Скачать книгу

’n klein messie steek.

      Jou dom fool! het hy met homself geraas. Hy het hom dan voorgeneem om sy lewe lank so ver moontlik van drank af weg te bly. Hy het mos gesien wat dit aan mense kan doen, hoe dit gesinne kan verwoes. Dit nog altyd reggekry om matig te drink. ’n Bier of twee of ’n glas wyn saam met ete. Maar gisteraand … Gisteraand was dit asof hy ’n ander mens was. Is dit wat ’n bietjie aandag aan jou doen?

      Hy het Steers toe gegaan en ’n hamburger en Coke gekoop. Bewerig die geld uit sy beursie gehaal. Sy eerste optrede was elfuur en hy het gehoop die mense kom nie agter dat hy ’n babelas uit die hel het nie.

      Tertia was daar toe hy by die verhoog aankom. Hy het geskrik toe hy haar sien, nie geweet wat hy gaan sê nie. Nog groter geskrik toe hy sien sy het ’n mediakaart om haar nek. Welgedaan, Carel Strydom, jou dom poephol, jou one-night stand is ’n joernalis. Nie ’n los stukkie op ’n fees nie, maar ’n joernalis.

      “Hallo, sluiper,” het sy gesê.

      “Hallo. Ek, uh, wou jou nie pla nie. Jy het nog vas geslaap.”

      “Ek sou nie omgegee het as jy my wakker gemaak het nie.”

      Carel het nie geweet wat om te antwoord nie. Nee, hy hét geweet: Dit was ’n fout. Dit moes nooit gebeur het nie. Dit sou nie gebeur het as hy nugter was nie. Maar hy het nie die moed gehad om dit te sê nie.

      “Ek het nog baie dinge gehad om te doen, jammer.”

      “Dis OK,” het sy geglimlag. “Wat maak jy vir lunch? Sal ons iets gaan eet?”

      “Ek kan ongelukkig nie. Ek het nog twee ander optredes vandag. Dit gaan maar rof.”

      “Hoe laat maak jy klaar? Ek kan jou dalk dan iewers kry?”

      “Ek dink nie so nie. Ek sien later die mense van Encore Musiek,” het hy skaamteloos gelieg.

      “Wat van later vanaand?”

      Carel het besef sy gaan nie bes gee nie. Weer homself uitgeskel. Hy het vinnig probeer dink. Hy wou haar nie weer sien nie. In die skerp sonlig het sy baie ouer gelyk as die aand tevore. Die plooie om haar oë en mond het diep gelê, haar hare was onversorg en hy kon sweer hy het drank op haar asem geruik.

      “Luister, uh … ” het hy gemompel en besef hy het haar naam vergeet.

      “Tertia. Tertia Viviers.” Sy was nie meer so vriendelik soos vroeër nie.

      “Luister, Tertia, gisteraand … ”

      “Ja, OK, moenie probeer verskoning maak nie. Ek was maar net afleiding. Nog ’n fees, nog ’n pomp.”

      Hy het gegril vir haar kruheid.

      “Maar weet nou maar, Carel Strydom,” het sy verder gesis, “gisteraand gaan nog lank by jou spook. Jy dink dalk ek is ’n los slet wat in enige man se bed spring, maar ek is nie. Jy sal nog jou fout agterkom.”

      Sy het omgedraai en weggestap. Die klankman het by hom kom staan.

      “Hoekom lyk Tertia of iemand haar drank gesteel het?”

      “Ken jy haar?” het Carel gevra.

      “Almal ken haar. Jy wil nie in haar slegte boekies wees nie. Sy is trouble met ’n capital T. Is jy reg om op te gaan?”

      Carel het sy kitaar gekry, sy babelas skielik vergete. Tertia Viviers was ’n groter probleem as die shooters wat nog in sy kop geskiet het.

      Dit het goed gegaan met die optrede. Die mense het geklap en ná die tyd het hy 46 CD’s verkoop. Dit was die tweede laaste dag van die fees en as dit so aangaan, sou hy nie genoeg CD’s gehad het om te verkoop nie.

      Terwyl hy besig was om op te pak, het ’n vrou na hom toe gestap.

      “Hallo, my naam is Linda Cronjé. Het jy al ’n agent?”

      Hy het haar so in haar vroeë veertigs geskat. Sy het ’n denimromp gedra wat tot net bo haar knieë kom. ’n Moulose wit hemp en plat sandale aan haar voete. Haar bruin hare was kort gesny en hy kon sien sy is ’n vrou wat gereeld oefen. Carel het met waardering na haar bruingebrande bene en helderrooi toonnaels gekyk. Sy was ’n mooi vrou.

      Hy het natuurlik geweet wie sy is. Van die grootste name in musiek was by haar. Sy speel nie met up-and-coming sangertjies nie. Sy kies haar mense met die hand.

      “Nee, ek het nie. Ek het maar twee maande gelede die kon­trak by Encore geteken,” het hy geantwoord.

      “Ek weet. Ek weet alles. Het jy tyd vir koffie? Dit lyk of jy dit nodig het.”

      “Ja, koffie sal lekker wees.”

      Hulle het sy kitaar en die res van die CD’s in sy bakkie gaan bêre en is na ’n restaurant waar hulle wonderbaarlik ’n stil hoekie gekry het.

      “Hoekom stel jy in my belang?” het Carel met die deur in die huis geval.

      “Jy het dit,” het Linda gesê. “Deur die jare het ek dit nog net ’n paar keer raakgesien en jy het dit. Die stem, die look, die talent. Jy gaan dit nog ver bring.”

      “Wat moet nou gebeur?”

      Linda het vir hom verduidelik hoe die musiekbedryf werk. Hoeveel mense jy nodig het om jou rug dop te hou. Hoe venynig dit kan raak. Die wedywering tussen maatskappye. Die stryd om jou musiek op radiostasies te kry. Hoe mense jou om elke hoek en draai gaan probeer verneuk. Dat jy iemand nodig het om vir jou kontrakte op te stel, dat iemand jou beeld in die media gaan moet beheer …

      “Ek dink ons het klaar ’n probleem,” het Carel gesê.

      Linda het gelag.

      “Jou nie lank geneem nie, het dit? Wat het gebeur?”

      “Ek het gisteraand vir Tertia … ”

      “Viviers?”

      “Ja.”

      “Jy het gisteraand vir Tertia gewat?”

      Hy was skielik skaam.

      “Ek was nog elke aand alleen in my koshuiskamer. Gisteraand het ek uitgegaan en haar by Al Capone ontmoet.” Hy kon voel hoe hy bloos. “Ek het vanoggend in haar bed wakker geword. Dit was ’n fout, ek weet dit, maar … Ek weet drank is nie ’n verskoning nie … ”

      Hy het soos ’n stout skoolseun gevoel.

      Linda het vooroor gebuk en sy hand gevat.

      “Jy het jou eerste, baie moeilike les geleer. Vroue gaan hulle­self vir jou op ’n skinkbord aanbied. Jy gaan aandag kry wat jy nie gedink het moontlik is nie. Iets gebeur wanneer ’n man op ’n verhoog stap. Dit doen iets aan hulle. Jy gaan móét versigtig wees. As jy ’n sukses van jou loopbaan wil maak, sal jy hard moet werk, maar jy sal ook pal moet besef mense hou jou dop. Sukses is ’n vreemde ding. Sodra jy dit kry, gaan daar mense wees wat alles sal doen om dit van jou weg te neem.”

      “Sien jy nog kans om my te help?”

      “Ja, natuurlik. Ek sal met André by Encore praat. Ons werk nog altyd goed saam. Eers moet ons die potensiële Tertia-probleem oplos. Het sy gesê sy gaan iets skryf?”

      “Nee, sy het nie. Ek het eers vanoggend besef sy is ’n joernalis.”

      “Van nou af doen ek al jou mediaskakeling. Jy praat nie met ’n joernalis voor jy met my gepraat het nie. Waar is jou selfoon? Neem my nommer. Dis nou die belangrikste nommer in jou lewe.”

      Carel het beter gevoel ná sy gesprek met Linda. Hy het vir André by Encore gebel en van hulle gesprek vertel.

      “Jy is in goeie hande,” het André gesê. “En jy moet jou sterre dank dat sy jou raakgesien het. Sy steur haar nie gewoonlik aan nuwe talent nie.”

      Carel het sy ander twee optredes gedoen. Albei kere was Tertia daar. Sy het nie met hom gepraat nie, maar hy het die hele tyd haar oë op hom gevoel. Hy het ná die tyd CD’s verkoop en gestaan vir ’n paar foto’s.

Скачать книгу