Скачать книгу

ONLY weer oopgaan. Dokter Lippens kom uit, wit jas oor sy arm gevou.

      Hy stap onder die akasia uit na die kar waarheen die chirurg mik. Die dokter moet sy voetstappe gehoor het, want hy kyk om, steek vas, sê verras: “Meneer Lomas!”

      “Ek wou nog iets vir jou gesê het, dokter …”

      “Wat soek jy hier? Jy hoort in die bed.”

      “Ek wou gesê het: ek het gelieg.”

      “Wat?”

      “Dat ek oor ’n maand gaan terugkom vir die regstellings aan my neus en ken. Ek’t weer gedink: ek hou van die skerp, krom neus. En ek hou van die ken. Dis ’n sterk ken, dit sê iets van my geaardheid.”

      “Dis ’n verrassing. Is jy seker?”

      “Al waarvan ek nié hou nie, is die pokmerke aan die vel van my ken.”

      “Ja, dis jammer, dis van die sepsis.”

      “My vel was altyd mooi en sag, soos ’n baba s’n. Ek hou van ’n sagte vel sonder letsels. Ou baby-face, het hulle my genoem.”

      “Veloorplantings … ons kan dit probeer. Maar kan ons môre daaroor praat, môreoggend met my laaste konsultasie voor ek jou ontslag teken?” Dokter Lippens sluit sy deur oop, sit sy dokterstas in die kar.

      Hy tree nader aan die oop deur, trek sy kamerjas uit, lê dit op die sitplek neer, vat die jas uit dokter Lippens se hand.

      “Wat doen jy nou?”

      As antwoord die lem van die Russell-mes teen die sagte vel van die kuiltjie in dokter Lippens se keel.

      “Meneer Lomas … ek …”

      “Bly stil. Druk die kar se deur toe.”

      “Ek …”

      Hy prik die vel, ’n bloederigheid verskyn.

      “Kom ons stap na die tuine daar agter. Miskien is daar ’n plek waar ons kan sit en gesels. En tjoepstil, dokter. Stap voor.”

      In die stap wikkel hy hom met ’n gesukkel in die dokter se jas in. Por Lippens met ’n stamp in die rug tot in die donkerte van die parkgronde, na ’n hoek uit sig van die sydeur en parkeerterrein. In ’n sak van die jas, langs die stetoskoop, kry hy die latekshandskoene, standaardtoerusting vir medici en paramedici in hierdie tyd van vigs.

      Hy sien die wag-’n-bietjies en frangipani’s in die glimmering van enkele straatligte, en nader, die ruie boskasie. Hy ruik die reën in die lug.

      “Oukei, ons kan hier gesels.”

      Dokter Lippens draai om. Die hef van die Russell-mes tref hom teen sy slaap, met soveel krag dat hy struikel, sy ewewig verloor, in die ruigte inval.

      Hy gaan sit bo-op die chirurg se buik, pen hom teen die grond vas, trek die handskoene aan, en sluit sy sterk vingers om Lippens se nek, kragtige duime op sy slagare, al die krag en gewig van sy bolyf en arms op die keel en nek gekonsentreer.

      “Dankie vir die nuwe gesig, dokter. Nie presies wat ek wou hê nie, maar onherkenbaar, dis die belangrikste. En ek’s jammer dat ek vir jou gelieg het. Twee keer. Ek kom nie oor ’n maand terug nie, en my regte naam is nie meneer Lomas nie.”

      Hy voel hoe die hartklop onder sy vingers vervaag soos die fladdering van ’n voël. Dan verdwyn. Om seker te maak, haal hy die stetoskoop uit en druk dit teen die dokter se bors. Niks nie.

      Hy staan op, vou die stetoskoop in die sak terug, knoop die jas toe en begin werk met die Russell-mes. Die eerste sny is aan die vel van die haarlyn op die dokter se voorkop, daar waar ’n kundige kosmetiese chirurg met sy skalpel sal begin met die prosedure vir ’n tradisionele gesigsontrimpeling. Nie die drie fyn snye vir die endoskoop se toegang vir ’n weekend facelift nie.

mask.jpg

      6. Sarajewo, Bosnië-Herzegowina, 1991 – 1993

      Vlatko Galic het kaartgespeel en gedrink en gespog oor die blonde vrou van ’n posmeester in Vukovar. Hy het geld op die kaarte verloor en gedrink en gespog oor die rooikopvrou van ’n hotelportier in Prijedor. Besope het hy gelag oor tweelingsusters in Banja Luka. En wat met hulle pa en ma gebeur het. Hy het die hele middag gedrink en vergeefs gewag op die hoer wat beloof is.

      Nou klim hy op die sewende verdieping uit die hysbak. Dis lankal donker. Hy stamp die deur van die woonstel oop, word begroet deur die reuk van kruitdampe en brandewyn. Die deur word nie gesluit nie. Niemand waag dit op die sewende verdieping nie.

      In die lig van die kaal gloeilamp teen die plafon sit-lê Zoran kop op die arms by die tafel. Die alkohol het sy sinusse laat opswel. Hy snork onrustig, haal moeilik en rukkerig asem. Grys skaduwees sonder duidelike vorm in die flou lig, van die paraffienlantern langs sy kop op die tafel, van die leë Slivo-bottel, van die AK se kolf op die vloer, die loop nog in die skietgleuf, van die leë doppies op die vloer.

      ’n Fokken oorlog, dink Vlatko. Dan onthou hy van die bibliotekaris.

      Hy skud Zoran aan die skouer en gaan staan by die venster, tuur uit in die maanlose nag. Hy kan die brug uitmaak, maar nie detail nie, in die vae gloeiing van die laaste straatlig in Vrbanja-straat voor die brug. Draai terug tafel toe.

      “Zoran!”

      Zoran lig sy kop op, vryf sy oë, vryf sy ongeskeerde wange, druk vingers deur slierte van olierige hare.

      “Die bibliotekaris. Het hy gekom? Was hy op die brug?”

      Zoran gaap. Bruin tande. Sy vingers soek die pakkie met swart seroete. Die gekrap van ’n vuurhoutjie, bytende reuk van swael toe die geel liggie flikker. Hy blaas ’n dun straal rookasem na Vlatko toe hy opkyk.

      “Ek’t hom gekry.”

      “Gekry?”

      “Ek dink ek’t die bibliotekaris doodgeskiet. En ’n kind ook. Jong seun.”

      “Jy’t twee magasyne nodig gehad vir ’n pa en seun?” vra Vlatko.

      “Fok jou,” sê Zoran. “Kom ons gaan kyk op die brug.”

      Hulle stap uit met ’n sterk flits, af met die hysbak, die paar blokke brug toe.

      “Daar’s hulle.” Zoran beduie met die flits na twee donker hope op die brug. Loop nader, steek vas, skop met die staalpunt van sy stewel.

      “Dis twee sakke,” sê Vlatko.

      “Hier’s bloed.” Die skynsel van Zoran se flitslig op ’n bloedplas.

      Vlatko buk, tel die boek op. “Jy skiet twee magasyne leeg op ’n bibliotekaris en sy seun, en al wat jy daarvoor kan wys, is ’n bloedkol en ’n boek?”

      Vlatko vou die digbundel oop, merk in die flitslig die kwitansie van ’n fietswinkel, uitgemaak aan “Tomislav Borić”, adres in Strossmayer-straat.

      “Kom!” sê Zoran.

      “Waarheen?” vra Vlatko.

      “Ons gaan soek hulle. By daai adres.”

      Hulle weet waar Strossmayer is, álmal ken Strossmayer. Nie ’n buurt waar Serwiese vegters of sluipskutters van die Romanija-korps tuis of veilig voel nie. Maar Vlatko en Zoran het nie uniforms of wapens saam nie, net ’n mes en ’n kwitansie in ’n digbundel. En dis donker.

      Hulle kry die gebou, klop aan die deur op die tweede verdieping.

      “Tomislav?” sê die vrou wat die deur oopmaak, afwagting op haar gesig.

      “Is Pa-hulle terug?” Die opgewonde stem van ’n dogtertjie agter haar.

      Die vrou probeer die deur toestamp, maar voor sy kan gil of uitroep, sluit Vlatko se hand om haar mond. “Sjuut …” sê hy met

Скачать книгу