Скачать книгу

sal ’n motor mét GPS huur, en ek sal vra as dit langs die pad nodig is.”

      “GPS gaan jou níks help nie. Ons plaas wys nie op die ding nie. As jy my nie glo nie, vra vir Nico. Hy staan hier langs –”

      “Nee,” keer Lisa gou. Sy gaan g’n met Nico stry nie. “Ag, nou maar goed,” stem sy vies in. “Ek bel jou later weer.”

      “Ek kan nie wag nie! Baai!”

      Lisa plak die gehoorbuis neer. Sy haat dit om in ’n blik gedruk te word. Vir haar is Kallie ’n blerrie vreemdeling. As Tillie haar nie nodig gehad het nie, sou sy liewer gebly het en op ’n dag sonder waarskuwing by hulle op Rooiklip uitgeval het, al moes sy iewers oorslaap omdat sy in haar glory in verdwaal het. Lisa haal ’n paar keer diep asem voor sy die lugdienste bel.

      Dit neem ’n paar oproepe en tyd, maar sy kry plek op ’n SAL-vlug en doen ’n elektroniese inbetaling vir die kaartjie. Sy sal dit môreoggend voor sy vlieg gaan afhaal. Terwyl sy water drink, maak sy ’n drukstuk van bestellings en roep dan vir Bets oor die foon na haar kantoor.

      “Jy is eintlik die een wat die hardste werk, veral as jy ’n paar weke weg is,” kom dit van Bets toe sy ’n ruk later opstaan om te loop.

      “Ons werk ewe hard,” gooi Lisa agter haar aan terwyl sy ’n lughawependeldiens bel. Nadat sy gereël het dat sy die volgende oggend opgelaai word, bel sy Tillie weer.

      “Hallo, Lisa, jy’s vinnig! Ek hoop nou regtig jy’t goeie nuus vir my?”

      “Ja, jong, kalmeer tog. Ek was gelukkig om plek te kry. Die vliegtuig land môreoggend negeuur in Kaapstad.”

      “Great stuff,” jil Tillie.

      “Het jy toe die Kallie-ou gevra om my op die lughawe te kry?” Sy hoop die man het geweier.

      “Jip. Hy’t gesê ek moet hom bel sodra ek die tyd weet.”

      “Kom sy vrou saam?”

      “Kallie is nie getroud nie.”

      Lisa loer afgetrokke op haar horlosie. “Ek het nog ’n spul dinge om te doen. Dan sien ek jou môre.”

      “Ek kan nie wag nie! Baai!”

      Lisa frons ontevrede terwyl sy Silky Boetiek bel. Dié Kallie moet ’n lelike ou wees. Dalk stokoud ook. As hy jonk en mooi was, sou Tillie haar lankal van hom vertel het. Veral aangesien Kallie ongetroud is, en sy en Dewald nie meer verloof is nie. Die bestuurderes van Silky antwoord.

      “Hallo, Ansu, Lisa hier. Jong, ek’s gou op pad na jou toe. Ek gaan ’n paar weke met vakansie.”

      “Maar dis lekker! Wens dit was ek.” Lisa hoor vrolike stemme op die agtergrond. “Oukei, dan sien ek jou netnou, ons is vreeslik besig, baai.”

      Toe sy en Ansu klaar gesels het, besluit Lisa om ’n pizza te gaan optel, daar’s nie vanaand nog tyd vir kos maak nie. Sy moet onthou om Tillie en Nico se foonnommers vir haar huishulp neer te skryf, en te kyk dat al haar rekeninge betaal is – dankie tog vir internetbankgeriewe – en notas vir die huishulp te los oor die plante water gee, ensovoorts, ensovoorts. Sulke skielike planne gooi ’n mens omver!

      Later staan sy kaalvoet op haar nat grasperk en kom tot verhaal. Vroegaand het daar ’n hewige reënbui uitgesak wat die drukkende hitte ietwat verlig het. In die straat agter haar huis klink die gesuis van bande op nat teer op. Sy maak lysies in haar kop en hoop sy het alles vir haar kuiertjie ingepak. Soos altyd lok die swembad haar. Ja-nee, dis donker, sy spring sommer in …

      Sy trek haar klere uit, duik in die water en swem vier keer op en af voordat sy gewigloos op haar rug dryf. Daar’s hy, nou ontspan sy darem … binne die huis skril haar landlyntelefoon. Sy swem onwillig kant toe. Sy het nou nie ’n handdoek nie, maar dit kan Tillie wees, sy moet gaan antwoord. Water stroom van haar hare oor haar nat lyf en sy moet mooi loop om nie op die gladde teëls te gly nie.

      Sy antwoord. “Hallo?” Stilte. “Tillie?”

      “Nee, dis ek, my meisie.”

      Dewald! Die hemel weet wanneer hy haar eendag gaan uitlos. Sy is siek en sat vir sy praatjies.

      “Verwag jy ’n oproep van Tillie?”

      Dan probeer hy nog boonop uitvis oor haar sake. “Dis my besigheid.”

      “Moenie kwaad wees dat ek bel nie, my meisie.”

      “Hoekom pla jy my?” Dankie tog sy kon haar selfoonnommer verander.

      “Ek is liewer as ooit vir jou, my liefie.”

      Sy sug swaar. “Ag Dewald, dis nie liefde nie, jy wil seks hê, dis al.”

      “Gaan jy my nooit die een enkele misstap vergewe nie?”

      Haha! Een misstap? Sy glo glad nie dit was net die één meisie met wie hy haar verneuk het nie.

      “Ek het jou lankal vergewe.” Lisa sê dit sommer om hom van haar af te kry – vergifnis was nooit ter sake nie. Sy was verlig toe sy die verlowing verbreek het, maar Dewald dring hom nou aanhoudend aan haar op.

      “Kom ons probeer weer, asseblief, my meisie?”

      Sy sal hom nóóit terugvat nie. Sy kry hom soms jammer, maar niks meer nie. “Nee, Dewald. Ons verhouding was ’n ramp en jy weet dit.”

      Volgens Dewald is verloof so goed soos om getroud te wees. Sy het geweier om met hom bed toe te gaan voor die troue, en daaroor het hy herhaaldelik bitter teenoor haar uitgevaar. Sy was glo preuts en ver agter die tyd. ’n Meisie wat op ses-en-twintig nog ’n maagd is, is volgens hom abnormaal. Dié soort ding het hy haar voortdurend toegesnou.

      Koud is sy beslis nie, dit weet sy seker. Dewald het haar warm gevry, maar sy het volstrek geweier om als vir hom uit te trek, en aan haar borste kon hy net deur haar klere vat. Sy wou darem iéts oorhou vir die huweliksnag. Op die ou end het sy afbrekende woorde die vuurtjie in haar geblus, en sy het besef haar verliefdheid, wat eintlik presies twee weke geduur het, is vir ewig verby. Skielik het sy soene haar gewalg.

      “Jy’s vreeslik lank stil,” sny Dewald haar gedagtes af. “Beteken dit jy oorweeg dit om my nog ’n kans te gee?”

      Sy moet die gesprek stopsit, nou dadelik. “Hemel, man, hoekom kan jy nie nee vir ’n antwoord vat nie?” Skielik kry sy koud so in haar nat onderklere. “Ek gaan nou neersit, jy mors my tyd.” Sy verbreek die verbinding en los die foon van die mikkie af.

      In haar snoesige handdoekstofjapon mop sy later die water van die teëls op. Sy gaan haal half skuldig haar klere van waar dit buite op die plaveisel lê. Sy wil mos so laf wees, toe word sy gestraf met daardie oproep.

      Sy gaan staan behaaglik onder die stort. Sy moet haar naels vanaand nog verf, môreoggend gaan daar nie tyd wees nie. Sy moet gereed wees wanneer die bussie haar kom oplaai, en dis vroeg.

      2

      Lisa kyk moedeloos in die aankomsaal van Kaapstad se lughawe rond en gaan sit dan die soveelste keer weer op die ongemaklike bankie langs haar tasse. Die vliegtuig het ’n uur gelede geland en steeds is daar geen teken van die Kallie-vent nie.

      Terwyl sy vir haar tas gewag het, het sy vir Tillie gebel. “Hoe sal ek dié Kallie herken?” wou sy weet.

      “Wag jy net in die aankomsaal,” het Tillie gegiggel. “Kallie sal jou maklik uitken aan al die foto’s wat hy al hier van jou gesien het.”

      Lisa trek haar rok se kort spleet reg en loer na haar modieuse skoene. O, sy weet sy het hopeloos te veel van hulle, maar sy kan mooi skoene eenvoudig nie weerstaan nie. Hierdie paar het sy juis net ’n paar dae gelede gekoop.

      Sy is dors, maar sy sal moet uithou, want trek sy haar tas saam en gaan koop water, loop sy Kallie dalk mis. Ongeduldig skiet sy weer op. Haar sitvlak is al seer gesit, sy loop liewer kort entjies heen en weer. Hy beter binnekort sy opwagting maak!

      Kallie steek in sy spore vas toe hy Lisa herken. Hy beskou

Скачать книгу