Скачать книгу

Sy praat sag: “Onse Moeder is nou blind, soos jy, Keneuoe. En die gehoor ook algeheel verswak. Moeg en in der dagen sat. Spreek duidelik.”

      Jesse se een wenkbrou, die superbeweegbare een, is amper vertikaal. Haar onderlip bewe. Sy skuif haar hand tot teenaan die ou vrou s’n. “DIS EK, MOEDER MOTLE. RESPEK EN VREDE.”

      Moeder Motle se stem is nog ferm: “Keneuoe. Kind van my hart. Engelstem. Ek wis altyd die seisoen sou aanbreek dat jy te­rugkeer. O blye dag. Jy is gestuur. Jy is die Gesant, die enigste Opvolger. Profeet wat Raaisels deurgrond. Bewaarder van Ge­heime­nisse, Lelietje-der-dalen. Herderin, die gekose een.”

      — Woorde van die wyse manne —

      Dis die volgende oggend. Aga en Jess sit op die rantjie agter die kliphuis. Die reën het opgehou, maar die lug is nog swaar bewolk. Aga verlekker haar tot in haar tone in die reuk van nat grond en gekneusde gras. Die geur is soos ’n aanraking, ’n omhelsing. Dit streel oor haar nekhare. In hierdie selfde provinsie het sy grootgeword, in ’n sandsteendorpie by ’n ongenaakbare vrou. Tog was daar in die onherbergsame landskap van haar kinderjare ’n handvol oomblikke wat haar nou nog sterk maak: hier en daar ’n bewolkte oggend in die agtertuin wanneer ’n ligstraal deur die wolke breek en ’n onaardse groen stralekans om die struike laat opslaan.

      Hulle sit skouer teen skouer. Jesse se gemoed is onstuimig soos die weer.

      “Hemel, Aga. Soos my ma, die afvallige dogter van die eerste Herder, by uiterste provokasie sou sê: ‘My goeie liewe hemel en verblerriedomp.’ My lewe lank probeer ek onder die skadu van die Volgelinge uitkom en hier loop ek my vas in my twyfelagtige erfenis. Ek voel soos Henderson the Rain King, soos Kurtz in Heart of Darkness, soos ontdekkingsreisigers in ou stories – gewone, sondige mense wat deur die inheemse bevolking as gode omhels word. Klink dit rassisties? Ek voel soos ’n tydreisiger. Ek voel gatvol. Dink jy ou Moeder se kop het haar gelos? Hierdie mense maak nie grappies nie, Aga. Alles is dodelike erns. Ek’s lus en los die hele byenes net so en fokkof terug beskawing toe, soos Claude sou sê. Terug een en twintigste eeu toe.”

      “En tog, Jesse. Ek kan sien; die milieu, die gebruike, die manier van praat, die ingesteldheid lui by jou ’n klokkie. Iets ouds en edels. Dit resoneer, dis bekend, dis amper geneties inge­pro­grammeer. Al het jy nie in die sekte grootgeword nie.”

      “H’mmm. Ek dink die Herder – die eerste een, my oupa – het my ma eers afgeskryf toe ek al vier of so was, nie met my ouers se troue reeds nie. Iets moes later gebeur het. Ek het vae herinneringe, van Oumie, maar veral van Moeder Motle. Die gevoel van ’n sterk band. Veral die nonne, die Sêsis soos my ma hulle genoem het – met groot respek moet ek jou sê – hulle sang roer iets baie diep en primitief aan. Dit laat my voel soos ’n rot onder die geklank van die fluitspeler van Hamelin se note. Musiek was nog altyd my moedertaal.”

      “Soos reuke vir my. In ’n millisekonde los die mis op en val tonele oop wat ek nie met my bewuste geheue kan bykom nie, Jess. Mense is so programmeerbaar, so fyn gedraad. Wat gaan jy vir Moeder Motle sê, wanneer sy weer helder is?”

      “Ek gaan sê ek is nie gereed nie, Aga. Maar ek wil nie Moe­der Motle se oor verloor nie. Sy ken elke misterie rondom die Volgelinge, van die heel begin af. Weet jy, sy en my oupa, die eerste Herder, het saam grootgeword, op Katdoornvlei. Oumie op die buurplaas. Die visioene het hom oorval op agtien. Dit was die begin van die Volgelinge. Die Herder wat nou oorlede is, was die oudste kind. Dus was my oupa en Motle in ’n verhouding voordat hy met Oumie getroud is. Wie weet, dalk ook daarna. Moontlik tot aan die einde? Maar toe hy en Oumie getroud is – hulle was albei agtien en Motle ’n paar jaar jonger – was die kind al daar of sterk op pad. Hy het by hulle grootgeword asof hy Oumie se eie kind was, met Motle agter die skerms, in die kombuis, in die buitekamers. Dit het ek my ma en pa hoor bespreek, ’n snars hier en daar, agter die hande, deur die jare, en gister in die eetsaal het die volle prentjie skielik tot my deurgedring. Wat ek toe op die plek uitblaker. Dit verduidelik hoe die Susters so ’n gesagsposisie verkry het. Sterk vroue, swart vroue wat in ’n paternalistiese, rassistiese opset mag in die hande gekry en gehou het. ’n Vreemde opset.”

      Suster Rut doem uit die mis op. Sy staan en wieg, haar arms om haarself geslaan. Daar loop ’n kraak deur haar formidabele stem. “’n Seder het geval. Ons is wees. Sy is heen. So pas. In ’n oogwenk. Sy het die aardse kleed afgeskud. Die kruik by die fontein is gebreek.”

      — Ek, ellendige mens —

      Nog ’n reëndag, nog ’n wandelende stoet, nog droewe engel­gesange. Ses mans kon Moeder Motle se kis nie tot op skouer­hoogte lig nie, daar is spesiale handvatsels geprakseer. Die Volge­linge is daar, elke enkele een, of ten minste die oudstes, hoede teen die bors, kappies vasgeklem onder kennebakke in die aangesig van die wind. Jesse is verwese. So ook, snaaks genoeg, Oumie. Haar gesig is verberg in ’n groot mansakdoek. Haar snikkende lyfie word aan weerskante ondersteun en dit lyk asof sy haar in die oop graf wil werp. Sy kyk reg voor haar en probeer nie weer om met Jesse te praat nie.

      Aga en Jesse skaar hulle by die Ongeskonde Susters, op ’n veilige afstand van die Volgelinge.

      Toe die kis toegegooi is, kom die segsman van die Volgelinge ver­sigtig nader. Hy haal sy hoed af en trap ongemaklik rond. Hy spreek nie vir Jesse nie, maar vir Suster Rut aan.

      “Suster. Sy wat heen is het gisteraand, kort voor haar afsterwe, vir ons woord gestuur. Ons is bewus van haar sterwenswens. Dit weeg swaar. Daar is geskryf: ‘Verwerp die onderwysing van jou moeder nie.’ Dit is deurslaggewend. Johanna moet met ons mee­kom. Sy moet voorberei word vir die salwing. Ons is in die eindtyd. Des te meer namate julle die oordeelsdag sien na­derkom.” Die nat wind verleen gewig aan sy woorde.

      Soos ’n lam ter slagting, kom dit van êrens af by Aga op. En: laat hierdie beker by haar verbygaan. Begin sy ook nou in Bybelverse dink?

      Suster Rut plant haar weer ferm voor die Volgeling. “Broe­der Izak. Daar sal dadels van kom. Dis buite die kwessie, dit sal eenvoudig nie deug nie. Keneuoe bly tot tyd en wyl by die Ongeskonde Susters. Ons sal haar voorberei op haar taak. Julle het haar van kindsbeen af verban.”

      Dit val Aga weer op hoe min outoriteit hy in die teenwoor­digheid van Suster Rut het, die druipstert broeder, die natge­reënde kraai. Sy onderkaak sak tot teen sy hoenderbors. Hy draai met ’n hulpelose handgebaar om en beur teen die wind terug na die boesem van sy gebroeders.

      Aga vat Jesse se hand. Suster Rut ondersteun haar aan die ander kant. Hulle stryk aan kliphuis toe, onder droewe trek­klavierbegeleiding.

      — Wie kennis vermeerder, vermeerder smart —

      Aga en Jesse lê op die groot bed in hul nonnekamer. Van­oggend het niemand hulle douvoordag kom roep vir ’n diensbeurt in die skuur of groentetuin nie. Dis asof Jesse meteens onaantasbaar is, vernaam en uitverkore. Die goue kalf, of is dit die gemeste kalf. Jesse se mond – saam met haar ekspressiewe wenkbrou die verklapper van emosie in ’n gesig sonder oë – is ’n grimmige grensdraad. Tot hiertoe en nie verder nie. Basta. Maar haar gesig is ook weerloos, wees, met ’n ligte bewing in die onderlip.

      Hulle praat in fluisterstemme, koppe bymekaar, soos kinders wat konkel. “So dik as diewe,” was glo Jess se ma se uitdrukking, direk uit die Engels. Teenaan mekaar word hulle altyd rustig, Aga en Jess.

      “Aga. Dalk moet ek op ’n eetstaking gaan, soos my ma toe sy klaar was met skool. Sy en haar broer is ge-home school want hulle mag mos nie met die wêreld gemeng het nie. Hulle was al twee baie bright. Meisies is natuurlik hoofsaaklik opgelei in huishoudkunde, maar my ma was vreeslik leergierig en is toegelaat om saam met haar broer, wat ’n jaar ouer is, te leer. ’n Uitstekende opvoeding deur ’n verskeidenheid goewernantes en meesters. Maar toe sy sestien was, was alles verby. Daar is besluit dat sy moet trou met ’n Volgeling, ’n wewenaar sewentien jaar ouer as sy. Volgelinge se kinders gaan nie universiteit toe nie. Maar dit was my ma se enigste droom. Sy het eenvoudig geweier om uit die bed uit op te staan of te eet. Later was sy bleek en verswak en Oumie het buite haar deur gestaan en huil en gesê: ‘Rageltjie moet maar gaan leer.’

      “Rageltjie

Скачать книгу