Скачать книгу

href="#fb3_img_img_0be67bdd-66d5-5b32-9516-ad6ea983baf5.jpeg" alt="cover.jpg"/>

      ’N LIPSTIEK-LEWE

      Kristel Loots

      TAFELBERG

      Ja, ja, erken Roxy vies voordat sy by die derde vraag kom. Oukei, sy gee op. Sy ís verslaaf. Aan Facebook, aan kos, aan seks, aan mans. Slaat dood, sleep weg! Daar’s nie salf aan haar te smeer nie. Sy het nie die gerekenariseerde uitslag nodig om vir haar te vertel presies hoé mental sy is nie, dankie. Sy weet!

      Proloog

      Een en dertig! Die getal tref Roxy soos ’n klip teen die kop. Hier is dit nou! Sy’s een en dertig jaar oud. Nie dertig nie, één en dertig!

      Sy voel-voel langs haar, streel verlangend met haar hande oor die gladde paslaken. Hier lê sy op haar een en dertigste verjaardag, lekker warm gebroei onder haar maagdelike wit verekombers, sag, so sag soos ... wel, soos die hand van ’n moeder.

      Die hand van ’n moeder wat jou liefhet.

      En langs haar is ’n gaping, koud en leeg. Groot genoeg vir ’n man se lyf. ’n Gróót man se gróót lyf. Sy’t spesiaal ’n koningsgrootte-bed gekoop destyds toe sy hier ingetrek het. Want toe het sy heimlik nog op ’n koning gehoop, ’n koning wat die koningsbed met haar sou deel.

      Dis net – ’n koning wil ’n koningin hê. En sy sal nie eens ’n hofdame kan wees nie. Flip! Sy sal nie eens in die paleis toegelaat word nie. Sy’s damaged goods.

      Die telefoon lui nog voordat Roxy kan opstaan.

      “Hallo, Petra,” antwoord sy dadelik.

      “Hoe weet jy dis ek?”

      “Wie anders sal my hierdie tyd van die oggend bel?”

      Petra lag. “Wel, ek wou eerste wees om met jou te praat.”

      “Wat wil jy doen? Met my simpatiseer of my gelukwens?”

      “Gelukwens, natuurlik.”

      “Hoekom? Omdat ek met al my draaie en dinge en doene ten minste daarin kon slaag om een en dertig jaar oud te word? Omdat ek rond en gesond is? Omdat ek selfversorgend is en nie op Ma se nek lê nie?”

      “All of the above – en meer.”

      “Big deal! Ek het niks om te wys vir my een en dertig jaar nie.” Roxy sug sag. “Glo my, daar is niks wonderliks of sexy daaraan om een en dertig te wees nie. Jy’s verwelk en verwese, alles aan jou hang of sleep op jou voete en selfs ’n Wonderbra doen nie meer watwonderse wonders vir jou nie.”

      “Jy, Roxy Roux, het nie ’n Wonderbra nodig om vooruitstrewend die toekoms tegemoet te gaan nie,” lag haar suster.

      Roxy vervies haar. “Jy’s nie besonder simpatiek nie,” verwyt sy.

      “ ’n Verjaardag is altyd ’n emosionele skok vir ’n vrou, Roxy,” probeer Petra nou troos, haar stem skielik strelend en sieksoet soos hoesmedisyne.

      Tipies. So tipies. Haar suster doen altyd die regte ding, sê altyd die regte ding. Of peper jou met genoeg psychobabble om jou amper te laat glo sy weet waarvan sy praat. Petra, die preutse, dra nog steeds haar hoofmeisiemantel om die skouers.

      Sy’s ’n prinses en ’n engel, so georganiseerd soos ’n oujongnooi se laaikas. Sy vergeet nie verjaardae nie, bel altyd vroeg in die oggend en het ’n versie of gediggie gereed. So soetsappig dat dit jou naar maak, maar so korrek dat selfs die kenners van etiket by haar kan kom leer hoe om tussen die rooskleurige lyne te beweeg.

      “Om te weet jy is nog ’n jaar ouer, voel dalk nie na iets om te vier nie,” koer Petra nog. “Maar glo my, die alternatief is erger.”

      “Die alternatief? Wat’s dit? Pushing up daisies?”

      “Net so.”

      Mag wees dat die alternatief selfs minder opwindend is as om alleen in jou bed wakker te word op jou een en dertigste verjaardag, maar Roxy het nog nie klaar gekla nie. “Daar is geen rede om my geluk te wens en vreugdevure te laat brand nie, Petra. Onthou, ek is één en dertig, nie dertig nie.”

      “Maak dit werklik só ’n groot verskil?”

      “Natuurlik. Dertig is ’n moerske lekker ouderdom. Dan het jy die kruin bereik, dan daag jy die lewe uit. Bring it on! Ek kan dit handle.” Roxy kreun. “Maar een en dertig is ’n ander saak. Een en dertig is die eerste tree ondertoe. Van hier af is dit afdraand al die pad.”

      Sy ryg derms uit soos net sý dit kan doen en slaag sowaar daarin om die stralekrans om Petra se kop skeef te skuif.

      “Dis depressing om na jou te luister,” sug haar suster later, ewe swaarmoedig. “Onthou, ek is nie ver agter jou nie. Ek is op pad.”

      “Ja, maar vir jou is dit anders. Jy het alles wat jy veronderstel is om te hê. En meer. ’n Man, en dan nog ’n flippen ordéntlike man ook, ’n ordentlike huis teen die heuwel wat op rots gebou is, ’n ordentlike en betroubare gesinsmotor wat jou nooit sal drop nie en nog ’n gatskop Landie vir naweke ook.” Sy sug weer. “En natuurlik die kinders ...” Sy snork. “Julle is so ordentlik soos ’n All Bran-brekfisboks-gesinnetjie. Heilsaam en organies en gesond.”

      En net so boring, voeg sy in haar gedagtes by, maar dít sê sy nie hardop nie.

      “Ek weet nie wat om te sê nie, Roxy.”

      Roxy hou haar doof vir die simpatie in haar suster se stem. Sy’s nie werklik in ’n bui om jammer gekry te word nie. Sy’s in ’n bakleibui. Teen die jare wat haar so skelm-skelm bekruip het, teen die lewe wat al eenkant toe neuk, teen die regering, die kerk, die werk, Jan Taks, haar pa, haar ma, wie ook al van nou af met haar gaan sukkel.

      “Maar weet jy wat hét ek?” vra sy oorlogsugtig.

      “Wat?”

      “Lipstiek.”

      “Lipstiffie?”

      “Nee, Petra. Wat ek het, is nie lipstiffie nie. Dis lipstiek. ’n Vrou van een en dertig moet lipstiek dra, anders verval sy in haar vaalheid. En dis wat ek gaan doen. Van nou af elke dag van my lewe. Ek het op die internet aangesluit by ’n klub vir vroue wat nie sommer wil gaan lê nie, Ladies Who Wear Lipstick.”

      “Wat wát doen? Hul bra’s verbrand?”

      “Ja. Maar net omdat dit sexy is om sonder ’n bra te loop.”

      “Met net lipstiek aan jou lyf?”

      Roxy hoor die spotklankie wat by Petra se stem ingesluip het. Sy kan dit vát! Om die waarheid te sê, sy verkies dit bo die agsiestoggie-sieksoetheid en die moedelose moegheid wat sy soms daar hoor wanneer Petra met haar praat.

      “Ek het gister vir my die beste, die duurste lipstiek op die mark gaan koop, gewaarborg om vier en twintig uur per dag aan te bly,” vertel sy met lus.

      “Wie op aarde wil vier en twintig uur per dag lipstiffie aan haar lippe hê?”

      “Ek. Ek wil van nou af ’n lipstiek-lewe hê. ’n Roekelose, skelrooi lipstiek-lewe soos geleef deur die vurige alfavroue van Ladies Who Wear Lipstick. Ek wil nie ’n lady wees nie, maar ek wíl lipstiek dra.”

      “Wel ...” Petra klink effens onseker. “Met daardie gul Jessica Rabbit-bek van jou kan jy dalk net die traffic stop as jy die lipstiek dik genoeg gaan aanmaak.”

      “Ek hoop so. Ek is vasbeslote om nooit sonder my lipstiek betrap te word nie. Iets moet ek doen sodat ek nie heeltemal in die niet verdwyn nie.”

      “Jy, my liewe Roxy, kán nie in die niet verdwyn nie, al probeer jy ook,” verseker Petra haar.

      Roxy knyp die gehoorbuis met haar skouer teen die oor vas sodat sy haar met haar arms bo haar kop lank en lekker kan uitrek. “Nou toe,” jaag sy aan. “Wens my nou geluk en kry klaar sodat ek kan opstaan. En met my lipstiek-lewe kan begin.”

      “Ek wens jou toe ...” Roxy hóór sommer hoe bewoë Petra raak. Haar oë lek mos vir elke ou bakatelletjie. “Ek wens jou ’n jaar toe waarin jou lipstiek van jou lippe af gesoen sal word.”

      Maar daarvoor, weet Roxy, is die kanse skraal.

      Hoofstuk

Скачать книгу