Скачать книгу

      “’n Kilimanjaro, asseblief.” Nege voor sewe.

      Die bier wat sy ’n rukkie later voor my neersit, is yskoud. Fyn kondensasie sweet teen die bottel af. Ek kyk na die man met die wit pet wat steeds aan sy warm bier drink. Daardie asseblief moet gehelp het.

      Ek sluk die Kilimanjaro vinnig, en vir ’n paar oomblikke vergeet ek van die hitte. Die man met die pet lig sy bier in ’n verbaasde saluut toe ek die leë bottel hard neersit. Ek wys vir die kelnerin, terug agter haar koerant, dat ek nog een wil hê. Sy knik haar kop en glimlag vir die eerste keer.

      Ek leun terug in my stoel. Net dalk is vanaand my gelukkige aand.

      Almal kyk op toe sy inloop, selfs die kelnerin, wat haar sekerlik moet ken. Ranna het “Hardings” gesê soos ander mense na hulle huise verwys.

      Ek hoef nie op my horlosie te kyk om te weet sy is laat nie. Dis ’n halfuur ná my eerste bier en Hardings het volgeloop met elke aksent en kleur denkbaar. Dis morsig en raserig hier binne – presies soos die fotograaf daarvan hou, raai ek.

      Sy kom sit en vee vlugtig oor my voorarm. “Jammer ek is laat.”

      Sy bedoel dit nie, maar die glimlag is eg.

      Sy ruik soos suurlemoen en kaneel. En iets anders. Rook. Maar nie sigaretrook nie. Iets swaarders. ’n Pyp? Sigare? Ek kan dit nie plaas nie, en wil nie tyd mors om aan te hou probeer nie. Wat maak dit saak? Sy is hier.

      “Wat wil jy drink?”

      Sy wys na die Kilimanjaro in my hand. “Dit lyk lekker. Is hulle koud?”

      “Yskoud.”

      “Dan wil ek beslis een hê.”

      Sy draai om om die kelnerin nader te wink, maar die kort, ronde vrou met die blou T-hemp staan reeds agter haar.

      “Maggie! Goed om jou weer te sien.” Ranna vou haar hande om die ander vrou s’n. “Hoe gaan dit?”

      “Goed.”

      Die kelnerin se glimlag is die breedste wat ek nog vanaand gesien het.

      “En met jou broer? Is hy al beter?”

      “Hy begin môre weer werk.”

      “Ek’s bly.”

      “Ek ook. My rug is af. Wat kan ek vir jou kry? Die gewone?”

      “Vanaand soek ek ’n bier, asseblief. Selfde as hy.”

      Maggie frons. “Jy word sleg dronk op bier. Onthou die kopseer.”

      Ranna knipoog. “Wie sê ek gaan dronk word? Buitendien, hierdie man is ordentlik. Kan jy nie sien nie? Kyk sy hemp. Hy sal sorg dat ek veilig by die huis kom.”

      Maggie meet my met haar oë. Sy lag, skud haar kop en draai om.

      Ek is minder beïndruk, kyk omgekrap na my strepieshemp. Ordentlik? Wil ek ordentlik wees? Ís ek ordentlik? Ek het geweet ek moes iets anders aangetrek het.

      “Moenie so kwaad wees nie,” sê Ranna asof sy kan sien wat ek dink. Sy vat die bottel uit my hand en drink die helfte van die bier met twee haastige slukke. “Dis goed om ordentlik te wees. Min mense is ordentlik.”

      “Hang af wat jy met ordentlik bedoel.”

      Sy dink vir ’n oomblik. “Dit beteken jy sal my in die bed sit sonder om self in te klim.”

      “Dan weet ek nie of ek ordentlik wil wees nie.”

      Ek kyk hoe die lag oor haar lippe mors saam met die laaste van die bier. Sy keer dit met ’n vinnige hand. “Dis nie ’n baie ordentlike aanmerking nie.”

      “Ten minste stem ons saam. So ek is nie ordentlik nie?”

      Sy wil antwoord, maar dan trek iets, of iemand, agter my haar aandag. Sy vee die digte swart krulle terug oor haar skouers. Rek haar nek om verby my te kyk. Haar blou oë, bleker vandag teen haar wit hemp, word skerp soekligte, net om te vervaag met iets soos teleurstelling. Uiteindelik kom hulle terug na my toe.

      Ek draai om, maar sien ’n see van mense. Is dit iemand wat sy ken?

      Sy sit die leë bierbottel neer, die klank hard genoeg om my aandag weer by haar te kry. Sy torring aan die etiket om die bottel se nek.

      “Ek ken mense,” gaan sy voort asof niks gebeur het nie. “Jy kan keer soos jy wil: jy is ’n decent ou. Iets het jou lank terug saggemaal en uitgespoeg. En dis te laat om nou iets daaraan te doen.” Sy los die bottel en draal ’n lui wysvinger teen my voorarm af. “En nee, daar’s niks fout met sagter nie. Sagter slaap baie beter.”

      “Sagter is seker okay.” Ek dink ’n oomblik, besluit om van die mense agter my te vergeet. “Ordentlik seker ook.”

      Sy lag. “Nou wat stry ons dan? Hoe lyk dit met nog ’n bier?”

      5

      “KLAAR!” SKREE RANNA. SY KAP DIE BOTTEL op die tafel neer. Dit wankel na regs, na links, maar bly uiteindelik regop staan.

      Die mense langs ons klap entoesiasties hande. Dis ’n handvol Duitse toeriste wat môre Serengeti toe vertrek, almal van hulle met stywe breërandhoede en ligbruin leerskoene met skoon sole.

      Ek sluk die laaste van die Kilimanjaro en druk die koue bottel teen my voorkop waar ’n hoofpyn reeds skuil. “Jy wen. Al weer.”

      Sy hou haar hand uit. “Dis vyf dollar, dankie.”

      “Jy maak my bankrot. En wie het besluit ons speel in dollars?”

      “Jy kan dit terugwen as jy wil. Wie ook al die volgende resies wen, vat alles.” Sy wys na die hopie gekreukelde note voor haar.

      Ek tel die bottels aan haar linkerkant. Elf. Die meeste mans sou nou al op die grond gelê het, of ten minste ’n paar onsamehangende dinge oor hulle ekse uitgelap het. Ek het agt biere in en dis meer as genoeg. Die geluide om my klink vaag, veraf. ’n Brak smaak stoot in my keel op.

      Waar’s Maggie? Miskien kan sy help.

      Ek kyk om, sien haar agter die kroegtoonbank staan, haar skouers stram onder die T-hemp. Sy kyk na Ranna en dan na my. Haar gesig sê sy wil niks weet nie. Sy haal ’n geel lap van haar skouer af en begin die ry bierglase voor haar droogvryf.

      Ek draai terug na ons tafel. “Ranna,” probeer ek oor die gedreun van stemme sê. Dan harder: “Ranna, nee. Kom nou. Dis tyd om huis toe te gaan.” Ek streep my vinger oor my keel. “Genoeg.”

      Haar glimlag verdamp oombliklik. Haar oë word ’n yskoue blou. “Ek gee jou die kans om jou geld terug te wen en jy chicken uit?”

      “Jy’s heeltemal reg. Ek wil nie meer drink nie. Kom ek vat jou huis toe.”

      “Ek gaan nêrens heen nie.” Sy wys vir Maggie om nog ’n bier te bring, maar die kelnerin skud haar kop. Sy beduie van Ranna na my.

      Ek kry die boodskap: die fotograaf is my verantwoordelikheid.

      Die Duitse toeriste, wat ons gesprek probeer volg, lyk omgekrap. Asof ek hulle aand gaan bederf as ek Ranna nou huis toe neem. Hulle mompel onder mekaar.

      Ek ignoreer hulle. Môre is hulle weg en dan is ons steeds hier. En buitendien, ek hou van Hardings. Ek wil nie hê Maggie moet my die plek belet nie.

      “Hoekom wil jy nog drink?” Ek laat sak my kop met gemaakte nederigheid. “Jy’s verreweg die beter drinker. Face dit: ek gee oor.”

      Eers pers sy haar lippe saam. En dan, onverwags, leun sy oor die tafel, haar mond skielik ’n wye glimlag. Van ys na water in een onvoorspelbare sekonde.

      “Wat wen ek?” daag sy.

      “’n Week se biergeld.” Ek beduie na die hoop note voor haar. “En iemand – iemand ordentlik – om saam met jou huis toe te loop.”

      “Ek dog jy’s nie ordentlik nie.”

      “Ek

Скачать книгу