak soos Giep nie. Dis net die derde belangrikste ding in my lewe. Die eerste twee ken jy, my vrou.

      Ons is van plan om op Upington oor te staan en die Ford deeglik te laat deurkyk voor ons die pad vat Johannesburg toe. Ek sal die brief op Upington pos, maar ek hoop nog steeds ek is voor hom by die huis.

      Sê groetnis vir ons grootman. Druk hom en sê dit kom van sy pa af. En sê vir hom ons is klaar met vuil Fordsburg. Ons gaan boer en hy gaan sy eie perd met saal en toom hê.

      Mag die Goeie Vader julle bewaar tot ons mekaar weer sien.

      Van jou liefdevolle eggenoot,

      Bart.

      Herklaas Knoessen kom kort na sononder by die huis aan. Bart en Giep wag hom in by die stal en Giep se gesig verhelder toe hy die nuwe as by Knoessen se voete op die kapkar sien lê. Sy uit­bundige groet bly onbeantwoord. Knoessen klim stroef af met sy haelgeweer in sy hand. Die man is ’n reus, miskien nog duskant veertig, maar dis moeilik om te skat met die gitswart volbaard tot op sy bors. Hy kyk nie eens na hulle nie, beduie net na die tam perde vir Jan Januarie, wat flink naderstaan om te begin uitspan.

      Knoessen trek ’n oranje koevert uit sy sak. Hy gee dit vir Bart, wat verbaas die telegram uithaal en oopvou. Dis aan Knoessen gerig.

      “My swaer,” sê hy. “Op Alexanderbaai. Ek het hom oor julle gevra.”

      Die paar woorde laat Bart yskoud word: DRIE KLEIMS STOP RYK.

      “Waar’s dit?” grom die reus.

      Bart voel lam geskrik. Agter die kapkar begin Giep wegstaan. Die haelgeweer is skuins oor Bart se kop gerig, oënskynlik terloops, maar dit word ferm vasgehou, soos wanneer ’n mens wag vir die skop van ’n skoot, en Giep kan dit ook sien.

      “Wat?” fluister Bart. Sy keel is droog.

      Die haelgeweer sak. Bart kyk in die swart dieptes van die dubbel­loop af.

      “Die diamante.”

      Albei lope is oorgehaal.

      Toe Bart na Knoessen kyk, weet hy dit maak nie saak wat hy antwoord nie. Daar is klaar oor hul lot besluit. Niemand weet hulle is hier nie.

      Hy staan by die agterkant van die kapkar en reken hy het ’n geringe kans. Wanhopig gooi hy sy lyf agter die kar in, dan nael hy, die kar vir kosbare oomblikke tussen hom en die geweer. Giep is reeds op vaart. Bart swenk links . . . dan regs . . . twee treë voren­toe . . .

      ’n Donderslag klap agter hom en die skoot tref hom hoog in die rug. Sy bene vou.

      Jan Januarie staan in magtelose vrees voor die perde. Hy weet hy moet ook vlug, maar sy

Скачать книгу