Скачать книгу

      Hulle het laterig in die nag op die plaas Katdoornvlei aan­gekom. Natuurlik is hulle nie opstal toe nie. Aga het buite die grensdraad stilgehou en hulle het by die werkershuisies mense gaan opklop om navraag te doen na Mme Fumane Mokoena, Mmakotsi (ma van Kotsi). Daar was maar ’n handvol huisies, skoon en ivoorbleek in die maanlig. Die Volgelinge het min plaasarbeiders, want die hele gemeente spring glo in om te help met die boerdery, soos die Amish. Die wat daar is, is geslagte al in die familie en aan die buitewyke van die gemeente, semi-Volgelinge. Hul huise het ook nie elektrisiteit of moderne ge­riewe nie, want die teenswoordige wêreld moet ten alle koste op ’n afstand gehou word. Die Sêsi is wel volwaardige lidmate van die Volgelinge, met heelwat gesag, het Jesse vertel. Suster Motle, as sy nog leef, sal glo in ’n kliphuis op die heuwel woon, die Sêsi se imposante klooster, met streng sekuriteit.

      Die Volgelinge glo nie in Telkom, Vodacom of MTN nie, maar die bostelegraaf is verstommend effektief. Binne ’n halfuur na hul aankoms, voordat hulle nog vir Fumane Mokoena onder oë kon kry, het Jesse se oom, die Herder, in ’n stofwolk stilgehou en hulle vriendelik versoek om in sy Hummer te klim. Moderne voertuie het skynbaar tog deur die net geglip. By sy donker op­stal is hulle onseremonieel met trappe af hierdie ruimte in begelei. En toegesluit.

      — Die tone van die lied verdof —

      Aga se maag grom soos ’n MGM-leeu. “Dit word al skemer, Jesse. ’n Hele dag is verby. Nie jou oom of enige ander siel het kos gebring of die emmer kom leegmaak nie. Dit voel onmens­lik. Wat presies behels eensame aanhouding hier?” Haar stem is dun.

      Sy stap op en af, op en af in die kleinerige rondawel. ’n Tier in ’n kou. Ses treë, omdraai op die hak van haar Eskimostewel, weer ses treë, omdraai, herhaal. Kompulsief, om onheil en ver­lammende angs op ’n armlengte te hou. Gelukkig is daar water in die wasbakkraan. Hulle het die klein stafie Milkybar in Jesse se rugsak net halfpad verorber, met ysere selfbeheer. Hulle is groot vroue.

      “Ek hoor hoe die hoenders slaapplek skrop. Het my selfoon nog nie ontvangs nie, Aga?”

      “Dood soos ’n mossie. Nie eers een strepie nie. En so te sê pap.” Paniek styg soos kwik in Aga se keel.

      Dit word donker en dit word nag, die tweede nag in die ondergrondse tronk. Dis bedompig. Aga gaan lê plat op die se­­mentvloer en haal vlak asem soos ’n akkedis. Sy rol in ’n bon­deltjie; ’n embrio, ’n boontjiesaad in watte. Daar kom nie ’n ge­luid uit die huis bokant hulle nie. Die stilte van bo druk swaar, onheilspellend op hulle neer. ’n Lugleegte.

      Sy moes vir ’n rukkie ingesluimer het. Sy skrik wakker van ’n engelekoor. Dis donkerder as donker. Sy lê nog op die vloer, styf en yskoud. Jesse roer op die krakerige bed. Sy prewel: “Die Sêsi. Ek het hulle laas gehoor toe ek vier was. Cutt Glas kan gaan slaap.”

      Jesse, self geseën met ’n formidabele engelestem, begin saggies saamsing:

      Modimo wa rona

      Modimo wa borare

      O a utlwa: …

      Thaka tsa me

      Ha le nkutlwe na?

      Ke le Ruta thuto tsa molao

      Molao ke o neheloe

      “Ek het nie geweet ek ken dit nog nie. My ma’t dit vir my gesing toe ek klein was. As die Sêsis sing, in ’n woonhuis sing, beteken dit een van twee dinge: geboorte of dood, Aga.”

      “As ons húlle kan hoor, moet hulle óns kan hoor, Jesse.”

      “Goeie punt, maar as ek reg onthou, is daar twaalf van hulle en hulle het longe soos blaasbalke, boesems soos boeë, ribbekaste soos katedrale.”

      “Tonge van nagtegale,” voeg Aga by.

      Aga klim op die bed. Hulle lê en luister. Paniek klop nog dringend in haar linkerslaap.

      Die stilte na die lied is tasbaar, ’n karos. Na ’n paar oomblikke hoor hulle gedempte kapgeluide. Stilte. Nog kapgeluide. Aga kyk rond vir iets waarmee sy teen die plafon kan hamer. Die plafon is lagerig. Al wat daar is, is die emmer. Gelukkig van blik. Sy maak dit gou leeg in die wasbak; ook maar goed nie een van hulle het ’n dermbeweging in eensame aanhouding gehad nie. Sy klim met bewerige knieë op die tafel en slaan die emmer desperaat teen die plafon. Tat-tat-tat. Taffeteffie-tat. Tatterat-tat-tat. Doodse stilte. Die gekap het opgehou. Sy hamer weer. Tatterat-tat. Hulle wag. Steeds stilte. Sy neem haar emmer op en hamer herhaaldelik, nou buite beheer. Stilte. ’n Knarsgeluid op die houttrap. Stilte. ’n Klop aan die deur.

      — Die lamp van die goddelose —

      Jesse stap reguit en sekuur deur toe. Haar gidshond, Die Neus, het nie saamgekom nie. Hy het mettertyd ’n lewe van sy eie begin lei, onafhanklik van hulle. Hy is so uitsonderlik briljant dat hy deesdae help om ander gidshonde op te lei. Hy verskyn gereeld op TV en kom net soms vir ’n naweek by Jesse en Aga kuier. Maar Aga is Jesse se oë. En Jess is Aga se kalmeermiddel. Dit werk goed. Jesse het lankal die rondawel se omtrek en die presiese posisies van die enkele meubelstukke gememoriseer.

      “Ja?” Jesse se stem is ferm, maar beleefd.

      “Wie is binne? Meld jouself asseblief aan?” Die stem aan die ander kant van die deur dra ’n sweempie misvloer, kraalvuur.

      “Dit is ek. Ke nna Keneuoe. Sêsi?” sê Jesse eerbiedig.

      Stilte, vir ’n hele paar tellings. Dan bars ululering los, ’n hele koor daarvan, en handegeklap. “KENEUOEEEEEEEE!”

      Dan weer, waardig: “Waar is die sleutel, Keneuoe?”

      “Ek weet nie. Ons is opgesluit. Voorlaasnag al.”

      “Sowat,” sê die vrouestem. “Abraham het kom sê julle het by die stat vertoef. Ons het gedink julle is hoeka vort. Sonder om te groet. Gaan soek in die eetkamer, in die kleipotte, Suster Elisabet.”

      “Is Mme Motle hier?” wil Jesse met haar oor teen die deur weet.

      “Nee, Keneuoe, Onse Moeder is ongesteld. Sy is bedlêend, in die klipwoning. Ek is Rut. Jy sal my voorwaar nie onthou nie.”

      “Rut, RUT! Van die populierbos. Van sing en speel. Ek ont­hou!” lag Jesse. “En waar is die Herder, Rut?”

      ’n Snakgeluid, dan dawerende stilte.

      — Die smeltkroes van ellende —

      “Ons kan die sleutel nie vind nie, Keneuoe. Staan opsy, staan ver terug, Josias gaan die deur uit die aarde loop. Die kalf is in die put.”

      Jesse gaan sit langs Aga op die bed. Daar is drie slae met ’n swaar voorwerp, dan knars die soliede kosyn. Die deur word oopgebeur. Op die drumpel, omlyn deur die lig van ’n lamp, staan ’n swart man in ’n swart pak, wit hemp tot by die adamsappel toegeknoop, swart hoed. Hy het ’n yl wit baard, soos kouewater-Omo-skuim. Blinkswart skerppuntskoene. Gas­lantern in die hand.

      “Keneuoe, dis ek. Josias. Julle is welkom, ook die vreemdeling in ons poorte. Jammer oor die deur, maar dis wêreldsgoed.”

      Hy en Jesse skud plegtig hand. Hy takseer haar. “Dit is jy. Waar is die jare heen? Ons het verneem van jou oë. En arm. Kom na bowe, maar trap liggies. Daar is dood in die huis.”

      Hulle stap agter hom aan met die trappe op, Jesse se hand op Aga se skouer. Aan die bopunt van die trap is ’n toe deur. Hul gids sit die lantern versigtig neer en knip dit dood. In die donker verduidelik hy eerbiedig: “Geen gaslig by die dodewaak nie.”

      Aan die ander kant van die deur is ’n groot, leë vertrek met donker houtvloere. Die swaar gordyne is diggetrek en laat geen maanlig deur nie. In die middel van die vloer staan ’n enkele kers op ’n growwe houtkis. Die kis is genadiglik toe. Aga fluister teen Jesse se oor: “Leë vertrek, kis in middel van vloer. Toe. Een kers. Sêsis.”

      Teen die muur staan hulle in formasie gerangskik. Hulle lyk soos ’n ry rawe, ’n koor uit die Middeleeue of die Russiese Orto­dokse

Скачать книгу