Скачать книгу

van metaal wat teësinnig buig en breek. Die veiligheidsdeur is nie meer veilig nie. Druk die alarm. Dit loei hier bo in die plafon en die klank bring paniek daarmee saam.

      Asof haar eie vertelling haar intrek, begin haar oë en hande saampraat. Haar stem se toonhoogte styg, kry ’n musikaliteit.

      Emma le Roux hardloop in die kort gang of na haar kombuis. Sy is vlietend daarvan bewus dat inbrekers en diewe nie dié taktiek gebruik nie. Dit vuur haar vrees aan. In haar haas hardloop sy met ’n dowwe slag teen die hout van die agterdeur vas. Haar hande bewe as sy die twee grendels terugdruk en die sleutel in die slot draai. Op die oomblik dat sy die deur oopruk, hoor sy die versplintering in die voorportaal, glas wat breek. Sy weet die voordeur is oop. Hulle is nou in haar huis.

      Sy gee een tree na buite en steek dan vas. Sy draai om, terug kombuis toe, om ’n skottelgoed-afdroogdoek van bo die wasbak te gryp. Sy wil haarself daarmee bedek, minder blootgestel wees. Agterna sal sy haarself so effens verwyt vir die sinneloosheid hiervan, maar op daardie oomblik is dit instink. Sy talm nog ’n breukdeel van ’n sekonde – moet sy ’n wapen gryp, ’n groot kombuismes? Onderdruk die impuls.

      Nou hardloop sy uit, in die helder sonlig, met die afdroogdoek teen haar bors gedruk. Die agterplaas, netjies geplavei, is klein.

      Sy sien die hoë betonmuur wat haar moet beskerm, wat die wêreld moet uithou. Dit hou haar nou in. Sy skree vir die eerste keer. “Help my!” ’n Noodkreet aan bure wat sy nie ken nie, want dit is stedelike Kaapstad waar jy jou afstand hou, jou valbrug elke aand optrek, jou met jou eie dinge besig hou. Sy hoor hulle in die huis agter haar. Een van hulle skree iets. Sy sien die swart asdrom wat naby die betonmuur staan – ’n trap na ontsnapping.

      “Help my!” Haar kreet tussen die kermende ritme van die alarm.

      Emma sê sy weet nie hoe sy oor die muur gekom het nie. Maar sy het, in een of twee adrenaliengedrewe bewegings. Die afdroogdoek het in die proses agtergebly, sodat sy in haar bure se erf daarsonder geland het. Haar linkerknie het teen iets geskuur. Sy voel dit nie, sal eers later bewus word van die skeurtjie in die broek se materiaal.

      “Help my!” Haar stem hoog en desperaat. Arms voor die bors om haar fatsoenlikheid te beskerm, hardloop sy na die bure se agterdeur. “Help my!”

      Agter haar hoor sy hoe die asdrom omval en sy weet hulle is naby. Voor haar gaan die bure se agterdeur oop en ’n gryskopman in ’n rooi kamerjas met wit kolletjies daarop kom uit. Hy het ’n geweer in sy hande. Bo sy oë is die silwer wenkbroue dik en lank, dit maak klein vlerkies oor sy voorkop.

      “Help my,” sê sy en daar is nou verligting in haar stem.

      Die buurman se oë is vir ’n oomblik op haar, die volwasse vrou met die seunsagtige lyf. En dan lig sy wenkbroue en sy blik na die muur agter haar. Hy druk die geweer teen sy skouer en rig dit op die muur. Sy is byna by hom en kyk ook om. ’n Balaklawa-kop verskyn vir ’n oomblik bokant die beton.

      Die buurman vuur ’n skoot af. Dit donder en eggo van die vele mure af terug en die koeël slaan met ’n skerp klapgeluid teen haar huis vas. Haar ore wat tuit. Sy staan by die buurman, bewend. Hy kyk nie vir haar nie, bewerk die slot van die geweer. ’n Doppie tuimel op die sement van die agterdeurtrappie neer.

      Die buurman kyk vir die muur. “Bastards,” sê hy terwyl hy teen die loop afkyk. Hy beweeg die loop van die geweer horisontaal, om die hele front te dek.

      Die aanvallers het verdwyn. Haar gehoor begin herstel; soos die suising verminder, hoor sy weer die kermende alarm. Tot hy stadig die geweer laat sak en vir haar in ’n stem vol deernis en Oos-Europa vra: “Are you all right, my dear?”

      Dan begin sy huil.

      2

      Die buurman met die geweer se naam is Jerzy Pajak. Hy lei haar in hul huis in. Hy vra sy vrou, Aleksa, om die polisie te bel en dan kloek hulle om haar in hul Poolse aksente. Hulle gee vir haar ’n ligte kombers vir haar skaamte, en soet tee. Hulle stap later saam met haar en die twee polisiemanne om na haar huis.

      Die staalveiligheidshek staan skeef. Die houtvoordeur is onherstelbaar beskadig. Die bruin polisieman is die meer senior van die twee, met strepe op sy netjiese uniform se skouers. Sy dink hy is ’n sersant, maar omdat sy nie seker is nie, noem sy hulle al twee “meneer”. Hy vra vir haar om te kyk of iets weg is uit haar huis. Sy sê sy sal terselfdertyd iets aantrek, want sy loop nog met die veelkleurige kombers om haar gedrapeer in die stygende temperatuur van die stadskom. Sy loop na haar kamer en gaan sit vir ’n oomblik op die wit duvet van die dubbelbed wat sy meer as ’n uur gelede opgemaak het. Sy dink nie dit was inbrekers nie. Sy het genoeg tyd gehad om afleidings te maak, om vermoedens te ontwikkel.

      Sy trek aan – ’n groen T-hemp en sportskoene. Sy loop ’n draai deur die huis om die sersant tevrede te stel en gaan rapporteer aan hom dat niks gesteel is nie. Terwyl hulle in ’n kring in die sitkamer stelling inneem, die Pajaks op die rusbank, sy en die polisiemanne op stoele, ondervra hy haar sorgsaam en simpatiek in amptelike, suiwer Afrikaans:

      Was sy daarvan bewus dat enigiemand haar of haar huis onlangs dopgehou het?

      “Nee.”

      “Geen verdagte motor of ander soort voertuig in die omgewing opgemerk nie?”

      “Nee.”

      “Geen mense wat hier in die straat draal of verdag optree nie?”

      “Nee.”

      “U was in u slaapkamer toe hulle ingekom het?”

      Sy knik. “Ek was besig om aan te trek toe ek die hekkie gehoor het. Hy maak ’n geluid. Toe sien ek hulle voordeur toe hardloop. Nee, nie hardloop nie. Vinnig loop. En toe ek die balaklawas sien, toe …”

      “Ek neem aan u kon geen gelaatstrekke sien nie.”

      “Nee.”

      Die Pajaks kan geen woord van die gesprek verstaan nie, maar hul koppe volg die ondervraging van kant tot kant, soos toeskouers by ’n tenniswedstryd.

      “Velkleur?”

      “Nee …”

      “U klink onseker.”

      Sy dink hulle was swart, maar sy wil nie vir die ander poliesman aanstoot gee nie. “Ek kan nie met sekerheid sê nie. Dit het baie vinnig gebeur.”

      “Ek verstaan, juffrou le Roux. En ’n mens skrik so groot. Maar enigiets sal help.”

      “Dit kan wees dat … een swart was.”

      “En die ander twee?”

      “Ek weet nie … “

      “Het u onlangs enige werk in of om die huis laat doen?”

      “Nee.”

      “Is daar enige artikels in die huis wat van besondere waarde is?”

      “Net die gewone. ’n Paar stukkies juweliersware. ’n Laptop. Die TV…”

      “’n Laptop?”

      “Ja.”

      “En dit is nie gesteel nie?”

      “Nee.”

      “Nou moet u verskoon, juffrou le Roux, maar dit is ongewoon. As ek so luister na wat gebeur het, dit is nie die modus operandi van jou gewone huisbreker nie. Die deure oopgebreek en die agtervolging tot in die agterplaas …”

      “Ja?”

      “Dit klink of hulle u in die persoon wou aangeval het.”

      Sy knik.

      “’n Mens begin maar altyd soek na redes, u verstaan.”

      “Ek verstaan.”

      “En dit is gewoonlik persoonlik van aard. In die meeste gevalle.”

      “O?”

      “Vergewe die vraag, maar is daar dalk ’n liefde wat onlangs skeefgeloop het?”

Скачать книгу