Скачать книгу

skep kalkoen in. Die gasvrou sê: “Dit is maar net oorskiet.” Carel sê: “Dit is heerlik, ma.”

      Iemand bied die weervooruitsigte aan as ’n gespreksonderwerp en hulle kom op dreef – planne vir die volgende dag, hoe die kinders besig gehou kan word, wie se beurt dit is om te braai. Emma praat nie. Haar aandag is by haar kos, maar sy eet nie veel nie.

      Ek raak bewus van ’n onnatuurlike gemoedelikheid tussen hulle, ondanks my teenwoordigheid. Daar is geen konflik hier nie, geen broederlike mededinging, geen korswil tussen gades nie, soos die perfekte familie in ’n Amerikaanse televisieprogram. Dit het te doen met die manier waarop Carel die laaste sê het, die finale mening. Hul onderdanigheid is byna onwaarneembaar, vervleg in ’n goedige, geoefende patroon van interaksie, maar dit is daar, die neerbuig voor die goedhartige despoot – die een met die beursie, die erfgeld.

      Hoe pas Emma by dit alles in?

      Wanneer die borde leeg is en ’n gesprek oor die volgende dag se gholf ten einde loop, besluit Carel dit is tyd om my te betrek. Hy wag vir ’n oomblik van stilte en kyk na my met ’n intieme glimlag.

      “Nou weet ek hoe die spoke lyk, meneer Lemmer.”

      Vir ’n oomblik het ek geen idee waarvan hy praat nie. En dan snap ek: Hy het Body Armour se klok hoor lui, maar het die bel aan die stert beet.

      * * *

      Jeanette Louw is op die oog af iewers-in-die-vyftig met groot, blonde hare uit ’n bottel, ’n skrikwekkende Gauloises-rookgewoonte en ’n uitgesproke voorliefde vir die verleiding van pas geskeide, gekweste, heteroseksuele vroue. Maar agter dié front skuil ’n skerp intellek en flink sakebrein.

      Sy was die legendariese regiment-sersantmajoor van die Vroueleërkollege op George, voor sy sewe jaar gelede ’n pakket gevat het. Ná maande se navorsing het sy haar maatskappy op die sestiende verdieping van ’n luukse kantoorgebou in die Kaapse Strandgebied gevestig. Op die dubbelglasdeure, waardeur jy vir Jolene Freylinck, die gemanikuurde ontvangsdame, kan sien, staan daar in sterk, manlike letters BODY ARMOUR en die bemarkingsverduideliking Personal Executive Security daaronder in slanke sans serif.

      Haar kliënte was aanvanklik buitelandse sakemense, die senior bestuur van internasionale maatskappye wat wil kom kyk hoe ’n vinnige dollar uit Afrika gewurg kan word. Hul ambassades het in bulletins vertroulik gefluister dat die land stabiel genoeg is vir investering, maar die veiligheid op straat is nog nie heeltemal op Westerse standaard nie. Daarom het Jeanette haar bemarking by die diplomate gaan doen, die ekonomiese attachés en konsuls, die klerke en skakelbordoperateurs. Wil hul belangrike besoekers die lang lys moontlike persoonlike gevare vryspring, die straatroof, motorkapings, aanrandings, verkragtings, ontvoerings, inbrake? Body Armour is die oplossing. Die eerste paar kliënte is tevrede terug huis toe en haar reputasie het begin groei. Stelselmatig het die hele spektrum van Oos na Wes haar mense kom huur: Japannese, Koreane, Chinese, Duitsers, Franse, Britte, Amerikaners .…

      En toe begin die uitlanders rolprente maak in die Kaap, en die musieksterre van die wêreld kom hou konsert vir die Boere, en haar kliëntelys het ’n nuwe dimensie gekry sodat foto’s van haar saam met Colin Farrell, Oprah, Robbie Williams, Nicole Kidman en Samuel L. Jackson teen haar kantoormuur pryk. Sy sal agter haar lessenaar sit en jou ook vertel van die groot visse wat weggekom het: Will Smith, met sy aansienlike entourage van eie, Amerikaanse lyfwagte wat soos pryssangers saam met hom beweeg, Sean Connery wat haar ewige bewondering afgedwing het deur haar produk van die hand te wys met ’n “Do you think I’m a fucking wimp?”.

      Soos met soortgelyke dienste oral in die wêreld het Jeanette se portefeulje van met-die-hand-uitgesoekte vryskut-lyfwagte ’n spesifieke, tweeledige karakter gekry: Daar is die afskrikmiddels – die hoogs sigbare, spierbultende diknek-steroïedkolosse wat saam met die beroemdes beweeg en visueel intimiderend die gepeupel op ’n afstand moet hou – hul enigste kwalifikasie is omtrek van borskas en ledemate en die vermoë om dreigend te frons.

      Die ander vertakking van Jeanette se diens is dié wat meer subtiele, maar steeds hoofsaaklik denkbeeldige bedreigings moet bestuur. Hulle moet die kliënt se ego streel met ’n curriculum vitae wat amptelike opleiding en hooggeplaaste ervaring weerspieël. Hulle moet die skyn van gevaar bewaar deur aan die periferie te beweeg, onophoudelik waar te neem en te evalueer. Soms in spanne van twee, vier of ses met klein, versteekte oor- en mikrofone, soms alleen, afhangende van die omvang van die kliëntegroep, die beskermde se finansiële vermoë of die aard van die risiko. Hulle moet saamsmelt met die omgewing waardeur die kliënt beweeg, net verskyn wanneer hoflike voorstelle op geleë oomblikke in ore gefluister moet word. Die kliënt verwag dit alles, want film en televisie het ’n standaard van optrede geskep waaraan voldoen moet word. (Ek het ’n Skandinawiese sakevrou gehad wat daarop aangedring het dat ek ’n oorfoon dra, met die kartelende draad onder die kraag in, al het ek alleen gewerk en met niemand kon kommunikeer nie.)

      Daarom sal Jeanette Louw vir elke voornemende klant of hul verteenwoordigers vra: “Do you need a gorilla or an invisible?” In die wêreld van die rykes en beroemdes is dit erkende en bekende terminologie.

      Maar Carel die Alwetende kry dit nie heeltemal reg nie. Sy fout sê iets – dat hy net ten dele ken.

      “As ’n mens ’n lyfwag wil huur, dan vra Jeanette vir jou of jy ’n spook of ’n gorilla wil hê,” verduidelik hy vir die res van die tafel. “Ons het nog net die gorillas gebruik, vir die celebrities wat kom advertensies doen.”

      Ek kan nie aan ’n gepaste reaksie dink nie. Dié situasie is vir my vreemd: Die gehuurde sit nie gewoonlik aan dieselfde tafel as die huurder nie – dit is sosiaal onaanvaarbaar. En dan is daar my eie gebrek aan geesdrif vir sinnelose gesprekke. Maar Carel het nie ’n reaksie nodig nie.

      “Die gorillas is die ou grotes,” sê hy, “wat lyk soos bouncers by ’n nagklub. Maar die spoke is blykbaar die ouens wat ken van. Wat al staatspresidente en ministers opgepas het.”

      Hulle kyk vir my, die hele tafel.

      “Is dit ook jóú agtergrond, meneer Lemmer?” vra Carel. Dit is ’n uitnodiging, maar ek wys dit van die hand deur net ongeesdriftig te knik.

      Carel is teleurgesteld, maar hy steek dit goed weg. “Nou sien jy, Emma. Jy is in goeie hande.”

      Goeie hande. Ek vermoed Carel het nie eerstehandse ervaring van die huurproses by Body Armour nie. Dit is iets wat hy aan onderdane sal oorlaat. As hy dit self hanteer het, sou hy geweet het Jeanette het ’n pryslys en my plek in dié hiërargie is nie hoog nie. Ek is aan die winskoopkant van die markkragte, die een wat nie in ’n span wil werk nie, die een met ’n toegesmeerde verlede en gebrekkige openbare betrekkinge.

      Weet Emma? Seker nie. Jeanette is te professioneel. Sy sou gevra het: “Hoeveel wil jy spandeer?” en Emma sou gesê het sy het geen idee wat dit kos nie. “Enigiets tussen tienduisend rand per dag vir ’n span van vier en sewe-honderd-en-vyftig per dag vir ’n solo-operateur,” sou Jeanette die moontlikhede uitgestippel het, sonder om by te voeg dat sy twintig persent daarvan aftrek, plus ’n administratiewe fooi, werkloosheidsbelasting, inkomstebelasting en bankoordragfooie.

      Wat verdien ’n handelsmerk-konsultant? Hoe ’n groot hap is R750 per dag vir haar? R5 250 per week? R21 000 per maand? Nie kleingeld nie, veral as dit kom by fiktiewe bedreigings. Wat beteken sy lieg dalk nie oor alles nie.

      “Ek is seker,” sê Emma met ’n afwesigheid en ’n dun glimlag, asof haar gedagtes elders is.

      “Daar’s nog roomys,” sê Carel se vrou hoopvol.

      * * *

      Hy nooi my in sy speelkamer in, sy “den” noem hy dit.

      “Nooi” in die breedste sin. “Wil jy nie kom gesels nie?” is die woorde wat Carel gebruik, iewers tussen ’n opdrag en ’n uitnodiging. Hy loop voor. ’n Opgestopte koedoekop staar uit oor die vertrek. Daar is ’n biljarttafel en ’n rottangkroeg, bottels op ’n rak en ’n klein sigaar-humidor. Foto’s teen die muur met Carel-en-geweer by dooie diere.

      “Dop?” vra hy en loop agter die kroegtoonbank in.

      “Nee

Скачать книгу