Скачать книгу

Haar skoolromp is baie kort en Vaselinetjie kan sien die soom is sommer rofweg met ’n stapler ingeskiet. Haar naam is Nazrene Diergaardt. Vaselinetjie weet dit omdat die meneer haar ’n paar keer moes stilmaak in die klas. Nazrene se hare is gestraighten en styfgetrek in twee bolla-horinkies weerskante van haar kop. Die kort, dik bene wat onder haar skirt uitsteek, het kuiltjies in en laat Vaselinetjie aan ouma Kitta se souskluitjies dink.

      “Meisie, ons hou nie daarvan as ’n whitey met ons spot nie, verstaan jy?”

      “Watse ghaai? Los my! Wat’s verkiert met hoe ek prat? Ek klink nog altyd soe!” Vaselinetjie staan terug, maar haar rug is klaar teen die muur.

      Nazrene kyk oor haar skouer na die ander en rol haar oë. “Is jy for real?” vra sy en staan nog nader aan Vaselinetjie.

      Vaselinetjie wonder of die ander meisies so hard lag omdat hulle kan sien hoe bang sy is. Hulle trek ’n kring om haar.

      “Koop vir ons beechies en suurwurms by die snoepie dat ons kan sien of jy genuine is,” sê Nazrene en dit lyk of sy Vaselinetjie enige oomblik gaan klap.

      “Ek herre niks’ie.”

      Nazrene spoeg langs Vaselinetjie se voet. “Jislaaikit, girlie! Jy ken nie vir my nie! Ek’s nie hier vir popspeel en oulik wees met bastard whiteys nie! Ek kom van die Kaap af en ek weet hoe mense daar praat, so moenie vir my try scheme nie,” sê sy dreigend met haar hande op haar heupe.

      Ek kom van die Nóórd-Kaap, wil Vaselinetjie nog verduidelik, maar net toe lui die klok vir die einde van die pouse en ’n paar onderwysers kom by die gebou uitgestap. Nazrene gee vir Vaselinetjie ’n lang kyk. “Sorg dat jy môre vir ons cigarettes bring, anders …” Sy trek haar vinger stadig oor haar keel voor hulle laggend om die hoek verdwyn.

      Die middag ná skool gaan al die koshuiskinders na die groot eetsaal waar almal saam eet, elke huis aan ’n tafel met hul tannie. Eers staan hulle in lang rye in die gang en dan loop hulle een vir een deur die kombuis waar ’n swart tannie vir hulle kos inskep.

      “Dis tannie S’laki. Haar bra strap steek altyd uit,” fluister Killer oor haar skouer vir Vaselinetjie. Vaselinetjie was baie bly toe Killer vir haar plek gehou het. “Ou S’laki hou nie van whiteys of coloureds nie. Net swart kinders, maar ook nie alle swart kinders nie. Jy sal nog sien. Kyk maar vir wie sy die meeste kos inskep.”

      Die oomblik wat Vaselinetjie by die eetsaal instap, sien sy hoe die kinders eintlik in hul stoele omdraai om na haar te kyk. Van die groot seuns knipoog vir haar, ander trek gesigte, en as dit nie vir Killer was wat onderlangs vir hulle vinger gegooi het nie, sou Vaselinetjie net aanhou loop het tot sy by die deur aan die ander kant uit was.

      Sy is verstom om te sien hoe baie Killer, wat so maer is dat haar vel amper deurskynend lyk, aan tafel eet. Vaselinetjie kan al weer nie gesluk kry met almal wat vir haar loer nie, en toe die tannie nie kyk nie, ruil sy en Killer vinnig borde om.

      “Dis min maar dis in,” praat Killer met ’n vol mond terwyl sy Albie se bord ook nader trek. Albie is al weer opgeruk en weier om te eet. Sy lê halfpad van haar stoel afgegly skuins onder die tafel in.

      “Hoekom is ons tannie se naam Snorre?” fluister Vaselinetjie vir Killer wat besig is om sout op haar hand uit te gooi en dan op te lek. Sy’t haar pinkie met Tippex wit geverf.

      “Is jy dalk blind?” sê Killer en maak of sy ’n snor kam. Vaselinetjie giggel vir die eerste keer.

      Toe middagete verby is, staan al die kinders op. Elke tafel se kinders moet as ’n groep uitloop, sê Killer. Net die kinders wat moet afdek of die opgeruktes soos Albie bly agter. Vaselinetjie is verbaas om te sien dat daar hier en daar nog ’n kind is wat weier om van sy of haar stoel af op te staan of om onder ’n tafel uit te kom.

      Aan die verste kant van die eetsaal merk sy nogmaals die rooikopseuntjie van haar eerste aand. Hy sit kop onderstebo en dit lyk of hy weer gehuil het. Sy probeer sy aandag trek, maar hy kyk nie op nie.

      Die kleutertafel staan eerste op, want hulle kom voor die groter kinders in om te eet. Party is nog so klein dat van die ouer kinders hulle moet help voer. “Soms gaan help ek ’n bietjie daar, maar dit stink die ene pie,” sê Killer en trek haar gesig, en Vaselinetjie lag weer.

      Sy vergeet skoon om mooi regop te sit en draai effens op haar stoel toe die ry kleuters by haar tafel verbykom. ’n Bruin dogtertjie met stokkielekker-beentjies en ’n strik op haar kop wat amper groter as sy is, lei ’n vet swart seuntjie aan die hand. Hy waggel met bakbene wat eintlik plooie bo sy knieë maak van frisheid. Toe die dogtertjie sy hand los om haar haarlint uit haar oë te vee, steek hy dadelik sy armpies na die naaste kind uit om opgetel te word. “Abba?” waggel hy na Vaselinetjie toe.

      Sy vergeet van bang wees om skel te kry en kom orent om hom op te tel. “Hellou, jong!”

      “Sit neer daai klong,” praat tannie S’laki hard van die kombuisdeur af waar sy teen die kosyn leun om die afdekkery dop te hou.

      “Ouw!” Vaselinetjie sit die seuntjie haastig neer, maar hy wil nie haar bokstert laat los nie en sy moet die klein vingertjies een vir een van haar hare losmaak.

Drie

      1

      Die dae word weke, word maande. Vaselinetjie kan maar net nie gewoond raak aan die vreemde kinderhuislewe met sy loeiende sirenes, bakleiende kinders en nors tannies nie. Sy bly so ver moontlik uit almal se pad en praat net die nodigste. Die Septembervakansie bring ’n bietjie verligting toe van die kinders uitgaan, en sy lê meestal op haar bed haar biblioteekboeke en lees. Sy is bly toe die laaste kwartaal aanbreek. Die eindkwartaal is ten minste kort en dan weet mens die lekker lang vakansie lê net om die draai.

      O, sy kan nie wag om huis toe te gaan nie! Wag net tot haar ouma-hulle hoor hoe dit in dié plek gaan! Die gevloek en geskel, haar tweedehandse skoolklere en hoe voor op die wa en hups die kinders is. Sy’s seker haar oupa sal haar dadelik hier uithaal en weer by die huis laat skoolgaan.

      Waar sy op haar rug in haar geheime plek lê – binne-in die swembad wat jare gelede al leeggetap is en waar niemand haar ooit kom soek nie – dink sy dieselfde prentjies oor en oor.

      Sy wil in haar eie kamer die Huisgenoot se agterste blaaie met al die skinderstories oor die sterre sit en deurlees. Snags wil sy die venster wyd oopmaak en na die geroep van die naguiltjies luister. En Sondae wil sy tussen haar ouma en oupa in die kerkbank sit en daai liefiereuk van Stasoft kry, want ouma Kitta gooi altyd ’n ekstra skeppie by as sy Vaselinetjie se klere uitspoel.

      En kos. Baie kos. Alles waarvoor sy lus is. Stukke vars gebakte beskuit wat so groot is dat dit jou beker laat oorloop. Kerrievetkoeke en afval met dik stukke aartappel en rys. Wat nog te sê van Jan Ellis-poeding en ouma Kitta se brood met sulke dik hompe bokkaas en vyekonfyt!

      Haar maag grom van lus kry vir eet. By die koshuis kry sy maar min die kans om regtig versadig te word. Óf die kinders gaap haar aan, óf die kos sit sommer net in haar keel vas van te veel huis toe verlang. En wanneer sy wel kan eet, is die kos gewoonlik so min dat sy nog steeds honger van die tafel af opstaan.

      Snags droom sy soms van kos, en dan sê Killer sy maak grillerige kougeluide in haar slaap. By die skool sien sy hoe die Peppies kos by die dorspkinders bedel, steel of sommer net afvat.

      Eenkeer het sy iemand se skooltoebroodjies langs die wasbak in die toilette gekry. Daar was net een happie uit gevat en sy wou dit so graag hê dat sy aspris gewag het tot die laaste meisie uit die hokkies was voor sy dit blitsig onder haar skooltrui ingedruk het. Maar op die ou end kon sy dit nie geëet kry nie van skaam voel omdat dit iemand anders se weggooikos was. Dit het haar te veel na ’n weggooi-iemand laat voel.

      Party pouses loop sy tot agter die snoepie sodat sy net die warm geur van die hotdogs en pies kan ruik. Ander dae, wanneer haar honger op sy grootste is of die verlang te vlak sit, waag sy dit nie naby die snoepie nie. Netnou kan sy haarself nie keer nie en dan steel sy ook iets.

      Tannie Snorre se asem ruik benoud. Gelukkig bly sy darem gewoonlik na die TV kyk terwyl sy met Vaselinetjie praat. Elke huismoeder het ’n dagboek waarin sy alles

Скачать книгу