Скачать книгу

dink tog ons moet hom ’n kans gee. Hy het die werk nodig.”

      “Ja, maar ons is nie ’n charity nie,” sê André. “Maar wie weet? Dalk kom die actortjie met ’n idee.”

      Dit pla Carel dat André so neerhalend met Nico gepraat het. Dis nie asof hy wat André is met ’n silwerlepel in sy mond gebore is nie. Sy geld is ook maar nuwe geld, maar hy het duidelik vergeet hoe dit was om swaar te kry.

      “Kan ons ’n bietjie besigheid praat?” vra Carel.

      “Ja, sure. Wat wil jy weet?”

      “Ek het lanklaas ’n staat gekry. Ek weet dit gaan goed met die CD’s se verkope, maar wil net weet hoeveel presies daar verkoop is.”

      “Man, jy weet mos die system het onlangs gecrash. Ek sal weer by Fanie by finansies hoor. Maar moenie worry nie, alles gaan goed. Ons sal seker teen die einde van die maand weer vir jou geld oorbetaal.”

      Carel wou nie kla nie. André was die man wat hom ’n kans gegee het en gesorg het dat sy CD’s op die rakke kom. Hy het hom nog altyd vertrou, maar dis asof daar die laaste tyd iets is wat knaag. Nie ’n sekerheid nie, net ’n aanvoeling dat alles nie reg is nie.

      “OK, dis reg so. Dis net dat ek gewoond geraak het aan die state elke maand en nou nie seker is wat aangaan nie.”

      André se gesig het ’n effense pienk skynsel gekry.

      “Fok, Carel! Was ons nie nog altyd goed vir jou nie? Sê jy my jy vertrou ons nie?” vra hy net ’n bietjie te hard.

      “Dis nie wat ek sê nie. Ek sal net graag weer elke maand ’n staat wil sien. Ek sal wag om van Fanie te hoor. Ek moet nou gaan. Ek ry netnou Stellenbosch toe vir ’n konsert. Moet nog gaan sound check.”

      Toe Carel uitstap, gryp André sy selfoon. Hy gaan na die lys van telefoonnommers en druk die een wat hy die afgelope tyd so gereeld gebel het. Nog net een keer. Nog net hierdie een keer.

      9

      “Hallo, dis Sophia Lategan wat praat.” Sophia ignoreer die kantoorgeluide en rig haar gemakliker in agter die lessenaar.

      “Hallo, Sophia. Dis André Smit van Encore Musiek hier.”

      “Hallo, André, hoe gaan dit?”

      “Baie goed, dankie. Man, die rede hoekom ek bel … Ons gaan ’n musiekvideo van Carel Strydom se liedjie ‘Soeker’ maak en het asseblief jou hulp nodig. Of eintlik Die Burger se hulp.”

      Sophia sit regop.

      “Hoe kan ons help?”

      “Jy moet dit asseblief vir die oomblik baie stil hou, maar ons wil ’n video met die meeste ekstras ooit maak – jy weet, ekstra mense wat net op die agtergrond moet wees. Ons het nie die begroting om almal te betaal nie, maar ons glo ons gaan genoeg fans kan kry wat dit sal doen vir die liefde van die saak. Hier kom julle in. Jy kan nie dalk vir ons ’n artikel skryf en noem dat ons hierdie mense soek nie?”

      “Is daar nog ’n angle wat ek kan gebruik?” vra Sophia.

      “Ja, die regisseur van die video is Nico de Jongh. Die akteur. Hy woon deesdae in die Kaap en dis sy eerste video. Ek kan vir jou ’n onderhoud met hom reël.”

      “Dit klink goed. Ek gaan net eers met my nuusredakteur moet gesels. Sal jou laat weet.”

      “Dankie,” sê André. “Luister, terwyl ek nou met jou praat, het jy nie die artikel oor Tertia Viviers se moord gedoen nie?”

      “Ja, ek het.”

      “Het daar toe ooit iets van gekom? Het hulle al die skuldige gekry?”

      “Nee, ek het gister weer met die polisie in Tableview gepraat. Dis nou al twee maande later, maar daar is nog niks nie. Haar selfoon kon nie opgespoor word nie en haar bankkaarte is nie weer gebruik nie. Hulle is nie seker of hulle ooit gaan uitvind wie haar vermoor het nie. Het jy haar geken?”

      “Ja en nee,” antwoord André. “Ons het mekaar ontmoet en so nou en dan gepraat, maar ek sou nie sê ons was huisvriende nie.”

      Sophia wonder waarheen die gesprek op pad is. Hoekom het André vir haar oor Tertia gevra? Nuuskierigheid? Sommer net om geselsies te maak?

      “Is jy jammer sy is dood?” vra sy.

      “Is enigiemand werklik jammer sy is dood? Maar in elk geval, ek moet nou gaan. Sal jy my laat weet wat sê jou base?”

      “Ek maak so.”

      Toe sy die foon neersit, wonder sy weer oor Tertia se dood. Sy het nie die vrou geken nie. Hulle het dalk vir dieselfde maatskappy gewerk, maar op verskillende verdiepings en by verskillende koerante.

      Sy het egter geweet van Tertia se reputasie. Haar liefde vir drank, hoe sy mense in artikels aangehaal het met wie sy nooit eens gepraat het nie. Ook haar venyn en hoe sy uit haar pad gegaan het om loopbane te verwoes.

      Sophia het nog altyd gedink daar is meer agter Tertia se moord as bloot die diefstal van ’n selfoon en beursie. Maar hoe bewys sy dit? Sy kan net werk met wat die polisie vir haar gee, en dit is byna niks nie. Hulle sê net hulle werk aan die saak.

      Sy staan op en stap na haar nuusredakteur, Francine de Lange, se kantoor.

      “Hallo, het jy gou ’n paar minute?” vra sy.

      “Ja, het jy ’n storie?”

      “Ek dink so. André Smit van Encore Musiek het gebel. Daar gaan ’n video van een van Carel Strydom se liedjies gemaak word en hulle wil honderde ekstras op die stel hê. Hulle het gehoop ons kan daaroor skryf en dan kry hulle só die mense om dit verniet te doen. Die regisseur is die akteur Nico de Jongh. Klink my dis sy eerste musiekvideo.”

      “Cheapskates. Dink jy dis ’n storie?”

      “Ja, ek dink so. Ek kan ’n onderhoud met Nico oor sy nuwe lewe in die Kaap doen. Ons kan dalk ook ’n leserskompetisie hê waar iemand ’n ete of iets saam met Carel wen. Ek dink mense sal inskryf. Daar is niemand in Afrikaanse musiek wat op die oomblik so groot soos hy is nie.”

      “Die kompetisie is ’n goeie idee. Ek sal met die mense by promosies praat. OK, gaan voort. Laat my weet wanneer dit kan ingaan.”

      Terug by haar lessenaar bel Sophia vir André.

      “My nuusredakteur sê dis reg. By wie kan ek die inligting kry? En kan jy my Nico se nommer gee dat ek ’n onderhoud met hom kan reël?”

      Die koffierestaurant in die Waterfront is stil vir ’n Dinsdag­oggend. Sy herken hom dadelik.

      “Hallo, Nico, ek is Sophia Lategan van Die Burger.”

      “Hallo, Sophia. Sit asseblief. Kan ek vir jou iets bestel?”

      “Koffie sal lekker wees, dankie.”

      Hy wink ’n kelner nader en bestel vir haar koffie.

      “So, wat kan ek jou vandag vertel?” vra hy, sy mediakrane wyd oopgedraai. Hy is nie baie lief vir joernaliste nie, maar is slim genoeg om te weet wanneer hy hulle vir eie gewin moet gebruik.

      “Jy weet seker Die Burger gaan ’n artikel doen oor Carel se nuwe video en dat ons gaan help sodat julle die honderde mense kry wat julle soek. Ek hoor jy is die regisseur. Ek wil graag as deel van die artikel vertel wat jy deesdae doen en dat dit jou eerste musiekvideo is. Dit is die eerste, nè?”

      “Ja, dit is. Ek is baie opgewonde. Ek wou nog altyd direct en hierdie is ’n gulde geleentheid om te begin. Ek ken natuurlik die televisiemedium baie goed, aangesien die meeste van my werk voor die kameras was,” antwoord Nico.

      “So jy het geen ander ondervinding hierin nie?”

      “Nee, ek het nie, maar soos ek sê, jare se werk voor die kameras het my baie geleer.”

      “Wat is vir jou die grootste uitdaging?”

Скачать книгу