Скачать книгу

maklik in die storie begewe nie. Hy’t sy siel verkoop vir geld.

      Hy groet nie, gooi net die koerant voor sy kollegas op die lessenaar neer. “Hel, manne, nou is daar ’n Suid-Afrikaner ook betrokke! Ek hou nie hiervan nie!”

      “Kalm bly, Brink,” sê Ben sonder om na die koerant te kyk. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

      Dolf trek sy skouers op. “Ek ook nie.”

      Brink druk met sy voorvinger op die voorbladopskrif Suid-Afrikaner in Nigerië ontvoer, 23 doodgeskiet. Toe hy praat, weerklink sy stem in die ruimte. “ ’n Suid-Afrikaner wat vir ’n oliemaatskappy werk, is drie dae gelede ontvoer en drie en twintig mense is dood. As gevolg van die wapens wat ons vir die bliksems voorsien.”

      Ben vee die koerant van die lessenaar af. Sy wange is rooi. “So bloody what! Omdat daar nou ’n Suid-Afrikaner betrokke is, gee ons media vir die eerste keer aandag daaraan. Wat dink jy doen die rebelle met die wapens wat ons vir hulle voorsien? Hulle skiet mense en hulle ontvoer mense. Daar was die afgelope nege jaar dwarsoor Afrika soortgelyke voorvalle. Ons lees net selde daarvan. Hoekom pla dit jou nou skielik!”

      Brink skud sy kop. “Boys, julle het net so gewetenloos soos die rebelle geword. Die man het ’n vrou en twee dogters en … ”

      Dolf onderbreek hom. “Brink, ons ooreenkoms was van die begin af dat ons nie in die politiek gaan betrokke raak nie. Ons voorsien die wapens en hulle doen daarmee wat hulle wil. Moet in hemelsnaam nie op een van jou fokken etiese trips gaan nie.”

      Brink wil daarop reageer, bedink hom en besluit op ’n ander invalshoek. Hy beduie na die koerant op die vloer. “Dit gaan die kollig van voor af op onwettige wapenhandel plaas. Die Suid-Afrikaanse owerhede gaan nou betrokke raak. Ons kan só ons gatte sien.”

      Ben lag. “Jy bly maar ’n ou pessimis. Die ontvoerde Suid-Afrikaner werk sekerlik vir ’n Amerikaanse of Britse maatskappy. Ons owerhede gaan terugsit tot die maatskappy ’n eis van die ontvoerders ontvang, wat in elk geval onmiddellik betaal sal word. Buitelanders word jaarliks in hul honderdtalle in Nigerië ontvoer, almal kom ongedeerd daarvan af. Die oliemaatskappye kan nie bekostig om nie te betaal nie.”

      “Daar is drie en twintig Nigeriërs doodgeskiet, boys.”

      Ben kom uit sy stoel orent en leun vooroor. “Brink, daar word jaarliks duisende mense in Afrika doodgeskiet. Met of sonder ons wapens. Ons voorsien wapens aan diegene wat dit nie op ’n wettige manier kan bekom nie. Baie van hulle het oor jare deur ’n staatsgreep met dié onwettige wapens aan bewind gekom. Hulle sit nou in regeringstoele en is volgens die Verenigde Nasies daarop geregtig om deur die wettige kanale wapens aan te koop. Die vorige regeringslede is nou die rebelle. Is dit meteens verkeerd om onwettige wapens aan hulle te voorsien? Wie is die goeie ouens en wie is die slegte ouens? Vandag se rebelle is môre se regering. En andersom. Dis hoe Afrika werk. Moenie jou kop breek oor die dinamika van Afrika-politiek nie.” Ben sak terug in sy stoel. “Ontspan net, ons koffie word koud.”

      Brink vryf oor sy voorkop. Hy het geweet hy gaan teenstand kry, maar hy móét sê hoe hy voel. Hulle is immers sy vennote. “Kêrels, ek weet nie of ek met dié storie kan voortgaan nie. My gewete ry my. Ek kan snags nie slaap nie. Die Taliban-ding pla my ook … ”

      Dolf slaan sy oë op na die plafon en hou sy kop vas. “Ag nee, fok, hoeveel keer is ons nie al deur daai storie nie?”

      Ben se oë trek op skrefies, sy stem sny deur die vertrek. “Reg, Brink, klim uit! Jy weet goed wat ons ooreenkoms is. Jy gee alles terug vir die maatskappy wat jy verdien het terwyl ons wapens verkoop het. Dit beteken jy sal jou fokken fancy mansion in Rondebosch moet verkoop, jou meubels, jou vrou se juweliersware, jou blink Merc, jou vrou se TT, julle skilderye … en amper vergeet ek, jou Plett-vakansiewoonstelletjie met die see-uitsig. En jy fokken trek terug Monte Vista toe en gaan hou skool. Ons sal jou aandeel in die vervoerbesigheid en die kapitaal wat jy destyds neergesit het toe ons begin het, vir jou met rente terugbetaal. Dalk kan jy daarmee, as jy gelukkig genoeg is om donnerse gróót bargains raak te loop, ’n drieslaapkamerhuis en ’n tweedehandse Golf bekostig.” Hy hamer met sy vuis op die lessenaar. “Hou op dreig. Maak jou mind nou op en sê vir ons waar ons met jou staan.”

      Brink kyk na sy jare lange vriend. Hy ken hom nie meer nie. Ben het hard en ongenaakbaar geword. Tog weet hy Ben sit met die troefkaart. Dié ding waarin hy homself laat beland het, het hom stewig aan die knaters beet. Uitkomkans bestaan nie.

      Hy sug. “Oukei, vergeet ek het dit gesê. Ek sal met my gewete probeer saamleef.” Hy weet hy sal nie kan nie, maar hulle sal dit nie begryp nie.

      “Reg.” Ben frons nog. “Laat ons begin. Ek het vir Yuri ’n lys van ons Taliban-bestelling deurgefaks. Oor twee dae kry ons hom in die Oekraïne. Vandaar neem hy ons na die wapenopslagplek. Dit sal dan iewers langs die kus afgelewer word. Ons sal moet inspeksie gaan hou voordat die vrag gelaai word. Een van ons sal die kaptein op die skip moet vergesel om seker te maak die goed word reg oorhandig en ons kliënt is tevrede. En om die geld in ontvangs te neem. Dit gaan ’n maklike operasie wees. Min sweet en byna geen risiko’s nie.” Hy sit ’n raamlose leesbrilletjie op die punt van sy neus en bestudeer vlugtig ’n vel papier. “Volgens my rooster is dit jou beurt, Brink. Reg so?”

      Brink voel hoe die swaarmoedigheid hom oorval. “Ek het vir julle gesê ek sal verkies om nie met die Taliban te werk nie. Ek sal opmaak daarvoor deur in te staan vir van die ander Afrika-trips.”

      “Brink, as jy wil deel in die wins, werk jy streng volgens ons skedule. Ons het laas ooreengekom ons gaan nie daarvan afwyk nie,” laat Dolf hoor.

      Brink gooi sy hande in die lug. “Oukei, oukei, ek sal op die verdomde skip wees. Enigiets anders op die agenda?”

      “Nee,” antwoord Ben.

      Brink kom orent, tel die koerant van die vloer af op en stap uit die raadskamer.

      “Ek is bekommerd oor ons partner,” sê Ben toe die voetstappe in die gang vervaag. “Baie bekommerd.”

      “Hy’s deesdae ’n pyn in die gat.” Dolf staar na sy hande, lag dan skielik. “Hy’s vol kak, maar ons sal hom maar moet verdra.” Hy staan op. “Ek wil nie eers verder daaroor praat nie. Dit maak my moeg net om daaraan te dink. Ons sal maar net met hom moet saamleef.”

      “Jy’s reg, ons het nie ’n ander keuse nie.” Ben tokkel met sy vingers op die lessenaar.

      9

      Sy bestemming is ’n kantoorgebou in Groenpunt, weg van die spesiale aksie-eenheid se kantoor. Dit is naby genoeg aan sy hotel dat hy kan stap.

      Op pad soontoe merk Carl die motor op. Die bestuurder lyk verdag. Hy sit laag agter die stuurwiel, ’n kep oor sy oë getrek. Die man wat die motor nader, kyk eers angstig rond. Dan rek hy sy treë en buk by die oop ruit. Die ruiltransaksie vind vinnig plaas: die bestuurder oorhandig ’n pakkie en neem met sy ander hand die koevert by die voetganger. Die wiele van die dwelmtrein draai weer, weet Carl.

      Hy kom byna tot stilstand. Sy eerste gedagte is om die motorbestuurder te bestorm. Maar hy bedink hom betyds en stap gelate voort. Die polisieman in hom is klaarblyk­lik nog nie begrawe nie.

      Maar hoeveel van die ou Carl Bester het behoue gebly? Drie jaar lank was hy verskans agter die masker van ’n dwelmhandelaar, sy baard, lang hare en sliertige voorkoms ligjare verwyder van sy beeld as skoongeskeerde en onkreukbare geregsdienaar. Soms het hy gevoel soos iemand met ’n gesplete persoonlikheid, dan dokter Jekyll, dan meneer Hyde. Hoeveel keer was hy nie aan die voorpunt van dwelmtransaksies nie? Hoeveel keer het hy nie meegedoen aan martelsessies nie? Alles in belang van die groter saak, het sy polisiekontak hom bly gerusstel.

      Maar soms het die skeidslyn tussen sy twee rolle vervaag. Dan het die opwinding van sy rol as skurk sy adrenalienvlakke hoër laat styg as tydens enige polisie-ervaring. Het daardie lang blootstelling aan die onderwêreld sy oordeel verwring? ’n Skadusy van hom ontbloot waarvan hy nie bewus was nie? Dis nie vrae wat hy die afgelope tyd kon beantwoord nie. Maar dié twyfel oor sy moraliteit kom elke nou en dan ongevraagd by hom op.

Скачать книгу