Скачать книгу

pensioengeld nie ’n plaas koop nie, beswaarlik vir ’n ordentlike deposito sorg. Hy het navraag gedoen by ’n eiendomsagent in die Klein-Karoo wat hy skrams geken het. Bester het die plaas kontant gekoop. Byna nege miljoen rand daarvoor betaal.

      Wessels het by kollegas van Bester stories gehoor van dat hy die Lotto gewen het. Bester het skynbaar so gesê vir Henk Goosen, wat lank saam met hom in Johannesburg gewerk het en daarvoor bekend is dat hy nie ’n geheim kan hou nie.

      Maar Wessels moes vir seker weet. Hy het ’n lys van die afgelope twee jaar se Lotto-wenners in die hande gekry onder die voorwendsel dat dit met ’n polisie-ondersoek verband hou. Daar was nie ’n Carl Bester onder die name nie. Hy was, om die minste te sê, teleurgesteld dat dit nie die geval was nie.

      Hy wou steeds nie glo wat hy vermoed het nie. Nie van Carl Bester nie. Hy het weer die nou leë dwelmstoor in die Worcester-distrik besoek, lank gedink oor hoe Bester soveel geld in so ’n kort tydjie kon laat verdwyn. Bester het in sy verslag genoem hy het die dwelmstoor drie dae lank van ’n beskutte plek dopgehou.

      Wessels het die omgewing begin fynkam. Dit het hom twee dae geneem voor ’n klomp los takke langs ’n opening onder ’n krans sy aandag getrek het. Hy het tussen die takke rondgekrap. Daar was geen teken van die geldsakke nie, maar hy het tussen die gras op die rolletjie note afgekom.

      Hy moes teen sy sin toegee sy vermoedens was onteenseglik in die kol. Carl Bester het geld gesteel … miljoene der miljoene rande vir homself toegeëien.

      Wessels het nie sy bevindings met sy kollegas gedeel nie, maar het menige slapelose nag daaroor gehad. Soms het hy gewonder wat hy sou gedoen het as hy in Bester se skoene was. Dit was dwelmgeld. Die versoeking moet enorm gewees het. Niemand behalwe hy het geweet hoeveel geld daar was nie. As Wessels aan die spanning en opoffering van drie jaar se ondergrondse werk blootgestel was, sou hy dit moontlik ook oorweeg het. Bester het immers die grootste dwelmnes in die geskiedenis blootgelê. Hy het met sy eie lewe gedobbel ter wille van die saak. Hy het dalk gevoel hy is op ordentlike vergoeding geregtig, iets wat hy nie by die polisie sou kry nie.

      Maar Wessels het besef hy is besig om diep te grawe om Bester se optrede te regverdig, juis omdat dit hy was. As dit enigeen van sy ander manne was, sou dié toe al agter tralies gesit het. Bester het indirek van die staat gesteel. Dwelmgeld gaan na die staatskas. Dit is en bly ’n ernstige en onverskoonbare misdryf.

      Nou, vandag, glimlag Wessels wrang. Hy het lank genoeg daaroor gepeins en tot ’n besluit gekom. Hy weet hy plaas sy eie loopbaan op die spel, maar hy glo Bester sal saamspeel.

      Hy gaan nie veel van ’n keuse hê nie. Wessels ry môre voor sonsopkoms Klein-Karoo toe.

      4

      Hy hou sy vrou dop terwyl sy die laaste verstellings aan die silwereetgerei op die tafel maak. Sy staan terug en beskou die prentjie ingenome.

      Brink van Dyk kan nie help om te glimlag nie. Na tien jaar moet sy haar seker nog gereeld knyp om seker te maak sy droom nie. Hulle het ver gekom in dié tyd. As onderwyser kon hy destyds skaars hul nederige huisie in Monte Vista bekostig. En nou voer hulle ’n multimiljoenêrsbestaan in ’n herehuis in Rondebosch.

      Hy kyk na die hoë wit staalplafonne, die indrukwekkende kroonkandelaar, die twee kleurvolle Irma Sterns teen die muur, die glimmende geelhouttafel, die wit rose in die kristalhouer, die Royal Albert-borde.

      Waar’s die dae toe hulle, die Haarhoffs en Malans om die beurt ’n maandelikse braai by hul beskeie wonings gehou het? Soms was die porsies maar klein, veral by hulle en die Malans, dink hy glimlaggend. Ben Haarhoff was darem altyd ’n trappie hoër op die welvaartsleer.

      Meteens verlang hy na daardie tye.

      “Louise, wanneer gaan ons weer net ’n goeie ou boere­braai hê soos in die ou dae? Hierdie formele etery gee my eintlik die horries.”

      Sy glimlag. “Ek dink dikwels terug aan daardie tyd. Maar ek wil nie afsteek by Melanie en Alta nie. Hulle het die afgelope twee maande vreeslik uitgehang, jy weet mos. En buitendien, dit is tyd dat jy ’n bietjie beter smaak openbaar en begin om die fyner dinge in die lewe te waardeer.”

      “O Vader,” sê Brink, “jy klink nou net soos hierdie professor van langsaan se grênd vrou. Tog só intellektueel. Jy’t in Kraaifontein grootgeword en was ’n assistenthaarkapper toe ek jou leer ken het. Drop asseblief die pose.” Hy voel onmiddellik sleg toe hy dit gesê het, maar dit broei al lank in hom. Hy lig sy hand. “Jammer, ek’t dit nie bedoel nie!”

      “Dis nou te laat,” laat hoor sy vies. “Jy kan tog so mislik wees wanneer jy tyd kry! Gaan kyk eerder of jou wyn reg is. Onthou, die vroue verkies chenin blanc. Die De Morgenzon en Beaumont se Hope Marguerite gaan goed by winterskos.”

      “Ja, bla, bla, bla … Ons mans sal sommer gewone bier vir ’n afskop drink.”

      Brink stap na die kroegkamer, maar sy gedagtes is nog in die verlede en nie by Louise se instruksies nie. Hy dink vir die soveelste keer terug aan daardie spesifieke aand by Ben se huis. Dit was vir hom ’n moeilike besluit.

      Hy, Dolf en hul vroue het daar gebraai, dit was die Haarhoffs se beurt. Brink en Dolf het gekla oor die gebrek aan geld en hul vooruitsigte as onderskeidelik onderwyser en amptenaar by die munisipaliteit. Dolf was ook bekommerd oor die golf van regstellende aksie wat deur die munisipaliteit getrek het. Hy was onrustig oor sy posisie.

      By nabetragting weet Brink hulle het albei mooi in die strik getrap. Ben het net gewag vir ’n aanknopingspunt sodat hy sy voorstel kon maak. Die vroue was boonop in die huis en die mans alleen by die vuur.

      “Julle is reg,” het Ben gesê, “julle moet daaraan dink om vir julleself te begin werk soos ek. In die ou Suid-Afrika was die onderwys, die staatsdiens en Sanlam veilige hawens vir ons Afrikaner-siele. Dinge gaan vorentoe nóg baie verander. Die wittes in die land sal donners vinnig entrepreneurs moet raak. Dis die slegte nuus; die goeie nuus is daar buite wag ’n moerse klomp geleenthede.”

      “Met alle respek, Ben, jy’t jou pa se vervoerbesigheid geërf. Ek en Brink het nie daai hupstoot gehad nie,” het Dolf gesê.

      “Jy hoef nie geld te hê om geld te maak nie, Dolf. Jy moet net slim wees, geleenthede raaksien, kanse waag. Ek gaan nie ryk word uit my vervoerbesigheid nie. Dalk welaf, maar nie skatryk nie. Daar’s egter baie ander geleenthede wat ek nie deur my vingers gaan laat glip nie.”

      Toe was hy reg om die geelwortel uit te hou.

      “Soos?” wou Brink weet.

      “Dis waaroor ek vanaand met julle twee wil gesels. Ek soek partners in ’n nuwe venture. Maar dit gaan guts vereis. Beslis nie vir sissies nie. Daar is dalk risiko’s, maar die geleenthede is onbeperk,” het Ben op sy gladde manier gesê.

      “Vertel, ons ore is gespits,” het Dolf geantwoord.

      Terwyl Ben die vleis op die rooster omgekeer het, het hy gepraat en Brink en Dolf het in stilte geluister. Eers toe die vleis gaar was, was hy klaar.

      Brink se eerste reaksie was: “Hel, man, dis ’n gevaarlike storie. ’n Mens kan in groot strooi beland as hulle jou vang!”

      Ben het gelag. “Wie gaan jou vang?”

      “Die polisie, wie anders?”

      “In die nuwe Suid-Afrika! Die polisie gaan besig wees met ander goed. Moord, roof, dwelms, verkragting, noem maar op.”

      “Ek moet toegee, jy laat die hele storie werkbaar klink. Maar kan jy die Nigeriërs vertrou?” het Dolf gevra, sy voorkop op ’n plooi getrek.

      “Nie almal van hulle nie, maar jy moet net jou partner reg kies. My kontakman het klaar vyf potensiële kliënte geïdentifiseer wat nie kan wag dat daar só ’n operation in plek moet kom nie. Dis gewaarborgde besigheid van ’n paar miljoen rand. En dis maar net die begin!”

      “Ek sal moet dink daaroor,” het Brink gesê. “Ek wil nie my laaste dae in ’n tronk slyt nie! Ek het ’n gesin om voor te sorg.”

      Ben

Скачать книгу