Скачать книгу

die grond staan. “Maar wag net ’n bietjie.”

      Ranna knik.

      Die vrou beduie vir die bestuurder om te ry. Toe skuif sy almal reg vir ’n foto. Uiteindelik gaan staan sy tevrede in die middel van die groep vroue. Sy beduie met haar kop dat Ranna kan neem.

      Tik-tik-tik.

      “Jy sal later vir my gee, nè?” Die vrou stryk oor haar blink, swart hare.

      “Ja,” antwoord Ranna. “Jy lyk pragtig.”

      Die vrou skuif haar rok reg en glimlag trots. “Dis ’n baie spesiale dag.”

      2

      EERS LATER DIE AAND VIND EK UIT HOE EK EN RANNA by dieselfde troue beland het. En dat ons Afrikaans met mekaar kan praat, al verdof haar g’s en r’e soms omdat sy al so lank uit Suid-Afrika weg is. Dís wat so bekend geklink het aan haar aksent.

      Ranna se vriendin, Hadhi, is die bruidegom se ma. Haar seun – haar oudste – trou met ’n dokter wat in Dar es Salaam praktiseer. Hadhi, al diep in haar vyftigs, besit die huis waar Ranna ’n kamer huur. Sy noem Ranna Miss America omdat haar Suid-Afrikaanse ma en Israeliese pa vyftien jaar gelede New York toe getrek het. Agter die liggies aan. En natuurlik die geld, het Ranna gespot toe ek vra.

      Ek is na die troue genooi omdat ek ’n artikel geskryf het oor Hadhi se aanstaande skoondogter en die vigskliniek wat sy vir sekswerkers begin het. Dit was my eerste artikel in Tanzanië en dit het op bladsy 28 van The New York Times verskyn. Ek was so trots daarop, dit was asof dit my heel eerste artikel was. Uiteindelik het my naam ook in die bybel van joernalistiek verskyn.

      Ek besef ek het nog nie baie hard gewerk vandat ek hier aangekom het nie, maar ek wonder hoekom ek Ranna nou eers raakloop. Uiteindelik besluit ek dis ’n goeie ding dat ek haar eers vandag ontmoet het – by ’n troue.

      Soos die aand vorder, drink ek te veel en eet te min. Ek kuier by almal, maar dis asof ek heeltyd na die lang vrou se rustelose figuur soek. Ná die ete en drie lang toesprake kyk ek hoe sy en Hadhi dans, Ranna se hande op die veel korter vrou se skouers. Hulle kyk kort-kort na die bruidspaar en lag.

      Ranna het vertel hoe bly Hadhi is dat David uiteindelik getrou het. Nie sy óf David se broers het ooit gedink hy sal die moed hê om die jawoord te vra nie. Spoed was nog nooit vir David belangrik nie. Hadhi moes hard werk om haar oudste deur universiteit te kry en nou, amper nege jaar later, het hy sy meestersgraad in ekonomie behaal.

      Ranna se stewels trap versigtig om Hadhi se fyn swart skoene. Om en om in die bruin stof. Skielik kyk sy op, haar oë selfs blouer as wat ek onthou.

      “Neem ’n foto!” roep sy, asof sy weet my oë kan haar nie los nie.

      Sy dans nog drie tree en draai om. Sy sit haar arm om Hadhi se skouers en trek die ouer vrou teen haar aan.

      Tik, sê die Nikon wat ek vir haar oppas. Tik-tik.

      “Nog een, nog een!” roep ’n stem.

      Dis Hadhi se jongste. Die tenger seun in David se ou pak sukkel nog heelaand om die te lang moue uit sy kos te hou. Die vier seuns trek almal na mekaar: lank en lenig.

      Hy hardloop na Hadhi en Ranna. Ek neem nog ’n foto. En nog een soos meer mense om hulle saamdrom.

      Later sou ek die laaste, blyste foto op my lessenaar staan maak. En meer nog. How to survive being a correspondent in Africa, sou ek veel later aan goedgelowige joernalistiekstudente die amper uitgestorwe spesie probeer verduidelik.

      Fall in love, het ek geskryf. With the country. With the people. Maybe even with someone extraordinary.

      Never expect it to be like home.

      Home will never be the same again.

      3

      TOE DIE SON OPKOM, IS EK STEEDS WAKKER. Ek het drieuur by die huis gekom, maar kon nie slaap nie. My kop bly by Ranna en die troue.

      Miskien moet ek gaan draf. Dit help altyd.

      Terwyl ek my hardloopskoene aantrek, dink ek aan die liefdesverhale wat my ouma altyd verslind het. Sy was net so verslaaf aan die vervolgverhale op Springbokradio.

      Ek het nog nooit in die liefde geglo nie. Nee, wag – ek is seker my ouma sou van Die Liefde gepraat het. Ek het altyd gedink sy kon dit net doen omdat my oupa sewe jaar ná hulle troue dood is en sy nie weer getrou het nie, al het die mans haar deur blink geklop. Of is sewe jaar reeds genoeg om alles wat goed is te versuur?

      Ek het nooit haar siening oor die liefde gedeel nie. As ’n mens se eerste herinnering is dat jou pa jou ma só slaan dat sy nie kan loop nie, glo jy nie in ware liefde nie. In liefde dalk, as jy gelukkig is. Of dalk sommer net in ’n lyf, enige lyf, om die nagte korter te maak, die stiltes meer draaglik.

      En dis die ding. Nou skielik, net omdat ek ’n mooi vrou ontmoet het, wil ek van my pa vergeet. My ma. Die plaas. Al wat ek wil onthou, is ’n ou vrou wat my op die skouer tik en sê ek sal eendag verstaan, ook my pa en ma se dinge.

      Sy het altyd van Die Liefde gepraat en ek van Die Chaos.

      Ek ken chaos. Ek het van kleins af geleer om dit te sien kom – en van ver af te sien kom. Dis wat my veiligheid verseker het. As ek kon sien my pa gaan kwaad word, kon ek verdwyn voor dit gebeur. Soms kon ek selfs die situasie ontlont.

      Ek trek ’n skoon T-hemp oor my kop, maak die woonstelsleutel aan my veters vas. Begin strek.

      En dis die probleem: As ek Ranna sien, sien ek chaos. Sy steek haar emosies weg. Probeer inpas, oplos in die mense om haar.

      Nog meer: Dis asof daar ’n dun, snaarstywe staalkabel deur haar lyf loop. Asof sy heeltyd wag vir iets om te gebeur.

      Ek wonder hoekom.

      Die uitvoerende hoof van Lion Mining se ontvangsarea is vol chroom en glas, soos dit seker hoort by ’n mynmaatskappy wat op die Kanadese aandelebeurs gelys is. Hy is steeds besig met ’n vergadering elders, wat beteken ek moet gehoorsaam wees aan een van die eerste reëls van nuus: Ek moet wag.

      Ek leun terug in die harde stoel en strek my bene voor my uit. Onder my skree die kunsleer. Die sekretaresse, een van twee, kyk op en maak ’n vies geluid agter in haar keel. Ek glimlag halfhartig, maar sy ignoreer dit. Sy lig haar wenkbroue en draai terug na haar rekenaar.

      Haar oë skiet vuur toe my foon lui.

      “Derksen.”

      “Alex?”

      “Ja?”

      “Lus vir aandete?”

      “Altyd.”

      “Kies ’n plek.”

      “Jy ken Dar es Salaam beter.”

      “Sê sommer Dar. Goed, maak dit Hardings.”

      Ek weet waar dit is. “Klink heerlik.”

      “Sien jou seweuur.” Vir ’n oomblik is dit stil. “En, Alex,” sê Ranna, “bring bietjie meer woorde saam. Vir ’n joernalis is jy vrek suinig.”

      4

      HARDINGS SE GEEL NEONTEKEN FLIKKER ONSEKER in die bedompige lug, asof iemand dit pas aangeskakel het. Ek stoot die deur oop en kyk op my horlosie. Al weer vroeg. Dis ’n slegte gewoonte in hierdie plek.

      By die kroeg proe ’n man met ’n wit NY-pet en ’n nek so dik soos ’n boomstomp aan sy bier asof dit warm water is. In die hoek sit ’n middeljarige vrou wat ’n hamburger eet. Behalwe vir hulle is die gewildste kuierplek in Mkwepu-straat leeg.

      ’n Kelnerin in ’n stywe blou T-hemp kyk op van haar koerant toe ek inloop. Sy beduie ek mag enige plek sit. Ek kies ’n tafel van waar ek die ingang kan dophou.

      Dis net een of twee grade koeler binne Hardings as in die Februariehitte daar buite. ’n Dakwaaier sny vergeefs deur die warm lug. Regs van my is ’n nuwerige lugversorger, maar dit sal seker later eers werk, wanneer die toeriste inkom. Die sweet stroom teen my rug af. Hoekom

Скачать книгу