Скачать книгу

      “Seker? Dis klas,” sê hy ingenome. “Hulle verouder dié goed 24 maande, soos wyn.”

      “Dankie, ek rook nie.”

      Hy trek vir homself ’n sigaar uit, streel met sy vingers oor die dik silinder daarvan. Hy knip die agterkant oop met ’n groot instrument en sit dit in sy mond. “Jou amateur sal dit knip of sny met hierdie goedkoop gemors wat die ding kneus hier agter.” Hy hou sy knipper vir my om te sien. “Dis wat hulle ’n .44 Magnum noem. Maak ’n perfekte, ronde gat.”

      Hy reik na ’n dosie vuurhoutjies. “En dan kry jy fools wat die goed natlek voor hulle aansteek. Dit kom uit die dae toe jy plaaslike sigaartjies in die kêffie gekoop het. As jy die voggehalte bewaar, lek jy niks.”

      Hy trek ’n vuurhoutjie en laat dit eers hoog brand. Dan hou hy dit voor die sigaar. Hy trek daaraan in kort, vinnige teue terwyl hy die sigaar in sy vingers draai. Wit bolle rook wolk om hom, die diep aroma vul die vertrek. Hy skud die vuurhoutjie tot die vlam verdwyn. “Hulle sê die beste manier om ’n sigaar aan te steek, is die Spaanse sederspil. Stukkie sederhout, jy steek eers die hout aan en dan gebruik jy dit vir die sigaar. Suiwer, skoon vlam wat nie jou sigaar se smaak beïnvloed nie. Maar waar kry ons Spaanse seder, vra ek jou?” Hy glimlag vir my, sameswerend, asof ons dieselfde probleem deel.

      Hy trek diep aan die sigaar. “Kubaans. Daar’s niks wat daarby kom nie. Jou Jamaikaans is ook nie sleg nie, lekker lig, jou Dominikaans so tussenin, jou Honduras is te wild. Niks kom by die room van ou Fidel se goed nie.”

      Ek wonder vlugtig hoe lank hy ’n monoloog aan ’n onbelang-stellende gehoor van een kan volhou, maar dan onthou ek hy is ’n Ryk Afrikaner. Die antwoord is: Onbepaald.

      Hy trek ’n asbak nader. “Het jy geweet die storie dat jy nie ’n sigaar se as afskud nie, is ’n totale mite? Twak.” Hy hê-hê vir sy woordspeling. “Dis omdat ouens swak sigare rook en dan sê hulle die bitter smaak is van die as se afskud.”

      Carel gaan sit op ’n kroegstoel, sigaar in een hand, dop in die ander.

      “Daar’s baie bullshit in die wêreld, my vriend, baie bullshit.”

      Wat wil hy hê?

      Nog ’n trek aan die sigaar. “Maar kom ek vertel jou een ding, daar’s niks bullshit aan Emmatjie nie. Niks. As sy sê daar’s mense wat haar wil kwaad doen, dan glo ek haar, verstaan jy?”

      Ek het nie lus vir dié gesprek nie. Ek reageer nie, en weet hy hou nie daarvan nie.

      “Wil jy nie sit nie?”

      “Ek het te lank gesit al, vandag.”

      “Sy’s soos ’n dogter in hierdie huis, my vriend. Sy’s soos een van my eie. Dis hoekom sy na my toe gekom het met hierdie ding. Dis hoekom jy hier is. Jy moet verstaan, sy’s deur baie dinge in haar lewe. Diep waters …”

      Ek probeer my irritasie temper deur te dink hoe fassinerend ’n man soos Carel van Zyl is.

      Selfgemaakte Rykes deel almal ’n persoonlikheidstipe – gedrewe, slim, hardwerkend, dominerend. En wanneer die welvaart kom en mense voor die mag en invloed daarvan neerbuig, maak Die Ryke elke keer die fout deur te dink die respek is vir hulle, in die persoon. Dit salf die selfbeeld, temper die persoonlikheid tot goediglikheid. Maar dit is ’n dun lagie, want die oorspronklike dinamo sit nog daar, agter die selfbedrog.

      Hy is gewoond daaraan om die middelpunt van belang te wees. Hy wil nie buite dié ding staan nie. Hy wil hê ek moet weet hy is verantwoordelik vir my teenwoordigheid, hy is die vaderfiguur wat Emma se belange dien, dus eintlik in beheer, die beoordelaar van my dienste. Hy het die reg om in te meng, om deel te wees. En boonop het hy Kennis. En hy gaan dit nou met my deel.

      “Sy’t by my kom werk, ná universiteit. Die meeste ouens sal net hierdie mooi, klein dingetjie sien, maar ek het geweet daar’s iets, my vriend.” Hy punktueer sy sin met die sigaar.

      “Ek het hoeveel van hulle aangestel, account managers, en hulle sien net die glamour en die lang lunches met kliënte en die vet salaristjeks. Maar nie Emmatjie nie. Sy wou leer, sou wou wéét, sy wou wérk. Jy sou nooit sê daar’s geld agter haar nie, sy’t die soort ambisie gehad van iemand wat uit ’n arm huis uit kom. Vra my, ek weet, my vriend. In elk geval, sy’t so drie jaar vir my gewerk toe gebeur die ding met haar pa-hulle. Motorongeluk, op slag, al twee van hulle. Sy’t in my kantoor gesit, my vriend, daardie klein dingetjie, gebreek, ek sê jou. Gebreek, want toe het sy niemand oor nie. Toe vertel sy my van die broer ook. Kan jy dink? So baie verlies. Diep waters. Hoe troos jy?”

      Hy trek weer die bottel nader, skroef dit oop.

      “Maar sy’s sterk, daardie een. Sterk.”

      Skuif sy glas nader.

      “Ek het eers later gehoor hoe groot die boedel is. En laat ek nou vir jou sê …” Hy skink twee vingers. “Hierdie ding wat nou gebeur, is oor die geld.”

      Dramatiese stilte, prop terug op die bottel, kort teug aan die glas, kort teug aan die sigaar. “Daar’s baie aasvoëls daar buite, my vriend. Baie. En hoe groter die rykdom, hoe vinniger ruik hulle dit uit. Vra my, ek weet.”

      Hy beduie met sy glashand: “Daar buite iewers is iemand met ’n scheme. Iemand wat sy huiswerk gedoen het, iemand wat haar geskiedenis ken en nou wil hy dit gebruik om by haar geld uit te kom. Ek weet nie hoe nie. Maar dit gaan oor die geld.”

      Hy bring weer die glas tot by sy lippe en sit dit dan met ’n finaliteit op die kroegtoonbank neer. “So al wat jy moet doen, is om die scheme uit te werk. Dan het jy jou man.”

      Op daardie oomblik kan ek hom vertel van Lemmer se Eerste Wet. Ek doen dit nie.

      “Nee,” sê ek.

      Dit is nie ’n woord wat hy gereeld hoor nie. Sy reaksie wys dit.

      “Ek is ’n lyfwag. Nie ’n speurder nie,” sê ek voor ek uitloop.

      * * *

      My kamer is langs Emma s’n. Haar deur is toe.

      Ek stort en sit die klere vir môre uit. Ek gaan sit op die bed se rand en stuur vir Jeanette Louw ’n SMS: IS DAAR DOSSIER BY SAPS TUINE OOR AANVAL/INBRAAK OP E. LE ROUX GISTER?

      Dan maak ek die kamerdeur oop, sodat ek kan hoor, en sit die lig af.

      5

      Niemand agtervolg ons lughawe toe nie.

      Ons ry met Emma se Renault Mégane, ’n groen Cabriolet. My bakkie staan in Carel se motorhuis. “Hier is meer as genoeg plek vir hom, Emma,” was die boodskap. Hy het my vanoggend geïgnoreer.

      “Bestuur jy, meneer Lemmer?” het sy gevra.

      “As dit vir u aanvaarbaar is, juffrou le Roux.” Dit is ons laaste formele interaksie, want terwyl ek tussen Fisherhaven en die N2 vrede maak met die outomatiese ratkas en die verrassing van die tweeliterenjin se krag, sê sy: “Jy moet my asseblief Emma noem.”

      Daar is altyd ongemaklikheid aan dié oomblik, want mense verwag ’n voornaam, wat ek nie gee nie. “Ek is Lemmer.”

      Ek hou aanvanklik die truspieël met groter aandag dop, want dit is waar die amateurs sal wees – sigbaar, gretig. Maar daar is niks. Ek wissel die spoed, tussen 90 en 120. Teen die Houwhoekpas op begin ek wonder oor ’n wit Japannese sedan voor ons wat ondanks my maatreëls op dieselfde afstand van ons bly, ’n vermoede wat anderkant af sterker word as ek die Renault 140 toe stoot.

      ’n Paar kilometer voor Grabouw word dit tyd om finaal vas te stel. Kort voor die afdraai sit ek die flikker aan, ry stadiger asof ek gaan afdraai en hou die wit motor dop. Geen reaksie nie, hy hou net aan met ry. Ek sit die flikker af en versnel.

      “Jy ken die pad?” vra Emma hoflik.

      “Ja dankie,” sê ek.

      Sy knik tevrede en krap in haar handsak tot sy haar donkerbril kry.

      *

Скачать книгу