Скачать книгу

pap amper uit. “Julle het al weer te min suiker vir my opgesit. Het tannie gehoor hierdie wit meisie praat nes ’n kleurling, hè, tannie?”

      “Los haar,” slurp die tannie aan haar koffie waar sy vasgenael voor die TV sit. “Sy kan dit nie help nie. Hulle praat maar so daar waar sy vandaan kom. Sjarrap nou en maak klaar.”

      “Jy moet dit maar vat soos jy dit kry,” probeer Killer vir Vaselinetjie gerusstel. “Kitcat-hulle gooi soms suiker op en ander kere weer nie, en daar’s net mooi fokkolo wat mens daaraan kan doen.”

      Ná ete wys Kitcat vir Vaselinetjie ’n lang lys met pligte wat in die kombuis opgeplak is. Dit sê watter werk elke kind in die huis moet doen. Kitcat skryf nie Vaselinetjie se naam op nie, net ’n nommer.

      “Sien,” beduie sy, “jy’s 113. Een-een-drie. Dis jou wasgoednommer, het jy dit?”

      Vaselinetjie frons terwyl sy die pligte lees. Skottelgoed was, afdroog, vee, mop, vullisdrom uitgooi, en so aan.

      “Moet ek my plig die hele jaar lank doen?” vra sy vir Killer.

      “Is jy nou mal? Hoe dink jy gaan my hande lyk as ek ’n blooming jaar lank moet skottelgoed was, hè? Ons ruil elke week, almal se nommer skuif een plek af. Behalwe as jy vir Kitcat of die tannie kwaad gemaak het, dan sit hulle jou net waar hulle wil, vir so lank as wat hulle wil. Ek moes al ’n maand lank dromme uitgooi, tot iemand gaan klik het dat ek meantime lekker agter die muur staan en rook.”

      Nommer 113 word regoor “uitvee” geplak. Vaselinetjie glimlag amper van verligting, want dit is ten minste iets wat sy weet hoe om te doen.

      “Ek kán vee, jy moet my net wys waar die besemgoete is, gahoor?” sê sy vir Killer en bloos bloedrooi toe dié haar snaaks aankyk.

      Toe sy klaar gevee het, wil sy net ’n bietjie by die agterdeur uitgaan om weg te kom van al die starende gesigte en onbekende stemme wat vir haar loer en lag, maar die deur is bot toe.

      “Dis altyd gesluit, onnosel,” sê iemand wat verbystap.

      Daar is nêrens om alleen te wees nie. Nêrens waar ’n mens kan huil sonder dat iemand jou sien nie.

      “Jy mag nie uitgaan voor ons nie in die ry staan om skool toe te stap nie. En dan wil Kitcat nog eers jou naels sien en deur jou tas krap,” sê Killer en sy kom saam met Vaselinetjie deur die tralies van die sekuriteitshek staar.

      Maar Vaselinetjie mag nie dadelik saam met die ander kinders skool toe gaan nie.

      “Die tannie wag vir jou in die badkamer. Jy moet eers ge-delice en ontwurm word,” stuur Kitcat vir Vaselinetjie van die agterdeur af weg terwyl die res van die meisies een vir een by haar verbyloop. Party kyk terug met sulke lekkerkry-glimlaggies.

      “Kry vir jou, sista!” roep Killer oor haar skouer.

      Sal dit hier nog slegter met haar gaan as by haar vorige skool? Vaselinetjie se ken wil-wil begin bewe terwyl sy deur die tralies na die ander kinders kyk wat af dorp toe stap. Sy sien hoe Killer-hulle eers onder die bome stop om hul uniformskirts op te rol dat dit korter kan wees.

      Sy was nog nooit in ’n gemengde skool met blanke kinders nie. In haar ou skool was sy en Avril Philander die witste. Avril was altyd baie wintie oor haar lang reguit hare en het stories rondvertel dat Vaselinetjie se ouma haar hare skelm straighten om dit ook so reguit soos hare te kry.

      Boonop het Avril heeltyd gemaak of sy kamstig Engels is. Missies Philander het nes haar dogter gemaak, en ouma Kitta het gelag as Vaselinetjie vir haar wys hoe Avril en haar ma hulle monde trek. So.

      Dan sê Ouma altyd mens moet eintlik vir hulle jammer voel, want jy is wat die Liewen Vader jou gemaak het en jy moet dit aanvaar en daarmee saamlewe. God maak nie foute nie.

      3

      Ná Vaselinetjie die res van die dag met ’n handdoek om haar kop moes rondloop en haar hare drie keer met asyn moes was om die olie af te kry, word sy die volgende dag toegelaat om skool toe te gaan.

      “Die dorpskinders is ’n spul taties. Hulle like ons nie, maar dis fine, want ons smaak hulle anyway ok nie,” sê Killer terwyl die rye kinders skool toe stap. Die dorp lê laer as die koshuis en die teëls van die dorpshuise se dakke weerkaats in die oggendson.

      “Julle Peppies!” skree ’n dorpseun wat vinnig op sy fiets verbygejaag kom.

      “Dis wat hulle ons noem,” verduidelik Killer sonder om op te kyk. “Peppies vir Pep Stores. Hulle sê ons is die hoerkinders van Gam en ons dra net die rejects wat Pep Stores vir ons donate.” Sy skop ’n leë Coke-blikkie voor haar uit.

      Voor hulle snork Albie deur haar neus en spoeg lang drade in ’n rioolgat af. “Siesa, man!” sê Kitcat, wat hulle van agter af ingehaal het, en klap haar teen die kop.

      In die graadsesse se registerklas roep ’n meneer met ’n kort, skewe dassie die kinders se name uit. As die kinders nie vir hom gewys het daar is ’n nuwe kind nie, sou hy nie eens vir Vaselinetjie gesien het nie.

      “Naam?” vra die meneer sonder om op te kyk.

      “Vaselinetjie.”

      Die kinders skaterlag. Hulle slaan op hulle banke en op mekaar se rûe soos hulle lag.

      “Stilte!” wys die meneer met sy hand.

      Vaselinetjie staan stokstyf in haar bank. Sy voel ongemaklik in die verbleikte skoolklere wat die tannie gisteraand vir haar kom gee het. Die skooltrui is op twee plekke gestop en die een mou is heeltemal uitgerek en te lank. Ouma Kitta sou nooit as te nimmer toegelaat het dat sy só slordig skool toe gaan met ander mense se hand-me-downs nie.

      “Wat is jou volle naam?”

      “Stukkie Vaseline … eh … Bosman.”

      Die meneer sit sy pen en kou terwyl die seuns fluit en ’n groep bruin meisies agter in die klas aanhoudend giggel en aan mekaar stamp.

      “Ouderdom?”

      “Elf, meneer.”

      Die meneer kyk op. “Is jy vroeg skool toe gestuur?”

      Vaselinetjie knik net, want sy wil nie weer praat nie. Gelukkig vra die meneer nie verder uit nie. Onderdeur die lessenaar kan sy sien dat sy een hempsknoop oor sy maag los is.

      “Bly jy gou agter,” sê hy toe die klok vir die eerste periode lui. “Kom staan ’n bietjie nader,” beduie hy met sy gekoude pen. Hy moet gesien het sy’s op die punt om weg te hol, want sy stem is skielik sagter. “Ontspan, kind. Wat noem die mense jou by jou huis?”

      Vaselinetjie hoor hoe die meneer probeer vriendelik wees terwyl hy eintlik haastig is, maar die huil druk haar keel so styf toe dat sy moet sluk voor sy kan praat.

      “My oupa noem my Stukkie.”

      Die meneer se oë glimlag. “Waar kom jy aan dié naam, hè?”

      “My oumagoete sê toe ek klein gewees het, slat my vel baie droog yt. Sy’t my altyd saans ge-vaseline. Wat ek al kon praat, wou ek nog altyd gesmeer word en dan kerm ek vir ’n stukkie vaseline.”

      Nou lag die meneer se oë. “Ek sien. Maar watter naam het hulle by jou ander skool opgegee toe hulle jou gaan inskryf het? Dis eintlik die naam wat ek soek om hier in te vul,” tik hy op die registerboek.

      “O,” knip sy haar trane weg, “dis Helena Bosman, meneer! Maar niemand noem my ooit so nie. Dit was net vir my doopsaligheid by die kerk.”

      Die meneer steek sy hand na haar toe uit. “Nou ja, mejuffrou Stukkie, ek is meneer Du Pisanie. Baie aangename kennis en welkom by ons.”

      Eerste pouse bly staan Vaselinetjie verleë buite die klaskamer se deur. Sy kyk of sy nie dalk vir Killer êrens sien nie, maar dis net vreemde kinders om haar. Sy het nog nooit ’n blanke maatjie gehad nie, want Avril was nie regtig wit nie en sy was te aaklig.

      Die paar meisies wat aanhoudend gegiggel het agter in die registerklas, kom nader

Скачать книгу