Скачать книгу

belang in ’n kêrel nie.”

      Kallie lag sag en spottend. “Sjoe, en ek het jou nog nie eens die groot vraag gevra nie.”

      Haar wange brand. “Ek het in die algemeen gepraat, nie …”

      Kallie sê droogweg: “Toemaar. Dis goed ek weet hoe jy oor die Karoo en mans in die algemeen voel. Nou sal ek seker maak dat een van Kupido se pyle mý nie dalk kwes nie.”

      Nico kom red haar uit die aaklige verleentheid. “Tillie wil weet of Nadia vannag hier oorslaap.”

      Kallie sit regopper. “Nee, sy gaan saam terug. As dit nodig is, bring ek haar liewer in die nag weer.”

      Lisa spring op en mompel “nag”. Sy stap vies na Tillie se kamer toe. Hoe kon sy, ’n volwasse vrou, so gebabbel het en toegelaat het dat die vent haar verneder? Was dit nou regtig vir die pes van ’n mansmens nodig om so met haar die spot te dryf? Géén maniere nie!

      Sy bly staan toe Tillie wys sy moet sit. “Nee, ek kom net nagsê. Ek is moeg en as ek gestort het, wil ek dadelik probeer slaap.”

      “Shame, jy was natuurlik saam met die hoenders aan die gang.”

      Lisa knik. “En gister was dit ’n gejaag om alles gereël te kry.”

      “Ek het my vanaand gate uit geniet. Ons moet Kallie meer vir ete nooi.”

      Gmf! As sy die man nooit weer sien nie, sal dit te gou wees. “Laat Nico my kom roep as jy my nodig kry. Lekker slaap.”

      Lisa sukkel later om aan die slaap te raak. Dis die vreemde bed, en omdat sy oormoeg is, weet sy. Dis ver verby middernag toe sy opstaan en ’n glas melk gaan drink. Dis haar kuur vir slapeloosheid, en dit werk uiteindelik.

      4

      Lisa weet nie wat haar wakker gemaak het nie. Verdwaas sit sy regop, kyk in die donker rond en besef dan met ’n klein skok sy is in Nico-hulle se huis. Sy voel asof sy nog skaars geslaap het. Sou Tillie na haar geroep het? Nog dronk van die slaap steier sy in die gang af na Tillie-hulle se kamer.

      Die bondel onder die duvet is ’n slapende Tillie, stel sy vas toe sy oor haar buk. Nico se kant is leeg. Terug in die gang ruik sy die geur van varsgemaalde koffie en loop na die verligte kombuis toe. Sy gaan gou vir haar kry, dan terug in die bed klim.

      Sy staan voor die perkoleerder toe sy besef dat sy nie alleen is nie. Sy het net haar nagklere aan. Nagkléértjies, skraps en baie deurskynend. Sy draai liewer nie om nie, roer melk by haar koffie en hoop maar sy het haar verbeel.

      Maar nee, daar’s beslis iemand agter haar. Haar sesde sintuig waarsku haar dis nie Nico nie, maar sy kan nie soos ’n soutpilaar bly staan nie. Sy lig haar arms met haar beker koffie hoog om haar borste te probeer bedek voordat sy omdraai, en mors koffie oor haar toe sy Kallie met gevoude arms teen die deurkosyn sien leun.

      Sy verduur die effense brand op haar vel en gluur hom aan. “Wat soek jy so vroeg hier?”

      “Ek sou eers môresê.” Hy lyk sommer grimmig. “Ek het Nadia gebring, as jy moet weet.”

      Lisa weet sy lyk soggens soos ’n verskrikking op twee bene. Sy het nie haar gesig gewas of hare gekam nie. Haar hare! Sy het dit gewas en nooit drooggeblaas nie … Sy vergeet hoekom sy die beker so voor haar bors vashou, lig een hand en voel hoe haar hare ongetem om haar kop staan. Sy staar Kallie vies aan toe sy oë lui oor haar gly. Haastig laat sak sy haar hand toe sy besef haar borste is byna heeltemal ontbloot.

      “Loop,” sis sy. “Kan jy nie sien ek’s nie aangetrek nie?”

      Kallie staan regop. “Ek’s nie blind nie, vroumens. Dalk moet jy volgende keer dínk voor jy halfkaal in ’n ander vrou se huis rondloop. Nico is ook maar net ’n man.” Sy kyk hom verdwaas agterna toe hy soos ’n verwoede bul by die agterdeur uitstorm.

      Lisa plak haar koffie net daar neer, gaan kamer toe en sit die lig aan. “Dom, dom, dom,” skel sy haarself uit terwyl sy jeans aanpluk. Sy was deur die slaap, hoe moes sy geweet het Kallie gaan Nadia so vroeg hiernatoe bring? Sy voel verneder, maar ook briesend kwaad oor Kallie wat haar sulke growwe goed toegesnou het. Asof sy losse sedes het!

      Toe sy kalmer voel, gaan sy terug kombuis toe en sien in die verbygaan Nadia slaap vas in die woonkamer op ’n bank. Toe gaan haal sy haar koffie en maak tee vir Tillie.

      Tillie sit regop toe Lisa inkom. “Haai,” kraak sy lui. “Jy’s darem vroeg op.”

      Lisa gee die tee aan. “Kallie kan gerus douvoordag soggens sy Jeep se deur sagter toemaak,” mor sy en skuif op Nico se plek in.

      “O, was Kallie hier?”

      Sy gaan niks noem oor haar onderonsie met hom nie. “Hy’t vir Nadia gebring, sy slaap in die woonkamer.”

      Tillie skuifel badkamer toe, kom terug en drink ’n slukkie tee. “Lekker sterk.”

      “Hoe lyk dit vanoggend?”

      “Kan wees omdat ek nog nie juis beweeg het nie, maar dis ’n ou kolletjie.”

      Ingedagte drink Tillie haar tee. “Shame, ek kry Kallie so jammer. Hy kry só min rus vandat Kanna dood is en hy Nadia bedags ook nog heen en weer moet rondry.”

      Wel! Vir haar het Kallie glad nie moeg gelyk nie. Inteendeel, sy grysblou oë was skerp en wakker, asof hy goed uitgerus het. Hy gaan geen simpatie van háár kry nie, dís seker. Wie dink hy ís hy om haar so te beledig? Sy’s ’n gas hier!

      “Emma is mos daar om met Nadia te help.”

      Tillie gaap en lê agteroor. “Emma het ook kinders en snags moet sy by haar man wees.”

      “Hoekom trou Kallie nie sodat Nadia ’n ma kry nie? Hy het tog seker meisies?”

      “Daar is meisies, ja, maar nog nie die regte een nie.”

      Lisa skuif behaaglik dieper onder die duvet in en maak haar oë toe. Sy word minute later wakker van ’n gewerskaf in die kombuis.

      Tillie lê in die fetusposisie. “Ek voel goor op my maag.”

      Lisa glip uit die bed uit. “Jy moet eet. Bly lê dan gaan haal ek.”

      Truitjie het reeds ’n skinkbord reg, sien Lisa in die kombuis. “Môre, Truitjie.”

      “Dag, juffrou.” ’n Snikgeluid uit die woonkamer laat haar hardop sug. “Ag, ek sienie vamore kans virrie kleintjie nie. Ga haal juffrou haa, dan vat ekkie brekfis kamer toe.”

      “Ek wil my pappa hê,” huil Nadia toe Lisa haar optel.

      “Toemaar, jong, Tillie wag vir jou. Ons gaan nou lekker by haar kuier,” troos Lisa.

      Nadia bedaar inderdaad toe sy langs Tillie lê. “Dis net wanneer sy alleen wakker word dat sy so benoud raak,” sê Tillie terwyl sy haar droë roosterbrood eet. Toe Truitjie vir Nadia ’n bakkie pap bring, sit sy regop en eet ’n klein bietjie.

      Lisa bekyk Nadia onderlangs. “Sy eet mos te min.”

      Tillie knik. “Maar dit gaan al baie beter as voorheen.”

      Later pak Lisa die breekgoed op die trollie. “Gaan jy vanoggend bad?” En toe Tillie knik: “Dan gaan tap ek solank water in.”

      Later die middag lê Lisa skuins oor die bed en lees. Tillie het ingesluimer en Nadia sit eenkant en blokkies bou. Lisa kyk op en vang Nadia se oë bestuderend op haar.

      Lisa kyk kamma verbaas na die kleintjie se handewerk, hoewel sy glad nie weet wat dit veronderstel is om te wees nie. “Dít lyk dan asof ’n vyf- of sesjarige dogtertjie dit gebou het, Nadia!”

      Nadia hou ’n hand voor haar gesig. “Ek is vier.”

      “Jy moet my wys hoe jy dit regkry om so slim te bou.” Nadia knik en Lisa tel weer haar boek op, maar sy lees nie. Sy wil die kind uit haar dop help kruip. Treur sy nie nou al ’n bietjie lank oor Kanna nie?

      Vyfuur

Скачать книгу