Скачать книгу

in die eetsaal aan die einde van die gang.” Haar stem is gewoond aan instruksies en bevele gee.

      — Die tafel voor my aangesig —

      Aga en Jess is skoongeskrop en van kop tot toon in swart ge­klee. En rasend honger. Daar is geen spieëls nie, dus is Aga die gesig gespaar van haarself; ’n mal kroeskop-professor in ’n toga. Die gewade is hopeloos te wyd vir hulle, maar kort in die lyf, sodat daar ’n spleet spierwit been tussen soom en swart sokke uitsteek. Jesse slaag nogtans daarin om grasieus te lyk met haar sagte goudbruin krulle en nadenkende voorkop bo die statige gewaad.

      Hulle suiker die gang af in gebreide sokkies. Hul stewels moet eers buite die kombuisdeur ontmodder word.

      In die eetkamer, ’n spieëlbeeld van die ingangsportaal, maar aan die verste punt van die huis, is net ’n lang houttafel met bankies weerskante en een majestueuse stoel aan die punt. Die stoel is leeg. Die Susters sit reeds, ’n houtbord voor elk. Hulle staan op toe Aga en Jesse instap en Suster Rut stel die nonne op die ry af aan hulle voor.

      Toe hulle gaan sit, begin Suster Rut inskep en aanstuur, in­skep en aanstuur. Elkeen kry dieselfde ruim porsie: pap en ’n soort spinasie. “Ons is ’n vegetariese orde,” verduidelik Suster Rut. “Vermy die verlokkinge van die vlees. Dis ’n manneding, die ewige dors na bloed. Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby.”

      “Die Herder …” begin Aga, en in die halfdonker eetkamer plons haar woorde soos ’n vet seun in ’n stil swembad, met ’n allemintige, skokkende plas. Elf pare verskrikte oë rus op haar. Jesse lê ’n hand op haar gewrig: “Hulle spreek nie die naam van oorledenes uit nie, nie in die eerste paar dae nie, Aga.”

      Die nonne kyk weer af en begin eet, netjies, met die hand. Daar is geen seën of tafelgebed uitgespreek nie. Daar is geen geklets aan tafel nie. Net ’n uniforme afbuig van bedekte hoof­de, hande wat van bord na mond beweeg, soos een non se weer­kaatsing in ’n kamer vol spieëls.

      Toe die laaste bord leeg is, kom Suster Rut regop, draai na hulle en sê: “Keneuoe. Ek wis jy wil Moeder Motle spreek; dit is waarom julle meegekom het. Sy is helaas verswak vandag. Moontlik môre.”

      En net daar, in die halfdonker eetkamer, sien Aga hoe Jesse haarself bymekaarmaak en besluit om die bul by die horings te pak. Die bom te laat bars. Sy lig haar hand soos iemand wat ’n spreekbeurt verlang en sê helder en duidelik: “Dis te verstane dat Moeder Motle nie wel is nie, Suster Rut. Vandag is die dag waarop hulle haar seun graf toe gedra het.”

      Daar is drie tellings doodse stilte, dan begin die Susters in Sesotho babbel, hoog en histeries. Suster Rut kry vir Jesse aan die arm beet. “Keneuoe. En Agathe. Kom spreek my onmiddellik in my kantoor. Sonder verwyl.”

      Haar stem ysig soos die winterwind oor die Vrystaatse vlak.

      — Ons het almal verdor soos blare —

      Waaraan is die Herder dood en hoe vind ’n mens uit as jy nie sy naam of titel mag uitspreek nie?

      Aga se kop is aan die gons, ’n miernes vol boodskappers en werkers wat aflosstokkies aangee, oor bruggies spring, paadjies bou. Sy is gek oor raaisels en logika-legkaarte. Trek ’n rooster op, maak kruisies, elimineer moontlikhede tot die enigste skuldige oorbly. Sy weet nou Jesse se oom was nie Jesse se ouma se kind nie, maar die buite-egtelike seun van Motle die moederowerste en Jesse se oupa, die eerste Herder. Dus was hy Jesse se ma se halfbroer. Was dit ’n oop geheim? Hy is deur Oumie groot­gemaak soos haar eie, het Jesse gesê. Aga dink terug aan hul enigste ontmoeting twee aande gelede, in die maanlig. Hy het eerder vaagweg Oosters as half-Basotho gelyk; die blas, be­plooide Herder. Motle het mos ’n aangenome kind, Fumane, ma van die vermoorde Kotsi. Waar is Fumane? Volgens die koerantberiggie behoort sy aan die sekte. Sy was nie een van die elf Susters wat voor die ete aan hulle voorgestel is nie. As sy ’n kind het, kan sy seker nie ’n non wees nie? Sy reken Jesse se oom was diep in die sewentig. Hoe oud is sy ma, Moeder Motle dan? En Oumie?

      Hulle sit in Suster Rut se kantoor, ’n klein vertrek met een hoë, ronde venster, een lessenaar, vier stoele. Sy is kalm-briesend. “Jy is bekend met ons kultuur, Keneuoe. Ek verwys nie na die Sesotho-kultuur nie, maar dié van die Ongeskonde Susters.”

      So. Uiteindelik weet Aga wat hulle hulself noem, die soge­naam­de Sêsis. Die Ongeskonde Susters klink soos die naam van ’n alternatiewe Afrikaanse girl band.

      “Ons orde is gebou op dissipline en diskresie. Ons blaker nie somaarso inligting uit nie. Jy het in kwader trou gespreek, vurige kole op die hoof gewerp.”

      “Ek is jammer, Suster Rut. Ek beroep my op vergifnis. Ek wou reaksie uitlok, ’n sweer oopsteek. Hoe is iets ’n geheim as almal dit weet? Is dit ’n geheim omdat niemand daaroor praat nie?”

      “Die helfte is jou nimmer vertel, Keneuoe. Jy sien deur ’n spieël in ’n raaisel. Soms is ’n geheim bloot ’n halwe waarheid. Onder die water lê ’n hele stad versteek. Daar is dinge wat ons nie aanraak of bevraagteken nie.”

      “Dis heel digterlik, maar ek is moeg van spreekwoorde en kodes, Suster Rut. Ek het grootgeword op ’n dieet van gelykenisse en fabels, van kindsbeen af. Ek wil weet. Dis my familie. Hoe is hy dood?”

      Aga kom agter dat Jesse ook meer formeel en outyds praat, met ’n skeut Bybelvers hier en daar ingegooi. Dis aansteeklik.

      “Hy is aan natuurlike oorsake heen, ’n hartaanval. Die skok van jou koms het gewis iets daarmee te doen gehad. Lykskouing is in ieder geval teen ons geloof. Dit gaan gewis weer ’n lollery afgee met die polisie. As die wêreld ons maar in vrede wou laat, soos ons vir hulle. Julle is welkom om te vertoef, maar julle sal hand aan die ploeg moet slaan, skouer aan die wiel moet sit. Julle sal teen vieruur gewek word. Onthou jy nog hoe om te melk, Keneuoe?”

      “Met een hand? Liewe land. Ons sal inval, maar mag ons eerder in die groentetuin diens doen? Wanneer die son al op is, Suster Rut.”

      — Wat buig jy jou neer, o my siel —

      Aga skrik wakker. Sy ruik Jesse se wonderbaarlike reuk – rosy­nebrood en anys. Daar is ’n klop aan die deur.

      Dis Suster Rut. Sy lyk vriendeliker vanoggend. Haar gelaat, die kleur van gepoleerde hout, het die sweem van ’n glimlag.

      Aga waag ’n vraag: “Suster Rut. Die koerantberig het gesê die seun wat dood is se ma, Fumane – Jesse sê sy is Moeder Motle se aangenome dogter – is ook ’n lid van die … Volgelinge. Sy wou glo nie kommentaar lewer nie. Is Fumane dan ’n On­geskonde Suster? Is sy hier? Of waar is sy?”

      “Agathe. As die koerante ons maar met rus wou laat. En hul feite juis hou. Hulle is leuenagtig en agtelosig. Fumane is wêrelds, geen Volgeling of Suster nie. ’n Goue ring in ’n vark se snuit, so is ’n vrou wat mooi is maar sonder beleid.”

      Die vervlietende sweem van ’n glimlag is nou weg. “En sy kon onmoontlik geweier het om kommentaar te lewer; sy is reeds maande lank vermis. Hulle het sekerlik verwys na Moeder Motle wat haar nie sou verwerdig om met die pers te praat nie. Ons het hulle ieder geval nie naby haar toegelaat nie. Aanstons is hulle weer op ons drumpel om soos verhongerde roofdiere rond te snuffel oor die jongste sterfte.”

      Jesse kom regop en sit haar hand op Suster Rut se skouer, sekuur. “Hoe gaan dit vandag met Moeder Motle? Sal sy bereid wees om met my te praat, Suster Rut?”

      “Inderdaad. Ons Moeder het ontwaak. Haar gees is helder vandag. Volg my.” Sy draai haar rug op hulle. Dit lyk asof die oudiënsie teen haar sin en beterwete gaan geskied. Hulle glip blitsig hul swart gewade aan.

      Moederowerste se kamer is groter, maar ook ontdaan van versiering. Dit ruik na gras, kamfer en bloekom. In die middel van ’n reusebed lê ’n groot lyf onder ’n wit deken. Net haar rustige gesig en pofferhande steek uit. Sy haal stadig asem. Sy moet baie oud wees, maar sy lyk heelwat jonger as Oumie. Sy is lieflik, met ’n vel soos fyn perkament, gepoleerde ivoor; haar gelaatstrekke Oosters. Sy is bleek soos ’n koninginby. Haar teenwoordigheid boesem ontsag in. Aga

Скачать книгу